Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Wieletjies se karringmelk-klapper-anysbeskuit

$
0
0
Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

“Ek is ʼn boervrou van Namibië en woon op ʼn plaas in die Otjiwarongo-distrik. Ek is mal oor bak en brou en lees resepteboeke soos storieboeke. Hierdie beskuitresep het ek so deur die jare “gemodify”, soos ons dogters altyd sê, totdat ek tevrede was. Ek bak dit nou al vir 38 jaar,” skryf Wieletjies de Villiers.

Bestanddele:

  • 240 g klapper
  • 2 kg bruismeel
  • 1 l karringmelk
  • 600 g wit suiker
  • 10 ml sout
  • 500 g botter of margarien (Wieletjies verkies Rama of Stork Bake)
  • 3 eiers
  • 35 g anys (1 boksie)

Metode:

  1. Stel jou oond op 180 °C.
  2. Smeer 2 broodpanne met botter.
  3. Meng droë bestanddele, behalwe anys, en vryf botter in tot krummelrig. Voeg dan anys by.
  4. Klits eiers en karringmelk saam. Voeg by droë bestanddele en meng goed.
  5. Die beslag kan dalk effe droog wees, daarom gooi Wieletjies ʼn bietjie melk by tot die deeg meer hanteerbaar is.
  6. Druk in gesmeerde panne en bak vir ʼn uur of tot gaar.
  7. Laat heeltemal afkoel. Sny eers in skywe, dan in vingers.
  8. Droog die beskuit uit.

* Wieletjies gebruik pangrootte 360 x 140 x 100 cm.


[Resep] Dadel-en-suurlemoenbroodjie

$
0
0

Dadel-en-suurlemoenbroodjie. Foto: Lekker en Vinnig

Ag nee, daar gaan al die sprake van ʼn dieet. Hoe kan mens nou nee sê vir hierdie lekkerny?

Lewer 1 broodjie

Bestanddele:

  • 250 ml dadels, fyngekap
  • 125 ml water
  • 2 eiers
  • 125 ml strooisuiker
  • 187 ml olie
  • 250 ml klapper
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 250 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 10 ml fyn gerasperde suurlemoenskil

Versiersel

  • 100 g sagte botter
  • 500 ml versiersuiker, gesif
  • 30 ml suurlemoensap

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ʼn 9 x 26 cm-broodpan met bakpapier uit.
  2. Verhit die dadels en water saam tot kookpunt. Laat prut tot sag en laat afkoel.
  3. Klits die eiers en strooisuiker tot liggeel. Klits die olie by.
  4. Roer die dadelmengsel, klapper en vanieljegeursel by die eiermengsel.
  5. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
  6. Roer die meelmengsel en suurlemoenskil by die eiermengsel.
  7. Skep die deeg in die voorbereide broodpan en bak vir 25 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
  8. Laat die broodjie effens in die pan afkoel en keer op draadrakkie uit.
  9. Versiersel: Room die botter tot liggeel. Voeg die versiersuiker geleidelik by terwyl dit geklits Voeg die suurlemoensap by en klits tot smeerbaar.
  10. Smeer die versiersel bo-oor die broodjie, sny in skyfies en sit voor.

Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Vrouekeur 2 deur Marlo Carstens.

[Resep] Lettie se skoolkerrie

$
0
0

Foto: Pixabay.com

“Ek het die resep meer as 30 jaar gelede gekry by ʼn dierbare vriendin, Lettie de Swardt, wat onlangs oorlede is. Die resep was gewild by kermisse en skoolfunksies. Baie vriendinne gebruik dit nog,” skryf Rochelle Carstens, ʼn Maroela Media-leser.

Bestanddele:

  • 6 uie gekap
  • olie
  • 4 e kerrie
  • 2 e borrie
  • 2 k asyn
  • 1 k suiker
  • 1 groot blik tamatiepuree
  • 5 kg maalvleis (gaar gemaak)
  • geurmiddels
  • 2 e appelkooskonfyt
  • gaar gemengde groente (opsioneel)
  • 1 k rosyne (opsioneel)

Metode:

  1. Braai die uie in olie tot sag.
  2. Roer kerrie en borrie by, kook vir so ʼn rukkie terwyl dit geroer word.
  3. Meng asyn, suiker en tamatiepuree en voeg by die uiemengsel. Kook baie stadig vir so ʼn rukkie.
  4. Voeg die gaar vleis by (gaar hoender kan ook gebruik word in plaas van maalvleis).
  5. Voeg geurmiddels en konfyt by. Roer en kook so ʼn rukkie. Indien jy gemengde groente en rosyne wil gebruik, voeg dit ook by saam met die konfyt en geurmiddels. Dien op.

