Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Brosbroodvingers

$
0
0
bros-koekies

Brosbroodvingers. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie broskoekies is die Maroela Media-span se gunsteling. Ons beveel dié koekies beslis aan!

Lewer ± 40 vingers

Bestanddele:

  • 200 ml mielieblom
  • 500 ml koekmeel
  • 250 ml sagte botter
  • 125 ml strooisuiker
  • ekstra strooisuiker om bo-oor te strooi

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ʼn 28 x 18 cm-bakplaat met botter.
  2. Sif die mielieblom en meel twee keer saam.
  3. Klits die botter tot lig en donsig en klits die strooisuiker by.
  4. Voeg die meelmengsel by en meng goed om ʼn sagte deeg te vorm. Druk die deeg met die vingers in die bakplaat vas en merk lang repe met ʼn skerp mes.
  5. Prik die deeg ewe ver uitmekaar met ʼn vurk om patroontjie op die koekies te maak. Strooi ekstra strooisuiker oor en bak 10 minute. Verlaag die temperatuur tot 160 °C en bak nog 20 minute of tot gaar.
  6. Merk die repe weer en laat die brosbrood in die pannetjie afkoel. Lig dit versigtig uit en laat dit heeltemal op ʼn draadrakkie afkoel.
  7. Verpak dit in lugdigte houers.

Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie.


[Resep] Slootbrood

$
0
0
sloot-brood

Slootbrood. Foto: Uitgerys.

Ek het vir Christina Gall by Upington se !Nabafees ontmoet. En daar vir die eerste keer slootbrood gesien. Volgens Christina eet die mense in Namakwaland al vir jare hierdie roosterkoek-variasie. Sy wys my toe hoe om dit te maak, sodat ek die resep met ander bakkers kan deel.

Tradisioneel word slootbrood voorgesit met gebraaide boerewors en tuisgemaakte tamatiesmoor. Ek sluit dus ook my tamatiesmoorresep in. Die slootbrood word oor warm hitte gaargemaak. Werk vinnig, sodat jou hande nie brand nie.

Lewer 10 slootbrode

Bestanddele:

Deeg

  • 1 kg koekmeel
  • 7,5 ml sout
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 575 ml louwarm water
  • 250 ml (130 g) koekmeel vir knie

Tamatiesmooruitgerys 

  • 25 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 groot ui, in blokkies gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 blikkies (410 g elk) tamatie-en-uiesmoor
  • 30 ml worcestersous
  • 15 ml blatjang
  • 10 ml asyn
  • sout en peper na smaak

Metode: 

Deeg

1. Meng die koekmeel, sout en gis saam in ʼn skottel van 35 cm in deursnee.

2. Voeg 100 ml water op ʼn slag by. Gebruik die hand waarmee jy die water byvoeg om die skottel vas te hou en antikloksgewys stadig in die rondte te draai, terwyl jy met die ander hand die water by die meel inwerk. Die deeg begin as droë krummels, maar ná elke byvoeging van water raak dit natter tot die deeg eindelik te klewerig is om mee te werk.

3. Lig die nat deeg vanaf die skottel se boom, strooi ʼn bietjie koekmeel onderin en knie die deeg met een hand – deur dit van buite na binne in te werk terwyl jy steeds die skottel met die ander hand antikloksgewys draai. Hou aan knie – sowat 15 kniesessies – tot jy ʼn egalige deegbal het (dit is nie ʼn gladde deegbal nie).

4. Vou die deeg in ʼn netjiese bal en druk die onderkant vas. Draai dan die deegbal om sodat die gladde kant bo is.

5. Bedek die skottel met ʼn plastieksak en laat rys deeg op ʼn warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute. Steek intussen die vuur aan.

6. Knyp 10 deegballe van 160 g elk af. Plaas ʼn deegbal op ʼn meelbestrooide werkoppervlak en rol met jou vingerpunte uit in ʼn lang wors van 19 cm lank. Druk plat om ʼn reghoek te vorm. Rol deeg van die lang kant al op en druk die naat stewig vas. Herhaal met die ander deegballe.

7. Plaas op die rooster en braai sowat 4 minute tot drie keer die volume, en goudbruin aan die een kant. Draai om en braai sowat 3 minute tot goudbruin aan die ander kant. Plaas die slootbrood teenaan mekaar, op hul sye, en braai die kante tot goudbruin.

Tamatiesmoor

1. Verhit die botter en olie. Braai die uie en knoffel tot sag.

2. Voeg die tamatiesmoor, worcestersous, blatjang en asyn by en verhit tot kookpunt. Geur met sout en peper. Verlaag die hitte en laat prut sowat 10 minute tot geurig en dik.

3. Haal die gaar slootbrood van die vuur af en sny oop.

4. Sit voor saam met gebraaide wors en tamatiesmoor – soos ʼn worsrolletjie.

Bron: Uitgerys deur Mareli Visser
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R300.00
* Prys onderhewig aan verandering

[Resep] Tannie Nella se vinnige melktert

$
0
0
Melktert

Argieffoto.

