Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

Plated Convenience – Gesonde kos by jou voordeur

$
0
0
Foto: Plated.co.za

Foto: Plated.co.za

[Promosie]

Ons lewens is vandag vreeslik besig – dit is ʼn gejaag van een plek na die volgende en mens is gewoonlik stokflou wanneer jy by die huis kom. Dit is juis op hierdie dae wat mens na gemorskos gryp, omdat jy net nie kans sien vir ʼn sessie voor die stoof nie.

Plated Convenience, ʼn maatskappy wat glo ʼn gesonde leefstyl moet gerieflik wees, is besig om denkwyses oor kosmaak te verander.

Hierdie maatskappy spesialiseer in voorafgemaakte maaltye, maar volgens Willbert Kinnear, uitvoerende hoof van Plated Convenience, is dié maaltye nie soos destydse “televisie-aandetes” nie.

“Ons glo in gesonde, maar smaaklike etes. Ons hoofdoel is om topkwaliteit kos na mense te bring. Ons bring gerieflikheid en gesondheid saam,” sê Willbert.

Heerlike maaltye, soos beesfilet en patats, herderspastei en geroosterde hoender, is maar net ʼn paar van die maaltye wat met organiese bestanddele gemaak word en dan by jou voordeur afgelewer word.

Foto: Plated.co.za

Foto: Plated.co.za

“Alles in vandag se lewe gaan oor gerieflikheid – die manier waarop ons kommunikeer en reis word al hoe makliker en gesonder eet moet ook geriefliker wees. Ek glo dit is hoe ons in die toekoms gaan eet. Ons glo in ʼn gesonde leefstyl, maar dit beteken nie ons wil nie hê mense moet sit en kalorieë tel nie”.

Plated se maaltye bevat geen ekstra suiker of preserveermiddels nie en maak ook voorsiening vir mense met allergieë. Willbert sê vanjaar is gesinsetes ook beskikbaar as jy vir nog ʼn paar honger magies moet sorg.

“Ons maak beslis voorsiening vir gesinne. Al eet jy nie elke dag van ons etes nie, is dit ʼn goeie plaasvervanger vir die naweek se wegneemetes. Die konsep draai daarom dat daar altyd ʼn gesonde ete in jou yskas byderhand is.”

Pakkette is beskikbaar teen ʼn vaste prys, maar daar is ook ʼn magdom etes en peuselhappies om van te kies indien jy jou eie pakket wil bou. Die minimum bestelling is R500 en dan word jou boks by jou huis afgelewer.

Foto: Plated.co.za

Foto: Plated.co.za

Sover lewer Plated etes af in Gauteng en omliggende provinsies, soos Limpopo, Noordwes en Mpumalanga. Dienste in ander provinsies, soos die Wes- en Oos-Kaap, sal ook later vanjaar beskikbaar wees.

Plated se konsep is eenvoudig:

  • Jy gaan na die webwerf, kies jou etes en betaal. Betaling is baie veilig en maklik.
    Etes kan ook per e-pos bestel word.
  • Jy sal onmiddellik ʼn e-pos ontvang wat jou bestelling bevestig.
  • Jy ontvang ʼn oproep in die volgende 24 uur om die afleweringsplek en -tyd te bevestig.
    Plated het ook ʼn winkel in Pretoria as jy self jou pakkie wil gaan haal, wat beteken jy betaal nie vir aflewering nie.
  • Indien jy nie genoeg pakplek het nie, kan hulle ook jou pakkie opdeel en kom aflewer wanneer jy reg is.
  • Etes word gevries afgelewer, maar alle disse word vars voorberei.
  • Jou pakkie word tussen 2 – 5 werksdae afgelewer.

Besoek gerus Plated Convenience se webwerf of stuur ʼn e-pos vir meer besonderhede en gaan kyk sommer hoe lyk die spyskaart. Daar is ook verskeie resensies oor Plated Convenience  se kos op Facebook.

Foto: Plated.co.za Foto: Plated.co.za Foto: Plated.co.za

[Resep] Vyekonfyt

$
0
0
konfyt

Foto: Pixabay.com

Ons deel graag hierdie heerlike konfytresep en sommer ook wenke oor algemene foute wat voorkom wanneer jy konfyt kook.