[Resep] Idees vir ʼn heerlike kosblik

$
0
0

Foto: Verskaf

Die lensieslaai is ʼn heerlike bygereg, want dit is ʼn lekker afwisseling van ʼn tipiese “wit” styselgebaseerde bygereg en ideaal vir ʼn ligte middagete, soos in ʼn kosblik. Die lensies is ʼn bron van sowel proteïen as stysel, maar het heelwat meer gesonde vesel in as byvoorbeeld pasta of rys. Die slaaibestanddele wat daarby gebruik word, kan ook afgewissel word. Komkommer of boontjies en tamatie is heerlik daarby. Ertjies is ook altyd ʼn lekker kombinasie met lensies en al hierdie elemente pas perfek by die suurlemoen- en kruisementgeure in die slaaisous. Dié slaai is ʼn goeie voorbeeld van een van daardie slaaie wat ʼn geurontploffing in jou mond is, al lyk dit dalk baie eenvoudig.

Die kwartaal is amper verby – gee jou kinders hierdie vakansie baie liefde en aandag en lekker, gesonde kos. ʼn Blik met tuisgebakte koekies is ʼn smullekker bederf. As dit by koekies kom, is tuisgemaak beslis die beste. Hierdie resep gebruik grondboontjiebotter en speserye wat dit ʼn interessante geur gee en die hawermout en volkoringmeel verseker dat dit  ʼn stewige skoot vesel bevat. Die kombinasie van bestanddele gee die koekie ʼn lekker growwe tekstuur en dis ʼn maklike manier om met relatief gesonde bestanddele ʼn koekie te bak wat beslis gesonder is as ʼn winkelweergawe. Onthou net om nie met die hele blik langs jou te gaan sit nie. Hou iets vir ʼn volgende keer se koppie tee of koffie.

Lensieslaai met kruisement, feta en broccoli

  • Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

Slaai

  • 250 ml (200 g) rou bruin lensies
  • 100 g broccoli, in blommetjies gesny
  • 6-8 Peppadews® (pikantrissies), in stukkies gesny
  • 100 ml vars kruisementblare
  • 1 skyf fetakaas, in blokkies gesny

Slaaisous

  • 50 ml avokado- of olyfolie
  • 25 ml (5 t) appel- of witwynasyn
  • 10 ml (2 t) suurlemoenskil, fyn gerasper
  • 50 ml suurlemoensap
  • 5 ml (1 t) heuning
  • 30 ml (2 e) fyngekapte vars kruisement
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Slaai: Plaas lensies met 625 ml koue water in ’n kastrol, verhit oor matige hitte en prut vir 25-30 minute of tot net gaar, maar nie pap nie. Moenie sout by die rou lensies voeg nie.
  2. Slaaisous: Meng intussen al die slaaisousbestanddele en geur na smaak.
  3. Bedek intussen die broccoli met kookwater en laat vir 15 minute staan of tot net gaar. Dreineer.
  4. Dreineer lensies en plaas met die broccoli terug in die kastrol. Skink die helfte van die slaaisous oor en laat heeltemal afkoel.
  5. Meng die lensiemengsel met die orige slaaisous en ander slaaibestanddele en sit voor.

Hawermoutkoekies

  • Resep uit Cooking from the heart 1

Bestanddele:

  • ¼ k (60 ml) grondboontjiebotter
  • ¼ k (60 ml) sagte botter
  • ½ k (125 ml) suiker
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 3 e (45 ml) melk
  • 2 k (500 ml) rou hawermout
  • 1 k (250 ml) volkoringmeel
  • ½ t (2,5 ml) koeksoda
  • ½ k (125 ml) rooibosbessies (cranberries) of rosyne
  • ½ e (7,5 ml) gemaalde gemengde speserye

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
  2. Klop grondboontjiebotter en botter tot goed gemeng. Voeg suiker en eiers by en klits goed. Roer melk by.
  3. Voeg hawermout, meel, koeksoda, rooibosbessies en gemengde speserye by en roer tot ʼn sagte deeg vorm.
  4. Laat die mengsel ʼn paar minute staan. Rol in klein balletjies en plaas op die bakplaat. Druk plat met ʼn vurk of lepel. Of skep net lepelsvol op die bakplaat.
  5. Bak vir 10-15 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer. Sit voor as ʼn peuselhappie.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

15 kombuis-wenke wat jou lewe sal vergemaklik

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Hoe dop jy ‘n gekookte eier af? Wat is die vinnigste manier om vrugte en groente ryp te kry? Hoe gemaak as jou oë traan terwyl jy ʼn ui sny? Dié wenke wys jou presies hoe.

Verbruining van aartappels

  • Wanneer jy aartappels geskil het, plaas dit dadelik in koue water. Dit sal voorkom dat aartappels van kleur verander.

