Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Voupakkies met roereier, spinasie en sampioene

$
0
0

(Foto: verskaf)

Roereier is beslis nie net vir ontbyt nie. Dis ʼn maklike manier om ʼn kosblik-ete vullend en voedsaam te maak én dis vinnig om voor te berei. Boonop pas dit by ‘n wye verskeidenheid bestanddele. Maak dit deel van ‘n vulsel en sit dit in ‘n voupakkie (wrap) vir ‘n ligte ete.

Jy kan amper enige ander bestanddele deel maak van die vulsel. Soetrissie, ui, pikantrissies of ander groen groentes soos broccoli kan ook lekker wees saam met die eiers. Vir hierdie resep het ek sampioene en spinasie in ‘n pan gesoteer en net met vars kruie gegeur. Eintlik so eenvoudig, maar heerlik. Avokado is nou in seisoen en ‘n baie goeie bron van die noodsaaklike olies en sal heerlik wees as deel van die ete. ‘n Halwe avokado kan selfs in plaas van die voupakkie deel word van die ete, want dit pas perfek by eier en die groentemengsel.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2.

Lewer 4 – 6 porsies.

Bestanddele:

Roereier

  • 8 groot Nulaid-eiers of 5-6 ekstra-groot eiers
  • 1 e (15 m) water per eier
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie
  • 3 e (45 ml) gekapte vars kruie, bv. origanum, pietersielie, dille of tiemie

Voupakkies (wraps)

  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 125 g sampioene, in skyfies gesny
  • 2 groot handevol spinasie, in repies gesny
  • Volkoring-voupakkies (wraps) om mee voor te sit

Metode: 

  1. Roereier: Klits eiers met die water, sout en peper.
  2. Verhit olie oor matige hitte in ‘n braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en skink die eiermengsel in.
  3. Laat die eiers eers effens begin stol voor jy dit roer. Roer versigtig met ‘n eierspaan tot die eiers net alles gaar is. Moenie die eiers te veel roer nie en moenie die pan te warm maak nie, dan word die eiers oorgaar en droog. Verlaag die hitte, indien nodig.
  4. Strooi kruie oor en hou eenkant.
  5. Voupakkies: Verhit intussen die olie in ‘n aparte braaipan. Soteer die sampioene tot gaar en roer die spinasie by. Verwyder dit van die hitte sodra dit sag, maar steeds heldergroen is.
  6. Skep van die sampioenmengsel op ‘n voupakkie, met roereier bo-op en vou toe. Sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

 


[Resep] Hoender-en-klapper-kerriesop

$
0
0

Hoender-en-klapper-kerriesop. Foto: Die Uitsonderlike Snowflake Versameling

Dié smaaklike sop is maklik om voor te berei, maar gesofistikeerd genoeg om as elegante eerste gang vir ʼn deftige ete op te dien. Almal geniet ʼn laatoggend- of namiddaghappie.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 45 ml botter of margarien
  • 1 middelslag-ui, grofgekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 5 ml matige kerriepoeier
  • 60 ml (35 g) Snowflake-koekmeel
  • 2 (sowat 300 g) hoenderborsfilette, in klein stukkies gesny
  • sowat 375 ml hoenderaftreksel
  • 410 g-blik geroomde suikermielies
  • 250 ml klappermelk
  • 15 ml gekapte vars tiemie (of 5 ml droë)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Smelt botter in ʼn groot swaarboomkastrol. Voeg ui en knoffel by en soteer ʼn paar minute tot sag. Voeg kerriepoeier en meel by en braai sowat 1 minuut.
  2. Voeg hoender by en braai liggies tot gaar.
  3. Voeg aftreksel, suikermielies, klappermelk, tiemie en geurmiddels by. Prut sowat 10 minute tot gaar en deurwarm.
  4. Dien warm op.

Variasies:

  • Vervang hoender met vark- of beesvleis.
  • Vervang klappermelk met melk of vars room.

Bron: Die Uitsonderlike Snowflake Versameling
Uitgewer: Random House Struik

[Resep] Super-sjokoladekoek

$
0
0

Super-sjokoladekoek. Foto: Nie vir ma’s nie

Met dié resepteboek word ma’s tydelik uit die kombuis verban sodat pa’s en die kinders ʼn bietjie kan uithelp in die kombuis. Die resepte is maklik om voor te berei en ʼn heerlike manier om ma te bederf – kyk net hoe heerlik lyk dié sjokoladekoek.

