Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Yskas-kaaskoek

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Yskas-kaaskoek. Foto: Lekker en Vinnig

Versier die kaaskoek met vars vrugte of bessies vir ‘n bietjie variasie.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Kors

  • 200 g (1 pakkie) Tennisbeskuitjies, fyngemaak
  • 15 ml strooisuiker
  • 5 ml fyn neutmuskaat
  • 100 ml botter, gesmelt

Vulsel

  • 385 g (1 blik) kondensmelk
  • 250 g gladde maaskaas
  • 125 ml suurlemoensap
  • 15 ml gelatien
  • 45 ml kookwater
  • 250 ml room
  • repies suurlemoenskil, vir garnering

Metode:

Kors

  1. Meng die fyngemaakte koekies, suiker, neutmuskaat en gesmelte botter en druk dit in ʼn eweredige laag op die bodem van ʼn tertbak of ʼn 22 cm-losboomkoekpan vas.

Vulsel

  1. Klits die kondensmelk en maaskaas saam. Voeg die suurlemoensap stadig by en klits goed.
  2. Strooi die gelatien oor sowat 30 ml koue water en laat week dit tot sponserig.
  3. Roer die kookwater by en roer tot heeltemal gesmelt. Laat die gelatien effens afkoel en klits dit by die maaskaasmengsel tot glad.
  4. Klop die room styf en roer eers een-derde by die maaskaasmengsel in. Vou dan die res versigtig met ʼn groot lepel in.
  5. Skep die vulsel op die kors en laat dit in die yskas stol.
  6. Haal die koek versigtig uit die pan en plaas dit op ʼn bord. Garneer dit met suurlemoenskil.

Bron: Lekker en Vinnig – Yskasterte
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Spogresepte, Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-Unie


[Resep] Vetkoek

$
0
0
uitgerys

Mareli Visser. Foto: humanrousseau.com

“Ek was nog altyd skrikkerig om dit self te bak, want ek het nog nooit goeie vetkoeke gebak nie – net sulke platterige goed.

Tot Meisiekind, my kombuishelper en hoofbakker, vir my die truuk geleer het: as jy die deegsirkel vorm, moet die middelste deel dunner as die buitenste deel wees. Só vorm ʼn gesonde vetkoek-holte om met vleis te vul. En natuurlik moet die deksel op wees as jy die vetkoeke diepbraai. Nou skrik ek nie meer vir ʼn vetkoek nie,” sê die bobaasbakker, Mareli Visser.

Lewer 10 groot vetkoeke

Bestanddele:

  • 1 kg koekmeel
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 7,5 ml sout
  • 670 ml louwarm water
  • ekstra koekmeel vir knie
  • 2 liter olie vir diepbraai

Metode:

1. Meng die koekmeel, gis en sout in ʼn skottel van 35 cm in deursnee.

2. Voeg 100 ml water op ʼn slag by die meelmengsel. Gebruik die hand waarmee jy die water byvoeg om die skottel vas te hou en antikloksgewys stadig in die rondte te draai, terwyl jy met die ander hand die water by die meel inwerk. Die deeg begin as droë frummels, maar geleidelik raak dit natter totdat die deeg amper te klewerig is om mee te werk.

3. Lig die nat deeg vanaf die skottel se boom, strooi ʼn bietjie koekmeel onderin en knie die deeg met een hand deur dit van buite na binne in te werk terwyl jy steeds die skottel antikloksgewys draai met die ander hand. Hou aan knie – sowat 15 knieë – totdat jy ʼn egalige deegbal het (dit is nie ʼn gladde deegbal nie).

vetkoek

Vetkoek. Foto: Uitgerys.

4. Vou die deeg in ʼn netjiese bal en druk die naat stewig vas. Draai die bal om, sodat die gladde kant bo is.

5. Bedek die skottel met ʼn plastieksak en laat rys die deeg op ʼn warm plek tot drie keer die volume vir sowat 45 minute.

6. Verhit die olie in ʼn middelslagkastrol, met ʼn oliediepte van sowat 10 cm. Toets die olie deur ʼn klein balletjie deeg in die warm olie te gooi. Wanneer die olie warm genoeg is, sal die deegballetjie binne 5 sekondes boontoe styg.

7. Smeer ʼn werkoppervlak met olie. Knyp 10 deegballe van 160 g elk af en plaas op die oliebesmeerde werkoppervlak. Bedek die deegballe met ʼn klam vadoek sodat hulle nie uitdroog nie.

8. Druk elke deegbal met jou duime plat terwyl jy dit in die rondte draai, om só ʼn plat skyf te vorm, wat in die middel sowat 1 cm dik is en aan die kante sowat 1,5 cm.

9. Plaas die deegskywe een-een in die olie en bak 3-4 vetkoeke saam (afhangend van die kastrol se grootte). Sit die kastrol se deksel op.