Lewer ± 1 kg

Bestanddele:

  • 1 kg suiker
  • 200 ml water
  • 1 kg ferm ryp vye, stamme verwyder en in kwarte gesny
  • 30 ml vars suurlemoensap

Metode:

  1. Verhit die suiker en water saam in ʼn swaarboomkastrol oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos is.
  2. Voeg die vye by en kook onbedek vir 1 tot 2 uur tot dik en stroperig. Roer voortdurend om aanbrand te voorkom.
  3. Toets vir stolpunt, giet die konfyt in warm gesteriliseerde bottels en verseël. Toets vir stolpunt deur ’n bietjie van die mengsel op ’n koue bord wat in die vrieskas was te drup. Laat vir 30 sekondes afkoel. As die stroop stolpunt bereik het, sal dit plooitjies maak wanneer jy met jou vinger daarteen druk.

Variasies:

Vye-en-sesamsaadkonfyt

  • Voeg twee repies vars suurlemoenskil saam met die vye by. Rooster 100 ml sesamsaad in ʼn klein pannetjie in die oond vir 5 tot1 0 minute by 180 °C  tot goudbruin. Voeg dit heel laaste by nadat die vye 1¾  tot 2 uur gekook het. Sit dit voor op geroosterde Italiaanse brood saam met beleë Cheddarkaas.

Vye-en-roosmarynkonfyt

  • Spoel 50 tot 75 ml vars roosmarynblaartjies goed af, breek dit los van mekaar en verkoel dit tussen kombuispapier. Roer dit by nadat die konfyt 1¾ tot 2 uur gekook het.

Die mees algemene foute wat voorkom

Dit stol nie voldoende nie en is loperig

  • Daar is te min pektien in die vrugte wat gebruik is. Voeg kommersiële pektien by en kook weer tot stolpunt bereik is.
  • Die balans tussen suur en pektien was nie reg nie. Voeg nog suurlemoensap by en kook weer tot stolpunt bereik is.
  • As die vrugte sag is voor die stroop reg is, moet die vrugte uitgehaal word en net die stroop verder gekook word. Plaas die vrugte weer in die kastrol en kook verder.

Die vrugte beweeg boontoe in die bottel

  • Die konfyt is nie toegelaat om te rus nadat dit gekook is nie. Die vrugte is dus nie egalig deur die stroop versprei nie en sommige bottels mag dan meer stroop as vrugte hê. Skep alles in ʼn bak uit, laat die konfyt heeltemal afkoel en roer die vrugte egalig deur die stroop. Skep dit terug in die bottels en bedek dit met ʼn brandewynlappie of waspapier. Hierdie stap is belangrik omdat die konfyt nie warm gebottel word nie.
  • Die stroop is te dun. Dreineer die stroop van die vrugte af, giet dit terug in die kastrol, voeg nog suiker by en kook weer vinnig tot die stolpunt bereik is. Roer die vrugte weer by en bottel.

Die stroop het gekristalliseer (sandsuiker gevorm)

  • As die konfyt suikerkristalle in het, kan dit in die mikrogolf verhit word om die kristalle te smelt, en dan gebruik word. Die kristalle is nie skadelik nie en beïnvloed ook nie die smaak nie.
  • Die temperatuur waarteen die produk gebêre word, is te laag.
  • Daar is te veel suiker bygevoeg.
  • As die stroop voor die vrugte reg is, kan ʼn bietjie dun stroop bygevoeg word. Kook dan verder. lndien dit nie gedoen word nie, sal die stroop te gekonsentreerd wees teen die tyd dat die vrugte reg is en dan maklik sandsuiker vorm.

Die vrugte is te donker

  • Die suiker het begin karamelliseer omdat die konfyt te lank gekook het.
  • Die kastrol is op die plaat gelos terwyl jy besig was om te bottel; dit het veroorsaak dat die kook proses nie beëindig is nie.

Skimmel (fungus) vorm bo-op

Hierdie produkte moet dadelik vernietig word aangesien die skimmel wat bo-op groei, ook ʼn onsigbare netwerk van drade binne-in die produk vorm. Dit is skadelik vir menslike gebruik.

  • Die produk is nie behoorlik verseël nie.
  • Die deksels was nie heeltemal lugdig nie.
  • Die bottel se seël is gebreek.
  • Flesse is nie behoorlik gesteriliseer nie.

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

[Resep] Seekospotjie

$
0
0
Foto: Laat die potte sing

Seekospotjie. Foto: Laat die potte sing

Sjef Snoekie deel een van haar gunstelingseekos-resepte en vertel ook hoekom dié resep ʼn wenner is. Elke resep in Laat die potte sing het sommer ook ʼn skattige staaltjie by.