Ons deel weer tannie Nella se vinnige Melktert-resep ter viering van Nasionale Melktertdag. Vier dié spesiale dag saam met ons en sny sommer ʼn lekker groot skyf…

Bestanddele:

  • 1 liter melk
  • 250 g botter of margarien
  • ¾ koppie mielieblom, aangemaak met ʼn klein bietjie water
  • ¾ koppie suiker
  • 2 eiers
  • Knippie sout
  • 1 teelepel vanieljegeursel

Metode:

  1. Sit die melk en botter of margarien in ʼn pot en verhit totdat die margarien smelt en die mengsel kook.
  2. Voeg die res van die bestanddele by en kook stadig vir 10 minute. Roer deurgaans, anders brand dit aan en maak klonte.
  3. Gooi in ʼn gesmeerde tertbak, met of sonder ʼn kors van eie keuse.
  4. Plaas die tert in die yskas en bedien koud.

SA se Top-4 melktertbakkers aangewys

$
0
0
Adriaan Grobler is 'n Gauteng-finalis (Foto: Deeghuys)

Adriaan Grobler is ‘n Gauteng-finalis (Foto: Deeghuys)

Die bobaasbakkers se melkterte is geproe, beoordeel en die Top-4 melktertbakkers in Deeghuys se Melktertkampioen-kompetisie is pas aangewys.

Michael van Niekerk, die stigter en direkteur van Deeghuys, sê melktert is by verre die gunsteling Suid-Afrikaanse nagereg én is boonop eg-Suid-Afrikaans.

Dié poeding se deugde word jaarliks op Nasionale Melktertdag, op 27 Februarie, besing. “Die reuk en die geur van ʼn melktert is vir baie mense nostalgies. Melktert bring natuurlik ook gesinne saam in die genotvolle ervaring van bak,” sê hy.

“Die kompetisie was straf en die keuses moeilik. Daar was ʼn proepaneel van ses mense en elke eienskap is deeglik in detail geëvalueer om die wenners aan te wys,” het Deeghuys in ʼn verklaring gesê.

Die sanger en televisieaanbieder Riaan van Grobler en Rita Schuster is as die top-2 in Gauteng aangewys.

Liezel Olivia Hartzenberg en Martie Lamprecht is as die wenners in die Kaap gekies.

Die vier finaliste ding op 16 Maart in Kaapstad mee om die titel vir die beste melktertbakker.

Vir meer inligting, besoek Deeghuys se Facebook-blad.

Liezel Olivia Hartzenberg en Martie Lamprecht saam met Mari-Louise Guy (Foto:  Facebook) Martie Lamprecht (Foto: Facebook) Liezel Olivia Hartzenberg (Foto: Facebook) Adriaan Grobler (Foto: Deeghuys) Riaan van Grobler en Rita Schuster saam met die beoordelaars (Foto: Deeghuys)

[Resep] Kosblik-idees

$
0
0
Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Almal wat gereeld kosblikke moet pak, raak soms moedeloos om nuwe idees uit te dink. My oplossing is dan om ou bekende idees (en dit waarvan my kinders hou) met geurmiddels ‘n bietjie te verander. Frikkadelle is so lekker vir ʼn kosblik, want dis maklik om te maak, kan gevries word en is gerieflik om in te pak en hanteer.

Vir die resep het ek ʼn bietjie kerriepoeier en koljander gebruik en die wortel daarin gee ʼn natuurlike soet smaak aan die frikkadelle. Saam met die hawermout is daar dus ook sommer reeds stysel in die ete en as die res van die kosblik ook ander groente en iets soos ʼn appel insluit, is daar heelwat kosse wat ook bydra tot die balans van die ete en die koolhidrate.

ʼn Ander stysel is dus nie nodig nie en dis dan juis onverfynde stysels wat deel is van die ete. Daar is ook genoeg kleure en teksture om dit interessant te maak en ʼn lekker verskeidenheid van voedingstowwe in te sluit. Guacamole (avo-doopsous) pas perfek by al die ander elemente en daar is ook gesonde vette in die ete.

Frikkadelle

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
  • Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 60 ml (¼ k) hawermout
  • 500 g maer beesmaalvleis
  • 1 Nulaid eier, geklits
  • 1 ui, gerasper
  • 1 wortel, gerasper
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
  • 5 ml (1 t) kerriepoeier of na smaak
  • 15 ml (1 e) Westfalia avokado-olie

Metode:

  1. Meng die hawermout en maalvleis met die res van die bestanddele, behalwe die olie. Vorm klein frikkadelle.
  2. Verhit ʼn dun lagie olie in ʼn groot braaipan (gebruik ʼn AMC 24 cm Chef’s Pan) en braai frikkadelle aan beide kante tot goudbruin.
  3. Verlaag die hitte, sit ʼn deksel op en prut 8-10 minute of tot gaar. Skep uit en herhaal met die res van die frikkadelle.
  4. Sit as aandete voor of pak in ʼn kosblik met groente en ʼn seisoensvrug soos ʼn appel. Pak van Westfalia se guacamole in as ʼn doopsous vir die groente en frikkadelle en ʼn klein porsie neute om later deur die dag as peuselhappie te geniet.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

logo

[Resepte] “Kentucky”-hoender

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Tuisgemaakte hoender is altyd meer smaaklik. Selfs die kinders sal van dié hoender hou.

