Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Ontbyt-wraps met spinasie en feta

$
0
0

Ontbyt-wraps met spinasie en feta (Foto: Lekker wraps, Lapa-uitgewers)

Hierdie wraps is maklik om voor te berei en is ideaal vir ontbyt.

Lewer 8 porsies

Bestanddele:

  • 250 g jong spinasieblare
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 15 ml olyfolie
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties, gedreineer
  • 10 eierwitte
  • 170 g fetakaas, gekrummel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 8 wraps

Metode:

  1. Soteer die spinasie en knoffel vir 5 minute in die olyfolie of tot die spinasie verwelk.
  2. Roer die tamaties by en kook vir nog 2 minute. Skep die spinasiemengsel in ʼn groot bord wat gevoer is met handdoekpapier. Hou eenkant.
  3. Giet die eierwit in die pan en roer tot gaar.
  4. Skep die roereier, spinasiemengsel en gekrummelde feta op elke wrap. Geur met sout en peper en draai dit toe.

[Video] Hap saam met Lochner: Ma Vytjie se frikkadelle

$
0
0

Ma Vytjie se frikkadelle.

Hierdie is die eerste in ’n reeks video’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, gaan publiseer. Hierdie resepvideo’s sal weekliks op Maroela Media gepubliseer word. Hierdie week berei Lochner Ma Vytjie se frikkadelle voor. -Red

Bestanddele:

500 g maalvleis
1 ui, fyngekap
2 wortels, gerasper
Sojasous
4 eiers
Graanvlokkies, fyngedruk
Olie
1 blikkie fyn tamaties
Water
Seldery

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C
Meng die maalvleis, ui, wortels en sojasous saam
Voeg die eiers en graanvlokkies by en roer saam
Gooi olie in pan
Druk dele van die mengsel in ’n balvorm met jou hande. Herhaal tot jou pan vol is.
Strooi die res van die mengsel tussen die frikkadelle
Gooi die fyn tamatie by
Sprinkel seldery oor
Bak vir ongeveer 30 minute teen 180°C

Sien gerus in die video hoeveel van elke bestanddeel Lochner byvoeg, en pas dit gerus aan volgens jou persoonlike behoeftes.

Kyk hier hoe Lochner hierdie resep voorberei:

[This post contains video, click to play]

Boek: Vuurwerke

$
0
0

Jan Braai

In dié herverpakte sagteband uitgawe van die topverkoper Vuurwerke deel die bekende en ikoniese Jan Braai sy kennis van vuurmaak en vleis met al sy aanhangers.

Jan het al met duisende Suid-Afrikaners reg oor die land gebraai en verstaan wat mense wil weet oor braai. Die boek bevat Jan se duidelike en deeglike instruksies vir die braai van steak, hoender, lamstjops, sosaties, boerewors en beesstert-potjie.

As jy dit eers bemeester het, kan jy die braairibbetjie, lamsboud of spitbraai takel. Om nie te vergeet van die ou gunstelinge soos braaibroodtjies, stywe pap, mielies en selfs ’n nagereg of twee nie.

Oor die outeur:
Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – se groot passie is vleis en vleisbraai. Jan het Nasionale Braaidag eiehandig ’n jaarlikse Kuier en kosfees gemaak deur Erfenisdag nie-amptelik te herdoop tot Braaidag. Die een aktiwiteit wat alle Suid-Afrikaners saambind is immers om kos oor oop vure te kook.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R280-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop by Graffiti Boeke

[Resep] Dadel-en-karringmelkbeskuit

$
0
0

 

Dadel-en-karringmelkbeskuit (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie winterkoue kan jy nie aanpak sonder ʼn stukkie beskuit en boeretroos nie.

Lewer ongeveer 1 kg beskuit

Bestanddele:

  • 125 g ontpitte dadels, gesnipper
  • 125 ml kookwater
  • 375 ml sagte bruinsuiker
  • 300 ml botter
  • 1 eier
  • 500 ml karringmelk
  • 4 x 250 ml semelryke bruismeel
  • 500 ml bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 5 ml sout

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer en smeer ‘n groot oondpan met botter.
  • Verhit die dadels en kookwater saam oor lae hitte tot kookpunt. Roer die suiker en botter by tot die suiker gesmelt het. Verwyder dit van die hitte.
  • Klits die eier en karringmelk saam en roer dit by die dadelmengsel.
  • Meng die droë bestanddele in ‘n groot mengbak. Maak ‘n holte in die meelmengsel en meng die dadelmengsel by tot ‘n deeg vorm.
  • Vorm ewe groot balletjies deeg en plaas dit teen mekaar in die pan. Die deeg kan ook eweredig in die pan vasgedruk word.
  • Bak dit 45 minute of tot goudbruin en gaar. Keer die beskuit versigtig uit en laat afkoel.
  • Breek die balletjies uitmekaar of sny dit in stukkies.
  • Voorverhit die oond tot 100 °C en plaas die beskuit op bakplate. Laat dit ten minste 6-8 ure of oornag uitdroog.
  • Laat die oonddeur op ‘n skrefie oop.