Bestanddele:

  • 500 g gemengde seekos (mossels, garnale, krapstokkies en calamari)
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 3 e botter
  • 1 t olie
  • sap van ½ suurlemoen
  • 3 e brandrissievlokkies

Metode:

  1. Smelt die botter en olie in ʼn pan (die olie keer dat die botter so gou brand).
  2. Soteer die knoffel liggies en voeg dan die brandrissievlokkies by.
  3. Die pan moet lekker warm wees voor jy die seekos byvoeg.
  4. Braai die spulletjie vir 2 minute en roer ʼn slag sodat die seekos aan alle kante braai. Braai vir nog 2 minute en verwyder van die hitte.
  5. Druk die suurlemoensap oor die seekos uit en sit dadelik voor.

Bron: Sjef Snoekie laat die potte sing
Uitgewer: Lapa Uitgewers

[Resep] Tunatert

$
0
0
Foto: g01.s.alicdn.com

Foto: g01.s.alicdn.com

ʼn Maroela Media-leser, Helene Burger, deel een van haar gunstelingresepte. “Ek het dit baie lank vir die VCSV Strandfontein aan die Weskus gemaak. Dis vullend, smaaklik en maklik. Ek het dié resep met die jare al so ʼn bietjie verander,” sê Helene.

Hierdie resep is in groot maat vir ʼn gesin van 6-8.

Bestanddele:

  • 4 blikkies tuna in water of olie
  • 2 k mayonnaise
  • 2 pakke bacon kips (druk fyn en plaas onder in bak)
  • 6 hardgekookte eiers (fyngedruk)
  • 2 klein uie (fyngekap)
  • 2 k cheddarkaas (fyngerasper)
  • 2 pakkies suurlemoenjellie (opgelos in 3 k kookwater)
  • 2 e gelatien (opgelos in ʼn bietjie koue water)

Metode:

  1. Meng alles saam en gooi bo-oor bacon kips-basis.
  2. Verkoel in yskas tot lekker gestol.
  3. Sny in blokke en sit voor met lekker vars brood en ʼn mengelslaai.
  4. Hou in yskas voor gebruik vir ten minste 6 ure.

Kook saam Kaaps wen ʼn Gourmand!

$
0
0
Foto: Skermskoot uit die video.

Foto: Skermskoot uit die video.

LAPA Uitgewers en die ATKV is baie trots nadat die jurie van die Gourmand World Cookbook Awards pas aangekondig het Kook saam Kaaps, deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker van Bonteheuwel, die nasionale wenner is in die kategorie vir beste plaaslike cuisine.

Edouard Cointreau, die president van die jurie en die stigter van die Gourmand World Cookbook Awards, sê in sy aanbeveling dit is ʼn wonderlike boek, wat plaaslike resepte, wat familiegeheime van oumas in die Kaapstad-omgewing is, oproep.

Die eerlike en onopgesmukte kos, uit Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker se kombuise in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte, het Suid-Afrikaners geheel en al betower. Die twee afgetrede tannies se onfeilbare resepte het daarvoor gesorg dat Kook saam Kaaps topverkoperstatus bereik het, met 10 000 eksemplare wat binne 12 maande verkoop is.

Die boek is nou reeds 38 weke lank op die Nielsen-topverkoperlys vir nie-fiksie.

Koelsoem en Flori het ook hul eie kookreeks op televisie aangebied. Flori en Koelsoem se kosse is vir dertien weke elke Woensdagaand om 18:00 op VIA (kanaal 147) uitgesaai.

Tannies Koelsoem en Flori het verlede jaar by Maroela Media gekuier en het tydens die onderhoud gesê die resepteboek bring net seën en dat hulle tevrede is met hul lewens en die bekendheid wat hulle verwerf het, hulle nie gaan verander nie.

“Ek wil nie hê die boek moet my grootkop maak nie – Ek wil net nederig bly,” sê Flori.

Volgens LAPA Uitewers is Tannie Koelsoem en Tannie Flori se tweede kookboek goed aan die gang. Dit verskyn in Februarie.

In Soettand deel hulle poedings en soetgebak wat dekades lank al familiegunstelinge is, soos Ouma Rose se doekpoeding, ʼn onderstebo-tert, potpoeding, Maleise koesisters, bobaas-bollas, Yuwin se waatlemoenysies, gemmerpoeding, broodpoeding met ʼn verskil, Hertzoggies en die berugte tweegevrietjies.