Genoeg vir tien

Bestanddele:

Koek

  • 4 eiers, geskei
  • 375 ml suiker
  • 125 ml olie
  • 200 ml kookwater
  • 375 ml koekmeel
  • 125 ml kakao
  • 15 ml bakpoeier
  • 10 ml vlapoeier
  • 2 ml sout
  • 10 ml vanieljegeursel

Metode:

  1. Stel die oond op 180 °C en smeer 2 ronde koekpanne goed met botter.
  2. Klits die eiergele en suiker saam totdat dit donsig is.
  3. Meng die olie en water en klits dit geleidelik by die eiermengsel. Klits dit goed saam.
  4. Sif die droë bestanddele saam en roer dit by.
  5. Klits die eierwitte styf en vou dit in. Roer die vanieljegeursel by en meng dit goed.
  6. Skep die beslag in die voorbereide panne en bak dit 30 tot 35 minute lank. Keer dit uit op ʼn draadrak om af te koel.
  7. Smeer versiersel of karamelkondensmelk op die een koeklaag en sit die ander laag bo-op. Versier die bokant van die koek met versiersel en sjokoladevermicelli of kersies.

Versiersel

  • 125 g sagte botter
  • 500 ml versiersuiker
  • 30 ml kakao
  • 25 ml melk
  • 5 ml vanieljegeursel

Metode:

  1. Klop die botter totdat dit romerig is.
  2. Sif die versiersuiker en kakao saam en klits die helfte daarvan by die botter.
  3. Klits die res van die versiersuiker om die beurt met die melk by. Roer die vanieljegeursel by.

Bron: Nie vir Ma’s nie
Uitgewer: Lapa

[Resep] Mayonnaise-braaihoender

$
0
0

Mayonnaise-braaihoender (Foto: Nie vir Ma’s nie, Lapa-uitgewers)

Al is Moedersdag verby, beteken dit nie dat jy nie meer jou ma kan bederf nie. Hierdie maklike resep is vir enige pa en kinders vir daardie Saterdagmiddag as jy Ma so bietjie wil laat rus.

Bestanddele

Mayonnaise-braaihoender

  • 375 ml mayonnaise
  • 50 ml blatjang
  • 100 ml tamatiesous
  • 15 ml suurlemoensap
  • 5 ml gerasperde suurlemoenskil
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 8-10 hoenderboudjies of dytjies (of 4-5 van elk)

Metode

  1. Meng al die bestanddele behalwe die hoender. Gooi dit oor die hoenderporsies en marineer vir minstens 1 uur voordat dit gebraai word.
  2. Braai die hoenderporsies oor matige kole tot gaar en verf dit gereeld met die marinade.
  • Bron: Nie vir Ma’s nie
  • Uitgewer: Lapa

[Resep] Souttert-blokkies

$
0
0

(Foto: Gesonde Kosblikke, Lapa-uitgewers)

ʼn Heerlike happie om vir die gaste voor te sit wanneer jy moeg is vir soetgoed.

Lewer 16 blokkies

Bestanddele

  • 5 ml macadamia- of kanolaolie
  • ½ middelslag-ui, fyngesny
  • 125 ml gesnyde sampioene
  • 250 ml gesnyde soetrissie
  • 80 ml kersietamatiekwarte
  • 30 ml gesnyde vars pietersielie
  • 1,25 ml swart- of reënboogpeper
  • 180 ml hamblokkies
  • 4 groot eiers
  • 250 ml laevetmelk
  • 125 ml gerasperde patats (met pers skil)
  • 45 ml glutenvrye meel
  • 180 ml gerasperde kaas

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ʼn middelslag-oondbak liggies met olie.
  2. Vlakbraai die ui, sampioene en soetrissie in 5 ml olie tot sag. Voeg die tamatie, pietersielie, peper en ham daarby.
  3. Klits die eiers en melk in ʼn groot mengbak. Roer die patats, meel en groentemengsel daarby.
  4. Giet in die oondbak. Sprinkel die gerasperde kaas daaroor. Bedek met die aluminiumfoelie en bak 30 minute. Haal foelie af en bak nog 15-20 minute tot gaar.
  5. Sny in ongeveer 16 blokkies en sit warm voor saam met koolslaai met romerige sous.

Uit Gesonde Kosblikke, Lapa-uitgewers, Martie Hofmeyr en Janet Wiegand

[Resep] Appel-en-piesangmuffins  

$
0
0

Appel-en-piesangmuffins . Foto: Verskaf

Appel, piesang, kaneel en vanielje. Dit is omtrent ʼn lekker aroma wat jou kombuis gaan vul. Om ʼn resep vir ʼn soet bederf te kry met min of geen suiker in nie, kan soms nogal moeilik wees. Hierdie appelmuffin-resep is dan dalk net waarna jy soek. Ongelukkig bevat meeste resepte vir gebak dikwels heelwat suiker, wat nie ideaal is nie. As ʼn mens dus met ander bestanddele, wat mekaar se geure aanvul, dieselfde soet smaak kan kry, maak dit dinge net soveel makliker. Jou gesin sal nie eers weet dat daar nie suiker in is nie.

Vir hierdie appelmuffin-resep word appelpuree en piesang gebruik om steeds ʼn lekker sagte tekstuur te gee. Gebak bevat ook dikwels baie verfynde koolhidrate. Met ʼn paar slim planne is die veselinhoud en dus voedingswaarde van die muffin aansienlik hoër as een wat net met koekmeel en baie suiker gemaak word.

