Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Hoender-en-soetrissie-pastaslaai

$
0
0
Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Hoender-en-soetrissie-pastaslaai. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Bederf jou kuiergaste gerus met dié heerlike slaai. Dis boonop ‘n heerlike somerslaai vir ‘n piekniek!

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

Pasta

  • 400 g klein skulpienoedels
  • 10 ml olie
  • 5 ml sout

Hoender

  • genoeg Clover Mooi River-botter
  • 1 ui gekap
  • 2 selderystingels, fyngekap
  • 4 hoenderborsies, in repies gesny
  • genoeg hoenderspeserye
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 x 440 g-blikkie pynappelblokkies, gedreineer
  • 375 ml mozzarellakaasblokkies
  • 4 sprietuie, fyngekap
  • 15 ml fyngekapte vars pietersielie

Sous

  • 60 ml soetrissiesous (sweet chilli sauce)
  • 6 pikantrissies (peppadews), fyngekap
  • 250 ml mayonnaise
  • 125 ml Clover-suurroom

Metode:

Pasta

  1. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie tot al dente en dreineer. Roer ʼn klein bietjie olie deur sodat die pasta nie aan mekaar vaskleef nie. Bedek en hou eenkant tot benodig.
  2. Verhit die botter in ʼn swaarboompan en soteer die ui tot amper sag. Voeg die seldery by en soteer vir 3 minute.
  3. Strooi hoenderspeserye oor die hoenderrepies en braai in die pan tot die hoender gaar is. Geur die hoenderrepies liggies met sout en peper.
  4. Meng die gebraaide hoenderrepies en oorblywende bestanddele deur die pasta.

Sous

  1. Meng die sousbestanddele saam en roer liggies deur die pasta tot gemeng.
  2. Sit die slaai koud of by kamertemperatuur voor.

ʼn Persentasie van die boek se verkope word aan die Clover Mama Afrika-projek geskenk.

Bron: Clover Ekonomiese Gesinskos
Uitgewer: Lapa


Saterdag markdag

$
0
0

market-71-1419328180446-standardSaterdag is markdag. Verwag organiese  kosse, vars gebak en die beste cappuccino by Pretoria-Oos se Hazel Food Market. Die filosofie by hierdie gewilde familiemark is kos en kuier.
Waar?  Greenlyn Village Centre, hoek van Thomas Edison- en Mackenziestraat, Menlopark, Pretoria.
Wanneer? Saterdae van 8:00 – 14:00

Hier is die top-10 SA restaurante vir 2016

$
0
0
The Test Kitchen (Foto: Jan Ras)

The Test Kitchen (Foto: Jan Ras)

Suid-Afrika se tien beste restaurante vir 2016 is die afgelope naweek tydens die Eat Out Mercedes-Benz Restaurant-toekennings aangewys.

Moet egter nie verwag dat jy gewone franchise-restaurante op hierdie lysie gaan raakloop nie! Die meeste van dié restaurante is in die Wes-Kaap geleë en sal beslis ʼn ander soort ervaring vir jou smaakpalet bied.

  1. The Test Kitchen (Woodstock, Kaapstad)

Dié restaurant is vir die vyfde agtereenvolgende jaar in die topposisie en word besit deur Luke Dale-Roberts. Die restaurant het onlangs ʼn 21-gang-maaltyd op die spyskaart bekendgestel.

  1. La Colombe (Constantia, Kaapstad)

Die restaurant word besit deur Scot Kirton. La Colombe is ook die wenner van die 2016 Eat Out Nespresso Service Excellence-toekenning.

  1. The Restaurant at Waterkloof (Somerset-Wes)
The Tasting Room at Le Quartier Français (Foto: Jan Ras)

The Tasting Room at Le Quartier Français (Foto: Jan Ras)

Die restaurant word besit deur Gregory Czarnecki. Hy het ook die 2016 S. Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die jaar-toekenning gewen.

  1. The Tasting Room at Le Quartier Français (Franschhoek)

Die eienaar, Margot Janse, is veral bekend daarvoor dat sy plaaslike bestanddele op unieke wyses gebruik. Die agt-gang-Afrika-spyskaart lok duisende toeriste en plaaslike inwoners per jaar.

  1. Restaurant Mosaic at The Orient (Elandsfontein, Pretoria)

Sjef Chantel Dartnall, ook die eienaar, is bekend vir disse wat nie maklik nageboots kan word nie. Haar botaniese kookkuns inspireer elke keer.

  1. Overture (Stellenbosch)

Die eienaar, Bertus Basson, is vanjaar weer terug onder die top-10 nadat hy nie in 2015 op die lys verskyn het nie. Die spyskaart is eenvoudig, maar met eksentrieke disse wat nie sommer op ander plekke beskikbaar is nie.