[This post contains video, click to play]

[Resep] Karamel-en-koekiepoeding

$
0
0
Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Karamel-en-koekiepoeding. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos

Daar vlieg alle goeie voornemens uit by die deur! ʼn Ekstra kilometer of twee om die blok is aan die orde van die dag …

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

Koekielaag

  • 1 x 200 g-pak Nutty Crust-koekies, grofgekap
  • 60 ml klapper
  • 60 ml pekanneute, grofgekap
  • 1 x 380 g-blik ingedampte melk, verkoel
  • 1 x 397 g-blik Clover-kondensmelk
  • 2,5 ml vanieljegeursel

Karamellaag

  • 1 x 80 g-pakkie suurlemoenjellie
  • 5 ml gelatien
  • 250 ml kookwater

Afronding

  • 250 ml Clover vars room
  • 10 ml versiersuiker, gesif
  • 2,5 ml vanieljegeursel

Metode:

  1. Koekielaag: meng al die droë bestanddele saam en hou eenkant.
  2. Karamellaag: meng die suurlemoenjellie en gelatien saam. Voeg die kookwater by en roer tot opgelos. Plaas die mengsel solank in die yskas om af te koel, maar moenie dat dit stol nie.
  3. Gebruik ʼn elektriese klitser om die verkoelde ingedampte melk te klits tot dit verdubbel in volume.
  4. Roer die tuisgemaakte karamelkondensmelk tot glad en klits dit by die styfgeklitste ingedampte melkmengsel. Roer die vanieljegeursel deur.
  5. Voeg die jelliemengsel by die kondensmelkmengsel en meng goed.
  6. Skep eetlepels vol van die gekapte koekiemengsel in ses glase of glasbakkies. Skep van die jellie-en-kondensmelkmengsel oor die koekies. Herhaal die lae tot al die bestanddele op is.
  7. Plaas die mengsel vir 5 uur in die yskas om te stol.
  8. Afronding: klits die room, versiersuiker en vanieljegeursel tot styf.
  9. Dien die poeding saam met die styfgeklitste room op.

Wenk: tuisgemaakte karamelkondensmelk

  1. Haal die papier-etiket van die kondensmelkblik af. Maak twee gaatjies in die bokant van die kondensmelkblik. Plaas die blik regop in ʼn groot kastrol en vul die kastrol tot 1 cm onder die rand van die kondensmelkblik met water. Verhit die water tot kookpunt, verlaag die hitte en laat vir 3-3½ uur prut tot daar karamel vorm by die gaatjies in die blikkie.
  2. Vul die water in die kastrol gereeld met kookwater aan sodat dit nie droogkook nie. Die water moet 1 cm onder die rand van die kondensmelkblik bly.
  3. Verwyder die kondensmelkblik uit die kookwater met ʼn tang en laat dit heeltemal afkoel.

Bron: Clover Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa

[Resep] Mayonnaise

$
0
0
Foto: Bottel en gebruik

Mayonnaise. Foto: Bottel en gebruik

Baie mense is te bang om hulle eie mayonnaise te maak, maar die resep is vinnig en maklik, veral met ʼn handmenger of voedselverwerker.

Lewer ongeveer 300 ml

Bestanddele:

  • 2 eiergele
  • 10 ml witwynasyn of suurlemoensap
  • 2,5 ml mosterdpoeier
  • knippie sout
  • 30 ml koue water
  • 300 ml olyfolie
  • witpeper na smaak

Metode:

  1. Meng die eiergele, asyn of suurlemoensap, mosterdpoeier, sout en water in die bak van ʼn handmenger of voedselverwerker.
  2. Meng dit vir ʼn paar sekondes teen matige spoed tot die mengsel glad is.
  3. Stel die menger op ʼn vinnige spoed en voeg die olyfolie baie stadig in ʼn dun straaltjie by tot goed gemeng. Geur na smaak en gebruik soos nodig.

Wenk:

  • Maak seker dat die eiers en olie by kamertemperatuur is.
  • Indien dit lyk of die mayonnaise wil skei, kan jy ʼn paar druppels warm water inmeng sodat die emulsie weer bind.