10. Braai die vetkoeke vir sowat 2 ½ minute aan die een kant tot goudbruin, sonder om die deksel op te lig. Draai die vetkoeke om, sit die deksel terug en braai die ander kant vir 2 ½ minute tot goudbruin.

11. Verwyder die gaar vetkoeke uit die olie, plaas in ʼn oondbak wat met kombuispapier uitgevoer is en hou in die louoond warm tot al die vetkoeke gaar is.

12. Sit warm voor saam met kerriemaalvleis en blatjang.

Bron: Uitgerys deur Mareli Visser
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R300.00
* Prys onderhewig aan verandering

[Resep] Plaatkoekies

$
0
0
Plaatkoekies Foto: perfectpancake.info (Charles Gold/CORBIS)

Plaatkoekies Foto: perfectpancake.info (Charles Gold/CORBIS)

Plaatkoekies saam met spek en stroop sal heerlik wees vir môre se ontbyt. Wat is jou gunsteling-kombinasie?

Bestanddele:

  • 440 ml meelblom
  • 10 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 25 ml suiker
  • 410 g ingedampte melk
  • 1 eier
  • 12,5 ml olie

Metode:

  1. Sif droë bestanddele saam.
  2. Klits eiers en melk.
  3. Voeg droë bestanddele by die eier-en-melkmengsel. Klits goed.
  4. Laat staan vir 25 minute.
  5. Skep met lepel op gesmeerde bakplaat wat redelik warm is.
  6. Keer net een keer om en plaas plaatkoekies tussen ʼn gevoude doek op ʼn draadrakkie en laat daarin afkoel.
  7. Smeer botter op.
  8. Hou in ʼn bak met ʼn deksel op.
  9. Die geheim lê in die afkoelproses.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Appeltert

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Appeltert. Foto: Pixabay.com

ʼn Heerlike tert wat sommer maklik vries. Saam met ʼn koppie boeretroos gaan dié mos hemels smaak.

Bestanddele:

Kors

  • 500 ml ongesifte koekmeelblom
  • 250 ml suiker
  • 10 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 250 g margarien

Vulsel

  • 1 blik onversoete tertappels, fyngekap (385 g)
  • 125 ml suiker
  • 125 ml koekvrugtemengsel
  • 2 ml kaneel
  • 1 ml fyn kruienaeltjies
  • knypie sout
  • 1 t hoogvol vlapoeier aangemaak met ʼn bietjie water

Metode:

  1. Sif die koekmeelblom, suiker, bakpoeier en sout saam.
  2. Vryf die botter of margarien met die vingertoppe hierin totdat dit ʼn deeg vorm.
  3. Bedek die deeg en laat dit ʼn rukkie rus.
  4. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  5. Druk die helfte van die deeg teen die wand en op die boom van ʼn oondvaste tertbord.
  6. Meng die tertappels, suiker, koekvrugtemengsel, kaneel, naeltjies en sout goed saam.
  7. Skep dit in ʼn kastrolletjie en verhit stadig.
  8. Roer vlapoeier by mengsel totdat dit verdik.
  9. Laat afkoel.
  10. Skep op die kors in die tertbord.
  11. Rasper die res van die deeg grof bo-oor.
  12. Bak die tert 20 minute of totdat die deeg begin verbruin.
  13. Sit dit louwarm of koud voor.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Toebroodjies met guacamole en eier

$
0
0
Foto: Verskaf

Toebroodjies met guacamole en eier. Foto: Verskaf

Vir ʼn voedsame kosblik is porsiebeheer net so belangrik soos vir enige ander ete. Die kos wat ingepak word moet vullend genoeg wees sodat dié een wat dit eet, versadig bly tot die volgende ete of kans het om ʼn gesonde peuselhappie te eet.

Die kombinasie van guacamole (avo-puree) en eier is propvol gesonde olies, proteïen en ander voedingswaarde. Kies volgraanbrood vir ekstra vesel en maak seker dis nie net ʼn verfynde stysel nie. ʼn Vars vrug en bakkie neute is die perfekte peuselhappie vir later deur die dag.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 4 groot eiers
  • 8 snye volkoringbrood
  • 1 x 200 g bakkie Westfalia Spicy of Plain Guacamole
  • handvol roketblare

Metode:

  1. Verhit genoeg water met die eiers daarin in ʼn kastrol (gebruik AMC 24 cm Low) oor ʼn matige hitte en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte sodra die water begin prut, en prut vir 7-8 minute – dan sal die eiers hardgekook wees om fyngedruk te kan word.
  2. Skep eiers uit die water en dompel dadelik in koue water. Kraak die doppe sodat dit so gou as moontlik afkoel. Dit help ook verhoed dat die eiers verkleur of “blou” word. Laat afkoel en dop die eiers af.
  3. Sny die eiers in klein blokkies of druk met ʼn vurk fyn. Meng met die guacamole en smeer op 4 snye brood. Plaas roketblare bo-op en maak die broodjies toe met die res van die snye brood en pak in die kosblikke. Geen botter is nodig as die broodjies met guacamole gesmeer word nie.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Ian se biefstuk-manifes

$
0
0
Foto: human&rousseau.com

Foto: human&rousseau.com

“Almal wat al Ian se biefstuk geproe het, vra hoe op aarde hy dit so heerlik in ʼn pan kan gaarmaak. Hier is sy manifes, wat ook werk vir braai oor die kole,” skryf Errieda du Toit.

