Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

Suid-Afrikaanse sjef verlei Amerikaners met boerekos

$
0
0
Foto: Verskaf

Sjef Ivan Giani . Foto: Verskaf

ʼn Suid-Afrikaner verower Amerikaners se harte met tradisionele disse en lekkernye soos bobotie en melktert.

Sjef Ivan Giani woon tans in Houston,Texas, en is een van die sjefs by ʼn restaurant genaamd Springbok.

Ivan sê hulle maak soms tradisionele geregte soos wat sy ouma dit sal voorberei, maar soms word die resepte wel aangepas vir die Amerikaanse palet. Een só ʼn gereg is sy bobotie-pastei, ʼn gereg wat baie gewild is. Baie van die disse is ook ʼn kombinasie van Amerikaanse en Suid-Afrikaanse disse soos pap, garnale en tamatie-uie-smoor.

Ivan het aanvanklik musiekteater studeer en as danser met verskeie produksies oorsee gereis. Die lewe het met hom wye draaie geloop, want toe hy weer kyk, bevind hy hom in ʼn restaurant in Texas. Dié koskenner het vir die afgelope agt jaar die leertjie geklim van kelner tot sjef en uiteindelik sy plek in die Springbok-restaurant se kombuis gevind.

As jy bereid is om hard te werk, om opofferings te maak, sal jy sukses behaal – dit is hoekom ek so lief is vir die kombuis.

Ivan het in talle restaurante gewerk, en is aanvanklik deur die eienaars van die Springbok-restaurant genooi om net vir ʼn week saam met die restaurant se sjef te kook om hom te leer om tradisionele geregte soos koeksisters, vetkoek en bobotie te maak.

“Ná daai week het hulle my gebel en vir my ʼn pos aangebied,” sê Ivan.

Volgens Ivan is die malvapoeding en melktert ook treffers by dié restaurant. Hy sê hy meet die standaard van sy kos nie teen die Amerikaners se reaksie nie, maar teen dié van die Suid-Afrikaanse kliënte.

“Amerikaners weet mos nie hoe Suid-Afrikaanse disse moet smaak nie, maar as Suid-Afrikaners vir my sê dit was lekker, dan weet ek, ek het goeie werk gedoen. Dit is hoe ek myself meet.”

Hoewel hulle alle disse self voorberei en maak, is daar sommige produkte wat net nie vervang kan word nie.

“Ons het ʼn verskaffer waar ons eg Suid-Afrikaanse produkte soos Mrs Ball’s-blatjang en mieliemeel aankoop. As Suid-Afrikaners by ons restaurant kom eet, gaan hulle mal as hulle dit sien.”

Die span by die Springbok-restaurant is passievol oor kosmaak en Ivan sê hulle is baie ernstig as dit kom by gehalte.

“Ons glo nie daaraan om vleis te bevries nie. Dit is hoekom ons elke week 60 kg boerewors  en 80 kg biltong maak. Ons kos is vars en organies.”

Ivan was al op verskeie Amerikaanse oggendprogramme, asook die televisiereeks, Chopped. Besoek Springbok-restaurant se webwerf hier.

Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf

Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085