Vrot tamaties

  • Stoor tamaties teen kamertemperatuur en nie in die yskas nie. Die tamaties sal op dié manier langer hou.

Groen vrugte en groente

  • Sit vrugte en groente in ʼn papiersak. Die gekonsentreerde gasse sal die rypingsproses versnel.

Verbruining van gekapte vrugte

  • Gekapte vrugte soos appels word baie gou bruin. Dié heuningmengsel sal verbruining keer:
    Meng twee teelepels heuning met ʼn koppie water. Plaas die stukke vrugte in die mengsel en laat dit vir ʼn paar minute daarin. Dreineer die water. Jou vrugtestukke sal baie langer hul kleur behou.

Kleefplastiek-rampe

  • Plaas die rol kleefplastiek in die yskas of vrieskas en dit sal soveel beter hanteer. Wanneer die kleefplastiek nie wil plak nie, maak die rand van jou bak nat en plaas dan die plastiek oor die bak.

Bedek bakke kos

  • Gebruik sommer ʼn nuwe stortkeps om kosbakke te bedek. Dit is soveel makliker as kleefplastiek.

Vrot eiers

  • Plaas ʼn eier in ʼn bak koue water. As die eier na die bodem sak, is hy nog eetbaar. As die eier na die oppervlak styg, kan jy dit weggooi. Vloeistof in die eier verdamp mettertyd en vorm dan ʼn gasborrel.

Stukkies eierdop in mengsels

  • Gebruik die helfte van ʼn eierdop om klein stukkies eierdop uit mengsels uit te haal. Die dop werk amper soos ʼn magneet.

Pampoenpitte

  • Skep pampoenpitte met ʼn roomysskepper uit.

Skil ʼn gekookte eier

  • Voeg asyn of koeksoda in die water wat gebruik word om eiers te kook. Die eiers sal soveel makliker skil.

Rasper sagte kaas

  • Bevries sagte kaas soos mozzarella vir 30 minute voor jy dit rasper. Dit sal die proses vergemaklik.

Sny sagte kaas

  • Gebruik geurlose tandvlos om sagte kase soos brie mooi netjies te sny.

Uie laat oë traan

  • Vir uie wat later gebraai gaan word: bevries die ui voor jy dit begin sny en kap.
  • Vir uie wat rou gebruik gaan word: plaas ʼn sny brood in jou mond met ʼn deel wat uit jou mond hang.

Harde botter

  • Rasper harde botter om dit vinniger te laat versag of sny die blok botter in agt dele sodat dit vinniger sal ontdooi.

Water wat oorkook

  • Sit ʼn houtlepel oor die pot.

Lees hier vir nog wenke.

[Resep] Meksikaanse burgers met gebraaide mielies

$
0
0

Meksikaanse burgers met gebraaide mielies. Foto: Jou beste lewe

Volstruisvleis spog met ʼn baie gesonde verhouding van versadigde tot onversadigde vette en ʼn ewe goeie verhouding tussen die omega 3- en omega 6-vetsure. Dus, moenie jou kop in die sand druk nie – eet meer volstruisvleis!

Bestanddele:

Vir die patties

  • 400 g volstruismaalvleis
  • 1 teelepel fyn koljander
  • 1 teelepel gerookte paprika
  • 1 teelepel komyn
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • ½ teelepel varsgemaalde sout en peper
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 ui, in 1 cm dik ringe gesny om te braai
  • 4 mielies, die blare verwyder
  • 30 g parmesaan, fyn gerasper
  • 2 eetlepels vars koljander
  • 1 rissie, pitte verwyder en fyngekap (opsioneel)
  • 1 lemmetjie se sap
  • 4 sagte volgraanrolletjies of saadrolletjies
  • 4 botterslaai-blare
  • 2 tamaties, in dun skywe gesny

Vir die guacamole

  • 2 avokado’s
  • 2 lemmetjies
  • 2 eetlepels vars koljander, gekap
  • 2 eetlepels uie, fyngekap
  • varsgemaalde sout en peper

Metode:

  1. Kry die braaier of braaivleisvuur aan die gang.
  2. Meng die maalvleis met die speserye in ʼn bak en deel in 4. Vorm patties.
  3. Gooi ʼn bietjie olyfolie oor die patties en die uie en braai op ʼn warm vuur totdat dit gaar is volgens jou smaak.
  4. Sit ook dan die mielies op die braai – hulle moet reg rondom ʼn bietjie kleur kry.
  5. Sit die parmesaan, koljander en rissie op ʼn skoon snyplank en versprei dit egalig oor so 20 cm van die bord.
  6. Plaas die warm mielies daarop, druk die lemmetjiesap oor die mielies en rol dit in die kaasmengsel.