Die appelpuree is maklik om te maak en iets wat jy sommer in grootmaat kan voorberei terwyl appels in seisoen is. Vries dit in porsies soos wat jy dit vir ʼn volgende keer gaan nodig hê. Ek gebruik dit graag in ʼn maalvleis of ʼn bredie met ʼn tamatiebasis, waarby mens soms ietsie soets wil voeg om die tamaties se suurheid te neutraliseer. Lekker kook en bak!

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
  • Lewer 12 muffins
  • Bestanddele:

    Appelpuree (lewer 250 ml)

    • 4 JAZZ™ appels, met die skil in blokkies gesny
    • ¼ k (60 ml) water
    • 2 t (10 ml) suurlemoensap
    • 1 kaneelstokkie

    Muffins

    • ½ k (125 ml) volkoringmeel
    • ½ k (125 ml) koekmeel
    • ½ e (7,5 ml) bakpoeier
    • 1 t (5 ml) gemaalde kaneel
    • 1 k (250 ml) grofgerasperde JAZZ™ appels, met die skil
    • ½ k (125 ml) voorbereide appelpuree
    • 1 groot ryp piesang, met ’n vurk fyngedruk
    • 2 groot Nulaid eiers, geklits
    • 6 e (90 ml) sonneblomolie
    • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

    Metode:

    1. Appelpuree: Plaas appels, water, suurlemoensap en kaneelstokkie in ’n kastrol. Bring oor matige hitte tot kookpunt en prut tot sag. Dreineer die vloeistof, maar hou dit eenkant. Verwyder die kaneelstokkie en verpulp die appels met ʼn stokmenger tot glad. Voeg ʼn bietjie van die behoue vloeistof by, indien dit nodig is om dit nog gladder te maak.
    2. Muffins: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n muffinpan liggies met olie.
    3. Meng al die droëbestanddele saam en roer die gerasperde appel deur. Meng die res van die bestanddele saam.
    4. Roer dié mengsel by die droë-mengsel tot ’n gladde beslag vorm. Moenie te veel roer nie.
    5. Skep beslag in die muffinpan en bak 25-30 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
    6. Laat afkoel op ʼn afkoelrakkie. Sit 1-2 muffins per persoon voor.

    Wenke:

    1. Enige orige appelpuree kan gevries word. Gebruik vir nog ʼn baksel muffins of om ’n soutgereg soeter te maak, sonder om suiker te gebruik. Dis heerlik in ʼn sop, bredie of maalvleisgereg.
    2. Roer ⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies by die muffins.

    Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

    Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

    [Resep] Tamatiesop met hoenderfrikkadelle en spaghetti

    $
    0
    0

    Tamatiesop (Foto: 50 Sop-en broodgeregte, Lapa-uitgewers.)

    Van Ouma tot Kleinboet sal smul aan dié tamatiesop.

    Lewer 4 porsies

    Bestanddele

    • 15 ml kanola-olie
    • 15 ml botter
    • 1 ui, in dun skyfies gesny
    • 2 knoffelhuisies, fyngekap
    • 15 ml tamatiepasta
    • 2 x 410 g-blikkies gekapte tamaties
    • 1,25 l hoenderaftreksel
    • 500 g hoenderworsies
    • 100 g spaghetti, in 5 cm-Iengtes gebreek

    Metode

    1. Verhit die olie en botter in ʼn swaarboomkastrol en soteer die ui vir 5 minute tot sag en deurskynend.
    2. Meng die knoffel en tamatiepasta deur die ui en laat dit vir 1 minuut liggies kook.
    3. Voeg die gekapte tamaties en die helfte (± 625 ml) van die aftreksel by en verhit tot kookpunt. Verminder die hitte en laat die sop vir 20 minute liggies prut.
    4. Verhit die res van die aftreksel in ʼn aparte kastrol.
    5. Druk die hoenderworsvleis uit die worsderms en rol ongeveer 30 klein frikkadelle van die vleis. Skep die frikkadelle in die aftreksel en laat vir 10 minute prut tot deurgaar. Skep die frikkadelle met ʼn gaatjieslepel uit en hou eenkant.
    6. Verhit die aftreksel tot kookpunt, voeg die spaghetti by en kook tot al dente. Dreineer en gooi die aftreksel weg.
    7. Verpulp die sop in ʼn voedselverwerker tot glad en giet dit terug in die kastrol.
    8. Voeg die gaar spaghetti en frikkadelle by die sop en prut dit vir 5 minute tot deurwarm. Dien dadelik op.

    50 Sop-en broodgeregte, Lapa-uitgewers.

    Boek: Deeg

    $
    0
    0

    Theresa de Vries

    Die enigste boek oor deeg wat jy ooit nodig sal kry!