  • VLEISSNITTE: Rib-oog bly nommer een, maar dan ook kruisskyf.
  • Maak vriende met jou slagter. Vra vir beesvleis van besste wat natuurlik gewei het en vleis wat droog-verouder is.
  • Haal die vleis ʼn dag voor die tyd uit die verpakking en plaas oop op ʼn draadrakkie in die yskas. Haal betyds uit om kamertemperatuur te bereik.
  • Sit selfone eenkant, dra ʼn voorskoot (dit Iyk cool), skink ʼn glas wyn. Gebruik ʼn goeie swaarboom-riffelpan.
  • Maldon-sout bly bobaas. Druk die vlokkies fyner, anders val dit van die vleis af. Probeer ook Khoisan- of Oryx-sout.
  • Varsgemaalde swartpeper, ʼn bietjie kookolie, ʼn lekker gasplaat. Sout die vleis meer as gewoonlik, want baie gaan verlore in die pan (moenie voor die tyd peper oorstrooi nie). Smeer ʼn dun lagie kookolie aan elke kant van die vleis.
  • Maak die pan vulkanies warm op die grootste vlam of plaat. Draai die vleis eers om wanneer dit vanself loskom. Sit elke keer die vleis op ʼn ander deel van die pan en roteer dit 45° of 90° om die riffelstrepe en hitte mooi te versprei.

Hoe gaar?

Moenie die horlosie dophou nie. Kyk eerder of die kors goed bruin is, want dis die Maillard-reaksie (karamellisering op die oppervlak) wat die geur gee. Druk aan die vleis – jy sal gou die slag aanleer.

Vleis met been in:

Braai T-been ʼn rukkie regop op die been (onderstebo T), sodat dit tot teen die been gaar is. Doen dieselfde met biefstuk wat ʼn lagie vet het. Strooi die peper laaste oor (daar’s mense wat reken die peper brand bitter in die pan). Laat die vleis ʼn paar minute rus.

Foto: Tuistafel

Ian se biefstuk-manifes, Foto: Tuistafel

Kruiebord

Berei die kruiebord voor terwyl die vleis rus. Gaste kan solank begin om bykosse te skep.

Bestanddele:

  • ʼn Hand vol elk vars kruisementblare en pietersielie
  • 1 vars rooi brandrissie
  • 3 knoffelhuisies
  • Sap van ½ suurlemoen
  • 45 ml olyfolie
  • 30 ml sojasous
  • Soutvlokkies en varsgemaalde swart peper na smaak

Metode:

  1. Kap die kruie, rissie en knoffel op ʼn groot houtbord fyn, drup suurlemoensap, olyfolie en sojasous oor. Plaas die steak bo-op die kruie en sny in repe. Laat gaste hulself help en repe deur die kruiesous trek.

Bron: Tuistafel deur Errieda du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R375.00
* Prys onderhewig aan verandering

[Resep] Ongekookte marinades

$
0
0
marinade

Ongekookte marinades. Foto: Bottel en Gebruik.

Heerlike en vinnige marinades vir ʼn verskeidenheid vis en vleis.

Spesery-jogurtmarinade

  • Lewer ± 500 ml
  • Vir hoender, varkvleis, vis en garnale

Bestanddele:

  • 500 ml ongegeurde jogurt
  • 10 ml koljandersaad, gerooster en fyn gestamp
  • 10 ml komynsaad, gerooster en fyn gestamp
  • 6 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 lourierblare
  • 1 ui, gekap
  • 5 ml vars gemmer, gerasper
  • 5 ml borrie
  • 5 ml paprika

Metode:

  1. Verwerk alles saam in ʼn voedselverwerker tot glad.

Witwynmarinade

  • Lewer ± 600 ml
  • Vir vis of witvleis

Bestanddele:

  • 500 ml droë witwyn
  • 50 ml suurlemoensap
  • 100 ml olie
  • 100 ml heuning
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 3 lourierblare
  • 25 ml vars, gekapte basiliekruid

Metode:

  1. Meng al die bestanddele. Giet dit in ʼn gesteriliseerde bottel, verseël en bêre dit in die yskas.
  2. Skud baie goed net voor gebruik. Dit kan tot twee maande in die yskas bewaar word.