Vir die guacamole:

  1. Skil die avokado.
  2. Druk die lemmetjiesap daaroor uit en voeg die vars koljander, uie, sout en peper by.
  3. Druk dit rofweg fyn met ʼn vurk, sonder om dit te fyn te maak.

Bou die burgers soos volg:

  1. Rolletjie, slaai, tamatie, pattie, uie en guacamole.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

Guy Fieri-restaurant open in Pretoria

$
0
0

Guy Fieri (Foto: Facebook)

Die televisie-aanbieder en bekende Amerikaanse sjef Guy Fieri gaan binnekort die deure van sy eerste restaurant in Suid-Afrika oopswaai.

Fieri, veral bekend vir programme op die Food Network-kanaal soos Diners, Drive-Ins and Dives en Guy’s Big Bite, se restaurant maak op 1 April oop in die splinternuwe Menlyn Maine-sentrum in die ooste van Pretoria.

Guy Fieri Kitchen & Bar gaan van die sjef se bekendste en gewildste geregte, soos sy Spek Mac-N-Cheese-burgers asook rafelvark, verkoop.

“Ons is trots op ons grootste treffers soos burgers en unieke skemerkelkies en gaan dit beslis op die spyskaart hê, maar ons hou ook ons oë oop vir heerlike plaaslike geregte. Aan dié geregte eie aan Suid-Afrika sal ons ʼn unieke stempel gee,” het hy aan Times Live gesê.

Menlyn Maine gaan glo die eerste eko-vriendelike sentrum van sy soort wees wat uiteindelik as middelpunt vir ʼn eko-vriendelike stad gaan dien.

Die sentrum maak op 1 April oop en het benewens winkels en restaurante ook ʼn hotel en heelwat kantoorruimte.

Besoek Fieri se Facebook-blad vir foto’s van sy heerlikste disse.

Bron: Times Live

[Resep] Tuna-roulade

$
0
0

Tuna-roulade. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

Roulade

  • 4 ekstragroot eiers, geskei
  • 30 ml suiker
  • 125 ml koekmeel
  • sout en witpeper na smaak
  • 6 sprietuie, fyngekap
  • ekstra bakpapier
  • 30 ml fyngerasperde Parmesaankaas

Tunavulsel

  • 60 ml sagte Clover Mooi River-botter
  • 250 ml gerasperde Clover Mature-cheddarkaas
  • 1 x 170 g-blikkie tuna in water, gedreineer en gevlok
  • 80 ml mayonnaise
  • 80 ml blatjang
  • 30 ml fyngekapte vars pietersielie
  • 2 sprietuie, fyngekap
  • knippie sout

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn bakplaat van ongeveer 35 cm x 25 cm. Voer die gesmeerde bakplaat met bakpapier uit en smeer dan die bakpapier.
  2. Roulade: Klits die eierwitte met elektriese klitser tot net-net styf. Voeg die suiker by en klits tot sagtepuntstadium.
  3. Klits die eiergele met ʼn vurk tot net gemeng. Vou die eiergele by eierwitmengsel in.
  4. Sif die koekmeel, sout en peper oor die eiermengsel. Strooi die sprietuie bo-oor en vou alles by die eiermengsel in.
  5. Skep die beslag in die voorbereide bakplaat en maak dit gelyk bo-op. Bak vir 10-12 minute tot goudbruin bo-op en laat dit effens afkoel in die bakplaat.
  6. Strooi die Parmesaankaas op ʼn skoon vel bakpapier en keer roulade daarop uit.
  7. Sny die gebakte kante van die roulade met ʼn broodmes af. Rol die roulade op met behulp van bakpapier, maar maak seker dat die bakpapier nie in die middel van roulade opgerol is nie. Hou eenkant.
  8. Tunavulsel: Verroom die botter met ʼn houtlepel in ʼn mengbak en roer dan die kaas by. Meng goed.
  9. Roer al die oorblywende bestanddele by die vulsel en meng goed.
  10. RoI die roulade oop en smeer die tunavulsel versigtig oor die roulade. Moenie tot op die kante van die roulade smeer nie, anders druk jy baie van die vulsel uit wanneer die roulade opgerol word.
  11. Rol die roulade op en plaas op ʼn geskikte opdienbord.
  12. Dien op teen kamertemperatuur as ligte middagete saam met ʼn slaai.

Bron: Clover Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa


Koek-rampe: Die realiteit van kinderkoeke bak

$
0
0

Enige ma ken die frustrasies van koekbak, veral as die verjaardagmaatjie ʼn koek bestel het wat selfs ervare bakkers sal laat sweet. Dit is dalk maklik om ʼn prentjie op die internet te kry, maar die uitvoerbaarheid daarvan is gewoonlik baie moeiliker, soos wat dié bakkers té laat besef het….

