Die bobaasbakkers se melkterte is geproe, beoordeel en die Top-4 melktertbakkers in Deeghuys se Melktertkampioen-kompetisie is pas aangewys.
Michael van Niekerk, die stigter en direkteur van Deeghuys, sê melktert is by verre die gunsteling Suid-Afrikaanse nagereg én is boonop eg-Suid-Afrikaans.
Dié poeding se deugde word jaarliks op Nasionale Melktertdag, op 27 Februarie, besing. “Die reuk en die geur van ʼn melktert is vir baie mense nostalgies. Melktert bring natuurlik ook gesinne saam in die genotvolle ervaring van bak,” sê hy.
“Die kompetisie was straf en die keuses moeilik. Daar was ʼn proepaneel van ses mense en elke eienskap is deeglik in detail geëvalueer om die wenners aan te wys,” het Deeghuys in ʼn verklaring gesê.
Die sanger en televisieaanbieder Riaan van Grobler en Rita Schuster is as die top-2 in Gauteng aangewys.
Liezel Olivia Hartzenberg en Martie Lamprecht is as die wenners in die Kaap gekies.
Die vier finaliste ding op 16 Maart in Kaapstad mee om die titel vir die beste melktertbakker.
Vir meer inligting, besoek Deeghuys se Facebook-blad.