 

  • Bron: Lekker & Vinnig: Beskuit
  • Uitgewer: Lapa

 

 

 

[Resep] Malvalekkers

$
0
0

Malvalekkers (Foto: Laat die potte sing, Lapa-uitgewers)

Malvalekkers hoef nie net pienk te wees nie. Maak jou malvalekkers hierdie naweek met die kleur van jou keuse.

Bestanddele:

  • 1 ½ k (375 ml) strooisuiker
  • ½ k (125 ml) koue water
  • 4 t (20 ml) gelatien
  • ½ k (125 ml) warm water
  • 1 t (5 ml) kleursel van jou keuse
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel
  • Meelblom

Metode:

  1. Klits die strooisuiker en koue water vir 10 minute totdat die strooisuiker opgelos is.
  2. Smelt die gelatien in warm water en voeg die warm gelatienwater by die suikerwater.
  3. Voeg die kleursel en vanieljegeursel by. Klits die mengsel tot donsig en dik.
  4. Strooi meelblom in ‘n glasbak en giet die geklitste mengsel in die bak.
  5. Strooi meelblom gemeng met ‘n bietjie versiersuiker oor.
  6. Bedek die bak met kleefplastiek en plaas dit eenkant vir ten minste agt uur om te stol. Moet dit nie in die yskas laat stol nie.
  7. Sny die lekkers in vorms van jou keuse. As die gesnyde lekkers aan mekaar klou, kan jy nog meelblom daaroor strooi.

[Resep] Mary Annes

$
0
0

Mary Annes (Foto: Soettand, Lapa-uitgewers)

Saam met tee en goeie geselskap is hierdie koekies ’n wenresep.

Bestanddele:

  • 180 g botter
  • 312 ml (1¼ k) suiker
  • 60 ml (¼ k) sonneblomolie
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 2 eiers
  • 875 ml (500 g) koekmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • 15 ml (1 E) fyn anys
  • 15 ml (1 E) fyn kardemom
  • kleurstrooisel (hundreds and thousands) vir versiering

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n bakplaat.
  2. Room die botter en suiker saam tot lig en donsig. Voeg die olie, vanieljegeursel en eiers by en meng goed.
  3. Sif die meel en bakpoeier saam in ’n mengbak. Voeg die kardemom en anys by en meng deur.
  4. Meng die botter-en-oliemengsel met die droë bestanddele tot ’n deeg vorm: Plaas was- of bakpapier op die deeg en rol dit egalig op ’n meelbestrooide oppervlak uit.
  5. Sny die koekies met ’n koekiedrukker van jou keuse uit. Druk elke koekie in die kleurstrooisel en rangskik dit op die voorbereide bakplaat.
  6. Bak dit vir 15-20 minute of tot goudbruin en gaar. Laat die koekies effens op die bakplaat afkoel. Verwyder dit en plaas dit op ’n draadrakkie om heeltemal af te koel.

[Resep] Groentesop

$
0
0

Groentesop (Foto: Verskaf)

Hierdie tyd van die jaar is ons almal lus vir warm winterkos en sop is ʼn gewilde item op baie mense se spyskaart. Die maklike en vinnige sop kan met min moeite vir aandete gemaak word en ʼn paar basiese bestanddele is genoeg om ʼn vullende ete aan mekaar te slaan. Dis ook ʼn slim manier om groente, waarvoor party jonger gesinslede dalk andersins nie lus is nie, bietjie weg te steek, aangesien die sop verpulp word.

Patats en appel gee die sop ʼn interessante tekstuur en effense soet smaak, en dis lekker geurmaats met die verskillende groen groentes. Die bone daarin maak dit nog meer vullend en dien as bron van proteïen. Sit die sop met vars avokado voor as ʼn lekker alternatief vir brood, dan is daar sommer nog iets vullends en gesonds in die ete.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 6 porsies (1,5 liter)

Bestanddele

  • 1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 selderystingels, gekap
  • 2 murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 1 patat met die skil, grofgerasper
  • 2 Pink Lady®-appels met die skil, grofgerasper
  • 4 k (1 liter) water
  • 1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 t (5 ml) gedroogde tiemie
  • 100 g broccoli, in blommetjies gesny
  • 2 spinasieblare, in repe gesny of geskeur
  • 1 t (5 ml) aangemaakte mosterd
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 2 e (30 ml) gekapte vars pietersielie