  1. Greenhouse (Constantia, Kaapstad)
The Restaurant at Waterkloof (Foto: Jan Ras)

The Restaurant at Waterkloof (Foto: Jan Ras)

Peter Tempelhoff, die eienaar, is veral bekend vir hoe die disse op die bord ten toon gestel word. Tempelhoff maak ook van bekende disse iets eksoties waarna honderde kritici jaarliks stroom.

  1. The Kitchen at Maison (Franschhoek)

Die eienaar, Arno Janse van Rensburg, is vanjaar vir die eerste keer op dié gesogte lys. Sy disse bevat baie inspirasie van Asië en Suid-Amerika. Daar is ook talle plaaslike disse wat treffers is.

  1. Foliage (Franschhoek)

Chris Erasmus is veral bekend vir sy kreatiewe en innoverende disse. Die kos is baie aards en die meeste disse het as basis wildekruie, sampioene en gesonde groen bestanddele.

  1. Camphors at Vergelegen (Somerset-Wes)

Michael Cooke kombineer sy disse perfek met die groot verskeidenheid wyne van die plaaslike wynplase. Cooke is bekend vir sy manier om met vars bestanddele te tower.

Vir meer inligting, besoek Eat Out se webwerf.

The Kitchen at Maison (Foto: Jan Ras) Restaurant Mosaic at The Orient (Foto: Jan Ras) Overture (Foto: Jan Ras) La Colombe (Foto: Jan Ras) Greenhouse (Foto: Jan Ras) Foliage (Foto: Jan Ras) Camphors at Vergelegen (Foto: Jan Ras)

Spur wakker nostalgie aan in buiteland

$
0
0
Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)

Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)

Koeksisters, biltong, braaivleis… en natuurlik ook een van Suid-Afrika se gewildste kettingrestaurante, Spur, is van die goed waarna Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon die héél meeste verlang.

Só het ʼn groep oud-Suid-Afrikaners wat in Nieu-Seeland woon aan die North Harbour News vertel nadat ʼn Spur in Albany, noord van Auckland, in laat-Oktober sy deure oopgemaak het.

Mede-eienaar van dié restaurant, Jaco Jordaan, het aan dié gemeenskapskoerant vertel die restaurant is sedert sy opening elke dag vol bespreek.

Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)

Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)

“ʼn Jong meisie was só oorweldig toe sy die restaurant besoek het, sy het in trane uitgebars. Nadat mense die openingsaand bygewoon het, het nuus oor Spur in Nieu-Seeland soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei,” het Jordaan gesê.

“Die Dinsdag ná die opening was daar lang toue mense wat by die restaurant wou kom eet. Ons het nog nie ʼn enkele keer geadverteer nie.”

Jordaan en sy sakevennoot, Mark Farrelly, is albei afkomstig van Kaapstad.

Spur het reeds in 1967 sy deure in Suid-Afrika oopgemaak en het intussen ʼn gewilde huishoudelike naam geword.

Don en Jane Govender en hul kinders Sai en McKenzie, een van talle gesinne wat na Nieu-Seeland verhuis het, het gesê dié Spur “laat ʼn Suid-Afrikaanse voetspoor hier in Nieu-Seeland en neem ons weer terug huis toe. Ons wil keer op keer net teruggaan en meer hê.”

Bron: North Harbour News

Die eienaars, Jaco Jordaan en Mark Farrelly (Foto: Amy Baker) Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)

[Resep] Heerlike en maklike roomys

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Heerlike en maklike roomys. Foto: Pixabay.com

Een van Maroela Media se lesers, Helene Burger, deel een van haar gunstelingresepte. Sy het dié resep by haar skoonsus gekry.

“Vervang die room deur Orley Whip met die blou etiket. Dan is dit nie so ryk nie, maar jy kry nog dieselfde effek. Jare gelede het ʼn mens dit mos in dosies met koevertjies gekry, maar hier by ons kry jy dit deesdae in 250 ml-formaat en in wit plastiekbotteltjies. Gebruik dan 2 x 250 ml,” sê Helene.

Lewer ongeveer 2 liter roomys.

Bestanddele:

  • 500 ml room
  • 2 eiers
  • 1 blik kondensmelk

Metode:

  1. Klits 500 ml room tot styf.
  2. Meng 2 eiergele met die blik kondensmelk.
  3. Meng die room, eiergele en kondensmelk saam.
  4. Klits eierwitte tot styf en meng eers ʼn klein bietjie van die eierwitte in die mengsel en vou dan die orige mengsel by.
  5. Bevries en gebruik soos benodig. Gebruik ook enige vrugte, karamel of sjokolade in roomys vir variasie.