    Alle soorte deeg om terte of pasteie te maak word bespreek – broskors, blaarkors, skilferkors, warmwaterkors, fillo en strudeldeeg, ook die gewilde Marokkaanse ouarkadeeg. ’n Besonderse boek wat al die kunsies van deeg fynkam: bestanddele, toerusting, basiese beginsels en puik resepte. Dit dek ook algemene foute wat by deeg kan voorkom en die oorsake daarvan. En om die terte of pasteie te laat pronk gee Theresa wonderlike aanwysings oor hoe om dit alles te versier.

    Word ’n bobaas bakker met hierdie boek wat selfs intimiderende deegresepte maklik maak.

    Oor die outeur:
    Theresa was een van die gewildste deelnemers aan Kokkedoor 1. Sedertdien bied sy landswyd kursusse aan oor deeg – al die kunsies en wenke. As boervrou van Brandwag staan haar hande vir niks verkeerd nie. Sy is ook bekend vir haar nougat wat te koop is by al die Kersmarkte in die Wes-Kaap omgewing.

    Uitgewer: Human & Rousseau
    Prys: R285-00*
    *Prys onderhewig aan verandering


    [Resep] Gebakte botterskorsie

    $
    0
    0

    Gebakte botterskorsie (Foto: Trooskos, Clover, Lapa-uitgewers.)

    Gebakte botterskorsie is nie net maklik om voor te berei nie, maar ook heerlik op ʼn wintersaand wanneer jy net nie weet wát om vir jou gesin voor te sit nie.

    Lewer 4 tot 8 porsies

    Bestanddele

    • 2 klein botterskorsies
    • 45 g koue Clover Mooi River-botter, in blokkies gesny
    • 4 kardemompeule, geskeur
    • 2 steranyssade
    • 1 kaneelstokkie
    • 80 ml Clover Krush (enige geur)
    • 60 ml esdoringstroop (of esdoring-gegeurde stroop)
    • 5 ml gemaalde kaneel

    Metode

    Voorverhit die oond tot 200 °C. Sny die botterskorsies in die helfte deur en skep die sade uit. Plaas die botterskorsiehelftes in ʼn oondvaste bak en stip met die botter. Strooi die kardemom en steranys oor en sit die kaneelstokkie by. Meng die sap, stroop en gemaalde kaneel saam en giet oor die botterskorsies.

    Bedek die bak met aluminiumfoelie en bak 35 tot 45 minute of tot sag.

    Bron: Trooskos, Clover, Lapa-uitgewers.

    [Resep] Beesstertsop

    $
    0
    0

    (Foto: 50 Sop-en-broodgeregte, Lapa-uitgewers.)

    As jy nog nie weet wat jy en jou gesin dié naweek gaan eet nie, is beesstertsop die perfekte keuse.

    4-6 porsies

    Bestanddele:

    • 1 beesstert, in litte geskei en oortollige vet verwyder
    • 5 spekrepies, grofgekap
    • 2 uie, gekap
    • 1 selderystengel, gekap
    • 1 wortel, in skywe gesny
    • 1,5 ℓ warm beesvleisaftreksel
    • 1 bouquet garni
    • 7 ml sout
    • varsgemaalde swart peper na smaak
    • 30 ml koekmeel
    • 30 ml portwyn
    • 10 ml suurlemoensap
    • fyngekapte pietersielie vir garnering

    Metode:

    1. Braai die beesstert en spekvleis saam in ʼn verhitte swaarboomkastrol.
    2. Voeg die uie, seldery en wortel by en soteer dit effens.
    3. Voeg die aftreksel, bouquet garni, sout en varsgemaalde swartpeper by. Plaas die deksel op en laat dit 3-4 uur lank prut.
    4. Skep die vet van die sop af indien die sop baie vetterig is. Verwyder die bouquet garni. Skep die vleis uit met ʼn gaatjieslepel en sny dit in stukkies. Skep die fynvleis weer terug by die sop.
    5. Meng die meel met genoeg water om ‘n pasta te vorm. Voeg ʼn bietjie van die warm vloeistof by en roer dan die mengsel by die sop in. Verhit die sop tot kookpunt en roer dit af en toe tot dit verdik. Voeg die portwyn en suurlemoensap by.
    6. Garneer met die pietersielie en bedien die sop warm. WENK: Die aftreksel kan ná stap 3 oornag afgekoel word sodat die vetlaag bo-op afgeskep kan word.

    [Resep] Geroosterde groente-en-koeskoesslaai

    $
    0
    0

    (Foto: Gesonde Kosblikke, Lapa-uitgewers, Martie Hofmeyr en Janet Wiegand)

    Sodra jy jou eerste happie van dié kleurvolle slaai geëet het, sal al jou vooropgestelde idees van slaai soos mis voor die son verdwyn.