Metode

  1. Verhit olie oor matige hitte in ʼn groot kastrol (gebruik ’n AMC 24 cm High). Braai ui tot sag en voeg seldery en murgpampoentjies by. Soteer vir nog ʼn paar minute en roer die patat, appel, water, bone, sout en tiemie by.
  2. Prut met ʼn deksel vir 15-20 minute of tot die patat en appel gaar is.
  3. Voeg broccoli, spinasie en mosterd by en geur met suurlemoensap en peper. Prut nog 10 minute of tot die broccoli net gaar is. Verpulp met ʼn stokmenger so fyn soos jou gesin dit verkies of druk effens fyner met ʼn aartappeldrukker.
  4. Geur na smaak met nog suurlemoensap en peper, indien nodig. Roer pietersielie by en sit warm voor.

Wenke

  1. Sit sop met ongegeurde jogurt, meer vars kruie of ʼn paar druppels olyfolie voor.
  2. Geur sop volgens jou keuse. Speserye soos paprika, komyn en garam masala of kerriepoeier sal ook lekker wees.
  3. Roer oorskiethoender of -vis by die sop vir ’n meer vullende ete. Enige ander gaar bone kan ook bygevoeg word.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

[Resep] Ham-en-kaastertjies

$
0
0

Ham-en-kaastertjies (Foto: Lapa-uitgewers)

Dié ham-en-kaastertjies is ʼn smaaklike opsie vir ʼn laat-ontbyt.

Lewer 12 tertjies

Bestanddele:

  • 1 eier
  • 5 ml water
  • 350 ml / 170 g koekmeelblom
  • 2,5 ml bakpoeier
  • 80 g sagte botter of margarien
  • 150 g ham, fyngesny
  • 100 g / 250 ml beleë cheddarkaas, gerasper
  • 4 groot eiers
  • 150 ml laevetmelk
  • 200 ml ongegeurde laevetjogurt
  • Sout – opsioneel
  • 1 ml witpeper
  • Gerasperde neutmuskaat
  • Paprika

Metode:

  1. Klits die eier en water saam.
  2. Plaas die koekmeel, bakpoeier en sagte botter of margarien in die mengbak van die elektriese menger. Klits dit teen ʼn lae spoed tot die mengsel soos klam broodkrummels lyk. Voeg ± 30 ml van die eiermengsel by die meelmengsel om ’n stywe, nie-klewerige deeg te vorm.
  3. Verdeel die deeg in 12 porsies en druk dit soos dun korsies in 12 holtes van ’n muffinpan Verkoel dit terwyl die vulsel berei word.
  4. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  5. Verdeel die ham en kaas tussen die tertkorse.
  6. Klits die eiers, melk, jogurt, sout, peper en neutmuskaat saam en giet dit oor die ham en kaas, tot ± 0,5 cm van die bokant af. Strooi paprika liggies oor.
  7. Bak dit 35 tot 40 minute lank tot goudkleurig en gaar.

Bekende sjef wil kos by jou deur aflewer

$
0
0

Botterskorsie-en-appelsop met biltong Foto: Verskaf.

Deur Janie du Plessis

In die koue wintermaande is dit altyd moeiliker om gesond te bly. Almal sal eerder opkrul voor ʼn kaggel met ’n beker warmsjokolade, of lekker sop en brood. Niemand is lus om gestoomde hoender en brokkoli te eet nie, en buitendien is dit baie makliker en vinniger om net ’n pizza te bestel!

Tog is dit belangrik om ’n gesonde leefstyl te handhaaf, veral in die winter. Die lyf waarmee jy die somer ingaan, hang mos af van dit wat jy in die winter eet! Gelukkig is hierdie stryd nie onoorwonne nie, want die bekende sjef Izelle Hoffman en Burger de Bruyn het kragte saamgespan met hul nuwe onderneming: #cantflexfat.

De Bruyn het met die idee vorendag gekom, omdat hy self gesukkel het om gesond te eet terwyl hy voldag werk. Hy het nie tyd gehad om gesonde kos voor te berei nie en het agtergekom daar is baie ander mense wat dieselfde probleem het.

Hoffman is ’n voorstander van gesonde kos wat lekker smaak, sonder al die bykomende suiker en preserveermiddels. “My geloof sê vir my my liggaam is my tempel en dat ek tot die beste van my vermoë daarvoor moet sorg. Ons lewe net eenkeer en het net hierdie een liggaam om in te bly”, sê Hoffman.

Hoffman en De Bruyn het koppe bymekaar gesit en #cantflexfat begin om mense te help om gesonder te leef en om dit boonop maklik te maak om dit te doen. Dié onderneming berei gesonde, voedsame kosse voor en lewer dit by jou deur af. Daar is dus geen verskoning om ongesond te eet nie.

