Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

Suid-Afrikaanse sjef verlei Amerikaners met boerekos

$
0
0
Foto: Verskaf

Sjef Ivan Giani . Foto: Verskaf

ʼn Suid-Afrikaner verower Amerikaners se harte met tradisionele disse en lekkernye soos bobotie en melktert.

Sjef Ivan Giani woon tans in Houston,Texas, en is een van die sjefs by ʼn restaurant genaamd Springbok.

Ivan sê hulle maak soms tradisionele geregte soos wat sy ouma dit sal voorberei, maar soms word die resepte wel aangepas vir die Amerikaanse palet. Een só ʼn gereg is sy bobotie-pastei, ʼn gereg wat baie gewild is. Baie van die disse is ook ʼn kombinasie van Amerikaanse en Suid-Afrikaanse disse soos pap, garnale en tamatie-uie-smoor.

Ivan het aanvanklik musiekteater studeer en as danser met verskeie produksies oorsee gereis. Die lewe het met hom wye draaie geloop, want toe hy weer kyk, bevind hy hom in ʼn restaurant in Texas. Dié koskenner het vir die afgelope agt jaar die leertjie geklim van kelner tot sjef en uiteindelik sy plek in die Springbok-restaurant se kombuis gevind.

As jy bereid is om hard te werk, om opofferings te maak, sal jy sukses behaal – dit is hoekom ek so lief is vir die kombuis.

Ivan het in talle restaurante gewerk, en is aanvanklik deur die eienaars van die Springbok-restaurant genooi om net vir ʼn week saam met die restaurant se sjef te kook om hom te leer om tradisionele geregte soos koeksisters, vetkoek en bobotie te maak.

“Ná daai week het hulle my gebel en vir my ʼn pos aangebied,” sê Ivan.

Volgens Ivan is die malvapoeding en melktert ook treffers by dié restaurant. Hy sê hy meet die standaard van sy kos nie teen die Amerikaners se reaksie nie, maar teen dié van die Suid-Afrikaanse kliënte.

“Amerikaners weet mos nie hoe Suid-Afrikaanse disse moet smaak nie, maar as Suid-Afrikaners vir my sê dit was lekker, dan weet ek, ek het goeie werk gedoen. Dit is hoe ek myself meet.”

Hoewel hulle alle disse self voorberei en maak, is daar sommige produkte wat net nie vervang kan word nie.

“Ons het ʼn verskaffer waar ons eg Suid-Afrikaanse produkte soos Mrs Ball’s-blatjang en mieliemeel aankoop. As Suid-Afrikaners by ons restaurant kom eet, gaan hulle mal as hulle dit sien.”

Die span by die Springbok-restaurant is passievol oor kosmaak en Ivan sê hulle is baie ernstig as dit kom by gehalte.

“Ons glo nie daaraan om vleis te bevries nie. Dit is hoekom ons elke week 60 kg boerewors  en 80 kg biltong maak. Ons kos is vars en organies.”

Ivan was al op verskeie Amerikaanse oggendprogramme, asook die televisiereeks, Chopped. Besoek Springbok-restaurant se webwerf hier.

Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf

[Resep] Tuisgemaakte gemmerlim

$
0
0
Foto: Skottel en Spens

Tuisgemaakte gemmerlim. Foto: Skottel en Spens

ʼn Verfrissende drankie vir lang, warm, somerdae …

Lewer 8 glase

Bestanddele:

  • sodawater
  • lemmetjiesap, verkieslik vars
  • 2 lemmetjies, in skyfies gesny

Gemmerwater

  • 4 k gekapte gemmer
  • 4 k water

Stroop

  • 2 k suiker
  • 2 k water

Metode:

  1. Kook vier koppies water en voeg die gemmer daarby. Verminder die hitte vir vyf minute na medium. Verwyder die kastrol van die hitte en laat staan dit vir 20 minute. Giet die vloeistof deur ʼn fyn sif. Verwyder die gemmerstukkies.
  2. Berei die stroop in ʼn aparte kastrol. Los twee koppies suiker op in twee koppies kokende water. Sit dit eenkant om af te koel.
  3. Vul individuele groot glase met ½ koppie gemmerwater, ⅓ koppie stroop en ½ koppie sodawater. Voeg ʼn paar druppels lemmetjiesap by asook ʼn lemmetjieskyfie.
  4. Vul die glas met blokkies ys.

Bron: Skottel en Spens
Uitgewer: Duto Media

[Resep] Hoenderrol

$
0
0
Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Hoenderrol. Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Die gereg smaak die lekkerste wanneer dit pas voorberei is, maar dit kan vir 24 uur verkoel word. Dit kan vir 30 dae gevries word.

Bestanddele:

  • 500 ml koekmeel (250 g)
  • 20 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 120 g sagte margarien
  • ± 150 ml laevetmelk
  • 350 g gaar wit hoendervleis, fyngesny (450 g indien nog rou)
  • 150 g wit cheddarkaas, gerasper
  • 1 klein ui, geskil en gerasper (50 g)
  • ± 5 ml witasyn of suurlemoensap
  • ʼn knypie fyn naeltjies
  • 50 ml gekapte vars pietersielie
  • 25 laevetmelk

Metode:

  1. Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Vryf die margarien in die droë bestanddele in, totdat dit soos klam broodkrummels Iyk. Sny die melk met ʼn slaplemmes by die droë bestanddele in om ʼn stywe, rolbare deeg te vorm. Bedek en verkoel vir 30 minute. Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak tot ʼn reghoek van 350 x 250 mm.
  2. Verhit die oond tot 200°C.
  3. Versprei die hoender, kaas en ui oor die deeg. Sprinkel die asyn of suurlemoensap oor die mengsel, gevolg deur die naeltjies en pietersielie.
  4. Rol die deeg soos ʼn rolkoek op. Plaas die rol, met die lasplek na onder, op ʼn gesmeerde bakplaat. Sny die rol in 10 skywe met ʼn skerp mes, maar moenie heeltemal deursny nie. Trek die skywe effens oop. Bestryk die deeg met melk.
  5. Bak vir 20-25 minute totdat dit uitgerys en goudkleurig is.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

[Resep] Verruklike Kersfees-spyskaart

$
0
0
Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Die feestyd is sinoniem met spesiale etes, mooi gedekte tafels en samesyn. ʼn Spesiale en selfs spoggerige Kers- of feesete hoef gelukkig nie ure lange werk in die kombuis te verg nie.