Suurlemoen-en-kruie-marinade

  • Lewer ± 600 ml
  • Vir vis, hoender en lamsvleis

Bestanddele:

  • 250 ml suurlemoensap
  • 150 ml olie
  • 3 piekeluie, gekap
  • 5 ml gerasperde suurlemoenskil
  • 30 ml vars, gekapte suurlemoentiemie
  • 25 ml vars, gekapte gemengde kruie
  • 5 ml varsgemaalde swartpeper
  • 50 ml geelsuiker

Metode:

  1. Meng al die bestanddele. Giet dit in ʼn gesteriliseerde bottel, verseël en bêre dit in die yskas.
  2. Skud baie goed net voor gebruik. Dit kan tot twee maande in die yskas bewaar word.

Biermarinade

  • Lewer ± 500 ml
  • Vir bees en lamsvleis

Bestanddele:

  • 340 ml bier
  • 50 ml olie
  • 20 ml Worcestersous
  • 1 ui, gekap
  • 20 ml vars, gekapte oreganum
  • 5 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 lourierblare

Metode:

  1. Meng al die bestanddele. Giet dit in ʼn gesteriliseerde bottel, verseël en bêre dit in die yskas.
  2. Skud baie goed net voor gebruik. Dit kan tot twee maande in die yskas bewaar word.

Bron: Bottel en gebruik
Uitgewer: Lapa

Gesoek: ʼn Professionele sjokolade-proeër

$
0
0
Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

Die Amerikaanse maatskappy Mondelez, wat gewilde handelsmerke soos onder meer Cadbury, Milks en Oreo vervaardig, het pas ʼn ongelooflike geleentheid vir sjokolade-liefhebbers beskikbaar gestel: Dié maatskappy is op soek na ʼn professionele sjokolade-proeër.

Mondelez het dié pos onlangs op die sosialemedia-diens vir beroepslui, Linked In, geadverteer.

Die suksesvolle kandidaat sal by dié span in die Amerikaanse deelstaat Illinois moet aansluit. Sy of haar verantwoordelikhede sal onder meer wees om sjokolade te toets, te help met die proses om ʼn spesifieke soort sjokolade tot perfeksie te vervaardig en om nuwe produkte wêreldwyd bekend te stel.

Hoe weet ek dat ek ʼn goeie kandidaat is? “Die perfekte kandidaat sal ʼn passie vir fyngebak hê, die vaardigheid om eerlik te wees wanneer hy ʼn mening moet lewer en iemand wat ywerig is om nuwe en vindingryke produkte te toets,” lui die advertensie.

Die kandidaat moet natuurlik ook ʼn goeie woordeskat hê om sjokolade na afloop van ʼn proesessie te kan beskryf.

Die professionele sjokolade-proeër sal na verwagting weekliks net meer as sewe uur tussen Dinsdag en Donderdag werk.

Vir meer inligting oor die pos, besoek Linked In.


Is jy SA se melktertkampioen?

$
0
0
Melktert

Argieffoto.

Bak jy die lekkerste melktert in die land? Of het jy ʼn geheim of twee wat jóú melktert ʼn treffer onder die soettande maak? Deeghuys se jongste kompetisie – Suid-Afrika se Melktertkampioen – is onlangs bekendgestel en die wen-melktertresep kan landwyd in dié winkels verkoop word.

Die wenner van die kompetisie gaan boonop ook naamregte én tantieme vir elke melktert wat verkoop word, ontvang.

Michael van Niekerk, die stigter en direkteur van Deeghuys, sê melktert is by verre die gunsteling Suid-Afrikaanse nagereg én is boonop eg-Suid-Afrikaans.  “Die reuk en die geur van ʼn melktert is vir baie mense nostalgies. Melktert bring natuurlik ook gesinne saam deur die genotvolle ervaring van bak,” sê hy.

Van Niekerk sê sommige geskiedkundiges meen dié gunstelinggereg het moontlik die eerste keer in 1510 gestalte gekry, as gekyk word na die bestanddele van Thomas van der Noot se resep in die boek Een notabel boexcken van cokeryen (ʼn Voortreflike boek van kookkuns).

Dit is veral daarom dat Deeghuys vanjaar die melktert wil vier.

Indien jy vir dié kompetisie wil inskryf, moet jy die aansoekvorm op Deeghuys se webwerf voltooi voor 21 Februarie.

Twintig resepte word uit die inskrywings gekies waarna twee halfeindrondes, een in Kaapstad en een in Pretoria, met tien deelnemers elke op 25 Februarie gehou word. Vier finaliste gaan dan op 16 Maart in Kaapstad meeding vir die titel.

[Resep] ʼn Bederfie vir jou Valentyn

$
0
0
Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Sjef Izelle Hoffman deel drie heerlike resepte om jou Valentyn mee te bederf. Daar is niks soos ʼn gekookte maaltyd om te sê “Ek het jou lief” nie.