Die kosse wat #cantflexfat bied is ook nie koue, smaaklose kosse nie. Hulle het spesiaal vir die winter ’n verskeidenheid van onder andere warm soppe, voorbereide middagetes soos herderspastei en ertjies, steak ghoelasj met boontjies en quiche. Suikervrye bruintjies en muffins is ook beskikbaar, om die soettand te bevredig. Net soos jy dit self sou maak, as jy net soveel tyd op jou hande gehad het!

Met baie winkels wat allerhande bestanddele in kosse insluit waarvan ons nie weet nie, is dít ’n maklike manier om hierdie winter (en die res van die jaar) gesond te bly. Gesonde en smaaklike ‘huiskos’ hoef toe nie so baie skottelgoed óf baie moeite te beteken nie!

Besoek #cantflexfat op Facebook of op hul webtuiste, www.cantflexfat.co.za. Of kontak hulle by 082 350 0100.

[Video] Steak met bloukaas en vye

$
0
0

Bederf jou pa hierdie Vadersdag met ʼn lekker stuk steak. Bekende koskenner Lochner de Kock en Mikael, wat voorheen aan Kokkedoortjie deelgeneem het, wys jou hoe maklik dit is om dié dag ekstra spesiaal te maak.

Skermkoot uit die video

Bestanddele:

Botter
Steak
Vye
Bloukaas

Metode:

Voorverhit oond na 180°C
Gooi bietjie olie in ʼn warm pan
Smelt botter in dieselfde pan
Braai steaks vir ongeveer 1 minuut aan elke kant
Haal pan van stoof af en pak stukke bloukaas en vye op die steaks
Bak steaks by 180°C vir ongeveer 20 minute
Haal uit en geniet!

Hierdie video is deel van ʼn reeks kosvideo’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, vervaardig. Die video’s word weekliks op Maroela Media gepubliseer. Sien al die Hap saam met Lochner-video’s op Maroela Media. -Red

 

[This post contains video, click to play]

[Resep] Romerige kaaskoek

$
0
0

Romerige kaaskoek (Foto: Diabetes-vriendelike poedings en gebak, Lapa-uitgewers)

Maak hierdie romerige kaaskoek vir Vadersdag.

Bestanddele:

Basis

  • 80 g “Ginger Nuts” -gemmerkoekies
  • 30 ml hawersemels
  • 30 ml gesmelte botter

Vulsel

  • 25 ml gelatien
  • 40 ml koue water
  • 125 ml room
  • 125 ml versiersuiker
  • 500 ml vetvrye ongegeurde geroomde maaskaas
  • 250 ml laevet- ongegeurde geroomde maaskaas
  • 35 ml SugaLite (opsioneel – vir ’n soeter koek)
  • 250 ml laevet-vanieljejogurt
  • saadjies van 2 vanieljepeule of 10 ml vanieljegeursel
  • 10 ml gerasperde suurlemoenskil

Bolaag

  • 5 ml gelatien
  • 10 ml koue water
  • 100 ml aarbeikonfyt (kunsmatig versoet)

Metode:

  1. Spuit ’n 20 cm-Iosboompan met kleefwerende baksproei. Kap die gemmerkoekies fyn in ’n voedselverwerker of plastieksak en rolstok. Voeg die hawersemels en gesmelte botter by die koekiekrummels. Druk teen die boom van die pan vas. Plaas in die yskas.
  2. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat eenkant tot benodig. Klits die room en voeg die versiersuiker bietjie vir bietjie by. Klits totdat stywe punte vorm. Voeg die maaskaas, SugaLite, jogurt, vanielje en suurlemoenskil daarby en meng deur.
  3. Verhit die geweekte gelatien 10 sekondes in die mikrogolfoond. Voeg stadig by die kaasmengsel, roer aanhoudend, gooi dan bo-op die koekies in die pan en verkoel.
  4. Berei die bolaag. Bevog die gelatien met water (soos hierbo verduidelik). Verhit 10 sekondes in die mikrogolfoond. Voeg by die konfyt en roer aanhoudend. Giet die konfytmengsel oor die half gesette kaaskoek en laat stol ten volle in die yskas.
  • Bron: Diabetesvriendelike poedings en gebak
  • Uitgewer: Lapa

[Resep] Rooikerrie-gemarineerde biefsosaties

$
0
0

Rooikerrie-gemarineerde biefsosaties (Foto: Gunsteling braairesepte, Lapa-uitgewers)

Op ʼn vakansiedag moet daar gebraai word! Hierdie sosatie-resep is ʼn treffer.

