Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

Corli se troukoek span die kroon

$
0
0
Corli Botha (Foto: kyknet.dstv.com)

Corli Botha (Foto: kyknet.dstv.com)

Die spanning is eindelik verby! Die kranige entrepreneurbakker Corli Botha, vrou van die oud-rugbyspeler Gary Botha, is Donderdagaand op kykNET se werklikheidsreeks Koekedoor as die tweede wenner van dié gewilde reeks aangewys.

In die slotaflewering van die reeks het Corli en Wessels van Vuuren, die enigste man wat aan die reeks deelgeneem het, troukoek gebak om te beslis wie met dié gesogte titel huis toe gaan.

Corli het aan Maroela Media vertel sy is oorweldig deur dié prestasie. “Die reeks is al ʼn geruime tyd gelede opgeneem, maar toe ek as wenner aangekondig is en daar is net confetti oral, het dit wel ingeskop. Ek is opgewonde oor wat dit vir my toekoms beteken, en dis vir my ʼn ongelooflike voorreg om as wenner aangewys te word.”

Corli en Wessels moes vir die eindronde elkeen ʼn troukoek bak vir ’n “Troue in Tulbagh”. Die deelnemers moes in dié geval die “wense” van die bruid nakom met hul gebak, terwyl hulle voorheen vrye teuels gehad het.

Wessels van Vuuren (Foto: kyknet.dstv.com)

Wessels van Vuuren (Foto: kyknet.dstv.com)

“Ek het meer as 35 uitdagings vir Koekedoor voltooi. Dit was ʼn ongelooflike leerskool en dit het my beslis verryk. Jy sal nie glo hoe baie jy van jouself leer nie,” sê sy.

Corli se botterkoek, vanielje-sponskoek, klapperkoek, suurlemoen-en-jogurtkoek, ’n sout-karamel-vulsel en lemmetjiestroop met ʼn wit fondant-laag het haar uiteindelik die kroon gesorg.

Sy vertel die geheim tot die perfekte koek is om die resep stap vir stap te volg. “As jy ʼn resep kan lees en volg, kan jy ʼn koek bak, al het jy dit nog nooit vantevore gedoen nie. Ek moes ook leer om die oonddeur toe te los totdat dit tyd is om dit oop te maak,” het sy geskerts.

Haar eerste resepteboek is van 15 Augustus landwyd in winkels beskikbaar.

“Ek het nog ʼn paar nuwe projekte en is baie opgewonde om dit alles te deel, maar is nog nie gereed om nou die aap uit die mou te laat nie.”

Die wen-troukoek wat Corli gebak het (Foto: kyknet.dstv.com) Wessels se troukoek (Foto: kyknet.dstv.com)

Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085