    Aantal porsies: 6

    Bestanddele

    • ½ klein botterskorsie, in dik vingers gesny
    • 4 jong murgpampoentjies, in die lengte gesny en dan weer gehalveer
    • 2 klein rooi-uie, in wiggies gesny
    • 250 ml blomkoolstukkies, in die helfte gesny
    • 15 ml makadamia-, olyf- of kanola-olie
    • 30 ml suurlemoensap
    • 2,5 ml sout
    • 1,25 ml swartpeper
    • 5 ml gemengde kruie (droog of vars)
    • 250 ml rou lae-GI-koeskoes*
    • 250 ml kookwater
    • 15 ml groente-aftrekselpoeier
    • 30 ml gekapte vars pepermentblare
    • 30 ml gekapte vars koljander
    • 125 ml fetakaasblokkies
    • 60 ml fyngesnyde songedroogde tamaties

    Metode

    1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Rangskik die groente in ʼn oondbak.
    2. Meng die olie, suurlemoensap, sout, peper en gemengde kruie en drup oor die groente.
    3. Bak ongeveer 30 minute tot gaar maar steeds ferm. Roer af en toe. Maak intussen die koeskoes. Plaas die koeskoes in ʼn oondvaste bak of kastrol.
    4. Los die groente-aftrekselpoeier in die kookwater op en giet oor. Bedek en laat staan ongeveer 10 minute. Gebruik ʼn vurk om die korrels los te maak.
    5. Meng die pepermentblare en koljander met die gaar groente. Skep die groente op die koeskoes. Sprinkel die fetakaas en songedroogde tamaties bo-oor.

    [WEN] Klink ʼn glasie wyn by dié naweek se wynfees

    $
    0
    0

    (Foto: Pixabay)

    Wen ʼn dubbelkaartjie vir die Winter Wine Festival wat 3 Junie by Emperors Palace plaasvind.

    By hierdie fees is daar iets vir almal: meer as 400 Suid-Afrikaanse wyne, bier en jenewer om nie te praat van die lekker kos nie. Geen persone onder 18 jaar word toegelaat nie, maar daar is oppassers beskikbaar vir kinders van 3-12 jaar.

    Die wins gaan vir Kids Haven, ʼn organisasie wat straatkinders ophef, asook die dierebeskermingsentrum, Dogtown SA.

    Kaartjies is beskikbaar teen R180 en R90 vir die persoon wat die aangewese bestuurder is. Vir meer inligting kyk by www.emperorspalace.com of www.computicket.com.

    WEN: Een leser kan ʼn dubbelkaartjie wen na die fees. Om in te skryf, stuur jou naam, kontaknommer en antwoord op die volgende vraag na kompetisies@maroelamedia.co.za. Waar word die wynfees gehou? Die kompetisie sluit 1 Junie 2017. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

    [Resep] Petit fours

    $
    0
    0

    Petit fours. Foto: Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye

    Hierdie pragtige happie sal jou vriende beïndruk tydens teetyd en dit is nie eens moeilik om te maak nie.

    Lewer ± 25 petit fours

    Bestanddele:

    Sponskoek

    • 4 ekstragroot eiers
    • 125 ml strooisuiker
    • 250 ml koekmeel, gesif
    • knippie sout
    • 90 ml botter, gesmelt

    Versiersel

    • 125 ml appelkooskonfyt
    • klein stukkie amandelversiersel (marsepein)
    • 500 ml versiersuiker
    • 10 ml warm water
    • voedselkleursel in gekose kleure

    Metode:

    1. Voorverhit oond tot 180 °C en voer ‘n vierkantige 20 cm x 20 cm-koekpan met bakpapier.
    2. Sponskoek: Klits die eiers en strooisuiker in geskikte glasmengbak tot gemeng.
    3. Plaas die mengbak oor ‘n kastrol met kookwater en klits met ‘n elektriese klitser tot liggeel, ongeveer 5 minute.
    4. Haal die mengbak van die kookwater af en vou die meel, sout en botter beurtelings by die eiermengsel in.
    5. Skep die beslag in die koekpan en bak 25 minute of tot toetspen skoon
    6. Keer die koek uit, trek die bakpapier af en laat dit op ‘n rakkie afkoel.
    7. Versiersel: Sny die koek se kante gelyk. Sny die koek horisontaal in die helfte en smeer een helfte met appelkooskonfyt. Plaas die lae koek weer op mekaar. Sny dit in 3,5 cm-stroke en dan in 3,5 cm-blokkies. Smeer nog appelkooskonfyt bo-op elke koekblokkie.
    8. Rol die marsepein tot ongeveer 3 mm dik uit. Sny dit ook in 3,5 cm-blokkies en plaas bo-op die koekblokkies.
    9. Meng die versiersuiker en water en kleur met ‘n bietjie voedselkleursel.
    10. Plaas die Petit fours op ‘n draadrakkie en skep die versiersel bo-oor.

    Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
    Uitgewer: Lapa
    Resep oorspronklik gepubliseer in 50 Beste gebak uit Vrouekeur deur Marlo Carstens.