Bestanddele:

  • Sny heel hoender in stukke of gebruik hoenderstukke van jou keuse.
  • 500 ml koekmeel
  • 2 ml sout
  • 5 ml peper
  • 2 ml Aromat
  • 2 ml braaivleisspeserye
  • 2 ml knoffelsout
  • ʼn knippie fyn kruienaeltjies
  • ʼn knippie gemengde kruie
  • ʼn pot kwart met olie

Metode:

  1. Meng die droë bestanddele goed saam.
  2. Rol die hoender in die meelmengsel.
  3. Braai die hoenderstukke in diep olie tot dit rondom goed gaar is.
  4. Plaas die stukke in ʼn oondskottel en bak vir ongeveer ʼn uur oor lae hitte.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Maklike pizza

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Maklike pizza. Foto: Pixabay.com

Pizza is ʼn vinnige en heerlike maaltyd wanneer die dag net te besig raak. Die kinders kan ook help om dié gereg voor te berei.

Bestanddele:

Kors

  • 500 ml bruismeel
  • 150 ml kookwater
  • 125 ml kookolie
  • knippie sout

Vulsel

  • 4 middelslag-tamaties, geskil en gekap
  • 1 groot ui, gekap
  • 10 ml tamatiesous
  • 125 g ontbytspek, gesnipper
  • 150 g gerasperde chedderkaas
  • 10 ml Aromat

Metode:

Kors

  1. Plaas die bruismeel, kookwater, kookolie en sout in ʼn plastiekhouer met ʼn seëldeksel.
  2. Skud die houer totdat ʼn sagte deel gevorm word.
  3. Druk die deeg ewe dik in ʼn rolkoekpan.
  4. Bedek dit liggies met ʼn klam doek en hou dit een kant tot benodig.

Vulsel

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Smoor die tamaties en ui tot dik en gaar en laat afkoel.
  3. Smeer die tamatiesous oor die rou kors.
  4. Smeer die gesmoorde tamaties bo-oor.
  5. Plaas die speksnippers bo-op.
  6. Strooi die Aromat oor, en dan die kaas.
  7. Bak die pizza vir 30 minute op die middelste oondrak.
  8. Sit warm voor.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Sosaties met vinkel, worsies en olywe

$
0
0
worsie

Sosaties met vinkel, worsies en olywe. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie lyk soos ʼn heerlike peuselhappie terwyl die res van die vleis gebraai word.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 1 vinkelbol, in 2,5 cm-blokkies gesny
  • 1 rooi soetrissie, in 2,5 cm-blokkies gesny
  • 16 ontpitte groen olywe
  • 30 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 500 g varkworsies, in 2,5 cm-Iengtes gesny
  • 8 sosatiestokkies, vir 1 uur in water geweek

Metode:

  1. Meng die vinkel, soetrissie, olywe, olie, sout en peper in ʼn mengbak.
  2. Ryg die varkworsies, vinkel, soetrissie en olywe om die beurt op die sosatiestokkies.
  3. Smeer ʼn bietjie olie oor die braairooster en rangskik die sosaties daarop.
  4. Braai die sosaties vir 8-10 minute tot die worsies gaar is. Draai die sosaties af en toe om gedurende die braaityd.

Bron: Lekker en Vinnig – Sosaties
Uitgewer: Lapa


[Resep] Rooifluweel-kolwyntjies

$
0
0
(Foto: Diabetes-vriendelike poedings en gebak.)

(Foto: Diabetes-vriendelike poedings en gebak.)

Die rooifluweel-kolwyntjie sal beslis jou Dinsdag opkikker! En dit is daarby ook nog maklik om voor te berei …

Bestanddele

Beslag

  • 1 eier
  • 60 ml kanolaolie
  • 125 ml karringmelk
  • 7,5 ml vanieljegeursel
  • 7,5 ml asyn
  • 125 ml gekookte, fyngerasperde beet
  • 150 ml koekmeelblom
  • 100 ml volkoringmeel
  • 7,5 ml kakao
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml koeksoda
  • 60 ml suiker
  • 60 ml SugaLite

Versiersel

  • 30 ml sagte botter
  • 60 ml versiersuiker
  • 125 ml vetvrye geroomde maaskaas
  • 5 ml vanieljegeursel

 

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas papierhouertjies in ʼn 8-holte-muffinpan en spuit met ʼn kleefwerende baksproei.
  2. Klits die eier en olie saam. Voeg die karringmelk, vanieljegeursel, asyn en beet by. Meng goed. Meng al die droë bestanddele saam en maak ʼn holte in die middel van die mengsel. Voeg die eiermengsel daarby en roer tot net gemeng.
  3. Verdeel die mengsel in die muffinholtes en bak 20 minute tot gaar. Laat afkoel.
  4. Berei die versiersel. Klop die botter en voeg die versiersuiker bietjie vir bietjie by. Roer die maaskaas met ʼn metaallepel deur die bottermengsel en voeg vanieljegeursel by. Versier elke kolwyntjie met 20 ml versiersel.

 

Hierdie resep is in Diabetes-vriendelike poedings en gebak gepubliseer.

Skrywers: Martie Hofmeyr en Janet Wiegand

Uitgewer: Lapa Uitgewers

[Resep] Kosblik-idees

$
0
0
Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Foto: Maak vyf

Gesonde keuses bly belangrik vir ʼn gesonde manier van eet. Dit beteken dat ons nie net seker kosse moet vermy nie, maar juis moeite moet doen om voedsame bestanddele deel te maak van ons etes. Bestanddele soos hawermout, lensies, bone, gesonde olies en ʼn verskeidenheid vrugte en groente is voorbeelde hiervan. Maar hoe gemaak as jou kinders dit nie wil eet nie? Dan maak ʼn mens ʼn ander plan en sit dieselfde bestanddele net anders voor. Is hawermout dalk vir jou kinders een van daardie bestanddele?