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Foto: boredpanda.com

Sien nog foto’s hier.

[Resep] Amarula-balletjies

$
0
0

Amarula-balletjies. Foto: Lekker en Vinnig.

Dié Amarula-balletjies maak ‘n mens sommer in ‘n japtrap.

Lewer 36-40 porsies

Bestanddele:

  • 600 g (3 pakkies) Mariebeskuitjies, fyngemaak
  • 2 eiers
  • 125 ml gesmelte botter
  • 500 ml versiersuiker, gesif
  • 250 ml Amarula-likeur
  • 500 g sjokolade, gesmelt

Metode:

  1. Meng die beskuitjiekrummels, eiers, botter, versiersuiker en likeur in ʼn mengbak.
  2. Vorm die beskuitjiemengsel in balletjies van 4 cm in deursnee en plaas dit op foeliebedekte skinkborde. Verkoel ± 1 uur lank, of tot ferm.
  3. Doop die balletjies in die gesmelte sjokolade en laat teen kamertemperatuur staan tot die sjokolade gestol het.

Wenke:

  1. Plaas die beskuitjies in ʼn plastieksak en rol dit met ʼn deegroller fyn as ʼn voedselverwerker nie beskikbaar is nie.
  2. Smelt die sjokolade in ʼn dubbelkastrol of plaas dit in ʼn mikrogolfoond vir ± 2 minute teen 50% krag. Roer dit elke 20 sekondes.
  3. Laat dit effens afkoel.

Bron: Lekker en Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Soet en sout, Margie van Tonder.

Peperduur skyfies nou te koop

$
0
0

Foto: sterikschips.se/eng

ʼn Sweedse brouery het aartappelskyfies bekend gestel wat jou 56 dollar (ongeveer R750) uit die sak sal jaag.

As jy dink dit is ʼn vreeslike groot pak skyfies, dink weer. Vir dié prys kry jy slegs vyf skyfies.

St. Erik’s Brewery het dié duur peuselhappie bekend gestel as ʼn aanvulling vir die brouery se premium bier.

“Ons is passievol oor die vakmanskap wat in ons bier ingaan en daarom wou ons ʼn peuselhappie met dieselfde waarde saam met ons bier bedien. ʼn Eersteklas bier moet saam met ʼn eersteklas happie bedien word,” sê ʼn Marcus Friari, woordvoerder van die brouery.

Volgens die maatskappy is dié skyfies van baie hoë gehalte en baie eksklusief. Die skyfies word verkoop in ʼn duursame boks en elkeen lyk asof dit presies ewe groot is.

Miskien pas dié produk so reg in jou kraal, maar ons sal eerder hou by die gewone winkelskyfies…

[Resep] Knoffelbrood

$
0
0

‘n Grafiese voorstelling ter illutrasie. Foto: Pixabay.com

Ek het hierdie broodjies die eerste keer by ʼn vriendin geëet en toe sommer aangepas toe ek dit self begin maak het. Nou het ek darem ietsie wat ek kan saamvat na ‘n braai. En glo my, daar word gewoonlik ’n versoek daarvoor ingesit, skryf ʼn Maroela-leser, Madelene Venter.

Bestanddele:

  • ʼn Dosyn dagoud lang broodrolletjies (wat gebruik word om worsbroodjies te maak)
  • 500 ml room
  • 750 ml mayonnaise
  • knoffel na smaak
  • 1 k gerasperde kaas

Metode:

  1. Verhit oond na 150°C.
  2. Sny die rolletjies in wieletjies. (Madelene sny die wieletjies in die breedte met dieselfde hoogte as haar oondpan.)
  3. Pak die wieletjies plat in ʼn oondbak.
  4. Maak ʼn mengsel van die room, mayonnaise en knoffel.
  5. Gooi die mengsel oor die broodwieletjies.
  6. Gooi gerasperde kaas oor.
  7. Bak vir ongeveer 30 minute.

[Resep] Witbone-doopsous

$
0
0

Foto: Verskaf

Bone is ʼn veelsydige bestanddeel en hoewel baie mense nie daarvan hou nie, is daar wonderlike maniere om dit deel te maak van etes. Hierdie bone-doopsous is ʼn geurige en maklike idee om bone interessant voor te sit. Selfs mense wat nie van bone hou nie, geniet hierdie doopsous, soms sonder dat hulle besef dis inderdaad met geblikte bone gemaak. Die kombinasie van bone, paprika, suurlemoensap en vars kruie is perfek met die meer neutrale smaak van die bone. Die geroosterde sonneblomsade gee dit ʼn heerlike neuterige geur. Bone is van nature hoog in vesel en laag in sout en dus perfek as deel van ʼn gesonde manier van eet, skryf Heleen Meyer.