Hierdie spyskaart van Heleen Meyer, bekende gesig op Die Groot Ontbyt en ʼn koskonsultant wat mense graag aanmoedig om lekker en gesonder te eet, is perfek vir Kersfees. Haar resepte is geurig, maklik om te maak en daar is altyd iets vir elkeen se smaak.

Die spyskaart

  • Perskes met dukkah, kaas en basiliekruid (voorgereg)
  • Ontbeende lamsboud oor die kole
  • Drie souse vir aartappelslaai
  • Groenslaai en vrugte soos waatlemoen
  • Bessie-pavlova

Perskes met dukkah, kaas en basiliekruid

Sny perskes of nektariens in wiggies en plaas op ʼn groot bord met blokkies mozzarella-kaas (of gebruik die kleiner balletjies mozzarella, bekend as boccoccini, vir ʼn spesiale geur en effek). Sny komkommer in dik skywe en pak saam met die vrugte en basiliekruidblare op die bord. Strooi dukkah of geroosterde amandels oor en sit voor met olyf- of avokado-olie en balsamiese asyn of ʼn balsamiese reduksie. Maak vir elkeen hul eie slaaitjie of ryg die bestanddele op kebabstokkies. Bedruip met olie en asyn of die reduksie en sprinkel dukkah oor net voor dit voorgesit word.

Ontbeende lamsboud oor die kole

Resep aangepas uit Onthoukos
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 1,5 kg lamsboud, ontbeen en oortollige vet verwyder (vra jou slagter om dit te doen)
  • 5 groot knoffelhuisies, in repies gesny
  • 6 takkies roosmaryn, blare gestroop
  • 8 takkies tiemie, blare gestroop
  • fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 30-45 ml (2-3 e) olyf- of avokado-olie
  • sout en peper na smaak

Metode:

  1. Vou die vleis oop om min of meer in ’n eweredige laag te lê. Indien nodig, maak versigtig een of twee snitte om enige dikker dele effens platter te kan druk.
  2. Plaas knoffel, kruie en suurlemoenskil en -sap in ’n vysel. Maak met ’n stamper fyn om ’n growwe mengsel te vorm. (Of kap knoffel, kruie en suurlemoenskil alles baie fyn met ʼn skerp mes en roer die suurlemoensap by.)
  3. Meng die knoffel met die olie en smeer oral oor die lamsboud. Plaas in ’n groot mengbak, bedek en laat oornag (of minstens 2 uur) in die yskas marineer. Moenie dit met sout en peper geur nie.
  4. Berei die ketelbraai met ongeveer 30 brikette in elke kolehouer. Die kole is gereed sodra ’n dun lagie as op die brikette sigbaar is.
  5. Geur boud aan weerskante met sout en peper. Verf met ’n bietjie ekstra olie en plaas plat op die rooster, maar oor indirekte hitte en dus nie direk bo-oor die kole nie. Plaas deksel op en hou ventilasiegate bo en onder oop.
  6. Braai vir 45 minute tot 1 uur vir medium gaar of tot die gaarheid van jou keuse, maar verkieslik nog effens pienk aan die binnekant.
  7. Laat die vleis vir 10 minute rus voor dit gesny word om die verlies van die vleissappe te beperk. Sit warm of teen kamertemperatuur voor met jou gunstelingbykosse of slaaie.

Wenke:

  • Braai die vleis oor matige kole in ’n toeklap-rooster of rooster dit teen 180 °C in die oond. Dit neem min of meer net so lank as in die ketelbraai. Bedek die vleis met foelie vir die eerste gedeelte van die gaarmaaktyd in die oond.
  • Gaarmaaktye as ’n riglyn: vir medium-gaar, vleis aan die been, 20 minute vir elke 500 g, plus ’n ekstra 20 minute. Medium-gaar, ontbeende vleis: 15 minute per 500 g, plus ʼn ekstra 15 minute.
  • Sny altyd ’n boud of ander groot vleissnit teen die grein van die vleis, anders kan dit taai voorkom of baie frummelrig wees. Gebruik ’n gladdelem-mes vir hierdie doel.
  • Oorskiet-lamsvleis is perfek vir ’n ligte slaai die volgende dag of gebruik dit op toebroodjies.

Drie souse vir aartappelslaai 

Resep uit Maak vyf
Lewer 4 – 6 porsies

Almal het húl manier om aartappelslaai te maak en hou boonop van verskillende bestanddele daarin. Hier is drie verskillende souse waaruit jy kan kies en al drie sal heerlik wees met die lamsvleis. Jy kan nog steeds agurkies, hardgekookte eiers of ui byvoeg as jou gesin daarvan hou. Ek hou van ’n aartappelslaai wat met klein aartappeltjies in die skil gemaak is.

Bestanddele:

  • 750 g jongaartappeltjies in die skil

    Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

    Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

  • sout en peper
  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

Suurroom-en-dillesous

  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 125 ml (½ k) suurroom
  • 30 ml (2 e) melk
  • 60 ml (¼ k) grofgekapte vars dille

Kerriejogurtsous

  • 125 ml (½ k) mayonnaise van goeie gehalte
  • 125 ml (½ k) ongegeurde jogurt
  • 2,5 ml (½ t) appelkooskonfyt of heuning
  • 5 ml (1 t) kerriepoeier
  • 45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare

Parmesaan-en-suurlemoensous

  • 45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
  • sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 30 ml (2 e) gekapte vars grasuie
  • 30 ml (2 e) fyngerasperde parmesaan- of wit cheddarkaas

Metode:

  1. Plaas jongaartappeltjies met ’n bietjie water en ’n knippie sout in ’n kastrol. Verhit oor matige hitte tot kookpunt, stel die hitte laer en prut met die deksel op vir 15-20 minute of tot net sag.
  2. Dreineer die aartappels en plaas in ’n groot mengbak. Giet die olie oor en skud die bak om die aartappeltjies met olie te bedek. Dit verleen ’n heerlike geur. Laat dit afkoel en sny in die helfte.
  3. Kies die sous wat by die res van jou maaltyd gaan pas en meng die bestanddele saam. Geur na smaak. Meng die sous met die aartappels. Dit kan teen kamertemperatuur of yskoud voorgesit word.

Wenke:

  • Roketblare, gemarineerde songedroogde tamaties, olywe, fetakaas of vars origanum en roosmaryn is ook heerlik saam met die parmesaansous.
  • Toets die aartappels met ’n toetspen of skerp messie, om ’n so klein as moontlike snit daarin te maak. ’n Groot snit laat die aartappel te veel water absorbeer en oopbars.
  • Moenie gaar aartappels in die water los nie, dreineer dit dadelik. Meng ’n aartappelslaai met die agterkant van ’n houtlepel of sommer met jou hand, om te keer dat jy die aartappels stukkend steek.