    [Resep] Bobotie-frikkadelle

    $
    0
    0

    Foto: Verskaf

    Bobotie-frikkadelle is so maklik om te maak, veral as jy lus is vir bobotie, maar nie tyd het om ‘n hele gereg voor te berei nie. Gebruik net dieselfde geurmiddels in ‘n frikkadelmengsel en siedaar! Dis ‘n heerlike aandete, maar maak beslis genoeg om in jou gesin se kosblikke te pak en onthou, dit vries uitstekend.

    Dan is daar ook ’n resep vir ’n geroosterde neute- en sademengsel wat baie veelsydig is. Dit kan ’n peuselhappie wees of met ongegeurde jogurt en vars appel geniet word. Dis ’n lekker ontbyt vir mense wat nie vroegoggend al wil of kan eet nie. Of sit dit sommer as ‘n geurige nagereg voor, want die kombinasie van soeter speserye, vars appel en die jogurt is altyd heerlik. Dit kan ook in groter hoeveelhede gemaak en in ‘n lugdigte houer gebêre word.

    Bobotie is beslis een van daardie eg Suid-Afrikaanse geregte en iets wat baie mense uit hul kinderdae onthou. Hier is dieselfde geure nou op ‘n nuwe manier voorgesit.

    Geroosterde neute- en sademengsel

    • Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
    • Lewer 6 porsies

     Bestanddele:

    • 200 g rou, ongesoute neute en sade, bv. amandels, makadamia, pampoen- en sonneblomsaad
    • 1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie
    • 1 t (5 ml) gemaalde kaneel
    • ½ t (2,5 ml) gemaalde gemengde speserye
    • ’n knippie neutmuskaat

     Metode:

    1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
    2. Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en roer tot goed gemeng.
    3. Plaas neutemengsel op bakplaat en rooster vir 10 tot 15 minutes of tot liggies goudbruin. Meng neute een of twee keer gedurende dié tyd deur. Hou dop dat die neute nie brand nie.
    4. Laat heeltemal afkoel en sit ongeveer ⅓ k (80 ml) per persoon voor as ‘n peuselhappie. Of sit met ongegeurde jogurt en JAZZ-appels, in blokkies gesny, vir ontbyt, nagereg of as peuselhappie voor.

    Bobotie-frikkadelle

    • Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
    • Lewer 4 tot 6 porsies

    Bestanddele:

    • 500 g maer beesmaalvleis
    • 2 knoffelhuisies, gekneus
    • 1 klein ui, fyngekap of gerasper
    • 1 groot Nulaid-eier
    • 10 ml (2 t) kerriepoeier
    • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
    • 10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie
    • 5 ml (1 t) gemaalde komyn
    • 5 ml (1 t) suurlemoensap
    • 10 ml (2 t) appelkooskonfyt of heuning
    • 30 ml (2 e) gekapte koljanderblare
    • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
    • 20 ml olyfolie om in te braai

    Metode:

    1. Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar. Voeg orige bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur, gebruik sommer jou hande.
    2. Geur na smaak en rol in klein frikkadelletjies.
    3. Verhit intussen helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend). Verbruin die frikkadelle in sarsies, aan beide kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie.
    4. Verlaag hitte en sit die deksel op. Prut frikkadelle 5 tot 8 minute of tot net gaar. Herhaal met orige frikkadelle. Sit as deel van ’n aandete voor of pak in ’n kosblik.

    Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

    Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

    [Resep] Tjaart se pot

    $
    0
    0

    Tjaart se pot (Foto: Potjiekos: Lekker & vinnig, Lapa-uitgewers.)

    Daar is niks soos ʼn smaaklike potjie op ʼn wintersdag nie…

    Bestanddele:

    • 40 ml olyfolie
    • 1 kg skaapskenkels
    • 500 ml kookwater
    • helfte van ʼn groen, geel en rooi soetrissie, gekap
    • 15 pekeluie
    • 500 g klein worteltjies
    • 250 g sampioene
    • 500 g klein botterskorsies
    • 300-400 g murgpampoentjies
    • 300 g geel vlapampoentjies
    • 1 handvol miniatuur mielies, aspersies en groenbone
    • 15 ml sout
    • 20 ml droë gemengde kruie
    • 10 ml fyngedrukte knoffel
    • 15 ml mosterdpoeier
    • 10 ml witpeper
    • 30 g bruinuiesoppoeier
    • 30 g sampioenroomsoppoeier
    • ½ blokkie skaapaftreksel
    • 75 ml tamatiesous
    • 60 ml blatjang
    • 60 ml mayonnaise
    • 300 g heel spinasie
    • mielieblom soos nodig

    Metode:

    1. Verhit die olie en braai die vleis tot bruin. Voeg kookwater by om te verhoed dat dit vassit.
    2. Voeg soetrissies by. Voeg al die groente heel by behalwe die spinasie. Begin met die groente wat die langste neem om gaar te word en eindig by dié wat vinnig gaar word.
    3. Strooi al die geurmiddels en soppoeier bo-oor die groente. Meng die aftreksel, tamatiesous, blatjang en mayonnaise met ʼn bietjie water en giet dit oor die groente.
    4. Plaas die heel spinasieblare bo-op sodat die deksel van die pot die blare vasdruk op die groente.
    5. Wanneer die wortels gaar is, is die pot reg.
    6. Voeg die mielieblom, gemeng met koue water by en prut totdat die sous die verlangde dikte is.
    7. Sit met bruinrys voor.