[Resep] Vlakoekies

$
0
0
Foto: 101 Kleinkoekies

Vlakoekies. Foto: 101 Kleinkoekies

Vakansie sonder koekies is mos nie vakansie nie. Vlakoekies is altyd ʼn wenner en perfek vir ʼn peuselhappie voor ʼn oggendstappie op die strand.

Die deeg kan vooraf aangemaak word.

Bestanddele:

  • 750 g (840 ml margarien)
  • 325 g (365 ml suiker)
  • 6 eiers
  • 1050 g (7 ½ x 250 ml) koekmeel
  • 10 ml sout
  • 360 ml (210 g) vlapoeier
  • 60 ml bakpoeier
  • 15 ml vanieljegeursel
  • Appelkooskonfyt

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180° C.
  2. Klop die margarien en suiker saam tot romerig .
  3. Klits die eiers by, dan die meel, sout, vlapoeier, bakpoeier en vanieljegeursel. (NB: Moenie al die meel op een slag byvoeg nie – meng dit bietjie-bietjie by.) Meng alles tot ʼn sagte deeg.
  4. Vul die koekiemaker met die deeg en druk die koekies op gesmeerde bakplate uit.
  5. Bak vir ongeveer 15 minute en laat afkoel.
  6. Plak die koekies twee-twee op mekaar met appelkooskonfyt.
  7. Variasie – Die koekies kan ook met versiersuikervulsel gevul word.

Bron: 101 Kleinkoekies – Nettie Cilliers
Uitgewer: Lapa

[Resep] Romerige slakke op die vuur

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Romerige slakke op die vuur. Foto: Lekker en Vinnig

Kos proe mos anders wanneer dit oor die kole gaargemaak word. Hierdie klink soos ʼn wenresep!

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

  • 800 g (1 blik) slakke, gedreineer
  • 500 ml dik room
  • 50 ml brandewyn
  • 20 ml biefekstrakpoeier
  • 8 knoffelhuisies, geskil en gekneus
  • 2 ml varsgemaalde swartpeper
  • volgraanbrood om mee voor te sit

Metode:

  1. Verhit ʼn plat gietysterbraaipan goed op die kole.
  2. Verhit alles, behalwe die brood, saam en kook tot ingedamp en dik.
  3. Sit slakke warm met volgraanbrood voor.

Oorspronklik gepubliseer in Braaitreffers deur Hannetjie Joubert

Bron: Lekker en Vinnig – Braaigeregte
Uitgewer: Lapa

[Resep] Skons

$
0
0
Foto: Teetydlekkernye

Heerlike skons. Foto: Teetydlekkernye

ʼn Happie skons is nooit te versmaai nie, veral met môre se bietjie laat-lê…

Lewer 8 skons

Bestanddele:

  • 500 ml koekmeel
  • 20 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 60 ml strooisuiker
  • 60 ml sagte botter
  • 125 ml melk

Afronding

  • 1 eier
  • 15 ml melk

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200° C en smeer ʼn bakplaat.
  2. Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Roer dan die strooisuiker by en vryf die botter met jou vingers in.
  3. Voeg die melk by en meng met ʼn slaplemmes totdat die mengsel aan mekaar kleef, maar moenie te veel meng nie. As die deeg te styf is, voeg nog ʼn bietjie melk by.
  4. Plaas die deeg op ʼn meelbestrooide oppervlak en druk net effens gelyk met jou hande. Die deeg moet ongeveer 3 cm dik wees.
  5. Druk ronde vorms uit en plaas op die voorbereide bakplaat.
  6.  Afronding: Klits die eier en melk saam en verf oor die skons. Bak vir 12 tot 15 minute of tot goudbruin bo-op.

Resep oorspronklik gepubliseer in Vrouekeur 2 deur Marlo Carstens.

Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa


[Resep] Thaise groenkerrie

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Thaise groenkerrie. Foto: Lekker en Vinnig

Beïndruk jou gesin met dié maklike resep vir die lekkerste groenkerrie.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • bietjie olie
  • 800 g beesvleisblokkies
  • knippie sout en varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml koekmeel
  • 1 ui, gekap
  • 2,5 ml gekapte vars knoffel
  • knippie fyn gemmer
  • 4 grasuie, gekap
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 30 ml gekoopte Thaise groenkerriepasta
  • hand vol vars koljanderblare, fyngekap
  • 185 ml groenteaftreksel
  • 380 g (1 blik) ingedampte melk
  • 250 ml melk

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olie en braai die beesvleisblokkies bietjies-bietjies daarin tot goudbruin. Skep uit.
  3. Geur die beesvleisblokkies met sout en peper, besprinkel met die meel en roer tot bedek.
  4. Verhit nog olie in die kastrol indien nodig en soteer die ui, knoffel en gemmer daarin tot sag.
  5. Voeg die grasuie en soetrissie by en soteer nog 2 minute.
  6. Roer die kerriepasta, koljanderblare en aftreksel by en roer tot goed gemeng.
  7. Skep die beesvleisblokkies terug in die kastrol, plaas die deksel op en laat vir 1 uur oor ʼn lae hitte prut.
  8. Voeg die ingedampte melk en melk by. Verhit tot warm en die sous verdik het.
  9. Sit warm saam met rys voor.

Bron: Lekker en Vinnig 
Uitgewer: Lapa
Oorspronklik gepubliseer in Vinnig en maklik – resepte uit Vrouekeur 3, Marlo Carstens.

[Resep] Kersfees-koekmengsel

$
0
0
Foto: Bottel en Gberuik

Kersfees-koekmengsel. Foto: Bottel en Gberuik

Dit is nie net ʼn lekker resep dié nie, maar sommer ook ʼn oulike Kersgeskenk.

Lewer 2,5 kg

Gebruik dit in Kerskoek of -pasteitjies.

Bestanddele:

  • 150 g gedroogde Turkse appelkose, grof gekap
  • 150 g pitlose dadels, grof gekap
  • 150 g rooi glanskersies, grof gekap
  • 150 g verglansde gemmer, grof gekap
  • 200 g pitlose rosyne
  • 200 g sultanas
  • 200 g korente
  • 150 g heel gepelde amandels
  • 100 g okkerneute
  • 400 ml kookappels, grof gekap
  • 2 lemoene se sap en skil, gerasper
  • 2 suurlemoene se sap en skil, gerasper
  • 150 ml heuning of esdoringstroop
  • 100 ml soet sjerrie
  • 200 ml donker rum of brandewyn

Metode:

  1. Meng al die droëvrugte en neute en gooi dit in ʼn houer met ʼn deksel.
  2. Meng die sap, skil, heuning of stroop, sjerrie en rum of brandewyn en roer dit by.
  3. Bedek en laat dit 2-3 dae in ʼn warm kombuis staan.
  4. Dreineer en skep die mengsel in gesteriliseerde bottels. Giet 25 ml van die alkoholmengsel in elke bottel en verseël.
  5. Jy kan elke 6 maande die bottels oopmaak en ʼn bietjie rum of brandewyn ingooi. Die rakleeftyd is 2 jaar.
Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

[Resep] Gestoofde groenboontjies

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Gestoofde groenboontjies. Foto: Lekker en Vinnig

Boontjies soos wat jou ouma dit gemaak het…

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 500 g groenboontjies, gekerf
  • 1 groot aartappel, in skywe gesny
  • 1 groot ui, gesnipper
  • ± 200 g skaaprib
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • botter en gerasperde neutmuskaat (opsioneel)

Metode:

  1. Plaas die gekerfde bone, skywe aartappel, ui en vleis in ʼn kastrol met ʼn klein bietjie kookwater en stowe tot die vleis sag is. Roer deur.
  2. Geur en bedien met gesmelte botter en gerasperde neutmuskaat (opsioneel).

Variasie:

Geelwortels en kool kan ook so berei word.

Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Spys en drank deur Renata Coetzee.

[Resep] Botterskorsiepatee met kruie-melbaroosterbrood

$
0
0
patee

Botterskorsiepatee met kruie-melbaroosterbrood. Foto: Clover Gunsteling Braairesepte

Genoeg vir 6–8 mense

Bestanddele:

Botterskorsiepatee

  • 500 g botterskorsie, afgeskil en in blokkies gesny
  • 3 e (15 ml) olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 3 e (15 ml) Clover Mooirivier-botter
  • 1 uitjie, in blokkies gesny
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • ½ t (3 ml) rooipeper
  • ¼ k (60 ml) suurroom
  • 100 g Clover-fetakaas, gekrummel

Kruie-melbaroosterbrood

  • ½ brood, half-bevrore
  • ¼ k (60 ml) Clover Mooirivier-botter
  • 1 t (5ml) droë gemengde kruie
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Om op te dien

  • jongslaaiblare en vars kruie (opsioneel)

Metode:

Botterskorsiepatee

  1. Meng die botterskorsieblokkies en olyfolie en geur met sout en peper. Rooster tot sag op ʼn baie warm braairooster of -pan of in die oond. Plaas in ʼn mengbak en laat afkoel.
  2. Smelt die botter in ʼn pan en braai die uie liggies vir 3-4 minute. Voeg die knoffel en rooipeper by en braai vir 1-2 minute.
  3. Roer die mengsel by die gaar botterskorsie. Puree die mengsel grofweg in sarsies in ʼn voedselverwerker, saam met die suurroom.
  4. Gooi uit in ʼn bakkie en roer die fetakaas in. Geur na smaak en dien op met die kruie-melbaroosterbrood, afgerond met jongslaaiblare (opsioneel).