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

[Resep] Tropiese vrugte-ysies

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Tropiese vrugte-ysies. Foto: Lekker en Vinnig

Kyk eers watter bestanddele benodig word voor jy dié resep vir die kinders wil maak. Grootmense mag ook mos ysies eet …

Lewer 8 porsies

Bestanddele:

  • 750 ml gekapte vars pynappel
  • 80 ml onversoete klappermelk
  • 125 ml water
  • 45 ml strooisuiker
  • 80 ml wit rum
  • 8 roomysstokkies

Metode:

  1. Meng al die bestanddele in ʼn voedselverwerker en meng tot glad.
  2. Filtreer die vloeistof deur ʼn fyn sif in ʼn maatbeker en gooi die soliede stukkies in die sif weg.
  3. Giet die vloeistof in die roomysvorms en bevries dit vir 45 minute.
  4. Druk die roomysstokkies in die vorms en bevries die ysies vir minstens 24 uur tot dit hard bevrore is.

Bron: Lekker en Vinnig – Vrugte
Uitgewer: Lapa


[Resep] Denningvleis

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Denningvleis. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie resep sal vleisliefhebbers opgewonde maak – en boonop is dit maklik ook!

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml olie
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 uie, in ringe gesny
  • 10 ml suiker
  • 1 kg skaapvleis-dunrib of -boud, in stukkies gesny
  • 4-6 kruienaeltjies
  • 4-6 wonderpeperkorrels
  • 2 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • knippie vars fyngerasperde of fyn neutmuskaat
  • 250 ml kookwater
  • 20-30 ml tamaryn

Metode:

  1. Verhit die olie in ʼn swaarboomkastrol.
  2. Voeg die knoffel en uie daarby.
  3. Strooi die suiker oor en smoor dit tot die uie goudkleurig is.
  4. Skep dit uit en plaas die vleis in die kastrol. Braai tot dit begin verkleur.
  5. Voeg nou die kruienaeltjies, wonderpeperkorrels, lourierblare, sout, peper en neutmuskaat by die vleis en skep die uie en knoffel terug in die pot. Voeg 125 ml van die water by. Sit die deksel op en stowe die vleis tot sag. Dit neem ± 1-1½ uur.
  6. Week intussen die tamaryn in die orige 125 ml water. Syg deur ʼn fyn sif en voeg die water by die vleis. Laat weer ʼn rukkie stowe om die geure goed te laat meng.
  7. Sit dit voor met rys of gekookte aartappels.

Resep oorspronklik gepubliseer in Eet saam, GKSA.
Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa

[Resep] Vinnige bykosse

$
0
0
Foto: Jou beste lewe

Vinnige bykosse. Foto: Jou beste lewe

Probeer hierdie heerlike bykosse wat vinnig is om te maak en boonop gesond en smaaklik is. Bedien dit saam met enige hoofgereg.

Bedien 4

Tamatieslaai

Bestanddele:

  • 50 ml vars basiliekruid, gekap
  • 1 klein knoffelhuisie, fyngekap
  • 50 ml olyfolie (of koudgeparsde avokado-olie)
  • 75 ml rooiwynasyn
  • varsgemaalde sout en peper
  • na smaak
  • 5-6 medium roma-tamaties, gesny

Metode:

  1. Meng al die bestanddele behalwe die tamaties saam in ʼn bak.
  2. Voeg dan die tamaties by en meng goed.

Geroosterde eiervrugslaai

Bestanddele:

  • 2 medium eiervrugte, in 1 cm skywe gesny
  • 50 ml olyfolie (of koudgeparsde avokado-olie)
  • 75 ml rooiwynasyn
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 2 eetlepels vars kruisement, gekap
  • 50 g fetakaas (een wiel)
  • varsgemaalde sout en peper

Metode:

  1. Braai die droë eiervrug in ʼn warm riffelpan tot bruin aan albei kante.
  2. Plaas in ʼn bak en bedek met kleefplastiek en laat dit stoom vir 10 minute om die eiervrug ʼn romerige tekstuur te gee.
  3. Voeg die olie, asyn, knoffel, kruisement en gekrummelde feta by. Geur na smaak en meng goed.