    [Resep] Krakerige Sjokoladekoekies

    $
    0
    0

    Hierdie is ʼn resep wat nie woorde nodig het nie: die smaak spreek vanself. Verras môre jou kollegas of gesinslede met dié smullekker sjokoladekoekies.

    Bestanddele:

    • 310 ml koekmeelblom
    • 125 ml versiersuiker
    • 30 ml kakao
    • 140 ml botter
    • 125 ml haselneute, gemaal
    • 1 eiergeel

    Krakerige bolaag:

    • 150 g donker sjokolade (gesmelt)
    • 115 ml botter
    • 15 ml haselneute, gemaal
    • 375 ml pofkoring (Rice Krispies)

    Metode:

    Voorverhit die oond tot 180 °C. Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter in. Roer die haselneute en eiergeel by en meng tot ʼn ferm deeg. Knie die deeg liggies op ʼn meelbestrooide oppervlak tot glad. Bedek en verkoel vir 30 minute. Rol die deeg tussen twee lae plastiek uit tot 5 mm dik. Druk sirkels 5 cm in deursnee en plaas 3 cm uitmekaar op ʼn gesmeerde bakplaat. Bak vir 10 minute tot effens verkleur en laat afkoel.

    Krakerige bolaag:

    Meng die bestanddele vir die bolaag en drup teelepels vol bo-op elke koekie. Verkoel tot dit gestol het.

    [Resep] Kook saam Kaaps

    $
    0
    0

    Hoenderpastei (Foto: Koop saam Kaaps, Lapa-uitgewers)

    Is jy lus vir iets anders as sop? Probeer gerus hierdie hoenderpastei dié naweek.

    Bestanddele:

    • 10 ml kanola-olie
    • 1 ui, fyngekap
    • 5 ml fyngekapte knoffel
    • 1 kg hoendervleisrepies
    • sout na smaak
    • 10 peperkorrels, fyngedruk
    • hoenderaftrekselblokkies
    • 250 ml vermicelli
    • 2 x 400 g skilferkorsdeeg
    • 5 eiers, gekook, afgedop en in skyfies gesny
    • 1 x 50 g pakkie wit uiesoppoeier

    Metode:

    1. Verhit die olie in ʼn kastrol en smoor die ui, knoffel en hoenderrepies tot die ui sag en deurskynend is.
    2. Voeg die sout en peper by.
    3. Meng die soppoeier goed met ʼn bietjie warm water tot daar geen klonte is nie. Voeg die sopmengsel by die hoenderrepies.
    4. Los die aftreksel in ʼn klein bietjie water op en voeg dan saam met die vermicelli by die hoenderrepies. Laat die mengsel vir 15 minute prut.
    5. Verwyder van hitte en laat effens afkoel.
    6. Voorverhit die oond tot 190 °C en spuit ʼn groot oondvaste bak met kossproei.
    7. Rol die eerste pakkie skilferkorsdeeg in die voorbereide oondbak uit.
    8. Druk ʼn paar gaatjies in die deeg en voer met bakpapier uit. Vul die bodem van die bak met droë boontjies en bak die kors blind vir 15 minute.
    9. Verwyder uit die oond, haal die boontjies en bakpapier uit en bak vir nog 5 minute.
    10. Haal die bak uit die oond en laat die kors effens afkoel.
    11. Skep die hoendermengsel in die kors en versprei eweredig.
    12. Rangskik die eierskyfies op die hoendermengsel en plaas ʼn laag skilferkorsdeeg oor die eierskyfles.
    13. Gebruik ʼn vurk om die rande van die deegdeksel op die deegkors vas te druk.
    14. Verf die pastei met geklitste eiergeel.
    15. Bak vir 20-30 minute tot goudbruin en gaar.

    [WEN] Fees vir boetiekbier-liefhebbers

    $
    0
    0

    (Foto: verskaf)

    As jy ʼn liefhebber van boetiekbier is, het jy iets om na uit te sien: Op 10 Junie word ʼn bierfees by Emperors Palace in Kempton Park aangebied en twee lesers staan die kans om elkeen ʼn dubbelkaartjie te wen.

    Die fees begin om 12: 00 en ʼn wye verskeidenheid van drankies en kos sal beskikbaar wees. “Met soveel wêreldklas biere reg op ons voorstoep is dit net gepas dat ons die brouers se unieke en smaaklike biere vier,” sê Paul Edmunds, die feesbemarker.

    Rugby-aanhangers kan ook die wedstryd tussen Suid-Afrika en Frankryk vanaf 17:00 op TV geniet.