Gelukkig hoef dit nie net in ʼn gekookte vorm as pap geniet te word nie. Ek gebruik dit byvoorbeeld in beskuit, frikkadelle of tuisgemaakte muesli en my kinders smul ewe lekker daaraan as gekookte hawermout. Vir vandag se resep gebruik ek dit in plaatkoekies, wat dit ʼn interessante tekstuur gee, sonder dat iemand noodwendig gaan weet daar is hawermout in.

Die plaatkoekiebeslag het geen suiker in nie, want die jogurt en vanieljegeursel gee dit ʼn soet smaak. Die bietjie gesmelte botter dra verder by tot die tekstuur, maar dit beteken ook dat heelwat minder olie vir die braaiproses nodig is, want niemand hou van ʼn olierige plaatkoekie nie.

Geurige tamatiesmoor

  • Resep uit Cooking from the Heart 1
  • Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, gekap
  • 1 cm stuk vars gemmer, gekap
  • 1 rooi of oranje soetrissie, ontpit en gekap
  • 1 t (5 ml) kerriepoeier of na smaak
  • 1 x 410 g gekapte tamaties
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Verhit olie in ’n diep pan of kastrol en soteer die ui en gemmer.
  2. Voeg soetrissie by en soteer tot sag. Roer kerriepoeier by en dan die tamaties.
  3. Prut oor lae hitte vir 15-20 minute of tot verdik. Geur met suurlemoensap en peper.
  4. Die sous kan op verskillende maniere gebruik word. Dis ʼn lekker doopsous, sous saam met braaivleis en pap en heerlik om hoenderstukke in gaar te maak.

Wenke:

  1. Die sous kan vooruit gemaak word en in ’n glasfles in die yskas bewaar word.
  2. Indien jou kinders nie van soetrissie hou nie, verpulp die hele smoor voor jy dit gebruik of stoor, want die soetrissie gee ʼn heerlike geur daaraan.

Hawermout-plaatkoekies met jogurt

  • Resep uit Maak vyf
  • Lewer 25-30 klein plaatkoekies

Bestanddele:

kosblik-6-maart-2017

Foto: Verskaf

  • 2 eiers, geklits
  • 1 k (250 ml) Griekse of ongegeurde jogurt
  • 350 ml melk
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 250 ml (1 k) steengemaalde koekmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • 375 ml (1½ k) hawermout
  • 30 ml (2 e) botter, gesmelt
  • olie om te braai

Metode:

  1. Klits die eiers, jogurt, melk en vanielje saam in ’n mengbak. Roer die meel, bakpoeier en hawermout by tot goed gemeng.
  2. Roer die botter by. Laat 5 minute staan voor die eerste plaatkoekies gebraai word. Dit gee die hawermout net bietjie kans om uit te swel.
  3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Skep lepelsvol (30 ml) van die beslag in die pan en braai tot lugborrels bo-op vorm. Draai versigtig om. Braai tot goudbruin en gaar.
  4. Skep uit, dreineer op kombuispapier en hou warm. Herhaal met die res van die mengsel. Sit voor met kaas. Die tamatiesmoor en kaas is heerlik op die plaatkoekies.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

pd-logo-print_high-large heleen-meyer-logo-100-x-326-px

 

[Resep] Aspersietert

$
0
0
aspersie-tert

Die foto is  ʼn grafiese voorstelling van ʼn aspersietert. Versier die tert soos goeddink – wees kreatief! Foto: Pixabay.com

Nie almal is lief vir aspersies nie, maar dié tert klink soos ʼn wenner. Probeer dit gerus en laat weet ons hoe dit smaak!

Bestanddele:

Kors

  • 2 k meelblom
  • ½ t sout
  • ½ – ⅔ k botter
  • 1 e suurlemoensap
  • ⅓ k yswater

Vulsel

  • 2 e botter
  • 4 e meelblom
  • 1 t sout
  • 2 k melk
  • knippie rooipeper
  • 2 t mosterdpoeier
  • 1 pakkie spekvleis (effens gebraai)
  • 2 k Cheddarkaas, gerasper
  • 6 hardgekookte eiers, fyngedruk
  • 1 blik aspersiestukkies
  • 1 geklitste eier

Metode:

Kors

  1. Sif meelblom en sout saam.
  2. Vryf botter in
  3. Voeg suurlemoensap by
  4. Voeg net genoeg water by om stywe deeg te vorm.
  5. Sit in yskas vir 1 uur.
  6. Rasper deeg grof in langwerpige tertbak en druk vas.

Vulsel

  1. Maak ʼn witsous met die botter, meelblom, sout en melk. Voeg die rooipeper en mosterdpoeier by die sous.
  2. Voeg die spek, kaas, hardgekookte eiers, aspersiestukkies en geklitste eier by mekaar en meng die witsous ook saam in. Gooi die vulsel in oor die kors en bak in die oond by 200 °C vir 1 minuut. Verminder die hitte tot 190 °C en bak vir nog 15 minute.

