Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

Ons soek jóú gunstelingresep

$
0
0
Foto: Verskaf

Maroela Media is op soek na jóú familieresepte, of sommer resepte wat jy dink ʼn treffer sal wees. Daai resep wat jou ma al vir jare voorberei, of die een waarop jy altyd kan staatmaak.

deur Adéle Changuion

Daar is ʼn kookboek in my ma se kombuis (eintlik ʼn klomp van hulle), maar hierdie boek is nie deel van die Annette Human of Carmen Niehaus-versameling nie. Dit is sommer ʼn Croxley-A4-skryfboek wat met kleurvolle papier oorgetrek is. Dit bevat geen glansblaaie of foto’s van ʼn Kaapse toetskombuis nie, maar as die huis sou vlam vat, sal my ma dié boek eerste gryp, daarvan is ek seker.

Tussen sy blaaie lê ou familieresepte – party oorgetik en netjies uitgedruk, ander haastig met die hand neergepen. Sommige resepte is krom tydskrifuitknipsels (wat sekerlik deur Annette of Carmen getoets is). Saam met elke resep is daar ook ʼn nota vir die bakker, of in my geval, die leser, soos “vervang melk met room” langs ʼn botterskorsiesop-resep.

Elke lid van die gesin se gunstelinge word ook duidelik gemerk: “Elaine se gunsteling” staan gekrabbel langs ʼn pekanneuttert-resep. My naam staan in blokletters by die einste botterskorsiesop-resep – jy kan my wragtig vang met genoeg room.

Maar so heilig soos dié kookboek is, is dit nie een van daai wat net met skoon hande bekyk mag word nie, nee. Hierdie boek is ʼn kook-en-bak-saam-boek. Blaai jy na “Ouma Hanna se blatjang”, is daar ʼn paar vetkolle wat die resep merk. Ander bladsye plak ʼn bietjie aan mekaar vas – van versiersuiker of dalk water, sal net die boek kan sê. Sommige resepte spog met ligte wit merkies soos ʼn melerige vinger bestanddele opgesoek het.

Die meeste huise het so ʼn kookboek – een wat al amper flenters deurgeblaai is. Maroela Media is op soek na jóú familieresepte, of sommer resepte wat jy dink ʼn treffer sal wees. Daai resep wat jou ma al vir jare voorberei, of die een waarop jy altyd kan staatmaak.

Laat weet sommer ook hoekom dié resep so spesiaal is.

Deel jou gunstelingresep hier.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085