Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Outydse gemmerkoekies

$
0
0

Outydse gemmerkoekies (Foto: Lapa-uitgewers)

Dit is amper skoolvakansie! Hierdie maklike resep vir gemmerkoekies sal die kleinspan besig hou.

Bestanddele

  • 180 g sagte botter
  • 250 ml (1 k) ligte bruinsuiker
  • ekstragroot eier
  • 250 ml (1 k) gouestroop
  • 10 ml (2 t) koeksoda
  • 45 ml (3 e) volroommelk
  • 560 g (4 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) fyn gemmer
  • 2,5 ml (½ t) sout

Metode

  1. Stel die oond op 180 °C. Voer twee bakplate met bakpapier uit en spuit dit met kossproei.
  2. Klits die botter en suiker ongeveer 2 minute lank met ʼn elektriese klitser. Voeg die eier en gouestroop by en klits weer.
  3. Meng die koeksoda en melk en roer dit by die bottermengsel.
  4. Sif die meel, gemmer en sout saam. Voeg dit by die bottermengsel en meng tot deeg vorm.
  5. Rol die deeg 4 mm dik uit op ʼn werkoppervlak wat met meel bestrooi is. Druk vormpies uit soos verkies.
  6. Plaas die koekies op die bakplate en bak dit 11-12 minute lank tot ligbruin.
  7. Laat dit op ʼn afkoelrakkie afkoel. Bêre dit in ʼn lugdigte houer.

[Video] Hap saam met Lochner: Kroek-kette

$
0
0

Lochner de Kock (Skermgreep uit die video)

Bestanddele

4 snye witbrood
blatjang
kaas
mosterd
sonneblomsade
sout
oorskiet-steak

Metode

Maak olie in ʼn pan warm.
Sny korsies van brood af.
Rol die brood plat.
Vul broodsnye volgens persoonlike voorkeure.
Rol brood oop.
Braai opgerolde brood in warm olie vir ongeveer 1 minuut. Haal uit pan en sit voor!

Sien gerus in die video hoeveel van elke bestanddeel Lochner byvoeg, en pas dit gerus aan volgens jou persoonlike behoeftes.

Hierdie video is deel van ʼn reeks kosvideo’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, vervaardig. Die video’s word weekliks op Maroela Media gepubliseer. Sien al die Hap saam met Lochner-video’s op Maroela Media. -Red

Kyk hier hoe Lochner hierdie resep voorberei:

[This post contains video, click to play]

[Resep] Biltong-en-kaasmuffins

$
0
0

(Foto: Lapa-uitgewers)

Dit is nou vakansie! Pak hierdie muffins in jou piekniekmandjie vir ʼn gesinsuitstappie.

Lewer 12 mediumgrootte muffins

Bestanddele:

  • 120 g (250 ml) koekmeel
  • 120 g (250 ml) volkoringmeel
  • ± 500 ml fyngesnyde of gerasperde bees- of wildsbiltong
  • 5 ml sout
  • 3 ml mosterdpoeier (opsioneel)
  • 20 ml bakpoeier
  • 50 g (125 ml gerasperde Cheddarkaas)
  • 200 ml melk
  • 3 eiers
  • 100 ml olie

Metode:

  1. Smeer ʼn muffinpan goed met margarien en voorverhit die oond tot 220 °C.
  2. Meng die droë bestanddele en maak ʼn holte in die middel. Klits die melk, eiers en olie saam en voeg by. Meng goed.
  3. Skep die beslag in die gesmeerde muffinholtes en plaas in die oond. Verlaag die hitte tot 200 °C en bak 15-18 minute of tot goudbruin en ferm, maar nie droog nie.
  4. Laat ʼn paar minute in die pan afkoel, maak los, lig versigtig uit en laat verder op ʼn afkoelrak afkoel. Sit warm of koud voor.

Variasie:

Maak 24 mini-muffins om voor te sit as peuselhappies en pas die baktyd aan om te verseker dat dit nie te droog bak nie.

[Resep] Pasta á la lekker

$
0
0

Pasta á la lekker (Foto: Nie vir Ma’s nie, Lapa-uitgewers)

Hierdie resep se naam is nie verniet “Pasta á la lekker” nie! Bederf vanaand jou ma met dié heerlike pasta.

Genoeg vir 6 mense

Bestanddele:

  • 1 pak macaroni (500 g-pak)
  • 1 pak swoerdlose spekvleis (250 g-pak), in stukkies gesny
  • 2 middelslag-uie, gesny
  • 3 knoffelhuisies, gepers
  • 1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 250 g sampioene, in skyfies gesny
  • 2 blikke tamatie-en-uiesmoor (410 g-blikke)
  • 30 ml tamatiesous
  • 30 ml blatjang
  • 100 g gerasperde Cheddarkaas (250 ml)

Metode:

  1. Stel die oond op 180 ºC en spuit ʼn oondbak liggies met kossproei.
  2. Kook die macaroni en braai intussen die spekvleis in ʼn groot pan.
  3. Braai die uie, knoffel en soetrissie in dieselfde pan. Gooi die sampioene by en braai nog 3 minute. Roer die tamatie-en-uiesmoor, tamatiesous en blatjang by.
  4. Dreineer die pasta en gooi dit terug in die kastrol. Roer die sous by en skep alles in die oondbak. Strooi die kaas oor en bak die pasta tot die kaas gesmelt is.