Dié resep is oorspronklik in Knuppeldik aan koningskos gepubliseer
Uitgewer: Knuppeldik Trust
Om die resepteboek, Knuppeldik aan koningskos, te bestel, kontak Carien Liebenberg by 0833199636

[Resep] Kaneelrolletjies

$
0
0
Foto: buzzfeed.com

Kaneelrolletjies. Foto: buzzfeed.com

Dié kaneelrolletjies is so smullekker, jy kan sommer jou boetie vir ʼn bak daarvan verkoop.

Lewer 14 rolletjies

Bestanddele:

Deeg

  • 2 k warm melk
  • ½ k gesmelte botter
  • ½ k suiker
  • 1 pakkie aktiewe droë gis
  • 4 k koekmeel
  • 1 e bakpoeier
  • 2 e sout
  • ¾ k koekmeel

Vulsel

  • ¾ k sagte botter
  • ¾ k bruinsuiker
  • 2 e kaneel

Versiersel

  • 120 ml sagte roomkaas
  • 2 e gesmelte botter
  • 1 t vanieljegeursel
  • 2 e volroommelk
  • 1 k versiersuiker

Metode:

Deeg

  1. Smeer twee bakke (foelie- of koekbakke) goed met botter.
  2. Meng die melk, botter en suiker saam en meng goed in ʼn groot mengbak.
  3. Strooi die gis oor die mengsel en laat staan vir 1 minuut (moet nog nie meng nie).
  4. Voeg die 4 k koekmeel saam en meng goed.
  5. Maak die bak met ʼn vadoek toe en laat staan vir 1 uur.
  6. Stel jou oond op 180 °C.
  7. Ná ʼn uur het die deeg nou goed gerys. Voeg nou die bakpoeier, sout en ¾ k koekmeel by en meng goed.
  8. Haal die mengsel uit die bak en plaas dit op ʼn meelbestrooide oppervlak.
  9. Bewerk die mengsel liggies met jou hande, voeg meel soos nodig by, tot die deeg nie meer aan die oppervlak plak nie.
  10. Rol die deeg uit in ʼn reghoekige vorm met ʼn koekroller – ongeveer 2,5 cm dik.

Vulsel

  1. Smeer die ¾ k sagte botter oor die hele oppervlak van die uitgerolde deeg.
  2. Strooi die bruinsuiker oor die hele oppervlak van die deeg.
  3. Strooi die kaneel oor die hele oppervlak van die deeg.

Bakproses

  1. Rol nou die deeg in sy lengte op sodat jy een lang rol het. Maak seker die kante van die rol word mooi ingesteek.
  2. Plaas die voukant na onder en sny die rol in die middel deur. Sny nou die twee dele in ongeveer 3,5 cm-snye. Daar moet veertien kaneelrolletjies wees.
  3. Plaas die kaneelrolletjies in die twee panne. Plaas een in die middel en pak die ander ses mooi stewig om die middelste een vas.
  4. Plaas kleefplastiek oor die pan en laat staan vir 30 minute in ʼn warm vertrek.
  5. Bak die rolletjies vir 25 – 30 minute tot goudbruin.

Versiersel

  1. Maak die versiersel aan terwyl die kaneelrolletjies bak.
  2. Meng die roomkaas, botter, vanieljegeursel, melk en versiersuiker saam tot glad.
  3. Haal die kaneelrolletjies uit die oond en giet die versiersel oor die rolletjies terwyl dit nog warm is.

* Kyk na die video om te sien hoe dit gedoen word!
 

[Resep] Lensiesop

$
0
0
Foto: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit

Lensiesop. Foto: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit

Die sop kan vir 48 uur verkoel word of vir twee maande in gebruiksporsies bevries word.

Lewer ongeveer 2 liter

Bestanddele:

  • 100 g rou mielierys of bruin rys (met bruin rys is die gereg ook mielievry)
  • 100 g bruin lensies
  • 1,5 liter water
  • 1 middelslag-ui, geskil en gekap (100 g)
  • 2 middelslag-wortels, geskraap en grofweg gerasper (200 g)
  • 1 selderystingel met blare, afgespoel en gekap (25 g)
  • 1 ryp middelslag-tamatie, geskil en in blokkies gesny (125 g)
  • 1 liter water
  • 30 ml lna Paarman-beesaftrekselpoeier
  • 50 ml All Gold-tamatiepuree (opsioneel)
  • ± 5 ml sout na smaak
  • varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Plaas die rys en lensies met die 1,5 liter water in ʼn groot kastrol. Verhit tot kookpunt en laat prut vir 30-40 minute totdat die rys en lensies sag en gaar is.
  2. Voeg die ui, wortel, seldery, tamatie, ekstra liter water en beesaftrekselpoeier by die lensiemengsel.Verhit tot kookpunt en laat prut vir 30-45 minute totdat die groente sag en gaar is.
  3. Roer die tamatiepuree (indien jy dit gebruik), sout en peper by die gaar mengsel en laat prut vir 5 minute. Sit die sop warm voor.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

Ons soek jóú gunstelingresep

$
0
0
Foto: Verskaf

Maroela Media is op soek na jóú familieresepte, of sommer resepte wat jy dink ʼn treffer sal wees. Daai resep wat jou ma al vir jare voorberei, of die een waarop jy altyd kan staatmaak.

deur Adéle Changuion

Daar is ʼn kookboek in my ma se kombuis (eintlik ʼn klomp van hulle), maar hierdie boek is nie deel van die Annette Human of Carmen Niehaus-versameling nie. Dit is sommer ʼn Croxley-A4-skryfboek wat met kleurvolle papier oorgetrek is. Dit bevat geen glansblaaie of foto’s van ʼn Kaapse toetskombuis nie, maar as die huis sou vlam vat, sal my ma dié boek eerste gryp, daarvan is ek seker.