Kruie-melbaroosterbrood

  1. Sny die half-bevrore brood in papierdun skyfies en dan in driehoekies.
  2. Rangskik ʼn enkellaag op ʼn bakplaat.
  3. Smelt die botter in ʼn pan en roer die gemengde kruie by. Verf albei kante van die snytjies brood liggies met die mengsel, en geur met sout en peper.
  4. Plaas onder ʼn baie warm rooster of braai liggies op ʼn baie warm braaipan tot goudkleurig en bros.

Bron: Clover gunsteling braairesepte
Uitgewer: Lapa

[Resep] Kerskoekies

$
0
0
Foto: Verskaf

Kerskoekies. Foto: Idees Geskenke 2

ʼn Blik vol van dié tradisionele Switserse speserykoekies is die ideale Kersgeskenk.

Haselnuss-Lebkuchen

  • Lewer: omtrent 40
  • Bereidingstyd: 1 uur, plus yskastyd
  • Baktyd: 10 minute
  • Oondtemperatuur: 175 °C

Bestanddele:

  • 180 g (125 ml) heuning
  • 180 g (125 ml) melasse
  • 110 g (190 ml) sagte bruinsuiker
  • 1 groot eier, liggies geklits
  • 15 ml lemoensap
  • 15 ml gerasperde lemoenskil
  • 380 g (690 ml) koekmeel
  • 2,5 ml koeksoda
  • 5 ml elk fyn kaneel, naeltjies,
  • wonderpeper en neutmuskaat
  • 50 g (120 ml) fyngekapte haselneute
  • gesmelte donkersjokolade of glaseersel vir versiering
  • silwer balletjies of wafel-sneeuvlokkies vir versiering

Metode:

  1. Voeg die heuning en melasse saam in ’n kastrol en verhit dit tot kookpunt. Haal dit van die plaat af en roer die bruinsuiker, eier, lemoensap en -skil by.
  2. Meng die meel, koeksoda en speserye saam in ’n bak. Roer die neute by en voeg dan die heuningmengsel by. Meng dit goed. Bedek die deeg en laat oornag in die yskas staan.
  3. Werk met ’n klein stukkie deeg op ’n slag. Rol dit uit op ’n oppervlak waaroor jy liggies meel gestrooi het. Sny vorms daaruit. Pak dit op ’n gevoerde bakplaat en bak dit vir 10-12 minute in die verhitte oond.
  4. Haal die koekies uit die oond en laat afkoel. Drup gesmelte sjokolade oor, doop dit daarin of versier dit met glaseersel-patrone. Rond dit met silwer balletjies of
  5. wafel-sneeuvlokkies af en bêre in ’n lugdigte houer.

Mailänderli

  • Lewer: omtrent 30
  • Bereidingstyd: 45 minute, plus yskastyd
  • Baktyd: 10 minute
  • Oondtemperatuur: 190 °C

Bestanddele:

  • 250 g (270 ml) botter
  • 225 g (265 ml) suiker
  • 3 groot eiers
  • knippie sout
  • gerasperde skil en sap van 1 klein suurlemoen
  • 500 g (915 ml) koekmeel, plus ekstra om oor te sif
  • 2 groot eiergele, geklits

Metode:

  1. Klop die botter tot dit glad is. Voeg die suiker, eiers en ʼn knippie sout by en klits dit goed.
  2. Voeg die gerasperde skil en sap van die suurlemoen by.
  3. Voeg die meel by en knie tot ’n sagte deeg. Bedek die deeg en laat dit vir twee uur in die yskas staan.
  4. Plaas die deeg op ’n oppervlak waaroor jy liggies meel gestrooi het en rol dit tot 5 mm dik uit. Sny vorms daaruit. Pak die koekies op gesmeerde en gevoerde bakplate en laat dit vir 15 minute eenkant staan.
  5.  Verf eiergeel oor elke koekie en bak dit vir 10 minute in die verhitte oond. Laat dit heeltemal afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

Bron: Idees Geskenke 2
Uitgewer: NB-Uitgewers

[Resep] Drie-bone-tamatiebredie met lamsrib

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Drie-bone-tamatiebredie met lamsrib. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie gereg klink hemels en dit lyk asof dit sommer ʼn gesonde bederf ook is!