Vrugte-kebab met ment en varsgemaalde swart peper

  • Bereiding: 10 minute

Bestanddele:

  • Waatlemoen in klein blokkies gesny
  • Frambose
  • Vars mentblare
  • Varsgemaalde swart peper
  • Sosatie of kebab-stokkies

Metode:

  1. Ryg die waatlemoen, ment en frambose op die sosatiestokkie totdat dit vol is.
  2. Plaas in yskas totdat dit voorgesit word.
  3. Rond af met varsgemaalde swart peper voordat dit bedien word

Gevulde Rooirissie met vars koljander

  • Bereiding: 10 minute
  • Gaarmaak: 20 minute in ʼn voorverhitte oond van 200°C.

Bestanddele:

  • 200g maalvleis
  • 2 x medium grootte rooi rissies
  • Woestynsout of Pienk Himalaya-sout en growwe swart peper na smaak
  • 2 eetlepels paprika
  • 2 eetlepels heuning
  • 2 eetlepels gemengde kruie
  • 1 teelepel olyfolie
  • Vars koljander vir garnering
  • Kleefsproei

Metode:

  1. Maak die maalvleis vooraf gaar in ʼn pan op medium hitte op die stoof met die olyfolie en geur met die paprika, heuning en kruie. Voeg sout en peper by na smaak.
  2. Sny die rooi rissies in die helfte en maak dit skoon aan die binnekant.
  3. Spuit die oondpan met kleefsproei.
  4. Skep dan die maalvleis in die rooi rissie helftes en plaas in die oond vir 20 minute of totdat die rissie gaar is.
  5. Garneer met vars koljander en bedien met rys, koeskoes of quinoua.

Aarbeie gedoop in sjokolade neutbottersous

  • Bereiding: 10 minute

Bestanddele:

  • Vars aarbeie
  • 300g amandelbotter of makadamiabotter
  • 5 eetlepels heuning
  • 1 opgehoopte eetlepel kakao
  • ʼn knippie Woestyn-sout of Pienk Himalaya-sout vir smaak
  • 1 teelepel karamelgeursel
  • Kakao vir garnering 

Metode:

  1. Meng al die bestanddele bymekaar en roer totdat dit egalig gemeng is.
  2. Doop dan die aarbeie dadelik in die neutbottermengsel voordat dit stol. Besprinkel met kakao.
  3. Plaas in die yskas totdat dit vir nagereg bedien word. Daar sal heelwat van die neutbottersous oorbly en jy kan dit terugskep in die neurbotterhouer en gebruik soos benodig.
  4. Dis ideaal as ʼn gesonde Nutella-alternatief.
Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf

Beplan vullende kosblikke só

$
0
0
Foto: Verskaf

Hoenderslaai met broccoli en appel. Foto: Verskaf

Kosblik-pak vir die gesin behoort nie te moeilik of tydsaam te wees nie. ʼn Bietjie beplanning kan ʼn groot verskil maak, want as jy aandetes so beplan dat daar iets oorbly of op ʼn nuwe manier aangewend kan word, is die helfte van die werk reeds gedoen.

Oorskiethoender en ʼn paar vars bestanddele kan maklik in ʼn heerlike slaai vir ʼn warm dag omgetower word. Sit ʼn paar lepels guacamole by en jy het ʼn vullende en gebalanseerde ete, met amper iets uit elke voedselgroep. ʼn Tuisgebakte kaas-en-mieliemuffin is ʼn lekker peuselhappie en ook ʼn veselryke stysel om die ete verder interessant te maak.

Hoenderslaai met broccoli en appel

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

Hoender

  • 5 ml (1 e) Westfalia-avokado-olie, gebruik die gewone of suurlemoen-gegeurde olie
  • 2-3 hoenderborsies aan die been, vel verwyder
  • 80 ml (⅓ k) sterk rooibostee
  • 1 lourierblaar

Slaai

  • 7,5 ml (½ e) matige mosterd
  • 45 ml (3 e) suurlemoensap of wit druiwe-asyn
  • 5 ml (1 t) heuning
  • 45 ml (3 e) Westfalia-avokado-olie, gebruik die gewone of suurlemoen-gegeurde olie
  • 2,5 ml (½ t) gedroogde origanum
  • swartpeper na smaak
  • 100 g broccoli, in blommetjies gesny of dun groenboontjies, gehalveer
  • 250 ml (1 k) bevrore ertjies, afgespoel
  • ¼ komkommer, gehalveer en in skyfies gesny
  • groot handvol gemengde slaaiblare
  • 2 JOYA®-appels, in kwarte en dan in skyfies gesny
  • 1 x 200 g-bakkie Westfalia Plain Guacamole

Metode:

Hoender

  1. Voorverhit olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend). Braai hoender aan weerskante tot goudbruin.
  2. Verlaag die hitte, voeg tee en lourierblaar by. Plaas ʼn deksel op en prut 15-20 minute of tot net gaar. Skep uit en laat afkoel. (Die pansappe kan gevries word. Gebruik dit dan as aftreksel vir ʼn ander maaltyd.) Verwyder die bene en skeur die vleis in kleiner stukkies. Of gebruik enige oorskiethoender.