Tussen sy blaaie lê ou familieresepte – party oorgetik en netjies uitgedruk, ander haastig met die hand neergepen. Sommige resepte is krom tydskrifuitknipsels (wat sekerlik deur Annette of Carmen getoets is). Saam met elke resep is daar ook ʼn nota vir die bakker, of in my geval, die leser, soos “vervang melk met room” langs ʼn botterskorsiesop-resep.

Elke lid van die gesin se gunstelinge word ook duidelik gemerk: “Elaine se gunsteling” staan gekrabbel langs ʼn pekanneuttert-resep. My naam staan in blokletters by die einste botterskorsiesop-resep – jy kan my wragtig vang met genoeg room.

Maar so heilig soos dié kookboek is, is dit nie een van daai wat net met skoon hande bekyk mag word nie, nee. Hierdie boek is ʼn kook-en-bak-saam-boek. Blaai jy na “Ouma Hanna se blatjang”, is daar ʼn paar vetkolle wat die resep merk. Ander bladsye plak ʼn bietjie aan mekaar vas – van versiersuiker of dalk water, sal net die boek kan sê. Sommige resepte spog met ligte wit merkies soos ʼn melerige vinger bestanddele opgesoek het.

Die meeste huise het so ʼn kookboek – een wat al amper flenters deurgeblaai is. Maroela Media is op soek na jóú familieresepte, of sommer resepte wat jy dink ʼn treffer sal wees. Daai resep wat jou ma al vir jare voorberei, of die een waarop jy altyd kan staatmaak.

Laat weet sommer ook hoekom dié resep so spesiaal is.

Deel jou gunstelingresep hier.

[Resep] Kosblik-idees

$
0
0
kosblik-13-maart-2017-heleen-meyer

Eenpan-rysroerbraai met eier en groente. Foto: Verskaf

Vandeesweek se resep is maklik en vinnig om voor te berei en ʼn ideale voorbeeld om te wys dat minder sout in jou kos nie beteken dit gaan smaakloos wees nie. Die frase, “maak suurlemoen die ‘nuwe sout’ in jou kombuis”, sal sommer gou posvat as jy eers hierdie resep geproe het. Dis wel ʼn maaltyd, maar ewe geskik vir ʼn kosblik.

Sout is nie net bekend daarvoor dat dit ʼn effek op ons bloeddruk kan hê nie, maar dit vererger onder meer ook chroniese inflammasie. Sommige bestanddele soos pasta, rys en aartappels of eiers en verskillende soorte vleis het wel sout nodig wanneer dit gaargemaak word. Probeer gerus om dit volgende keer met minder sout en liewer suurlemoen ook te geur.

Ons voeg hoofsaaklik op drie maniere sout by ons kos: in die kombuis, aan tafel en met die verwerkte en voorafbereide bestanddele wat ons koop en mee kook. Deur selfs net te begin om op een van hierdie plekke minder sout te gebruik, maak jy reeds ʼn verskil

Eenpan-rysroerbraai met eier en groente

  • Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • Suurlemoenbruinrys (Resep uit Cooking from the heart 3)
  • 1 suurlemoen
  • 1 k (250 ml) rou bruin rys of bruin basmati-rys
  • ½ t (2,5 ml) sout

Roerbraai

  • 45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, fyn gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyn gedruk
  • 4 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 250 ml (1 k) bevrore ertjies, in kookwater afgespoel
  • 250 ml (1 k) geblikte heelpitmielies, gedreineer
  • handvol jongspinasie
  • 30 ml (2 e) gekapte vars pietersielie
  • knippie gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Rys: Sny 4 repies suurlemoenskil met ʼn skerp groenteskiller. Maak seker dat jy nie van die wit gedeeltes van die skil saamsny nie.
  2. Druk die suurlemoensap uit en plaas saam met die skil, rys en sout in ʼn kastrol met ongeveer 2½ k (625 ml) water.
  3. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met die deksel vir 20-25 minute. Dreineer goed.
  4. Roerbraai: Verhit 15 ml van die olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan en soteer die ui en knoffel tot sag. Voeg nog 15 ml van die olie saam met die gedreineerde rys by en roer liggies deur.
  5. Skuif rys na die een kant van die pan en voeg die orige olie by. Skink die eiers in die pan en roer liggies om roereier te vorm.
  6. Voeg ertjies, mielies en spinasie by en roer met die rys en roereier liggies deur tot dit warm is. Geur met pietersielie, paprika, sout en peper. Moenie die rys te veel roer nie en sit dadelik as maaltyd voor.