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • olie vir braai
  • 1,5 kg maer lamsrib, in groot stukke gesaag
  • 2 groot uie, gekap
  • 4 knoffelhuisies, gekneus
  • 410 g (1 blik) heel tamaties, grofgekap
  • 150 ml lamsvleisaftreksel
  • 100 ml balsamiese of bruinasyn
  • 3 lourierblare
  • 20 ml Worcestershire-sous
  • 20 ml bruin suiker
  • 100 ml blatjang
  • 1 ml fyn gemmer
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 5 ml paprika
  • 410 g (1 blik) nierbone, afgespoel
  • 410 g (1 blik) botterbone
  • 300 g groenbone

Metode:

  1. Verhit die olie en braai die vleis in ʼn nommer 3-driepootpot oor die kole tot bruin. Skep die vleis uit.
  2. Soteer die uie en knoffel, voeg die vleis en res van die bestanddele, behalwe die bone, by en laat prut vir 2-3 uur lank tot sag.
  3. Blansjeer die groenbone in kokende soutwater vir 45 sekondes.
  4. Voeg die nier-, botter- en groenbone by die vleispot. Laat prut vir ʼn paar minute lank of tot deurwarm.

Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Braaitreffers, Hannetjie Joubert.

Om die kombuistafel met Steve en ander bekendes

$
0
0
Foto: Verskaf

Foto: Deon van Wyk

Steve Hofmeyr en ander bekendes soos Bobby van Jaarseveld en Kurt Darren se gunstelingresepte is opgeneem in ʼn nuwe resepteboek wat gisteraand bekendgestel is by die Blou Hond-teater in Pretoria.

Om die kombuistafel is deur die organisasie “Een miljoen stemme vir Steve” (MSVS) uitgegee en volgens Amor Gerber, uitvoerende hoof van dié organisasie, is die doel met die resepteboek om geld in te samel vir hul “Pers sak”-projek – ʼn projek wat kos, klere en werkgeleenthede vir behoeftige mense gee.

“Ons doen baie liefdadigheid onder wit arm mense en omdat ons ʼn nie-winsgewende organisasie is, moet ons self geld insamel. Al die kunstenaars wat ʼn resep gedeel het, doen dit gratis en al die wins wat ons met die resepteboek maak, gaan weer na ons ‘Pers sak’-projek.”

Amor sê hierdie resepteboek is ʼn bietjie anders as die gewone omdat bekendes nie net ʼn resep deel nie, maar ook ʼn staaltjie uit hul jongdae of ʼn gunsteling-gedig.

“Die meeste van die resepte is eg-Suid Afrikaanse resepte soos bobotie en skaapstert. Daar is ook resepte wat ʼn bietjie aangepas is.”

Hoewel MSVS as ʼn Facebook-groep begin is wat Steve Hofmeyr in die politiek wou kry, meen Amor dat dié organisasie soveel meer geword het.

“Ons wil eintlik niks met politiek te doen hê nie, ons wil mense help. Daar is verskriklik baie nood onder ons mense en dit is om dié rede dat ons ʼn nie-winsgewende organisasie gestig het. Ons wil nie net vir mense gee nie, ons wil hulle bemagtig en hulle help om op hul eie voete te staan.”

Voor sy vertoning by die bekendstelling het Steve gesê hy hoop die boek doen baie goed sodat meer mense gehelp kan word.

“Gaan probeer die resepte, ek gaan hulle almal beproef! Ek het nou 20 boeke gekoop – my hele gesin kry een vir Kersfees,” het Steve gesê.

Ander bekendes wie se resepte ook in die boek opgeneem is sluit in Chris Chameleon, Lochner de Kock, Phillip Moolman, Gerhard Steyn en Adam Tas.

Besoek MSVS se webtuiste of Facebook-blad om die boek te bestel.

Foto: Deon van Wyk Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf

[Resep] Mieliemeel-braaivleismuffins

$
0
0
Foto: Proe Pretville

Mieliemeel-braaivleismuffins. Foto: Proe Pretville

Ag nee, daar gaan al die sprake van ʼn dieet. Hoe kan mens nou nee sê vir hierdie lekkerny?