Gemarineerde Oosterse Komkommers

Bestanddele:

  • ½ Engelse komkommer, in die middel deurgesny en dan in skywe gesny
  • 2 nartjies, geskil en in skywe gesny
  • 50 ml rysasyn
  • 10 ml sesamolie

Metode:

  1. Meng alles saam in ʼn slaaibak.

Wenk:

Superbykosse kan jou help om maer te bly deur die ergste van jou hongerpyne te stil. Om meer te eet as wat ons regtig moet (beter bekend as my-oë-was-te-groot-vir-my-maag-sindroom) veroorsaak gewigstoename – wat geen verrassing is nie! Studies toon deur ʼn slaai voor ʼn hoofmaaltyd te geniet, kan jy jou totale kalorie-inname verminder deur minder te eet met die hoofmaal, want jy voel klaar meer versadig.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

[Resep] Kerrie-vrugteslaai

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Kerrie-vrugteslaai. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie resep mag dalk vreemd klink, maar kyk net wat is alles in dié slaai. Laat weet gerus indien jy hierdie outjie gaan voorberei, ons hoor graag van jou!

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml botter of margarien
  • 5 uie, geskil en in ringe gesny
  • 10 ml kerriepoeier
  • 5 ml borrie
  • knippie sout
  • 10 ml mielieblom
  • 7 ml mosterdpoeier
  • 130 ml asyn
  • 40 ml bruinsuiker
  • 60 ml appelkooskonfyt
  • 60 ml water
  • 100 ml sultanas
  • 2 piesangs, geskil en in skyfies gesny
  • 1 x 410 g-blik perskeskywe, gedreineer
  • 1 x 440 g-blik pynappelstukke, gedreineer
  • ½ kop blaarslaai, gewas en in stukke gebreek

Metode:

  1. Smelt die botter of margarien en soteer die uie, kerrie en borrie daarin tot sag.
  2. Meng res van bestanddele, behalwe vrugte, en voeg by uiemengsel.
  3. Prut sous sowat 3 minute lank tot gaar en dik. Laat afkoel.
  4. Roer piesangs, perskes en pynappel in.
  5. Rangskik slaaiblare in ʼn slaaibak en skep slaai bo-op.

Bron: Lekker en Vinnig – Braaigeregte
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Braaitreffers deur Hannetjie Joubert.

[Resep] Karameltoffies

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Karameltoffies. Foto: Lekker en Vinnig

Ietsie lekkers vir die week wat voorlê. ʼn Mens kort soms ʼn bietjie ekstra energie …

Lewer 16-20 porsies

Bestanddele:

  • 115 g botter
  • 385 g (1 blik) kondensmelk
  • 30 ml gouestroop
  • 150 g sagte bruinsuiker
  • 2 ml growwe seesout

Metode:

  1. Voer ʼn 18 cm vierkantige koekpan met aluminiumfoelie uit.
  2. Verhit al die bestanddele saam oor lae hitte in ʼn swaarboomkastrol, totdat die suiker gesmelt is.
  3. Verhoog die hitte tot matig-warm en laat die mengsel kook.
  4. Klits aanhoudend met ʼn draadklitser totdat dit dik en karamelkleurig is.
  5. Giet in die pan en laat 15 minute staan.
  6. Gebruik ʼn bottergesmeerde mes om die toffie in vierkante te sny.
  7. Verkoel 1 uur en verwyder uit die pan.

Bron: Lekker en Vinnig – Lekkers
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Trooskos, Clover SA.

[Video] Wat die gewone oog nie kan sien nie…

$
0
0
'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

Hetsy by die huis, flieks of ʼn karnaval, die volgende keer wat jy ʼn hand vol springmielies in jou mond prop, dink bietjie hoe dit sou lyk as die mieliepit van gedaante verwissel…

Warped Perception, wat bekend geraak het vir die verfilming van alledaagse dinge, maar in stadige aksie, het ʼn Phantom v2512 Ultra-hoëspoedkamera ingespan om ʼn video te neem van hoe ʼn springmielie in sy smaaklike wolkievorm verander teen 1,250 keer stadiger as wat dit in werklike tyd gebeur.

Hulle beweer hulle het die stadigste beeldmateriaal van hoe ʼn springmielie “spring”.

Die video is op 14 Januarie op YouTube gedeel en is teen Saterdagaand reeds meer as 1 460 000 keer gekyk.

[This post contains video, click to play]

[Resep] Jakkie se heerlike biltongslaai

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Jakkie se heerlike biltongslaai. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie slaai is vullend en heerlik vir die werk of sommer ʼn maklike maaltyd by die huis.

Lewer 4 porsies.