Wenke:

  1. Berei net die rys op dieselfde manier met die suurlemoen en gebruik as bygereg. Die roerbraai kan ook met oorskiet-suurlemoenrys gemaak word.
  2. Roer repies gaar hoender of selfs rooi nierboontjies saam met die groente by die rys vir ʼn vullender maaltyd.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

pd-logo-print_high-large

[Resep] Ma Lenie se blatjang

$
0
0
my-pragtige-mammie

Lenie Potgieter. Foto: Verskaf

“My ma, Lenie Potgieter, was ʼn baasbakster en het ons so bederf wanneer ons by hul aftreeplek by Krommerivier, naby Humansdorp in die Oos-Kaap, gaan kuier het. Om vroeg in die oggend met die geur van varsgebakte brood wakker te word, was hemels! Met haar heelvykonfyt, varsgebakte brood en ʼn koppie koffie is dit soos ons haar onthou. Later was dit ʼn groot ontbyt en dan het die blatjang ook vir die gebakte eiers reggestaan! Hierdie blatjang is my ma se eie resep en elke keer as ek dit maak, is dit asof nog steeds langs my staan,” skryf Anita Ford, ʼn Maroela Media-leser.

Bestanddele:

  • 8 groot geskilde uie en in kwarte gesny
  • 2 pakkies dadels (in kleiner stukkies gebreek/gesny)
  • 8 tot 10 rissies
  • 1 groot blik fyn appelkooskonfyt
  • halwe bottel bruinasyn
  • 2 t sout

Metode:

  1. Ons gebruik nog steeds my ma se handmeultjie.
  2. Maak die meultjie stewig vas aan die rant van die tafel en plaas ʼn bak onder die meultjie se opening.
  3. Maal nou die uie, rissies en dadels fyn.
  4. Voeg dan die appelkooskonfyt, sout en asyn by en roer goed deur.
  5. Gooi in bottels en laat vir ten minste twee dae staan voor gebruik.

Hoe langer dit staan, hoe beter! Ons eet dit selfs op gebakte eiers vir ontbyt!

[Resep] Gebakte vla

$
0
0
Foto: Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Gebakte vla. Foto: Kookboek vir Allergieë en Voedselsensitiwiteit

Die gebakte vla kan warm of koud geëet word. Dit kan vir 24 uur verkoel word, maar bevriesing word nie aanbeveel nie.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml laevetmelk
  • 2 groot eiers
  • 25 ml suiker
  • 1 ml vanieljegeursel (opsioneel, kan tartrasien en/of karamel bevat)
  • fyn kaneel of gerasperde neutmuskaat

Metode:

  1. Indien die oond gebruik word, verhit die oond tot 160 °C.
  2. Verhit die melk tot warm, maar nie tot by kookpunt nie.
  3. Klits die eiers, suiker en geursel saam tot gemeng, maar nie skuimerig nie. Voeg van die warm melk geleidelik by die eiermengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Giet die eiermengsel deur ʼn siffie in vier klein soufflébakkies. Plaas die soufflébakkies in ʼn groter oondskottel met kookwater wat tot by dieselfde vlak as die inhoud van die soufflébakkies kom.
  4. Bak vir 45 minute tot gestol of mikrogolf vir 12-15 minute op medium (50% krag) tot gestol.
  5. Strooi ʼn bietjie kaneel of neutmuskaat oor die gebakte via en sit warm of koud voor met ʼn sous van jou keuse.

Voorstelle en variasies

  • Vervang die melk deur sojamelk, dan is die gereg melk- en laktosevry maar nie sojavry nie.
  • Vervang die melk deur laktosevrye melk, byvoorbeeld Parmalat Easy Gest, dan is die gereg laktosevry maar nie melkvry nie.
  • Vervang die melk deur klapper- of rysmelk, dan is die gereg melk- en laktosevry.

Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg

Suid-Afrika se melktertkampioen aangewys

$
0
0
Rita Schuster. Foto: Deeghuys/Facebook

Rita Schuster. Foto: Deeghuys/Facebook

Suid-Afrika se bobaasmelktertbakker is Donderdagaand tydens ʼn spogfunksie in Kaapstad aangewys.

Rita Schuster van Gauteng is as die wenner van Deeghuys se Melktertkampioen-kompetisie aangewys. Sy het gisteraand sake uitgespook met die sanger en televisieaanbieder Riaan Grobler, Gauteng se ander wenner en Liezel Olivia Hartzenberg en Martie Lamprecht, wat vroeër as die wenners in die Kaap gekies is.

Reuben Riffel, Zolan Nene, Nic van Wyk, De Wet Barry en Michael van Niekerk, stigter en direkteur van Deeghuys, het die moeilike taak gehad om die wenner aan te wys. Hulle het sowat ‘n halfuur lank geproe aan die vier finaliste se melkterte en het dit sowat ‘n uur geneem om op ‘n wenner te besluit.

Schuster se wenmelktert besorg vir haar naamregte én tantieme vir elke melktert wat by Deeghuys se winkels landwyd verkoop word. Haar melkterte sal binne die volgende twee maande in Deeghuys se winkels beskikbaar wees. Sy wen 10% se tantieme vir elke melktert wat vir ‘n jaar verkoop word. Schuster het ook met verskeie ander pryse weggestap, waaronder SMEG elektriese ware en ander geskenkpakke.

Twintig resepte is uit die inskrywings gekies waarna twee halfeindrondes, een in Kaapstad en een in Pretoria, met tien deelnemers elk op 25 Februarie gehou is. Vier finaliste, twee van Gauteng en twee van die Kaap, is gekies.

Michael van Niekerk, die stigter en direkteur van Deeghuys, sê melktert is by verre die gunsteling Suid-Afrikaanse nagereg én is boonop eg-Suid-Afrikaans.