    Die aantal kaartjies wat beskikbaar is, is beperk. ʼn Kaartjie kos R100 per persoon (en sluit een gratis bier in.) Kaartjies kan gekoop word by Emperors Palace op die webwerf www.emperorspalace.com of by www.computicket.com

    WEN: Twee lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie wen na die bierfees. Om in te skryf, stuur jou naam, kontaknommer en antwoord op die volgende vraag na kompetisies@maroelamedia.co.za.Waar word die bierfees gehou? Die kompetisie sluit Maandag 5 Junie 2017. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

     

    [Resep] Kontinentale vingers

    $
    0
    0

    Kontinentale vingers (Foto: 101 Kleinkoekies, Lapa-uitgewers.)

    Sit dié koekies voor saam met ʼn lekker koppie tee.

    Lewer 20 koekies

    Bestanddele:

    • 225 ml botter
    • 60 ml strooisuiker
    • 5 ml vanieljegeursel
    • 250 ml koekmeelblom
    • 125 ml mielieblom
    • 40 g donker sjokolade, gesmelt
    • 40 g wit sjokolade, gesmelt

    Metode:

    1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
    2. Klop die botter en suiker saam tot lig en romerig.
    3. Voeg vanieljegeursel by en meng goed.
    4. Sif die meel en mielieblom saam en voeg by. Meng tot ʼn sagte deeg.
    5. Skep dit uit in ʼn spuitsak met ʼn 1 cm-spuit en spuit 8 cm-lengtes op ʼn gesmeerde bakplaat.
    6. Bak vir 15 minute of tot verkleur. Laat afkoel.
    7. Spuit fyn strepies van die donker sjokolade in ʼn sigsagpatroon bo-oor en laat stol. Herhaal met die wit sjokolade.

    [Resep] Varkkebabs en boneslaai

    $
    0
    0

    Die sinergie van kosgeure bly vir my een van die lekkertes van eet. As twee eenvoudige bestanddele wat saam gebruik word ʼn nóg lekkerder geur tot gevolg het, het jy nie veel meer nodig nie. Dink maar net aan botterskorsie en kaneel, vis en suurlemoen of tamatie en vars basiliekruid.

    Vir hierdie kebabs word varkvleis en appel gekombineer – ʼn bekende kombinasie. Suurlemoen is ʼn geurmiddel wat uitstekend by albei bestanddele pas en wanneer appel in ʼn soutgereg gebruik word, is tiemie ideaal. Vark en tiemie is ook ʼn bekende kombinasie en as hierdie elemente dus alles saam gebruik word, is dit sommer nog lekkerder, sonder dat dit ʼn gekompliseerde resep verg. Die kebabs kan oor die kole of in ʼn pan gerooster word, maar braai dit net tot dit gaar en steeds sappig is. Die vleis moet glad nie droog wees nie.

    Die boneslaai wat in dié week se #kosblik gepak word, is blitsvinnig om te maak. ʼn Blikkie bone word gedreineer en dan met feta, songedroogde tamaties en sonneblompitte gegeur. Die gemarineerde tamaties is baie geurig en jy kan sommer die marinade as slaaisous gebruik.

    Varkkebabs met appel

    Resep aangepas uit Cooking from the Heart

    Lewer 4 – 6 porsies

    Bestanddele:

    • 2 e (30 ml) suurlemoensap
    • 2 e (30 ml) olyf- of avokado-olie
    • 2 e (30 ml) gekapte vars tiemie of origanum
    • ½ t (2,5 ml) sout
    • swartpeper na smaak
    • 500 g varkboud of -skouer, oortollige vet verwyder en in blokkies gesny
    • 1 rooi soetrisse, ontpit en in stukkies gesny
    • 1-2 Pink Lady®-appels met die skil aan, ontpit, in agstes gesny en elk gehalveer

    Metode:

    1. Meng die suurlemoensap, olie, kruie, sout en peper saam.
    2. Plaas die vleis in ʼn mengbak en bedek met die marinade.
    3. Marineer vir 30 minute tot 1 uur.
    4. Ryg vleis, soetrissie en appelblokkies op kebabstokkies. Braai oor matige kole en verf die kebabs met van die marinade terwyl dit vir 8-10 minute braai of tot net gaar – die vleis moet steeds sappig wees en die appel net gaar. Die kebabs kan ook oor matige hitte in ʼn pan gebraai word.

    Witboneslaai met feta en songedroogde tamaties

    Meng die volgende bestanddele saam vir ʼn vinnige slaai wat as stysel vir ʼn maaltyd of kosblik geniet kan word. Dreineer 1 x 410 g-blik witbone en meng met ’n skyf feta, in blokkies gesny; 6-8 gemarineerde songedroogde tamaties, in repies gesny; ’n groot handvol roketblare of ander kruie van jou keuse en sonneblomsade. Gebruik die tamatie-marinade as slaaisous, indien verkies of gebruik ʼn skeut olyfolie as slaaisous.

    Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

    Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte met bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

     

    Viewing all 2085 articles
    Browse latest View live