Groenslaai en vrugte

Berei ’n groenslaai voor met vars bestanddele soos appel, druiwe, komkommer en ʼn lekker verskeidenheid slaaiblare en selfs spinasieblare. Blansjeer broccoli of groenboontjies vir nog tekstuur en rond die slaai af met ʼn kaas van jou keuse. Feta is lekker en selfs bloukaas is heerlik in ʼn groenslaai. Geroosterde sonneblomsaad of neute is ook altyd ʼn wenner.

Sny waatlemoen in skywe of blokkies en sit dit yskoud as nog ʼn slaai voor. As jy iets interessanter daarmee wil doen, skeur ʼn handvol kruisementblare in growwe stukkies en strooi oor blokkies waatlemoen – dis ʼn heerlike geurkombinasie en perfek met lamsvleis.

Bessie-pavlova 

Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Bessie-pavlova. Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Resep uit Maak vyf
Lewer 8 porsies

ʼn Nagereg van die boonste rak! Om ’n pavlova te maak skrik die meeste mense af. Hierdie resep is egter maklik en jy hoef nie ’n perfekte pavlova te bak nie. Die Griekse jogurt en crème fraîche maak dit ’n besondere bederf vir ’n spesiale geleentheid.

Bestanddele:

  • 250 ml (1 k) Griekse jogurt
  • 250 ml (1 k) crème fraîche (of suurroom)
  • 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
  • 4 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 10 ml (2 t) suurlemoensap
  • 300 g bessies van jou keuse, soos bloubessies, frambose en aarbeie
  • vars kruisement

Metode:

  1. Meng die jogurt en crème fraîche en roer die vanieljesaadjies deur. Voeg die peul by die mengsel en verkoel tot benodig.
  2. Voorverhit intussen die oond tot 130 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit. Smeer ’n bietjie olie liggies in ’n groot sirkel op die papier.
  3. Giet die eierwitte, strooisuiker, vanieljegeursel, suurlemoenskil en -sap in ’n groot glasbak. Klits met ’n elektriese klitser vir ongeveer 10 minute of tot stywe punte vorm. Die eiers moet lig en donsig word en die tekstuur van malvalekker hê. Moenie te ver klits nie, dan word dit droog.
  4. Skep die mengsel op die bakplaat en smeer liggies in ’n 24 cm-sirkel. Dit hoef nie perfek rond te wees nie.
  5. Bak vir 1 uur of tot net goudbruin en gestol. Skakel die oond af en laat die pavlova heeltemal in die oond afkoel. (Dit kan reeds die vorige dag gedoen word.)
  6. Verwyder die vanieljepeul en smeer die jogurtmengsel egalig oor die pavlova en rangskik die bessies bo-op. Versier met kruisementblare en sit dadelik voor.

Wenke:

  • Enige ander vrugte van jou keuse kan gebruik word – selfs vye, granaatpitte en druiwe.
  • Om eierwitte styf te klits: maak seker dat die mengbak baie skoon en droog is. Enige vetterigheid sal verhoed dat die eiers styf klits. Gebruik ’n glas- of vlekvryestaalmengbak in plaas van ’n plastiek-een. Maak ook seker dat die klitser goed skoon is.
  • Eiers teen kamertemperatuur klits gouer styf as eiers wat direk uit die yskas kom. Eierwitte wat bevries was, klits maklik tot ’n hoë volume.
  • Gebruik die eiergele vir roereier of omelette.

As jy nog van Heleen se resepte wil maak, belê gerus in ʼn eksemplaar van haar jongste resepteboek, Maak vyf – met ʼn verskeidenheid bekende bestanddele waarvoor sy elke keer vyf resepte gee. Bestel sommer vandag nog jou spesiaal getekende eksemplaar by heleen.m@iafrica.com. Besoek Heleen se Facebook-blad of webwerf vir meer besonderhede.

[Resep] Pangeroosterde vis

$
0
0
Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Pangeroosterde vis. Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Hier is ʼn heerlike resep vir daardie monster van ʼn vis wat jy hierdie vakansie gaan vang. En as visvang nie vir jou is nie, sal ʼn gekoopte stukkie vis ook goed werk.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 25 ml suurlemoensap of wit asyn
  • 25 ml canola- of olyfolie
  • 500 g bevrore witvisfilette, soos stokvis, koningklip of Kaapse witvis
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 20 ml gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Meng die suurlemoensap of asyn en 10 ml van die olie. Drup die mengsel oor die visfilette en marineer vir 10-15 minute.
  2. Gebruik net genoeg olie om die boom van die braaipan te smeer. Verhit die pan tot matig warm. Panrooster die vis vir 3-4 minute aan weerskante totdat die vis verkleur en maklik vlok met ʼn vurk.
  3. Geur die vis met sout, swartpeper en gekapte pietersielie.

Kan ek dit bere?

  • Die vis kan vir 24 uur verkoel word. Bevriesing word nie aanbeveel nie. Maak dus net genoeg gaar om binne 24 uur te eet.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

[Resep] Skaapboud

$
0
0
Foto: Corli se kombuis

Heerlike skaapboud. Foto: Corli se kombuis

Daar is min dinge wat so lekker ruik soos skaapboud!

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele:

  • ʼn Skaapboud van ±2 kg
  • 1,5 kg aartappels, geskil
  • 6-9 knoffelhuisies, 3 geskil en gekneus en die res heel
  • 1 klein bossie roosmaryn, die helfte van die blare verwyder en grof gekap, die ander helfte in takkies
  • fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 30 ml olyfolie
  • 15 ml Worcestersous
  • 30 ml seesoutvlokkies
  • 15 ml varsgemaalde swartpeper

Kruisementsous

  • 60 ml gekapte kruisementblare
  • 5 ml suiker
  • 2 knippies sout
  • 15 ml warm water
  • 45 ml wynasyn

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C en kry ʼn oondbak of -pan gereed.
  2. Sny die aartappels in helftes of kwarte en laat prut in ʼn groot kastrol vir ongeveer 8 minute. Giet die water af en hou eenkant.
  3. Meng die knoffel, gekapte roosmaryn, suurlemoenskil, olyfolie en Worcestersous saam vir ʼn marinadesmeer.
  4. Smeer die skaapboud met sout en peper en vryf die marinadesmeer in. Plaas dit in die oondbak of -pan.
  5. Plaas die aartappels by die vleis in die oondbak, voeg die roosmaryntakkies en heel knoffelhuisies by, geur met sout en peper en bedruip met ʼn goeie skeut olyfolie.
  6. Bak vir ongeveer 1 ¼ uur as jy wil hê die vleis moet nog pienk wees, of 1 ½ uur as jy dit gaarder wil hê.
  7. Haal uit die oond, bedek met tinfoelie en laat rus vir 15 minute voordat jy die skaapboud voorsit.