Dié tert se deugde word jaarliks op Nasionale Melktertdag, op 27 Februarie, besing. “Die reuk en die geur van ʼn melktert is vir baie mense nostalgies. Melktert bring natuurlik ook gesinne saam in die genotvolle ervaring van bak,” sê hy.

Vir meer inligting, besoek Deeghuys se Facebook-blad.

[Resep] Nuwe Botterkoek

$
0
0
helene-burger-resep

Helene Burger, ʼn leser van Durbanville, deel graag haar resepte met die res van die Maroela-gesin en sê haar “Nuwe Botterkoek” is ʼn resep wat haar ma jare gelede agter in ʼn kookboek neergepen het. Foto: Verskaf

Helene Burger, ʼn leser van Durbanville, deel graag haar resepte met die res van die Maroela-gesin en sê haar “Nuwe Botterkoek” is ʼn resep wat haar ma jare gelede agter in ʼn kookboek neergepen het.

“My ma het baie jare vir die destydse VLV gewerk wanneer dit skoutyd op die dorp was. Haar resepte het altyd die eerste prys gewen. Ons was almal baie trots om die eerstepryskaartjies langs haar gebak te sien,” skryf Helene.

Bestanddele:

  • 5 eetlepels sagte botter
  • 1 +1/4 koppie fyn suiker
  • 1 +3/4 koppie gesifte meel
  • 1/2 koppie lou melk
  • 2 eiers
  • 3 teelepels gelykvol bakpoeier
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • knippie sout

Metode:

  1. Plaas alles in ʼn mengbak, klop met handklitser vir vier minute, of twee minute met ʼn elektriese klitser.
  2. Deel die mengsel in twee en bak in warm oond (so 200°C)  tot ligbruin.

Helene sê die koek is heerlik net so, maar jy kan versuikersuiker oorsif wanneer die koek afgekoel het.

[Resep] Kosblik-idees

$
0
0
Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Vandeesweek se sardyngebak is lekker as ʼn maaltyd en ewe geskik vir ʼn kosblik. Mense wat by voedingskemas of gemeenskapskombuise betrokke is en op soek is na resepte wat bekostigbaar, voedsaam en vullend is, sal dit beslis ook kan gebruik.

Dit kan ook met tuna gemaak word, maar sardyne is regtig voedsaam. Dis propvol gesonde olies, selfs wanneer dit in geblikte vorm gebruik word, teenoor geblikte tuna, waarvan die meeste van die olie verlore gaan in die gaarmaakproses. Die dun graatjies en ruggraat van sardyne is sag genoeg om saam met die ander bestanddele fyn te druk en is baie ryk aan kalsium. Moet dit dus nie uithaal nie, maar maak dit beslis deel van die gereg. Die eiers in die resep maak die gereg nog voedsamer, bind alles saam en gee dit ʼn sagte tekstuur.

Almal hou van ʼn soethappie, maar ons moet beslis oplet na die hoeveelheid suiker wat ons inneem. Vandag se dadelballetjies het ʼn heerlike sjokoladesmaak en is die perfekte idee vir ʼn soetbederf sonder suiker. Dis vir my baie belangrik om na ons kinders se gesondheid om te sien. Dit gaan teen my grein as ek soms sien wat mense in hul kinders se kosblikke pak en wat by skoolsnoepies verkoop word. Hier die dadelballetjies is ideaal vir kosblikke en snoepies.

Sardyne-gebak

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
  • Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 4 snye bruin- of volgraanbrood
  • 1 k (250 ml) melk
  • 1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous
  • 1 ui, gekap
  • 1 wortel, grof gerasper
  • 4 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 e (15 ml) gekapte vars pietersielie
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 1 t (5 ml) paprika
  • ¼ k (60 ml) gerasperde kaas

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180°C.
  2. Skeur brood in stukkies en giet die melk oor. Laat dit bietjie week en druk met ʼn vurk fyn.
  3. Roer die vis in tamatiesous by en druk fyn. Voeg ui, wortel, eiers en sout by en meng goed deur.
  4. Roer pietersielie by en geur met suurlemoensap, swartpeper en die helfte van die paprika.
  5. Skep in ʼn oondbak en strooi kaas en die orige paprika oor.
  6. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin en gaar. Sit met slaai voor.

Dadel- en sjokoladeballetjies

  • Resep uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 20 balletjies

Bestanddele:

  • ½ x 80 g-blok donkersjokolade, in stukkies gebreek
  • 1 e (15 ml) kakao
  • 3 e (45 ml) melk
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel
  • 250 g ontpitte dadels, fyn gekap
  • 100 ml klapper
  • ekstra klapper en kakao vir versiering

Metode:

  1. Plaas sjokolade in ʼn glasbak en smelt oor ʼn kastrol water wat liggies kook. Maak seker die bak raak nie aan die water nie.
  2. Meng kakao met ʼn bietjie van die melk om ʼn pasta te vorm. Meng die res van die melk en die vanielje by.
  3. Roer van die gesmelte sjokolade in die melkmengsel tot glad. Meng dan die res van die sjokolade by.
  4. Meng die dadels en klapper met die sjokolademengsel. Rol teelepelsvol van die mengsel in balletjies of skep dit net op bakpapier en sprinkel met ekstra klapper of kakao en laat dit stol.
  5. Hou in die yskas en gebruik 1-2 balletjies as ʼn porsie vir ʼn peuselhappie.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

pd-logo-print_high-large nulaid-logo-640x213
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live