  • Aangepas uit Cooking from the heart
  • Lewer 6 – 8 porsies (500 ml)

Bestanddele:

  • 2 x 410 g blikke wit- of botterbone, gedreineer, maar behou die vloeistof
  • 100 ml sonneblomsaad, gerooster
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie, of meer na smaak
  • 5 ml (1 t) paprika of gerookte paprika
  • 20 ml (4 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie
  • 50 ml suurlemoensap, of meer na smaak
  • swartpeper na smaak

Metode:

  1. Plaas al die bestanddele, met 50 ml van die behoue vloeistof van die bone, in ’n diep mengbak of groot mengbeker.
  2. Meng met ’n stokmenger tot ’n growwe tekstuur. Geur na smaak en voeg meer vloeistof of olie na smaak by.
  3. Sit voor as doopsous met byna enigiets. Dis heerlik met groenterepies of smeer op ’n pita, toevoupakkie (wrap) of broodjie. Dit is selfs lekker op vleis of ʼn gebakte aartappel of patat.

Wenke:

  1. Om jou eie sonneblomsaad te rooster, plaas sade in ’n braaipan sonder enige olie. Rooster 3-5 minute oor matige hitte of tot goudbruin.
  2. Plaas orige doopsous in die yskas in ’n lugdigte houer vir 4-5 dae.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

[Resep] Jacques se skelvis

$
0
0

Foto: Pixabay. com

My seun, Jacques, was in die lugmag en wou nooit vis eet nie. Een naweek kom hy onverwags huis toe en dié gereg was vir aandete berei. Hy het die bak leeggemaak en sedertdien moes ons dit elke keer maak as hy huis toe kom, skryf ʼn Maroela-leser, Susan Lotter.

Bestanddele:

  • 5-6 gevriesde skelvisfilette
  • 1 pakkie wit uiesop volgens aanwysings aangemaak maar gebruik net 400 ml melk. Dit moet soos dik witsous wees.
  • 1 koppie beleë Cheddar-kaas

Metode:

  1. Pak vis in oondskottel, meng kaas met sous en gooi oor gevriesde vis.
  2. Bak vir 30-45 in oond by 180 °C.

[Resep] Hoendervlerkies met oestersous en steranys

$
0
0

Hoendervlerkies met oestersous en steranys. Foto: Japtrap Braai

Veelsydig, vinnig en die ideale peuselhappie vooraf as jou hoofgereg die kollig gaan steel. Vir ʼn soeter weergawe, vervang die oestersous met soetbrandrissiesous.

Genoeg vir 6-8 mense

Bestanddele:

  • 1 kg hoendervlerkies

Marinade

  • 85 ml (1/3 k) dun, loperige heuning
  • 100 ml oestersous
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 5 ml (1 t) droë rooibrandrissievlokkies
  • 4 heel steranyssade
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

  1. Meng bestanddele vir die marinade in ʼn bak. Plaas hoendervlerkies in ʼn groot glasbak en giet die marinade daaroor. Laat staan vir minstens 1 uur of oornag in die yskas.
  2. Haal die vlerkies uit die marinade en braai oor ʼn warm gasvlam of kole vir 8-10 minute aan ʼn kant terwyl jy dit gereeld omdraai om te verhoed dat dit brand.
  3. Sit voor as ʼn voorgereg met baie papierservette en ʼn bakkie vir die beentjies.

Bron: Japtrap Braai
Uitgewer: Random House Struik


[Resep] Eendborsies met geroosterde lemoenskywe

$
0
0

Eendborsies met geroosterde lemoenskywe. Foto: Japtrap-braai.

Die kombinasie van eend en lemoen sorg vir ʼn hemelse kulinêre ervaring. Dit is vinnig om gaar te maak en al te heerlik. Boonop is dit ʼn stylvolle maal wat bitter min moeite verg.

Genoeg vir 4

Bestanddele:

  • 4 eendborsies
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 lemoene, ongeskil, bo- en onderkante verwyder en in 6 cm dik skywe gesny.

Metode:

  1. Gebruik ʼn skerp mes om ʼn ruitpatroon oor die velkant van die eendborsie te sny sonder om tot in die vleis te sny. Geur deeglik met sout en peper.
  2. Braai die borsies vir 4-5 minute aan een kant as jy van liggaar vleis hou, of 6-8 minute aan ʼn kant vir effe gaarder vleis. Begin met die velkant na onder. Plaas die lemoenskywe gedurende die laaste paar minute op die rooster en braai aan albei kante. Druk dit effe plat om die rooster se patroon daarop af te ets. Plaas die lemoenskywe voor saam met die eend. Opgekookte jong aartappels met pietersielie en ʼn Franse slaai rond dié gereg goed af.