Kruisementsous

  1. Klits al die bestanddele saam met ʼn staafmenger of in ʼn voedselverwerker tot glad. Sit dit saam met die skaapboud voor.

Bron: Corli se Kombuis
Uitgewer: Human & Rousseau

Wenke vir gesonder eet dié vakansie

$
0
0
heleen-meyer-plaatkoekies-en-hoeder-1

JOYA®-appel-en-kaneel-plaatkoekies. Foto: Verskaf

Deur Heleen Meyer

ʼn Gesonde leefstyl is vir almal belangrik. Ek hou nie van die woord dieet nie, want dit ontlok so dikwels ʼn negatiewe gevoel by mense. Ek is ʼn ambassadeur vir ʼn gesonde leefstyl vir die hele gesin, selfs wanneer ʼn mens met vakansie is, al eet almal meer bederfkos.

Daarom probeer ek almal aanmoedig om ook daardie beginsels te volg wanneer kosblikke en padkos ingepak word. Dis regtig nie soveel moeite nie, sommer heelwat goedkoper en dikwels baie gesonder en lekkerder as wat jy by ʼn kafeteria, wegneemkos- of kitskosplek kan kry. Sorg vir ʼn goeie verskeidenheid kossoorte, in matige hoeveelhede en so vars en onverfynd moontlik. Dan is jy reeds op die regte spoor.

In die vakansie braai gesinne graag en dan is ʼn lekker, maklike marinade ideaal. Die hoenderporsies se marinade bestaan uit net ʼn paar bestanddele en is regtig geurig. Die beginsel om soveel moontlik self te maak, is juis van toepassing met hierdie marinade, want as dit tuisgemaak is, kan jy beheer wat daarin is. Minder suiker, sout en preserveermiddels maak dit reeds gesonder en die meestal vars, onverwerkte produkte verleen baie geur.

Nog ʼn bestanddeel wat beslis op my vakansie-koslys is, is eiers. Dis ʼn wonderlike bron van proteïen en het ook heelwat ander voedingselemente wat alles belangrik is vir ʼn gesonde leefstyl. Vir die vakansie kan jy letterlik van ontbyt tot iets vir aandete, peuselhappies en natuurlik gebak, daarmee voorberei. Die plaatkoekies is ook tuisgemaak en beslis die gesonder keuse, teenoor ʼn winkel-opsie.

Seisoensvrugte is geurig en maklik beskikbaar en ʼn lekker peusel- of energiehappie om in te pak. Om die plaatkoekies ʼn natuurlike soet smaak te gee, het ek kraakvars, soet JOYA®-appels grof gerasper en by die beslag ingeroer sodat geen bygevoegde suiker nodig is nie. Onthou om veral die porsies van ʼn soetigheid te beheer en nie te veel daarvan op ʼn keer te eet nie. Die plaatkoekies dien in dié geval sommer ook as die stysel vir die ete en hoewel koekmeel, wat meer verfynd is, gebruik word, help die vars appel om meer vesel by die happie in te sluit.

Kos wat vir ʼn piekniek of as padkos ingepak word, moet beslis nog aptytlik wees teen die tyd dat dit voorgesit word, anders is niemand lus daarvoor nie. Verpak dus iets soos die hoenderboudjies in ʼn stuk foelie. Die slaaibestanddele en vrugte is ideaal in aparte plastieksakkies en dit werk uitstekend om bestanddele ook apart te hou. Die plaatkoekies kan ook in ʼn groot stuk foelie toegedraai word, of verpak dit in ʼn stuk bakpapier. En onthou natlappies in ʼn piekniekmandjie of as jy vir padkos inpak, om taai vingers op die strand of op pad tjoef-tjaf uit te sorteer.

Resepte

Hoenderboudjies
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • swartpeper na smaak
  • 15 ml (1 e) tamatiepasta
  • 15 ml (1 e) paprika
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 1 kg hoenderporsies, soos boudjies
  • 125 ml (½ k) water of rooibostee

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Meng die olie met die geurmiddels en smeer oor die hoender. Plaas in ʼn groot oondbak.
  3. Giet die vloeistof rondom die hoender in die oondbak. Bedek met foelie en rooster vir 20 minute. Haal die foelie af en rooster nog 10-15 minute of tot goudbruin en gaar.
  4. Sit voor as aandete met ʼn groenslaai of maak genoeg en pak dit in ʼn kosblik met individuele slaaibestanddele.

JOYA®-appel-en-kaneel-plaatkoekies
Lewer 24 – 30 plaatkoekies

Bestanddele:

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 15 ml (1 e) bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 10 ml (2 t) gemaalde kaneel
  • 2 Nulaid ekstragroot eiers
  • 500 ml (2 k) karringmelk
  • 2 JOYA®-appels, met die skil aan, grof gerasper
  • 60 ml (¼ k) botter, gesmelt
  • sonneblom-of avokado-olie vir braai

Metode:

  1. Sif die droë bestanddele saam in ʼn mengbak. Klits die eiers en karringmelk saam en maak ʼn holte in die middel van die meelmengsel.
  2. Klits die eiermengsel by die meel tot ʼn gladde beslag vorm. Roer die appel by. Wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, want dit kan die plaatkoekies swaar maak. Roer die botter goed deur.
  3. Verhit ʼn dun lagie olie oor matige hitte in ʼn braaipan. Skep 30-50 ml deeg per plaatkoekie in die pan, na gelang van hoe groot dit moet wees.
  4. Braai tot lugborrels bo-op vorm en draai versigtig met ʼn eierspaan om. Braai net ʼn paar minute tot gaar en goudbruin aan die ander kant. Hou die plaatkoekies warm, terwyl die res gebak word. Voeg nog olie in die pan by soos nodig, maar moenie dit te warm maak nie, anders brand die plaatkoekies voordat dit gaar is.
  5. Sit voor met maaskaas, gegeur met heuning en kaneel en nog appelskyfies, indien verkies.

Besoek Heleen se Facebook-blad of webwerf vir meer besonderhede.