Genoeg vir 6 mense

Bestanddele:

Rooikerrie-marinade

  • 125 ml Clover Krush Bessiesap
  • 60 ml Clover room
  • 30 ml olyfolie
  • 15 ml Thai rooikerrie-pasta
  • 15 ml fyngerasperde vars gemmer
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk

Biefsosaties:

  • 800 g bees-kruisskyf-of volstruis-steak, in 3-4 cm blokkies gesny
  • 1 rooi ui, in blokkies gesny
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 250 g knopiesampioene, steeltjies verwyder
  • 4-6 metaal sosatiepenne

Om op te dien:

  • 1 lemmetjie, in kwarte gesny
  • 30 ml gekapte vars koljanderblare
  • 15 ml geskeurde basielkruidblare

Metode:

Rooikerrie marinade: Plaas al die marinade-bestanddele in ʼn nie-metaalhouer en meng goed. Gooi die steak-blokkies by en meng die marinade deur. Bedek en verkoel in die yskas vir ten minste 1 uur.

Biefsosaties: Verwyder die steak uit de sous en ryg aan die sosatiepenne – wissel af met stukkies uie, rooi soetrissie en knopiesampioene. Rooster op ʼn baie warm braai tot so gaar soos jy verkies. Plaas op ʼn opdienbord en druk lemmetjiesap uit oor die sosaties. Garneer met koljander en basilieblare.

Wenk: As jy bamboes-sosatiestokkies gebruik, week dit in warm water vir 20 minute voor gebruik om te keer dat dit brand.

[Resep] Mielie-en-kaaskoekies

$
0
0

Mielie-en-kaaskoekies (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie mielie-en-kaaskoekies is ʼn lekker winterontbyt, veral as jy die kleingoed wil verras.

Lewer 25-30 koekies

Bestanddele:

  • 420 g (1 blik) geroomde suikermielies
  • 140 g (250 ml) bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2 eiers
  • 100 ml melk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 125 ml fyngerasperde Cheddarkaas
  • 45 ml olyfolie om te braai

Metode:

  1. Plaas die suikermielies in ʼn groot glasbak en sif die droë bestanddele bo-oor.
  2. Roer die eiers en melk by en meng deeglik. Geur na smaak en roer die kaas by. Dit is ʼn redelik loperige beslag.
  3. Verhit ʼn braaipan oor matige hitte, voeg 10-15 ml van die olie by en laat dit warm word. Skep lepels vol beslag op die boom en braai tot borrels bo-op vorm. Draai om en braai tot goudbruin en gaar.
  4. Dreineer op kombuispapier en hou warm. Herhaal met die orige beslag en voeg nog olie by soos benodig. Moenie die koekies te groot maak of te veel olie gebruik nie.
  5. Sit voor as ʼn ete met ʼn slaai, as peuselhappie of bygereg saam met worsies, frikkadelle of hoender.

Variasies:

  • Vervang die bruismeel met semelryke bruismeel en voeg ʼn bietjie ekstra melk by, indien nodig.
  • Roer 100 ml fyngekapte ham, salami, gaar spek of gedreineerde tuna by die beslag.
  • Jy kan ook 30 ml gekapte vars of 5 ml droë gemengde kruie of tiemie by die beslag roer.

 

Bron: Blikkies & pakkies  

Uitgewer: Lapa

[Resep] Lensie-en-kruieslaai met tamatie

$
0
0

Lensie-en-kruieslaai met tamatie. (Foto: Verskaf)

Dis eksamentyd en soms vra dit baie motivering vir die kinders om by hul boeke te bly. As daar ʼn lekker peuselhappie beskikbaar is, kan dit dalk help. Maak hierdie maklike appelballetjies vir jou kinders om aan te smul. Dis ʼn aansienlik beter opsie as lekkergoed of sjokolade, want te veel suiker is beslis nie ideaal in die eksamentyd nie. Die eenvoudige kombinasie van neute, vars appel, speserye en sade is blitsvinnig om te maak.

Die lensieslaai is ʼn lekker alternatief vir ʼn stysel en perfek met ʼn braaivleis-ete oor die naweek of as bygereg met enige ander vleis, soos geroosterde hoender. Stysels soos rys, pasta of aartappels het dikwels ʼn baie hoë koolhidraatinhoud, sonder dat daar baie ander voedingswaarde in die gereg is nie. Vars bestanddele soos tamatie en komkommer met vars kruie is genoeg om dit interessant te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 k (250 ml) rou bruin lensies
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 takkie vars roosmaryn of lourierblaar
  • 1 e (15 ml) gedroogde gemengde kruie
  • 1 knoffelhuisie, heel
  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 3 ryp tamaties, in blokkies gesny
  • 3 e (45 ml) gekapte vars pietersielie
  • 3 e (45 ml) gekapte vars origanum of meer pietersielie
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • ½ komkommer, in blokkies gesny
  • ⅔ k (160 ml) bevrore ertjies, afgespoel

Metode:

  1. Plaas lensies, sout, roosmaryn, gedroogde kruie en knoffel in ʼn kastrol met 2½ k (625 ml) water. (ʼn AMC 20 cm Low is ideaal.)
  2. Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ʼn deksel vir 30 minute of tot die lensies net sag is. Dreineer deeglik.
  3. Verhit olie in ʼn braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en soteer tamaties tot net sag. Roer dit met die vars kruie by die lensies.
  4. Geur na smaak met suurlemoensap en peper. Laat afkoel en roer komkommer en ertjies by. Sit as ʼn slaai of bygereg met ʼn vleisgereg van jou keuse voor.