Bron: Japtrap Braai
Uitgewer: Random House Struik

[Resep] Laekoolhidraat-kaaskoek met bessies

$
0
0

Laekoolhidraat-kaaskoek met bessies. Foto: Jou beste lewe

Die lewe is nie lekker sonder nagereg nie, maar pas jou porsiegrootte aan en hou dit so gesond moontlik. Hierdie resep help!

Lewer 12 snye

Bestanddele:

  • 2 houers (230 g elk) roomkaas
  • 1 k Griekse jogurt
  • 5 vryloop-eiers
  • ½ vanieljepeul se saad
  • 4 e heuning
  • 250 g gemengde bessies

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 170 °C.
  2. Verwerk al die bestanddele behalwe die bessies goed saam tot dit glad is en giet bo-op ʼn gebakte kors.
  3. Bak vir 20 minute of tot die koek net gestol is.
  4. Los om af te koel en sit voor saam met die bessies.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

[Resep] Kosblik 101

$
0
0

Foto: Verskaf

Paasnaweek is om die draai en is dikwels ʼn tyd van samesyn en moontlik ʼn tafel vol familie en vriende. Hierdie samesyn is vir my een van die lekkerste aspekte van ʼn ete. Ek hoop vandag se resepte sal dit vir jou moontlik maak om die komende langnaweek soveel as moontlik saam te kan kuier, lekker te eet en steeds gesonde, geurige kos te kan voorsit.

Die slaairesep is beslis een van my groot gunstelinge, veral omdat ek dikwels probeer om tipiese “wit stysels” ’n bietjie te vermy en ander opsies ook op die tafel te sit. Hierdie een is altyd ʼn wenner en baie lekker saam met braaivleis of geroosterde vis of hoender. Die tekstuur van die slaai en die Meksikaanse geure van komyn, koljanderblare en kruisement is ʼn lekker verrassing as jy die eerste happie in jou mond sit.

Suid-Afrikaners is dol oor bak, so maak gerus hierdie heerlike wortelkoek vir die langnaweek. Die vrugte en speserye gee ʼn natuurlike soet smaak en dus is minder suiker nodig. Dit het ook ʼn baie lekker tekstuur.

Slaai met rooi nierbone en mielies met ʼn Meksikaanse geur

  • Lewer 4 tot 6 porsies

Bestanddele:

Slaaisous

  • 60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
  • 15 ml (1 e) rooi wynasyn
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 5 ml (1 t) gemaalde komyn
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde koljander
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Slaai

  • 1 x 410 g-blik of 250 ml (1 k) heelpit mielies, gedreineer
  • 1 x 410 g-blik rooi nierbone, gedreineer
  • 1 avokado, in blokkies gesny (opsioneel)
  • 150 g kersietamaties, in kwarte gesny
  • 2 sprietuie, gekap
  • 1 skyf feta, in blokkies gesny
  • ’n groot handvol elk vars koljander- en kruisementblare
  • ’n handvol pampoensade

Metode:

  1. Slaaisous: Klits al die slaaisousbestanddele saam en geur na smaak.
  2. Slaai: Meng al die slaaibestanddele liggies deur in ‘n groot slaaibak. Skep die helfte van die slaaisous oor, meng weer liggies deur en sit met die res van die slaaisous voor.

Wortelkoek

  • Resep van Pharma Dynamics
  • Lewer 12 tot 15 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml (1 k) volkoringmeel
  • 500 ml (2 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 2,5 ml (½ t) koeksoda
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • 5 ml (1 t) gemaalde wonderpeper
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde gemmer
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 125 ml (½ k) sagte bruinsuiker
  • 150 ml sonneblom-olie
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel
  • 250 ml (1 k) lemoensap
  • 500 ml (2 k) fyngerasperde wortels
  • 125 ml (½ k) gerasperde pynappel
  • 125 ml (½ k) rosyne of gedroogde rooibosbessies
  • 125 ml (½ k) gekapte pekanneute of amandels

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n groot vorm-koekpan (soos ʼn Bundt- of silikoonpan) liggies met botter en sif ’n baie dun lagie meel oral oor die binnekant van die pan.
  2. Plaas die volkoringmeel in ʼn mengbak en sif die res van die droë bestanddele bo-oor.
  3. Klits die eiers en suiker vir ʼn paar minute in ʼn aparte groot mengbak tot lig en donsig. Voeg die olie, vanielje en lemoensap by en klits deeglik.
  4. Vou die droë bestanddele deeglik met ʼn groot lepel by die vloeistof in, sonder om te veel te roer. Roer die wortels, pynappel, bosbessies en neute versigtig by.
  5. Skep die beslag in die voorbereide pan en bak vir 45 tot 50 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
  6. Laat effens afkoel en keer op ’n afkoelrakkie uit. Laat die koek heeltemal afkoel en sif versiersuiker bo-oor, indien verkies. Sny in skyfies en sit as nagereg of ʼn soethappie voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

[Resep] Minder-vet-mayonnaise

$
0
0

Minder-vet-mayonnaise. Foto: Lekker en Vinnig

Hier is sommer drie souse te kies en keur !