[Resep] Kerrievrugtesous vir frikkadelle

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Kerrievrugtesous vir frikkadelle. Foto: Lekker en Vinnig

ʼn Geurige sous vir Kersete – dit is ook heerlik by hoender.

Lewer ± 750 ml

Bestanddele:

  • 15 ml botter
  • 2 uie, fyn gekap of gerasper
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 15 ml matige kerriepoeier
  • 5 ml borrie
  • 15 ml koekmeel
  • 60 ml asyn
  • 15 ml suurlemoensap
  • 60 ml appelkooskonfyt
  • 410 g (1 blik) pynappelstukke, gedreineer en vloeistof behou
  • 2 ryp piesangs, in skyfies gesny
  • 2 Granny Smith-appels, met skil gerasper
  • 125 ml sultanas
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Verhit die botter en braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die kerrie en borrie by en soteer nog ʼn paar minute.
  2. Roer die meel deeglik by en roer die behoue vloeistof geleidelik by sodat geen klonte vorm nie. Voeg die asyn en suurlemoensap by en laat prut tot die sous begin verdik.
  3. Roer die konfyt by tot gesmelt en voeg die pynappelstukke, piesangs, appels en sultanas by. Verhit dit tot kookpunt en laat prut tot die vrugte gaar en sag is en die sous effens verdik het. Geur na smaak.

Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Spogresepte, Suid-Afrikaanse Vroue-landbou-unie.


[Resep] Geroosterde aspersies met lemoen- en olyfsalsa

$
0
0
Foto: Clover Gunsteling braairesepte

Geroosterde aspersies met lemoen- en olyfsalsa. Foto: Clover Gunsteling braairesepte

Oorweeg gerus dié heerlike gereg as ʼn bykos vir Kersfees!

Genoeg vir 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 250 g aspersies, onderpunte afgebreek
  • ¼ k (60 ml) gesmelte Clover Springbok-botter
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Lemoen- en olyfsalsa

  • ¼ k gekapte Italiaanse pietersielie
  • 10 swart olywe, ontpit en fyn gesny
  • 4 ansjovisfilette, fyngekap
  • 2 e (30 ml) kappertjiesaad
  • 2 t (10 ml) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 1 t (5 ml) wit wynasyn
  • 3 e (45 ml) Clover Krush-lemoensap
  • 4 e (60 ml) olyfolie
  • Sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

  1. Verf die botter oor die aspersies en geur met sout en peper.
  2. Rooster op ʼn baie warm braai of in ʼn riffelpan vir 2-3 minute aan ʼn kant. Draai die aspersies gereeld om. Rangskik op ʼn opdienbord.
  3. Kombineer die pietersielie, olywe, ansjovis, kappertjiesaad, suurlemoenskil en asyn in ʼn klein bakkie.
  4. Klits die lemoensap en olyfolie saam en roer dit geleidelik by die salsamengsel.
  5. Geur na smaak met sout en peper. Skep oor die aspersies en sit teen kamertemperatuur voor.

Bron: Gunsteling braairesepte
Uitgewer: Lapa

[Resep] Sjokolade Cremora-poeding

$
0
0
Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Sjokolade Cremora-poeding. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Kyk net hoe pragtig sal hierdie poeding op die Kerstafel lyk!

12 porsies

Bestanddele:

Cremora-vulsel

  • 250 ml Cremora-poeier
  • 250 ml yswater
  • 1 x 397 g blik Clover-kondensmelk
  • 45 ml kakao
  • 125 ml suurlemoensap
  • 200 g donkersjokolade
  • 20 ml gelatien
  • 45 ml water

Kors

  • 1 x 200 g- pakkie Oreo-koekies
  • 60 ml Clover Mooi River-botter, gesmelt

Sjokoladesous

  • 90 g donkersjokolade
  • 180 ml Clover vars room

Metode:

  1. Smeer ʼn broodpan van 20 cm x 10 cm met botter en voer uit met kleefplastiek. Laat die kleefplastiek oor die broodpan se rand hang. Spuit die kleefplastiek met kossproei.
  2. Cremora-vulsel: gebruik ʼn elektriese klitser en klits die Cremora en water saam vir 10 minute.
  3. Meng die kakao en ʼn bietjie van die suurlemoensap saam tot glad. Voeg die oorblywende suurlemoensap by en meng weer.
  4. Meng die suurlemoensapmengsel en die kondensmelk goed saam.
  5. Smelt die sjokolade in ʼn dubbelkoker op die stoof of in die mikrogolfoond teen 50% krag. Roer die gesmelte sjokolade by die kakaomengsel tot goed gemeng.
  6. Voeg die kakaomengsel by die Cremora-mengsel en meng goed.
  7. Spons die gelatien in die water en roer dan oor kookwater totdat die gelatien opgelos het.
  8. Voeg die gelatienmengsel by die Cremora-mengsel en klits tot goed gemeng.
  9. Skep die Cremora-vulsel in die brood pan en maak dit gelyk bo-op.
  10. Kors: kap die koekies fyn in ʼn voedselverwerker. Voeg die gesmelte botter by en meng goed.
  11. Strooi die koekiekrummels oor die cremoravulsel en maak dit gelyk bo-op. Plaas oornag in die yskas om te stol.
  12. Keer die tert versigtig uit die broodpan met behulp van die kleefplastiek. Plaas dit direk op ʼn geskikte opdienbord.
  13. Sjokoladesous: Smelt die sjokolade en room oor lae hitte en verwyder van die hitte. Laat die sjokoladesous afkoel en sit dit saam met die poeding voor.

Bron: Clover Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa

[Resep] Uitjies in foelie

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Uitjies in foelie. Foto: Lekker en Vinnig

Gebraaide uie is stroopsoet en die lekkerste bykos vir ʼn braai.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

  • 500 g piekeluie, geskil, stingelente behou
  • 200 ml botter of margarien
  • 10 ml vars of 5 ml droë orego
  • 2 knoffelhuisies, geskil en gekneus
  • 5 ml sout
  • 3 ml varsgemaalde swartpeper
  • 20 ml suurlemoensap

Metode:

  1. Plaas bestanddele in foelie en bak 30-45 minute lank in die oond of op  die kole.
  2. Knip stingelente af en sit uitjies warm voor.

Bron: Lekker en Vinnig – Braaigeregte
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Braaitreffers deur Hannetjie Joubert.

[Resep] Muesli-en-karringmelkbeskuit

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Muesli-en-karringmelkbeskuit . Foto: Lekker en Vinnig

Daar is min dinge so lekker soos koffie en beskuit vroeg in die oggend.