Slaai

  1. Meng mosterd, suurlemoensap, heuning, olie en origanum saam en geur met peper. Skink ʼn bietjie oor die gaar hoender om die vleis te marineer.
  2. Skink kookwater oor die broccoli of bone en ertjies. Laat 7-10 minute staan of tot net gaar. Dreineer en herhaal proses met die broccoli en boontjies indien nodig. Spoel af om af te koel.
  3. Pak groente, hoender, komkommer, slaaiblare en appel in ʼn kosblik of op ʼn slaaibord en sit voor met die res van die slaaisous. Skep lepelsvol guacamole by die slaai sodra dit voorgesit word, vir ʼn volledige maaltyd. As die slaai vir ʼn kosblik ingepak word, hou die slaaisous en guacamole apart tot dit geëet word.

Kaas-en-mieliemuffins

  • Lewer 18 – 20 muffins

Bestanddele:

  • 500 ml (2 k) volkoringmeel
  • 15 ml (1 e) bakpoeier
  • 5 ml (1 t) mosterdpoeier
  • knippie sout
  • 20 ml (4 t) vars tiemieblare
  • 125 ml (50 g) gerasperde cheddarkaas
  • 200 ml bevrore mieliepitte, afgespoel
  • 80 ml (⅓ k) Plain Westfalia-avokado-olie
  • 3 ekstragroot Nulaid-eiers, geklits
  • 500 ml (2 k) karringmelk
  • 30 ml (2 t) sesamsaadjies

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 2 x 24-muffinpanne liggies met olie.
  2. Plaas die droë bestanddele in ʼn groot mengbak en roer die tiemie, kaas en mieliepitte by.
  3. Meng die olie, eiers en karringmelk saam en roer by die droë mengsel tot dit alles net deurgemeng is, maar moenie die mengsel te veel roer nie.
  4. Skep die beslag in die voorbereide panne en strooi sesamsaadjies oor.
  5. Bak 40 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom. Sit as deel van ʼn kosblik voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

logo

[Video] Blinde kok wys hoe sy kos voorberei

$
0
0
Christine Ha

Christine Ha Foto: Facebook

Dit is nie elke dag wat jy hoor van ʼn blinde kok nie.

Die Amerikaner Christine Ha is blind en het in 2012 die gewilde TV-reeks MasterChef gewen. In ʼn video wat sy onlangs op haar YouTube-kanaal gedeel het, kan jy self sien: Sy kán kosmaak.

“Ek het besluit die eerste video wat ek in 2017 op my YouTube-kanaal gaan deel, sal wys hoe ek kos voorberei,” het Ha op haar webblad, The Blind Cook, geskryf. “Ná navrae wil ek graag meer video’s deel van waar ek besig is om te kook.”

Op die video kan jy sien hoe sy ʼn tipiese gereg vir ʼn weeksaand voorberei. Die video is met twee kameras opgeneem, waarvan een ʼn GoPro-kamera wat aan Ha se voorkop vas is. Die video is al meer as 40 000 keer op YouTube gekyk.

Ha het die uitleg van die kombuis in haar geheue vasgelê. Haar sig is van só ʼn aard dat sy in die regte beligting kan sien as iemand hul hande voor haar oë hou.

[This post contains video, click to play]

[Resep] Heerlike sjokolade-plaatkoek

$
0
0
Foto: Verskaf

Heerlike sjokolade-plaatkoek. Foto: Verskaf

Helene Burger van Durbanville sê dié resep is heerlik en benodig nie eens eiers, melk of botter/margarien nie.

Bestanddele:

  • 3 k koekmeel
  • 1 t koeksoda
  • 4 t bakpoeier
  • 1½ k suiker
  • ⅓ k  (78,88 ml) kakao
  • ½ t sout
  • 1 k kookolie
  • 50 ml asyn
  • 2 k kookwater
  • 2 t vanieljegeursel

Metode:

  1. Sif koekmeel, koeksoda, bakpoeier, suiker, kakao en sout in ʼn mengbak.
  2. Meng kookolie, asyn, kookwater en vanieljegeursel saam en klop dit geleidelik by meelmengsel in met ʼn vurk.
  3. Gooi in gesmeerde en meelbestrooide oondpan.
  4. Bak vir 20 minute by 180 °C.

Wenk:

Laat afkoel in pan. Moenie uit pan gooi nie, maar versier in pan met karamel-en-sjokoladeversiersel. Sny in blokke en bedien.

Blinde barista droom van eie koffiewinkel

$
0
0
Josef Matheatua Foto: Facebook

Josef Matheatua
Foto: Facebook

“Ek weet dit klink vreemd, maar in my hart het ek altyd geweet ek gaan eendag spesiaal wees,” sê Josef Matheatua, Suid-Afrika se eerste blinde barista. Hy werk al sedert 2014 by Blindiana Barista, ʼn koffiewinkel in Worcester en Suid-Afrika se eerste museum oor blindes.