Bestanddele:

Slaaisous

  • 125 ml gekapte pietersielie
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 125 ml gekapte sprietuie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2,5 ml korrelmosterd
  • 125 ml olyfolie
  • 30 ml witasyn
  • 15 ml suiker

Slaai

  • 500 ml dungekerfde biltong
  • verskeidenheid groen slaaiblare
  • 1 – 2 skywe fetakaas, in blokkies gesny
  • 2 avokado’s, geskil en in skyfies gesny
  • 2 eiers, hardgekook en in kwarte gesny
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in lang repies gesny

Metode:

  1. Slaaisous: Meng slaaisousbestandddele saam.
  2. Slaai: Plaas die biltong in die sous en laat vir minstens 2 ure of verkieslik oornag in die yskas marineer.
  3. Pak die slaaiblare op die individuele borde en rangskik die res van die bestanddele bo-op die blare. Skep die biltong en van die slaaisous oor en sit dit dadelik voor. Enige orige slaaisous kan saam met die slaai voorgesit word.

Bron: Lekker & Vinnig – Biltonggeregte
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Proe Pretville, deur Leana Pool.

[Resep] Vinnige volkoringbroodjie

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Vinnige volkoringbroodjie. Foto: Pixabay.com

Lekker by braaivleis as ʼn mens dit warm voorsit met botter.

Lewer 1 broodjie

Bestanddele:

  • 500 ml gewone jogurt
  • 900 ml volkoringmeel
  • 10 ml suiker
  • 7 ml koeksoda
  • 5 ml sout
  • 5 ml suurlemoensap

Metode:

  1. Stel die oond op 180 °C.
  2. Smeer ʼn broodpan van 11 x 25 x 7,5 cm.
  3. Meng alle bestanddele deeglik.
  4. Vorm ʼn broodjie, plaas in die broodpan en bak vir 45 minute in die  middel van die oond.
  5. Draai die pan om en bak ʼn verdere 15 minute.
  6. Keer die broodjie op ʼn afkoelrak uit, draai met ʼn doek toe en laat afkoel.

Resep deur Joey Pienaar
Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636


[Resep] Toffie-appels

$
0
0
appels

Toffie-appels. Foto: Pixabay.com

Hierdie resep word in grootmaak voorberei – perfek vir die kerkbasaar, verkope by die skool of sommer ʼn groot verjaardagpartytjie.

Bestanddele:

  • 50 medium, rooi appels
  • 50 geskikte stokkies
  • 1 ℓ  suiker
  • 250 ml water
  • 20 ml asyn
  • 150 ml gouestroop
  • knippie sout
  • 25 ml botter
  • rooi kleursel

Metode:

  1. Was en droog die appels af en steek ʼn stokkie in die stengelkant.
  2. Verhit al die ander bestanddele stadig terwyl geroer word om die suiker op te los.
  3. Was die kristalle van die kant van die katrol af met ʼn kwassie.
  4. Kook die stroop tot die middelslagkraakstadium. Haal van die hitte af en plaas die kastrol in kookwater oor stadige hitte.
  5. Doop die appels een vir een in die stroop, bedek goed. Laat regop staan in ʼn houer om af te koel.

Resep deur Joey Pienaar
Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Sampioene met knoffelbotter

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

ʼn Mens kan mos nooit verkeerd gaan met ʼn heerlike sampioengereg nie. Sit dit voor as ʼn voorgereg saam met tuisgebakte volgraanbrood of bedien dit as ʼn bykos.

Bestanddele:

  • 15 groot sampioene
  • 75 g botter
  • 15 ml kookolie
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 100 ml gekapte pietersielie
  • 15 ml suurlemoensap
  • 5 ml sout
  • 2 ml varsgemaalde swartpeper

Metode:

  1. Breek die stammetjies versigtig af en vee die sampioendoppies skoon met papierhandoek.
  2. Plaas met die hol kant na bo in ʼn vuurvaste oondskottel.
  3. Verhit botter en kookolie en voeg res van die bestanddele by.
  4. Giet die mengsel oor die sampioene.
  5. Bak 12 – 15 minute in die oond by 160 °C. Geniet dit as voorgereg saam met tuisgebakte volgraanbrood of saam met hoofgereg.

Resep deur Joey Pienaar
Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Tamatiesop

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Tamatiesop. Foto: Pixabay.com

Ons is dankbaar vir elke druppel reën en hoop dit sous sommer die hele naweek lank. Hier is ʼn heerlike resep vir as dit in jou geweste ook nat en koel is.