Lewer 48 porsies

Bestanddele:

  • 500 g bruismeel
  • 500 g muesli (granola-tipe)
  • 100 g All-Bran Hi-Fibre
  • 100 g (125 ml) sagte bruinsuiker
  • 2,5 ml sout
  • 15 ml bakpoeier
  • 70 g (100 ml) Iynsaad
  • 100 ml sonneblom- of makadamianeutolie
  • 2 groot eiers, geklits
  • 500 g laevet-karringmelk
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 2 medium (200 g) suur appels (Granny Smith of Pink lady)

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Meng die bruismeel, muesli, All-Bran, bruinsuiker, sout, bakpoeier en Iynsaad in ʼn groot mengbak.
  3. Klits die olie, eiers, karringmelk en vanieljegeursel saam.
  4. SkiI en rasper die appels en roer dit by die melkmengsel.
  5. Voeg die melkmengsel by die droë bestanddele en meng dit tot ʼn klewerige deeg.
  6. Skep dit in ʼn gesmeerde oondpan en bak dit vir 45 minute.
  7. Laat die beskuit in die pan afkoel en sny dit dan in 48 stukkies.
  8. Droog dit oornag of vir 8 uur by 80 °C uit.

Vervang die Iynsaad met sesam- of sonneblomsaad of amandels vir ʼn bietjie variasie.

Bron: Lekker en Vinnig – Beskuit
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Min moeite, Hilda Lategan.

[Resep] Malvalekkers

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Malvalekkers. Foto: Lekker en Vinnig

Tydens vakansietye is die gesin altyd lus om iets soet te smul. Dié malvalekkers is ’n maklike en vinnige manier om die hele gesin gelukkig te hou.

Lewer ± 50 porsies

Bestanddele:

  • 25 g (40 ml) gelatienpoeier
  • 200 ml water
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 2 eierwitte
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 2 druppels amandelgeursel (opsioneel)

Bedekking

  • 80 g  (250 ml) fyn, droë klapper of 60 ml versiersuiker en 60 ml mielieblom

Metode:

  1. Smeer ʼn vlak glasbak of bakplaat (ongeveer 30 x 20 cm) met margarien. Verwarm ʼn oondvaste mengbak deur dit ʼn paar minute lank in die oond te sit voordat die eierwit geklits word. Dit verhoed dat die mengsel begin stol voordat dit goed geklits is.
  2. Plaas die gelatien in ʼn oondvaste 500 ml-beker, bedek met water en mikrogolf dit ± 1 minuut lank by medium.
  3. Plaas die suiker in die warm mengbak, voeg die eierwit, geursel en warm, gesmelte gelatien by en klits goed totdat die mengsel in volume vermeerder en wit en lig van tekstuur word, maar steeds vloeibaar bly. Indien die mengsel te gou stol, laat die bak vir ʼn paar minute in warm water staan en klits verder.
  4. Giet die mengsel in die voorbereide bak of pan, smeer glad, en laat 15-20 minute lank staan om te stol. Gebruik ʼn warm, droë, skerp mes om blokkies te sny.
  5. Bedekking: Indien klapper gebruik word, strooi dit egalig op ʼn bakplaat en bak ± 8-10 minute lank by 180 °C of tot liggies gerooster. Indien die versiersuiker en mielieblom as bedekking gebruik word, sif dit saam om egalig te vermeng.
  6. Strooi/sif die helfte van die klapper of versiersuikermengsel oor ʼn kombuisplank en keer die malvalekkers daarop uit. Bestrooi met die klapper of sif die mengsel oor. Maak los met ʼn mes en rol elke malvalekker in die klapper of mengsel om aan alle kante te bedek. Skud die oortollige klapper of mengsel af.
  7. Plaas die malvalekkers in ʼn lugdigte houer en verseël vir latere gebruik. Bêre op ʼn koel, droë plek.

Variasie

  1. Voeg 5 ml kakaopoeier of kitskoffie by die suiker vir ʼn kakao-en-koffiegeur-Iekkerny, en laat die lekkers in twee lae stol, soos hierbo beskryf.
  2. Doop die malvalekkers in sjokolade vir luukse lekkers. Breek 200 g donkersjokolade in ʼn oondvaste bakkie en smelt oor die stoom van pruttende water of ± 2 minute lank by medium in die mikrogolfoond. Doop die lekkers daarin en laat afkoel. Plaas in klein papierkoppies of op ʼn afkoelrak om te dreineer en ferm te word.

Wenk:

As die malvalekkers aan jou hande of lepel vaskleef, maak jou hande of lepel effens nat met water. Die lekkers sal dan maklik afgly.

Bron: Lekker en Vinnig – Lekkers
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Vatkos, Carolie de Koster.

[Resep] Vinnige kersie-en-sitrus-limonade

$
0
0
Foto: Skottel en Spens

Vinnige kersie-en-sitrus-limonade. Foto: Skottel en Spens

Bederf jou kuiergaste dié somer met hierdie maklike limonade resep: dis vinnig en heerlik!

Bereidingstyd: 15 minute. Kooktyd: 10 minute

Bestanddele:

  • 1 k suiker
  • 1 k suurlemoensap
  • 1 k lemoensap
  • 1 of meer koppies ryp kersies
  • 6 – 12 k water
  • ʼn halwe suurlemoen se skiI
  • rooiwyn na smaak (opsioneel)

Metode:

  1. Verhit die suiker en een koppie water in ʼn swaarboompan oor lae hitte totdat die suiker opgelos het.
  2. Voeg die skil asook die lemoen- en suurlemoensap by. Voeg ses koppies water by.
  3. Voeg die kersies by, asook die rooiwyn.
  4. Voeg daarna koppie vir koppie water by en proe gereeld om te bepaal of dit na jou smaak is.
  5. Gooi die finale produk in herseëlbare bottels of flesse.
  6. Bedien yskoud en versier met suurlemoenskyfies en een of meer kersies in elke glas.

Bron: Skottel en Spens
Uitgewer: Duto Media

[Resep] Karringmelk-sjokoladekoek

$
0
0
Foto: Skottel en Spens

Karringmelk-sjokoladekoek. Foto: Skottel en Spens

Voor jy met Nuwejaarsvoorneme begin, proe eers dié vir oulaas…

Bestanddele:

  • 2 k koekmeel
  • ½ k botter
  • ½ k warm water
  • 2 eiers
  • 1 t kremetart
  • 1 t koeksoda
  • 1 ½ k suiker
  • ¼ k kakao
  • ½ – 1 k karringmelk
  • 1 t vanielje-essens
  • ʼn knypie sout

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Sif die droë bestanddele saam.
  2. Klop die botter en suiker tot room.
  3. Voeg die goedgeklitste eiers by en dan die kakao gemeng met warm water.
  4. Voeg die droë bestanddele om die beurt met melk by. Voeg die vanielje by.
  5. Bak vir dit 20 tot 30 minute (of langer). Verdubbel die bestanddele vir ʼn groot koek.