Pink Lady®-appelballetjies

Lewer ongeveer 18-20 balletjies.

Bestanddele:

  • 60 g (125 ml) gekapte rou makadamia-neute
  • 75 g (125 ml) gekapte rou amandels
  • 2 Pink Lady®-appels, met die skil aan grof gerasper
  • 3 e (45 ml) lynsaad
  • 2 k (500 ml) rou gerolde hawermout
  • 1 t (5 ml) gemaalde gemengde speserye
  • ⅓ k (80 ml) gedroogde rooi bosbessies of rosyntjies
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode

  1. Meng die twee soorte neute saam in ʼn voedselverwerker tot dit amper soos ʼn neutbotter lyk.
  2. Voeg die appel en die res van die bestanddele by die neutmengsel en meng tot dit amper soos koekiedeeg lyk.
  3. Rol eetlepelsvol van die mengsel in balletjies en pak in ʼn lugdigte houer. Bêre in die yskas vir 3-5 dae.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

[Resep] Rykmansdubbelsjokoladetert

$
0
0

Rykmansdubbelsjokoladetert (Foto: Lapa-uitgewers)

Net een happie van hierdie tert en jy gaan niks anders wil eet nie.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Kors

  • 60 ml botter, gesmelt
  • 200 g (1 pakkie) Romany Creams, fyngemaak

Vulsel

  • 200 g (2 stafies) Bar One-sjokolade, in stukkies gesny
  • 250 ml room
  • 250 g roomkaas
  • 60 g (2 stafies) Crunchie-sjokolade, grofgebreek
  • 100 g (½ pakkie) Romany Creams, grofgekap
  • kakao om oor te sif

Metode:

  1. Kors: Voeg die botter by die fyngemaakte koekies en meng goed. Druk dit op die bodem van ʼn 22 cm-Iosboomtertpan of 6-8 individuele losboomtertpannetjies vas.
  2. Vulsel: Roer die Bar One en room saam oor lae hitte tot die sjokolade gesmelt is. Laat dit afkoel.
  3. Klits die afgekoelde mengsel by die roomkaas en roer die Crunchies en koekies by. Skep die mengsel op die tertkors. Laat dit in die yskas stol.
  4. Haal dit versigtig uit die pan en sif kakao bo-oor.

Variasie:

Indien verkies kan 250 ml room saam met 30 ml versiersuiker en 2,5 ml vanieljegeursel styfgeklits word. Skep dit bo-op die tert of sit die tert daarmee voor.

  • Bron: Yskasterte 
  • Uitgewer: Lapa

[Resep] Hawermoutstafies

$
0
0

Hawermoutstafies (Foto: Kosblikkos, Lapa-uitgewers)

ʼn Smaaklike opsie waarmee jy die kleinspan se kosblikke kan vul.

Lewer 30 stafies

Bestanddele:

  • 500 ml hawermout
  • 250 ml koekmeel
  • 250 ml gedroogde klapper
  • 125 ml Jungle-hawersemels
  • 1 ml sout
  • 100 g botter of margarien
  • 25 ml heuning of gouestroop
  • 200 ml suiker
  • 5 ml koeksoda
  • 25 ml kookwater
  • 1 groot eier
  • 5 ml vanielje- of karamelgeursel

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C en spuit ’n rolkoekpan van ongeveer 320 mm x 230 mm met kleefwerende kossproei.
  2. Meng die hawermout, meel, klapper, hawersemels en sout.
  3. Verhit die botter of margarien, heuning of gouestroop en suiker in ’n kastrol oor lae hitte totdat die suiker gesmelt is. Verwyder die mengsel van die hitte. Los die koeksoda in die kookwater op en roer dit by. Laat die mengsel tot louwarm afkoel.
  4. Klits die eier en roer dit saam met die geursel en gesmelte mengsel by die droë bestanddele. Skep die mengsel in die voorbereide rolkoekpan. Versprei dit eweredig in die pan en druk dit liggies vas met die agterkant van ’n vurk.
  5. Bak dit vir 20 minute. Haal die pan uit die oond en sny dit dadelik in stafies. Skakel dieoond af en plaas die stafies terug in die oond. Laat dit 1 uur in die oond staan. Laat die stafies in die pan afkoel voordat dit in ’n houer met ’n lugdigte deksel verpak word.
  • Bron: Kosblikkos
  • Uitgewer: Lapa

[Resep] Kerrietjops

$
0
0

Kerrietjops (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Lekker naweek lê voor jou – veral met dié kerrietjops!