Lewer 12 muffins

Bestanddele:

  • 1 k mieliemeel
  • 1 k broodmeel
  • knippie sout
  • 4 t bakpoeier
  • 1 e suiker
  • ¼ k gerasperde kaas
  • 2 uie, gekap en gebraai
  • 1 eier
  • 1k room
  • 1 k melk

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200°C en smeer ʼn muffinpannetjie met botter.
  2. Sif die droë bestanddele saam en meng die suiker, kaas en uie by.
  3. Kilts die eier, room en melk saam.
  4. Meng die eiermengsel baie liggies met die droë mengsel.
  5. Skep in die voorbereide muffinpannetjies en bak vir 20-25 minute. Sit warm voor met botter.

Bron: Proe Pretville
Uitgewer: Lapa

[Resep] Sjokolade-en-koffiekolwyntjies

$
0
0
sjokolade-en-koffiekolwyntjies

Sjokolade-en-koffiekolwyntjies. Foto: Lekker en Vinnig

G’n mens sal ooit tevrede wees met net een kolwyntjie nie. Gelukkig lewer dié resep 24 daarvan…

Lewer 24 kolwyntjies

Bestanddele:

  • 250 g sagte botter
  • 375 ml strooisuiker
  • 4 ekstra groot eiers
  • 625 ml bruismeel
  • 7,5 ml bakpoeier
  • 75 ml kakao
  • knippie sout
  • 60 ml sterk aangemaakte koffie

Sjokoladeversiersel

  • 100 g botter
  • 500 g versiersuiker
  • 45 ml kakao
  • knippie bakpoeier
  • 15 ml melk
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 12 Ferrero Rocher-sjokolade, gehalveer

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180 °C en voer kolwynpannetjies met kolwynpapiertjies.
  2. Room die botter en suiker tot liggeel. Klits dan die eiers een vir een by.
  3. Sif die meel, bakpoeier, kakao en sout saam.
  4. Meng die meelmengsel en koffie beurtelings by die bottermengsel tot ʼn beslag gevorm word.
  5. Skep die kolwynpapiertjies in die kolwynpannetjies driekwart vol beslag.
  6. Bak vir 12 minute of tot gaar en laat op ʼn rakkie afkoel.
  7. Sjokoladeversiersel: Klits die botter tot liggeel.
  8. Sif suiker, kakao en bakpoeier saam en voeg dan die droë bestanddele geleidelik by die botter terwyl dit geklits word.
  9. Klits die melk en vanieljegeursel by tot donserig. Versier die kolwyntjies met die versiersel en rond af met ʼn halwe sjokolade.

Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa

[Resep] Droëwors

$
0
0
droewors-2

Droëwors. Foto: Lekker en Vinnig.

ʼn Heerlike resep om jou eie droëwors te maak!

Bestanddele:

  • 9 kg beesvleis
  • 1,5 kg sagte vet (soos skaapstert)
  • 110 ml sout
  • 100 ml geskroeide koljander, fyngemaal
  • 10 ml fyn kruienaeltjies, tiemie of salie
  • 10 ml gerasperde neutmuskaat
  • 25 ml witpeper
  • 250 ml druiwe-asyn
  • worsderms, die gewone boerewors-soort of die dunner soort

Metode:

  1. Sny die vleis en vet in blokkies en strooi al die geurmiddels oor. Voeg ook die druiwe-asyn by die vleismengsel.
  2. Maal die vleismengsel en laat staan vir ʼn halfuur sodat die sout kan oplos.
  3. Meng alles liggies deur en stop die wors met ʼn worsstopper.
  4. Hang die wors op ʼn koel, droë plek om droog te word. Indien gewone boereworsderms gebruik word, moet die wors die eerste paar dae gereeld platgedruk word om te voorkom dat ʼn lugholte in die middel vorm namate die vleis droog word.
  5. Bewaar die wors in die yskas of vrieskas wanneer dit heeltemal droog is.

Resep oorspronklik gepubliseer in Boerekos deur Cecile Kemp.
Bron: Lekker en Vinnig – Bêrekos
Uitgewer: Lapa

[Resep] Verleidelike vlaskywe

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Verleidelike vlaskywe. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie resep lewer 1 groot tert. Nooi die bure vir ʼn koppie koffie – hulle gaan heerlik smul hieraan.