Bron: Skottel en Spens
Uitgewer: Duto Media


Top 10 gewildste resepte vir 2016

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Vir die vyfde jaar in ʼn ry is “outydse melkkos” en “tannie Nella se vinnige melktert” steeds die gewildste resepte vir die jaar op Maroela Media. Maroela se lesers het definitief ook ʼn soettand, as ons die lysie so bekyk.

Hier is die top 10 gewildste resepte vir 2016:

  1. Outydse melkkos
  2. Tannie Nella se vinnige melktert
  3. Ma Sarie se piesangbrood
  4. Pampoenkoekies
  5. Cremora-tert
  6. Pampoenkoekies in stroop
  7. Maklikste, lekkerste koekies
  8. Maklike hoenderpastei
  9. Klam wortelkoek
  10. Gemmerkoekies


Lees alle soortgelyke stories oor die Terugblik op 2016 op Maroela Media.

[Video] Kikker kaas-en-wyn-kuiertjies op met dié toertjie

$
0
0
'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Kaas-en-wyn-partytjies kan opgedollie word, of dalk nie, met ʼn idee wat deur Popsugar Food gedeel is.

Popsugar Food deel gereeld resepte, handleidings en wenke vir kosliefhebbers om in die kombuis te gebruik.

Vandeesweek wys die aanbieder, Brandi Milloy, vir mense hoe om wynglasies van kaas te maak.

Die video is teen Sondag 50 000 kere gekyk met sowat 800 mense wat daarvan hou en 350 wat hul neus daarvoor optrek.

[Resep] Beet-en-wortelsmoothie

$
0
0
Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Beet-en-wortelsmoothie. Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Ons weet presies wat een van jou voornemens is vir die nuwe jaar. Hierdie resep behoort te help …

Lewer 2 porsies

Bestanddele:

  • 150 g rou beet, afgespoel, dun geskil en in blokkies gesny (± 2 bete)
  • 200 g rou wortels, geskraap en in skyfies gesny (± 2 wortels)
  • 100 g appel, ontkern en met die skil in skyfies gesny (1 appel)
  • ʼn duimlengte vars gemmerwortel, geskil en gekap
  • 250 ml appelsap sonder preserveermiddels, bv. Liqui-Fruit of Ceres
  • koue water

Metode:

  1. Plaas die beet, wortel, appel, gemmer en appelsap in ʼn versapper. Voeg koue water by soos nodig en verpulp tot glad en skuimerig. Gooi die drankie in ʼn glas en drink dadelik.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

[Resep] Soetpatats

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Soetpatats. Foto: Pixabay.com

Hierdie bykos sal soos poeding proe – net soos jou ouma dit gemaak het.

4-6 porsies

Bestanddele:

  • 4-5 middelslagpatats, geskil, in skywe gesny en met suurlemoenwater bedek (plaas ʼn piering daarop as hulle nie onder die water wil bly nie)
  • gedroogde nartjieskil of vars, dun geskilde lemoenskil
  • sout na smaak
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 125 g (125 ml) goue stroop
  • 50 g (50 ml) botter
  • 1 stuk pypkaneel, middeldeur gebreek of 2-3 stukkies kassia
  • 5 ml (1 t) fyn gemmer
  • vanieljegeursel of selfs ʼn lepeltjie of twee brandewyn, soetwyn of wit port (opsioneel)

Metode:

  1. Skep die patatskywe in ʼn groot, diep kastrol. Voeg die skil by en geur met sout.
  2. Bedek met vars water en kook totdat die skywe sag is, maar nie pap sag nie.
  3. Skep intussen die suiker in ʼn plat, groot kastrol en voeg 75 ml (5 e) water by. Roer oor lae hitte totdat die suiker oplos. Verhoog die hitte en kook vir 1 min. Voeg die goue stroop, botter, kaneel en gemmer by en roer totdat die botter gesmelt is en die mengsel begin borrel.
  4. Dreineer die patatskywe. Moenie droogdruk nie.
  5. Voeg die patats by die stroop en gebruik ʼn houtspaan om die skywe om te keer sodat al die skywe behoorlik met stroop bedek is. Bedek, verlaag die hitte en prut vir ongeveer 20 min. Daar sal ʼn redelike hoeveelheid vloeistof in die kastrol wees. Haal die deksel af en prut totdat die sous begin taai raak. Moenie nou meer in die kastrol karring nie, anders breek die skywe.
  6. Prut totdat die skywe toffiekleurig en taai is. Nou kan die soetpatats met ʼn klein bietjie vanieljegeursel of soetwyn gegeur word. Skep in ʼn opdienskottel en hou warm.

Bron: Rooi Rose 1999.

Kolganslekkerte

$
0
0

screen-shot-2017-01-04-at-10-18-21-amDeur Johan Oosthuizen

Iemand vra nou die dag wanneer skryf ek weer ʼn kosstorie. Ek kan myself nou nie uitgee vir ʼn koskenner of -maker nie, maar ek weet waneer is ʼn ding vir my lekker en ek maak graag kos met wat ek het. Kosgoeters op TV staan my nie aan nie en ek steur my min aan wat in tydskrifte aangebied word. So hier en daar hoor ʼn mens iets interessants, maar as dit by kosmaak kom, dink ek aan oorle’ Ma en my ousus se manier van kosmaak – so sonder fieterjasies en altyd vinger-aflek-lekker.

Nou die dag vertel vriend Johnny vir my hoe ʼn groot trop wildemakoue uit die bloute op ʼn groot lap groen koring toegesak het en die belowende oes tot in die grond in afgevreet het. Ander vertel weer van skades wat kransduiwe, tarentale en ander geveerdes aanrig, as hulle in hul hordes op gesaaides en veevoer in houers toesak. Dit noop hulle om die getalle wat skade berokken, in toom te hou.

So vertel my een buurman vir my dat hy nou maar sy haelgeweer die praatwerk laat doen, voordat die kolganse hom bankrot vreet. Ek vra toe vir hom of hy nie bang is vir die natuurbewaarders en aktiviste nie. Hy het net so ʼn snork gegee en toe gesê die (selfstandige naamwoord wat met swaarweer te doen het) kan maar kom en dan kan hulle ook sommer skadevergoeding en sy koőperasierekening betaal.