Bestanddele:

  • olie of skaapvet vir vlakbraai
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 500 g lams- of skaaplendetjops
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Kerriesous

  • 500 g uie, in ringe gesny
  • 1 E (15 ml) kerriepoeier
  • 1 t (5 ml) borrie
  • 4 t (20 ml) fyn appelkooskonfyt
  • 2 t (10 ml) bruinsuiker
  • ½ k (125 ml) bruinasyn
  • 1 ½ k (375 ml) hoenderaftreksel
  • 1 lourierblaar
  • 2 hardgekookte eiers, in skyfies gesny

Metode:

  1. Verhit die olie of skaapvet oor matige hitte in ’n swaarboompan en voeg die knoffel by.
  2. Geur die tjops met sout en peper en braai dit tot net bruin, maar nie heeltemal gaar nie. Skep die vleis uit in ʼn oondvaste bak en bedek. Hou eenkant tot benodig.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  4. Gebruik dieselfde pan en smoor die uie en knoffel liggies tot die uie deurskynend is. Skep die gesmoorde uie bo-oor die vleis.
  5. Meng die kerriepoeier en borrie in dieselfde pan en voeg dan die konfyt, bruinsuiker, asyn en hoenderaftreksel by. Laat dit ’n paar minute prut tot die sous effens afgekook het. Verdik die sous indien nodig.
  6. Plaas die lourierblaar op die tjops, skep die sous oor die vleis en bedek. Bak vir ongeveer 20 minute tot gaar.
  7. Garneer met skyfies hardgekookte eier en bedien met kapokaartappels en ertjies.

Wenk: Gebruik verkieslik vet om die tjops mee te braai. Sny die vet van die tjops se rugkant af, braai dit in die pan uit en braai dan die tjops hierin.

[Resep] Snoek oor die kole

$
0
0

Snoek oor die kole (Foto: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos, Lapa-uitgewers)

Snoek oor die kole en ʼn glas wyn in die hand – dit is geselligheid op sy beste!

6-8 porsies

Bestanddele:

  • 1 snoek
  • 100 g Clover Farmstyle-botter
  • 4 knoffelhuisies
  • 125 ml appelkooskonfyt
  • 30 ml vars suurlemoensap
  • 30 ml witwyn
  • sout en peper

Metode:

  1. Sny die snoek se stert en kop af. Sny die maaggedeelte oop en haal al die binnegoed uit. Was die snoek goed onder lopende water. Klad die snoek met kombuispapier droog tot die meeste water geabsorbeer is.
  2. Verhit die botter en knoffel saam en laat dit oor lae hitte prut. Roer die appelkooskonfyt by tot dit gesmelt is en haal die mengsel van die hitte af.
  3. Roer die suurlemoensap en witwyn by die bottermengsel tot goed gemeng.
  4. Geur die vis liggies met sout en peper.
  5. Plaas die oopgevlekte snoek op 2 lae dik foelie. Verf die snoek goed met die bottermengsel. Die vleiskant van die snoek moet na bó wys.
  6. Braai dit ongeveer 15 minute tot gaar, afhangend van hoe warm die kole is en hoe hoog die rooster bokant die kole is. Druk ʼn vurk in die dikste gedeelte van die snoek. As die snoek vlok, is dit gaar.
  7. Sit dit warm voor saam met vars witbrood en korrelkonfyt.

Wenk: Om tyd en moeite te spaar kan jy ʼn skoongemaakte snoek koop.

[Resep] Maalvleis met lensies

$
0
0

Maalvleis met lensies (Foto: verskaf)

ʼn Basiese maalvleismengsel is iets wat jy beslis in jou resep-arsenaal moet hê. Dis ʼn gereg wat maklik in groot hoeveelhede gemaak kan word. Dan is daar genoeg vir ʼn aandete en om te bevries sodat jy die helfte van die werk vir ʼn volgende ete sommer klaar het. Dink maar net aan herderspastei, lasagne, op ʼn gebakte patat, in ʼn pannekoek vir die winter en so kan die lys koesterkos-etes aangaan.