Matheatua het op drie die sig in een van sy oë verloor. “Ek het as kind vir my maats gevra of hulle ook net met een oog kan sien.” Sy sig het later so verswak dat hy nie meer die woorde op die papier voor hom kon sien nie. “My gesin het gedink ek is te lui om skool toe te gaan. Die onderwysers het grappies gemaak omdat ek heel voor in die klas moes sit.” In 2010 het hy sy sig heeltemal verloor.

Blindiana Barista is ʼn projek van Kaleidoscope, ʼn nie-winsgewende organisasie wat gestig is in 1881 om vir blinde mense geleenthede te skep. Freddie Botha is die uitvoerende hoof van Kaleidoscope en noem die koffiewinkel “ʼn droom wat waar geword het.”

Botha se hulle wil graag in die toekoms nog blindes betrek om in die winkel te werk. “Hierdie winkel gee ons ook die geleentheid om mense met sigprobleme op te lei as kelners, baristas en toergidse.” Daar is ook meubels en produkte in die winkel wat gemaak is deur mense met sigprobleme en sommige van die sjefs is ook blind.

Matheatua sê as die koffie bedien word, kan die kliënte nie glo ʼn blinde persoon het dit voorberei nie. “Dit was egter nie altyd maklik nie. Ek het in die begin myself baie keer gebrand,” vertel hy. “Elke keer as ek nou ʼn koppie koffie maak, ruik ek die geur van sukses.” Matheatua droom van sy eie koffiewinkel in Bloemfontein.

Lees meer hier.

[Resep] Mielie-kaas-en-spek-bierbroodjie

$
0
0
Koekedoor 2. Foto: Human & Rousseau

Koekedoor 2. Foto: Human & Rousseau

Dié broodjie hou by bekende smake en kry ʼn byderwetse voorkoms met repe stronkmielies bo-op.

Lewer 1 groot of 2 kleiner broodjies

Bestanddele:

Broodjie

  • ½ ui, fyngekap
  • 100 g spekvleis, fyngesny
  • botter, vir braai
  • 1 gaar mielie-aan-stronk
  • 500 g bruismeel
  • 5 ml sout
  • 1 blik (340 g) mielies, gedreineer
  • 200 g beleë cheddarkaas, gerasper
  • 330 ml bier

Tuisgemaakte botter

  • 250 ml room
  • 250 g mascarponekaas
  • 3 ml sout

Metode:  

broodjie

Mielie-kaas-en-spek-bierbroodjie. Foto: Koekedoor 2

Broodjie

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ʼn broodpan.
  2. Braai die uie en spekvleis in ʼn bietjie botter tot goudbruin en gaar. Laat afkoel.
  3. Sny die pitte van die gaar mielie in repe van die stronk af en plaas onder in die pan.
  4. Sif die meel en sout saam. Roer die geblikte mielies, kaas en die afgekoelde ui-en-spekmengsel by. Voeg die bier by en meng goed met ʼn vurk of lepel.
  5. Skep die mengsel in die pan. Bak 1 uur of tot gaar. Gebruik ʼn toetspen om seker te maak die broodjie is gaar. Haal uit en laat rus 5 minute voor jy die broodjie uitkeer op ʼn draadrak.

Tuisgemaakte botter

  1. Giet die room en mascarpone in die mengbak van ʼn staanmenger. Klits met die K-haak tot die vloeistof (karringmelk) van die bottervet geskei is.
  2. Giet die karringmelk-vloeistof af (behou vir ander gebruik) en druk die botter droog met ʼn kaasdoeklap.
  3. Meng die sout of ander geurmiddels by die botter in. Verkoel tot benodig.

Bron: Koekedoor 2 deur Errieda du Toit
UItgewer: Human & Rousseau
Prys: R300.00
* Prys onderhewig aan verandering


[Resep] Rys-en-mieliekoekies

$
0
0
Foto: Koskas Kos

Rys-en-mieliekoekies. Foto: Koskas Kos

Volgens Francois Ferreira is dié resep so gewild dat hy dit vir ʼn tweede keer in ʼn resepteboek laat publiseer.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 250 ml gaar rys
  • 250 ml romerige suikermielies
  • 1 geklitste eier
  • 45 ml melk
  • olie vir vlakbraai

Metode:

  1. Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Roer die rys, suikermielies en eier deur, en meng goed. Voeg die melk by en roer deur.
  2. Verhit die olie in ʼn pan en skep eetlepels vol van die beslag in die olie. Braai aan weerskante tot goudbruin. Skep met ʼn gaatjieslepel uit en dreineer op kombuispapier. Skep ʼn bolaag van jou keuse bo-op en sit voor.