Soos ek nou maar is, vra ek toe vir hom of hy nie vorentoe ʼn kolgans na my kant toe wou laat val nie. Net die volgende dag het hy laat weet dat ek maar my kolgans kon kom haal. Net een haelkorrel het hom laat val en daar was nie eintlik vleisskade nie. Ore in die nek het ek die vleismeevaller gaan haal. Hy het nog raad gegee dat ʼn mens sommer die vel, vere en al, moet aftrek voor jy verder slag, maar dit het op dowe ore geval. Die vel is mos al te lekker!

Die destydse stryd in Engeland om die watervoëls te ontveer, was vergete. Ek het vergeet die Skepper het ʼn watervoël so gemaak dat water nie maklik die vel moet bereik nie. Soos ʼn mens nou maar maak, het ek die ketel kookwater oor die kolgans leeggemaak terwyl ek hom so gedraai het dat die hele lyf benat kon word. Toe die veretrekkery begin, het alles belowend maklik gelyk, maar toe kom ek agter dat daar onder die bolaag vere ʼn digte donslaag was. Hierdie donskombers is omtrent donsie vir donsie tussen duim en wysvinger uitgepluk. Stadig, geduldig en pynlik as die vingers begin kramp het. Die stert- en vlerkvere is met ʼn tangetjie uitgetrek, want ek wou nie verder met kookwater lol nie.

Daar lê die ontveerde kolgans toe voor my, gereed om verder verwerk te word. Dit het maklik gegaan, want die buik- en borskas was so groot dat ek my ou knewelhand maklik kon inkry om die binnegoed uit te kry. Die geslagte kolgans, vel en al, is mooi skoon afgespoel en toe hy daar, borskant bo, op die snybord lê, toe prys ek my eie stert en seg ek: “Kyk, eendvoël slag, kan jy slag!” Nie ʼn veertjie, donsie of bloederigheid nie en die die vel is onbeskadig. Toe’t ek hom maar vir die wis en die onwis vir ʼn paar ure in asynwater laat lê om, soos destyds met die ystervark, die “willigheid yt hom yt te kry”, soos ou dronk Jan my aangeraai het.

Dit was ʼn ordentlike slagding met baie vleis. ʼn Nek-, vlerk- en stuitjieliefhebber se droom, om nie eens van ʼn borsliefhebber te praat nie! ʼn Lang karkas met ʼn laaang nek en vlerke wat so vat-vat aan 30cm elk. Ek het geweet dit sal vernuf kos om die spulletjie in my ovaal ysterpot in te kry.

Dit was tyd om die slagding reg te kry vir die oond. Daar was nie ʼn resep nie en soos altyd het ek sommer so uit my kop uit begin werk. Ek het eers ʼn lagie olie oor die hele gevoëlte gesmeer en toe met sout en growwe swartpeper liggies ingevryf. Toe  was hy reg om in die ysterpot ingepas te word.

Met ʼn watertjie en ʼn paar tjirtse Worcestersous onder in die ysterpot, het ek die kolgans in die pot ingepas. Ok maar net-net. Pragtig uitgelê en reg vir die finale voorbereiding. Met ʼn mengsel van Vroulief se appelkoosblatjang, vars suurlemoensap en soet rissiesous het ek die gans mildelik bedrup en toe liggies oor die hele oppervlak ingevryf. Toe’t ek die gans, tot in elke vou en holtetjie, met braai-meghêftertjies besprinkel. Die lekkerte van meghêftertjies is dat jy nie ʼn gebottelde mengsel gebruik nie. Elke lekkerteliefhebber het mos sy eie resep.

Nou was dit tyd vir die finale afronding voordat die deksel opgesit word. As ek vars varkspek gehad het, sou ek seker die borsgedeelte met dun velletjies spek bedek het om ʼn moontlike droogheid te voorkom. By gebrek aan salotte, het ek uie en vars knoffel in dun skyfies gesny en op die gans gepak. Vir ʼn groenigheidjie, is fyngekapte preie toe oor die hele oppervlak gestrooi. Die finale afronding was so ʼn effense lagie dik wit uiesoppoeier en liewe Ina se groenuiesout.

Die gaarmaak in die oond het gou belofte getoon en die geur wat rondgehang het, het vertel van ʼn groot lekkerte wat aan die kom was. Dit was ook so, want ʼn paar ure later, toe die deksel gelig word, het die lekkerte, jy kan maar sê, uitlokkend gelê en wag om geproe te word. Hier en daar ʼn proeseltjie en elke proeseltjie het gesmaak, nee, gesmeek na meer.

Toe my getroue en bekwame ou Helpertjie die kolgans uit die ysterpot lig en op die snyplank neersit, was dit mooi om na te kyk: Die gaar kolgans op die bord en so ʼn ryk 30mm diep sous in die pot. Ek het die lekkerte so staan en bekyk en toe vir my Helpertjie gesê: “Jong, hier’s vleis vir minstens drie dae en drie nagte se eet en genoeg sous vir baie growwe brood met plaasbotter. So was dit ook.

Ek het die lekkerny in porsies gesny – eintlik in porse want soos by enige eendvoël was dit net die boudjies en dytjies wat porsies was. Die twee borsstukke was so groot soos twee 500g biefstukke en die superlange nek, vlerke en stuitjie was met lekkerte gelaai. Daar was nie twyfel oor wat vir ons gewag het as ons by onse eetplekkie sou gaan aansit nie.

In die tuin was aartappels en patats wat gewag het om uitgehaal en groenbone om afgepluk te word. So gemaak en my ou Tuisteskeppertjie het gesorg vir brosgebakte aartappel, soetpatat en groenbone met aartappel en uie gekook. Kyk, kook kan sy kook!

Die kolganslekkerte het gesorg vir dae se genot en eetvreugde. Om lekker te eet, bly maar een van die grootste vreugdes, maar vir my tog nie ʼn groot wit bord met ʼn paar blertsies, spatsels, strepies, groen of pers blaartjies en stingels nie. Nee, ʼn bord kos soos my ouma, my ma of my ousus dit sou voorsit. So was ons kolgansetes – ʼn bord belaai met voedsame heilsaamheid!

En vir my jong buurman, Jan-Cor, het ek gesê dat as hy weer sy oesbelange moet beskerm, hy maar ʼn kolgans na my kant toe kan laat val. Ek sal weet wat om met hom te maak en ek wens jy kon saam kom eet! Wie weet? Dalk!

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live