
Maklikste viskoekies (Foto: Verskaf)
Soms is dit die eenvoudigste bestanddele wat die lekkerste ete word. My gesin is dol oor hierdie maklike viskoekies en ek maak sommer uit die staanspoor ʼn dubbele mengsel, sodat daar vir die volgende dag se kosblikke ook iets gereed is. Ons eet dit graag met mielies aan die stronk of klein aartappeltjies in die skil en ’n lekker groot slaai – koningskos!
Met vol skedules en besige dae is ons almal op soek na resepte wat vinnig, bekostigbaar en maklik is om te maak. As dit boonop ’n gesinsgunsteling word, is dit ’n ekstra bonus. ’n Blikkie vis kan met hierdie resep vinnig in ’n heerlike ete omtower word en dis ’n ideale manier om iewers in die week ook vis te eet, want dis regtig gesond. Sardyne is ’n uitstekende bron van proteïen en boonop is die sagte graatjies baie ryk aan kalsium en druk maklik fyn. Sowel sardyne as sardientjies is van die olierige tipes vis en dus ryk aan gesonde omega 3-vette. Nog meer rede om dit gereeld in ons etes in te sluit. Jy weet mos jou ma het altyd gesê: vis maak jou slim. Nou weet jy hoekom.
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 25 koekies
Bestanddele
- 1 x 400 g-blik sardyne in tamatiesous
- 2 wortels, grofgerasper
- 60 ml (¼ k) steengemaalde volkoringmeel
- 2 Nulaid- groot eiers, geklits
- 125 ml (½ k) rou hawermout
- 60 ml (¼ k) blatjang of tamatiesous
- 60 ml (¼ k) gekapte vars kruie, soos Italiaanse pietersielie en koljander
- 5 ml (1 t) gemaalde koljander
- 15 ml (1 e) suurlemoensap
- 2,5 ml (½ t) sout
- swartpeper na smaak
- 15-30 ml (1-2 e) olyf- of avokado-olie vir braai
Metode
- Plaas die vis met die sous in die blik in ’n groot mengbak en druk dit fyner met ’n vurk.
- Roer die res van die bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur. Die beslag is redelik loperig. Geur na smaak.
- Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan (’n AMC 28 cm Chef’s Pan werk uitstekend). Skep lepelsvol van die mengsel in die pan en braai vir 3-5 minute tot goudbruin aan die onderkant en effens gestol bo-op. Draai om en braai nog ’n paar minute of tot goudbruin en gaar.
- Dreineer op kombuispapier en herhaal met die res van die mengsel en nog olie, soos benodig. Hou die viskoekies warm.
- Sit vir aandete met slaai en groente van jou keuse voor. Of laat heeltemal afkoel en hou dit vir kosblikke.
Wenk
- Gebruik sardientjies, in plaas van sardyne, as julle lief is daarvoor. Gebruik dieselfde hoeveelheid vis (sowat 3 x 120 g-blikkies) met die vloeistof. As die mengsel te droog is, voeg nog ’n eier of ’n bietjie water by.