Genoeg vir vier

Bestanddele:

  • 15 ml olyfolie
  • 25 g botter
  • 1 wortel, geskil, gerasper
  • 1 medium ui, geskil en fyngekap
  • 1 soetrissie, rooi verkieslik, fyngekap
  • 1 selderystengel van 30 cm lank, in fyn wiggies gesny
  • 600 g tamaties, ontvel of geblik
  • 500 ml groenteaftreksel
  • ʼn knippie neutmuskaat
  • ʼn knippie gemaalde gemmer
  • sout en peper na smaak
  • 250 ml room
  • fetakaas vir garnering

Metode:

  1. Verhit olie en botter in ʼn kastrol. Voeg die wortel, ui, soetrissie en seldery by en roerbraai (met toe deksel) vir ongeveer 10 minute tot sag.
  2. Voeg die tamaties en aftreksel by en kook vir 15 minute tot sag.
  3. Puree die mengsel tot baie glad. (Dreineer deur sif vir ekstra gladheid.)
  4. Geur met gemmer en neutmuskaat, sout en peper na smaak. Roer room by en krummel feta oor as garnering.
  5. Bedien die sop warm met snye geroosterde brood.

Bron: Boerekos met ‘n twist/Annelien Pienaar, 2016 

[Resep] Lewerpatee

$
0
0
Foto: Verskaf

Lewerpatee. Foto: Pixabay.com

Dié resep behoort aan Vossie Kruger en sy meen dit is ʼn lieflike resep. Hierdie resep lewer ʼn groot hoeveelheid. Onthou om die patee goed te vries.

Bestanddele:

  • 4 groot uie
  • 1 knoffelhuisie
  • ½ t suiker
  • 250 g spek
  • 3 pakkies hoenderlewer
  • bietjie suurlemoensap
  • sout en peper
  • sampioene (+- 300 g)
  • 250 ml lewerwors
  • handvol vars gesnipperde pietersielie

Opsioneel:

  • 4 e brandewyn
  • ½ k room
  • 2 e gesmelte botter

Metode:

  1. Smoor uie, knoffel en suiker in ʼn bietjie botter.
  2. Voeg gesnyde spek by en kook.
  3. Voeg hoenderlewers, suurlemoensap, sout en peper by en kook gaar.
  4. Roer gedurig.
  5. Voeg sampioene by – kook gaar.
  6. Koel af. Maak fyn in versapper
  7. Voeg lewerwors by.
  8. Voeg brandewyn, room, pietersielie en gesmelte botter by. Vries goed.

Resep deur Vossie Kruger
Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Foto’s] Só lyk kykNET se ‘Kokkedoortjies’

$
0
0
deanbarnard

Dean Barnard, 12, van Kempton Park (Foto: Verskaf

kykNET se gewilde werklikheidsreeks Kokkedoor het vir talle naelbytoomblikke gesorg. Nou broei dié program se “kuikens” oor tien weke uit wanneer deelnemers tussen 10 en 14 jaar oud Kokkedoortjie op horings gaan neem.

Dié reeks gaan tien jong deelnemers se kookvaardighede op die proef stel wanneer dit op 5 April op kykNET begin.

Die deelnemers kom van oor die hele Suid-Afrika, onder meer Centurion in Gauteng, Daniëlskuil in die Noord-Kaap en Worcester in die Wes-Kaap.

Die beoordelaars van Kokkedoortjie is Nic van Wyk en Mari-Louis Guy, wat onderskeidelik ook in Kokkedoor en Koekedoor oor deelnemers se lot besluit het.

Die reeks bestaan uit 13 episodes en elke episode is ’n halfuur lank. Die program word vervaardig deur Homebrew Films.

Só lyk die tien deelnemers:

Thali Hugo, 11, van Wellington (Foto: Verskaf) Mikael Morkel, 10, van Centurion (Foto: Verskaf) Nic van Wyk en Mari-Louis Guy, die beoordelaars (Foto: Verskaf) Mia Grobler, 13, van Lynnwood (Foto: Verskaf) Kokkedoortjie (Foto: Verskaf) Klaredy van Wyk, 11, van Hartbeespoort (Foto: Verskaf) Jarique Eilers, 12, van Daniëlskuil (Foto: Verskaf) Ian Grobler, 13, van George (Foto: Verskaf) Edwin Theron, 12, van Worcester (Foto: Verskaf) Dean Barnard, 12, van Kempton Park (Foto: Verskaf) Christi Myburgh, 14, van Bloemfontein (Foto: Verskaf) Christian Cloete, 11, van Raithby (Foto: Verskaf)

 

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live