Lewer ± 750 ml mayonnaise

Bestanddele:

  • 50 ml margarien
  • 60 ml koekmeel
  • 250 ml water
  • 2 eiergele (gebruik baie vars eiers)
  • 5-10 ml mosterdpoeier
  • 10 ml sout
  • 20 ml suiker
  • 250 ml sonneblom- of olyfolie of ½ van elk
  • 100 ml wit-, balsamiese, witwyn- of druiweasyn
  • ruim knippie witpeper
  • ruim knippie rooipeper of paar druppels Tabascosous

Metode:

  1. Verhit die margarien en meel saam in ʼn klein kastrol en voeg die water by. Verhit tot kookpunt oor matige hitte en klits met ʼn draadklitser tot glad en verdik. Laat prut 4-5 minute om te verseker dat die meel heeltemal gaar is.
  2. Plaas al die ander bestanddele in ʼn voedselverwerker of mengbak maar moenie meng nie. Voeg die warm sous by en meng tot ʼn gladde, dik mayonnaisesous vorm.
  3. Geur met ekstra suiker, asyn of suurlemoensap, sout, peper en rooipeper of Tabascosous na smaak.
  4. Giet die sous in ʼn glasfles of maak enige van die variasies. Die sous sal verdik terwyl dit afkoel. Verseël en verkoel tot 3 weke.

Variasies:

Bloukaassous

  • 125 ml Mayonnaisesous
  • 125 ml laevet- of vetvrye natuurlike jogurt
  • 60 ml bloukaas, gekrummel
  • 15 ml tamatiesous (opsioneel)

Meng al die bestanddele in ʼn voedselverwerker tot glad en verkoel.

Knoffelsous

  • 125 ml Mayonnaisesous
  • 125 ml laevet- of vetvrye natuurlike jogurt
  • 5-10 ml gekapte of gekneusde knoffel (2-3 huisies)

Meng alles goed, verkieslik in ʼn voedselverwerker, en verkoel.

Tartaarse sous

  • 250 ml Mayonnaisesous
  • 100 ml pietersielietakkies
  • 50 ml heel kappertjiesade
  • 2 snye van ʼn medium ui
  • 2 heel grasuie
  • 30 ml gekapte piekelkomkommer
  • knippie elk knoffel-en kruiegeursel en varsgemaalde swartpeper
  • knippie gemengde droë kruie

Meng al die bestanddele in ʼn voedselverwerker tot grofgekap.

Bron: Lekker en Vinnig: Souse
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Kies gesond, Carolie de Koster.

[Video] Suzelle wys hoe om hasie-koek te maak

$
0
0

Pak die kolwyntjies in die vorm van ʼn hasie se gesig. Foto: Skermskoot uit die video.

Suzelle DIY het so pas ʼn video vrygestel wat jou wys hoe om ʼn maklike dog kreatiewe hasie-koek te versier. Hierdie metode is so maklik, selfs ʼn beginner sal dié koek kan maak.

Of jy dit vir die Paasnaweek wil voorberei, of sommer vir die kleinspan se verjaardag, hierdie metode is ʼn móét.

Bestanddele:

Al wat jy benodig, is die volgende:

  • 15 kolwyntjies, of soos jy goeddink (ʼn geur van jou keuse)
  • Genoeg versiersuiker om die kolwyntjies te kan versier (ʼn geur van jou keuse)
  • Verskeidenheid lekkers

Metode:

  1. Maak ʼn gaatjie in elke kolwyntjie met die voorkant van ʼn versierbuis, maar hou die stukkie wat jy uit die kolwyntjie haal.
  2. Sit ʼn paar lekkers in die gaatjie en maak weer die gaatjie toe.
  3. Pak die kolwyntjies in die vorm van ʼn hasie se gesig.
  4. Smeer die versiersuiker oor die kolwyntjies sodat elke kolwyntjie deeglik toegesmeer is en een struktuur gevorm word.
  5. Gebruik oorblywende lekkers om die hasie se gesig te vorm.
  6. Daar is nie ʼn verkeerde manier om jou hasie te maak nie, wees kreatief en geniet die bak!

Lees alle vorige berigte oor Suzelle DIY op Maroela, sluit by haar YouTube-kanaal aan of besoek haar Facebook-blad.

[This post contains video, click to play]

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live