Bestanddele:

Kors

  • 1,2 kg (3 rolle) skilferkorsdeeg

Vulsel

  • 250 ml melk
  • 250 ml mielieblom
  • 125 ml vlapoeier
  • 375 ml strooisuiker
  • ʼn knippie sout
  • 500 ml room
  • 625 ml melk
  • 45 ml botter
  • 4 ekstragroot eiergele, geklits
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 4 ekstragroot eierwitte
  • 750 ml versiersuiker, gesif, vir afronding
  • 45 ml kookwater, vir afronding

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. KORS: Rol een skilferkorsdeegrol oop. Plaas op ʼn bakplaat wat met foelie uitgevoer is.
  3. Bak vir 18 minute tot goudbruin. Laat afkoel. Lig die skilferkorsdeeg met behulp van die foelie uit, sodat dit nie breek nie.
  4. Plaas met gebakte kant na bo in ʼn reghoekige tertbord van ± 22 cm x 30 cm. Sny die deeg effens om in die tertbord te pas.
  5. Bak die orige twee rolle skilferkorsdeeg ook so.
  6. VULSEL: Verhit die melk (250ml) tot warm en verwyder van hitte.
  7. Meng die mielieblom, vlapoeier, strooisuiker en sout. Roer die warm melk by tot goed gemeng.
  8. Verhit die room en melk (625 ml) in ʼn groot kastrol tot warm.
  9. Voeg die vlapoeiermengsel by die roommengsel. Verhit tot warm en roer af en toe.
  10. Laat prut oor matige hitte terwyl af en toe geroer word totdat die vlamengsel dik en sonder klonte is.
  11. Verwyder die vlamengsel van die hitte. Klits die botter en eiergele by en meng goed.
  12. Laat die vlamengsel vir 5 minute afkoel. Roer die vanieljegeursel by. Klits die eierwitte styf en vou by die mengsel in.
  13. 13. Skep die helfte van die vla bo-op die skilferkorsdeeg wat in die tertbord en maak gelyk. Plaas die volgende rol skilferkorsdeeg bo-op. Sny die deeg waar nodig om in die tertbord te pas.
  14. Skep die oorblywende vla bo-op. Plaas die laaste rol skilferkorsdeeg met die gebakte kant na bo bo-op die vla. Plaas oornag in die yskas.
  15. Meng die versiersuiker en kookwater tot glad. Skep die versiersel bo-oor. Sit in skyfies voor.

Bron: Lekker en Vinnig – Yskasterte
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Vinnig en Maklik Resepte uit Vrouekeur 3, Marlo Carstens.

[Resep] Hoendersosaties

$
0
0
Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Hoendersosaties. Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Die sosaties smaak die lekkerste wanneer dit pas berei is, maar kan vir 24 uur verkoel word. Dit kan ook bevries word vir 30 dae.

Lewer 4 sosaties

Bestanddele:

  • 4 hout- of bamboessosatiestokkies (vir 15 minute in kookwater geweek)
  • 1 middelslag-ui, geskil (100 g)
  • 15 ml olie
  • 50 ml water of stroop gedreineer van die ingemaakte appelkose
  • 60 ml witasyn
  • 10 ml matige kerriepoeier (lees opmerking onderaan resep)
  • 2,5 ml borrie
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • 2 suurlemoen- of lourierblare
  • 15 ml fyn appelkooskonfyt
  • 500 g hoenderfilette, in 3,5 cm-blokkies gesny
  • ½ x 410 g-blik appelkooshelftes in stroop (114 g gedreineer)
  • ½ middelslag- groen soetrissie, ontpit en in 8 stukke gesny

Metode:

  1. Gebruik die buitenste lae van die ui (50 g) om later op die sosatiestokkie te ryg. Sny die buitenste lae van die ui in stukke om in grootte by die hoendervleisblokkies te pas. Hou eenkant. Kap die oorblywende 50 g ui fyn vir die marinade.
  2. Verhit die olie en roerbraai die gekapte ui tot deurskynend. Roer die water of stroop, asyn, geurmiddels en konfyt by, verhit tot kookpunt en haal van die stoofplaat af. Giet die marinade in ʼn glasbak wat lank genoeg is om die sosaties in te plaas.
  3. Plaas die hoendervleisblokkies in die marinade, bedek en verkoel vir 1-24 uur. Ryg die hoendervleisblokkies, appelkooshelftes, ui- en soetrissiestukke afwisselend in op die sosatiestokkies. Plaas die sosaties terug in die glasbak met marinade en rol dit in die marinade.
  4. Kry die braaivleiskole, gas- of elektriese braaier gereed en rooster die sosaties oor matige hitte tot gaar. Toets die vleis met ʼn tandestokkie vir gaarheid. Die vleis is gaar wanneer die vleissap helder vloei. Die vleis moet nog sappig wees.

Voorstelle en variasies

  • Die hoendervleis kan deur varkfilet, skaap- of beesvleis vervang word.
  • Lees die etikette van kerriepoeier vir koring en gluten as binder.
  • Laat jou kerriepoeier by ʼn speserywinkel meng. Woolworths het tans ʼn glutenvrye produk op die mark.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live