Bron: Koskas Kos deur Francois Ferreira
Uitgewer: Lapa

[Resep] Karamel-springmielies

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Karamel-springmielies. Foto: Lekker en Vinnig

Dié soetsout-kombinasie is ʼn heerlike peuselhappie vir ʼn rustige aandjie tuis.

Bestanddele:

  • 125 ml botter
  • 125 ml bruinsuiker
  • 60 ml gouestroop
  • ʼn knippie sout
  • ʼn knippie koeksoda
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 10 x 250 ml gaar springmielies

Metode:

  1. Meng die botter, suiker, stroop, en sout saam. Mikrogolf dit teen 100% krag vir ongeveer 3 minute of totdat dit gekaramelliseer het. Roer dit kort-kort.
  2. Voeg die koeksoda en vanieljegeursel by en meng goed.
  3. Giet oor die springmielies en roer goed deur.

Bron: Lekker en Vinnig – Lekkers
Uitgewer: Lapa
Die resep is oorspronklik gepubliseer in Soet en sout deur Margie van Tonder.

[Resep] Vir die kosblik: Tuna-en-eierbakkies

$
0
0
Foto: Verskaf

Tuna-en-eierbakkies. Foto: Verskaf

Om maaltye en kosblikke gebalanseerd en voedsaam te maak, moet jy probeer om deur die loop van die dag iets uit elke voedselgroep te eet.

Hierdie kosblik is ʼn goeie voorbeeld daarvan, want daar is proteïene in die eierbakkies (die tuna en eier), stysel in die vorm van die boontjies en ook die appel en dan gesonde olies van die guacamole. Die appel en groente is ʼn lekker manier om vars goed deel te maak van die ete en dra vesel én ander voedingselemente by tot die maaltyd.

Soms is ʼn maklike en eenvoudige idee ook dié wat jou gesin die meeste geniet. Wees dan juis kreatief met die resepte wat jy sonder veel moeite kan varieer om in ʼn japtrap iets nuuts te maak.

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 4 porsies (12-15 bakkies)

Bestanddele:

  • 6 Nulaid-eiers, geklits
  • 125 ml (½ k) gaar groenteblokkies van jou keuse, soos pangebraaide murgpampoentjies
  • 1 x 170 g-blik tuna in water, gedreineer
  • 15 ml (1 e) Westfalia-avokado-olie, kies enige van die geure in die reeks
  • 5 ml (1 t) paprika
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn muffinpan liggies met olie.
  2. Plaas al die bestanddele in ʼn groot mengbak en roer tot goed gemeng. Geur met suurlemoensap en peper.
  3. Skep die eiermengsel in die muffinpan. Bak vir 15-20 minute of tot die eier gestol het. Laat effens afkoel en haal dan uit. Laat heeltemal afkoel.
  4. Sit voor as ligte middagete of as deel van ʼn kosblik.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

logo

[Resep] Roosterkoek

$
0
0
Foto: Maroela Media

Roosterkoek. Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media

Die lewe sou darem wonderlik gewees het as roosterkoek as ʼn groente getel het…

Bestanddele:

  • 500 ml lou water (2k)
  • 12,5 ml bruinsuiker (1e)
  • 5 ml droë suurdeeg  (1 t)
  • 1 kg volgraan meel (6 k)
  • 5 ml sout (1t)
  • 12 ½ ml olie (1e)

Metode:

  1. Meng die lou water, bruinsuiker en droë suurdeeg saam en laat staan vir 10 minute.
  2. Meng dan al die bestanddele goed saam om ʼn redelike stywe deeg vorm.
  3. Gooi omtrent 12. 5 ml olie in ʼn plastieksak en versprei die olie.
  4. Gooi die deeg in die plastieksak en laat staan om tot dubbel volume te rys, vir ongeveer 30 tot 60 minute.
  5. Druk die deeg versigtig plat tot +- 2, 5 cm op ʼn meelbesprinkelde broodplank. Sny in vierkante.
  6. Braai op ʼn oliegesmeerde draadrooster oor matige kole tot goed gaar. Draai dikwels om.
  7. Sit voor met vars plaasbotter en appelkooskonfyt.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Garnale met peri-peri sous

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Garnale met peri-peri sous. Foto: Pixabay.com

Daar kan vinnig huismoles ontstaan as daar nie genoeg kos vir almal is nie, veral as ʼn mens garnale voorsit…

Bestanddele:

  • 4 e peri-peri olie
  • 125 ml kookolie
  • 1 e tamatiesous
  • 1 e Worcester-sous
  • 1 e Tabasco-sous
  • sap van ʼn suurlemoen
  • 5 ml braaivleisspeserye
  • 5 ml knoffelvlokkies
  • 2,5 ml Aromat
  • sout na smaak
  • garnale

Metode:

  1. Meng al die bestanddele saam om ʼn sous te vorm
  2. Plaas garnale in die sous en laat staan in die yskas vir vier uur.
  3. Stowe tot gaar en bedien op rys.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live