Vir hierdie resep word die maalvleis met soortgelyke bestanddele gegeur as vir ʼn tipies geurige Italiaanse maalvleismengsel. Daar is baie maniere om maalvleis gaar te maak en hier is nog ʼn lekker weergawe. Gerasperde wortels gee ʼn lekker soeterige smaak en help om die surigheid wat tamaties soms het te balanseer. Vars of droë kruie kan gebruik word en gemaalde koljander is altyd lekker met maalvleis. Om die mengsel ʼn interessante aanslag te gee, word rooi lensies saam met die maalvleis gekook, want dis ʼn goeie bron van vesel en ook proteïen. Lensies hoef nie eers te week, soos droë bone nie, en is vinnig om gaar te maak. As jy sukkel om lensies in jou gesin se etes in te sluit omdat jou kinders dalk nie daarvan hou nie, is dit die ideale resep. Die gaar lensies word baie goed deur die wortels en maalvleis gekamoefleer.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 4 t (20 ml) olyf- of avokado-olie
  • 500 g maer bees- of volstruismaalvleis
  • 2 uie, gekap
  • 250 g sampioene, gekap
  • 2 wortels, grof gerasper
  • 2 t (10 ml) gedroogde gemengde kruie of 30-45 ml gekapte vars kruie van jou keuse
  • 1 t (5 ml) gemaalde koljander
  • 2 t (10 ml) aangemaakte mosterd
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • ½ k (125 ml) sterk rooibostee
  • ½ k (125 ml) rou rooi lensies
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Verhit die helfte van die olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan (AMC 24 cm Fry Pan werk goed). Braai maalvleis tot goudbruin en skep uit.
  2. Verhit die res van die olie in dieselfde pan en braai uie en sampioene tot sag. Roer die wortels by en braai nog ʼn paar minute.
  3. Roer die gedroogde kruie, koljander, mosterd, maalvleis en tamaties by. Verlaag die hitte en prut oor lae hitte met ʼn deksel vir 20 minute.
  4. Roer tee en lensies by en prut nog 20-30 minute of tot die lensies sag is. Die rooi lensies sal van ʼn helder oranje na lig oranje verander as dit gaar is. Geur met suurlemoensap en peper.
  5. Gebruik die maalvleis vir aandete of pak dit in ʼn kosblik met volkoring-pitabroodjies, vars slaaibestanddele en baba-spinasieblare.

Wenk: Los die maalvleis uit en gebruik 250 ml rooi lensies en 250 ml rooibostee en berei die resep verder net soos hierbo voor. Prut die lensies vir 20-25 minute en sit die mengsel as vegetariese ete voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

[Resep] Tiramisu

$
0
0

Tiramisu (Foto: Sterkos, Lapa-uitgewers)

Corlea Botha deel haar heerlike tiramisu-resep.

Lewer 8 porsies

Bestanddele:

Koffiemengsel

  • 500 ml (2 k) kookwater
  • 75-90 ml (5-6 e) sterk koffiekorrels

Roommengsel

  • 8 eiers
  • 125 ml (½ k) strooisuiker
  • 50 ml amaretto of karamelvodka
  • 25 ml brandewyn
  • 500 g (2 x 250 g) mascarponekaas

Afronding

  • 400 g (2 x 200 g) vingerbeskuitjies
  • ekstra amaretto of karamelvodka
  • kakao vir bo-oor

Metode:

  1. KOFFIEMENGSEL Meng kookwater en koffiekorrels in vlak bakkie. Hou eenkant tot benodig.
  2. ROOMMENGSEL Skei eiers. Gebruik twee diep mengbakke.
  3. Klits eiergele met elektriese klitser tot romerig en liggeel, ongeveer 5 minute.
  4. Klits strooisuiker en amaretto of karamelvodka by eiergele. Klits weer vir 2 minute met elektriese klitser.
  5. Voeg brandewyn by en klits weer goed met elektriese klitser vir 1 minuut.
  6. Voeg mascarponekaas by en klits weer met elektriese klitser tot glad.
  7. Klits eierwitte met skoon klitsers tot stywepuntstadium. As mengbak omgedop word, moet eierwitte nie uitval nie.
  8. Vou eierwitte by romerige mengsel in tot net gemeng, maar moenie te veel roer nie.
  9. AFRONDING Doop vingerbeskuitjies in koffiemengsel, draai dan vinnig om en haal ná 2 sekondes uit, solank koekie net nie breek nie.
  10. Sit dit langs mekaar in tertbak van 34 x 22 cm wat met kossproei gespuit is.
  11. Smeer helfte van roommengsel oor koekies tot koekies nie meer sigbaar is nie.
  12. Sprinkel ʼn bietjie amaretto of karamelvodka liggies oor roommengsel.
  13. Herhaal koekie-, roommengsel- en amaretto- of karamelvodkalaag.
  14. Laat in yskas vir 4 uur tot gestol. Sny in blokke en skep in tertbordjies.
  15. Sprinkel kakao en neute (opsioneel) oor net voor opdiening.

Wenk: Goedkoop is duurkoop. Maak seker jy het gehaltetoerusting, skerp messe en vars produkte.

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live