
Helene Burger, ʼn leser van Durbanville, deel graag haar resepte met die res van die Maroela-gesin en sê haar “Nuwe Botterkoek” is ʼn resep wat haar ma jare gelede agter in ʼn kookboek neergepen het. Foto: Verskaf
Helene Burger, ʼn leser van Durbanville, deel graag haar resepte met die res van die Maroela-gesin en sê haar “Nuwe Botterkoek” is ʼn resep wat haar ma jare gelede agter in ʼn kookboek neergepen het.
“My ma het baie jare vir die destydse VLV gewerk wanneer dit skoutyd op die dorp was. Haar resepte het altyd die eerste prys gewen. Ons was almal baie trots om die eerstepryskaartjies langs haar gebak te sien,” skryf Helene.
Bestanddele:
- 5 eetlepels sagte botter
- 1 +1/4 koppie fyn suiker
- 1 +3/4 koppie gesifte meel
- 1/2 koppie lou melk
- 2 eiers
- 3 teelepels gelykvol bakpoeier
- 1 teelepel vanieljegeursel
- knippie sout
Metode:
- Plaas alles in ʼn mengbak, klop met handklitser vir vier minute, of twee minute met ʼn elektriese klitser.
- Deel die mengsel in twee en bak in warm oond (so 200°C) tot ligbruin.
Helene sê die koek is heerlik net so, maar jy kan versuikersuiker oorsif wanneer die koek afgekoel het.