[Resep] Tuna-en-bonehutspot

$
0
0

(Foto: verskaf)

ʼn Vinnige en geurige tuna-en-bonehutspot is die ideale gereg vir ʼn koue wintersaand in die middel van die week. Die kerriepoeier, komyn en paprika vorm ʼn lekker kombinasie van winterspeserye. Die groente bied ʼn vullende basis wat ander stysel onnodig maak en met tuna en bone is daar genoeg proteïen.

Wintergeregte het dikwels klappermelk in omdat dit so goed met speserye kombineer. Ongelukkig kan dit nogal ʼn gereg baie ryk maak, veral as gevolg van die hoë vetinhoud. Vir hierdie resep maak ons ʼn slim plan deur gedroogde klapper en melk te meng vir ʼn soortgelyke geur, maar met heelwat minder ryk eindresultaat.

En dan is daar ʼn veerligte suurlemoen-teebroodjie, waarvoor jy net vyf bestanddele nodig het – ideaal vir ʼn koppie tee iewers in die vakansietyd.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 2 e (30 ml) fyn gedroogde klapper
  • 200 ml melk
  • 1 e (15 ml) Westfalia-avokado-olie
  • 2 uie, grofgekap
  • 3 wortels, gehalveer en in skyfies gesny
  • 3 murgpampoentjies, gehalveer en in skyfies gesny
  • 4 t (20 ml) matige kerriepoeier of na smaak
  • 4 t (20 ml) gemaalde komyn
  • 2 t (10 ml) paprika
  • 300 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 1½ k (375 ml) rooibostee of water
  • 1 klein rooi of groen brandrissie, heel (opsioneel)
  • 1 x 410 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer
  • 2 x 175 g-blikkies tuna in water, met die vloeistof
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • handvol vars koljanderblare, gekap

Metode:

  1. Meng die klapper en melk saam en laat ’n paar minute staan.
  2. Verhit olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan. Soteer uie, wortels en murgpampoentjies vir ’n paar minute.
  3. Roer die speserye en botterskorsie by en soteer tot aromaties. Verlaag die hitte en voeg die tee of water en die brandrissie by.
  4. Prut met die deksel vir 20 minute of tot die groente net gaar is, maar nie pap nie.
  5. Voeg die boontjies, tuna met die vloeistof, klapper met die melk en sout by. Roer deur en prut vir nog 5 minute of tot deurwarm.
  6. Geur met suurlemoensap en peper. Roer gekapte koljanderblare by en garneer met nog vars blare, indien verkies. Sit voor met avokado en ’n slaai.

Suurlemoen-teebroodjie

Resep van Westfalia Fruit

Lewer 1 teebroodjie

Bestanddele:

  • 100 ml Westfalia-suurlemoen-gegeurde avokado-olie
  • 4 groot Nulaid-eiers
  • 180 ml suiker
  • 200 ml bruismeel
  • 100 ml gemaalde amandels
  • versiersuiker om bo-oor te sif (opsioneel)

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 1,5 liter broodpan uit en smeer met ’n paar druppels suurlemoen-gegeurde avokado-olie.
  2. Plaas olie, eiers en suiker in ’n groot mengbak en klits met ’n elektriese klitser vir 3-5 minute of tot donsig en lig in kleur. Maak seker dat die suiker heeltemal opgelos het – dit lewer die beste tekstuur.
  3. Sif die meel in ’n aparte bak en meng die amandels by. Vou die droë bestanddele versigtig by die eiermengsel in.
  4. Skep beslag in die broodpan en bak vir 40-45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat ’n paar minute in die broodpan staan. Keer uit en laat op ’n afkoelrakkie afkoel.
  5. Sif versieksuiker bo-oor, indien verkies, en sit voor vir teetyd of as bederf in ʼn kosblik.

Wenk: Sit die teebroodjie as nagereg voor met Griekse jogurt en bessies, wanneer dit in seisoen is.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

[Resep] Amarula-yskastert

$
0
0

Amarula-yskastert (Foto: Lapa-uitgewers)

Of dit nou winter of somer is, hierdie resep is ʼn treffer!

Lewer 12 porsies

Bestanddele:

Kors

  • 200 g karamelgeur Romany Creams, fyngemaak
  • 75 ml Clover Mooirivier-botter, gesmelt

Vulsel

  • 10 ml gelatien
  • 45 ml water
  • 250 Clover- vars room
  • 500 g roomkaas
  • 385 g Clover-kondensmelk
  • 5 ml koffiepoeier
  • 15 ml kookwater
  • 45 ml Amarula-likeur
  • 180 g melksjokolade
  • 1 Flake-sjokoladestafie, gekrummel

Metode:

  1. Meng die fyngemaakte koekies en gesmelte botter. Druk dit vas op die bodem van ’n 22 cm-tertbord of in ’n reghoekige tertbak van ongeveer 20 cm x 30 cm wat met botter gesmeer is.
  2. Strooi die gelatien oor die 45 ml (3 e) water en laat dit staan tot sponserig. Smelt dit oor kookwater of mikrogolf dit vir ’n paar sekondes. Die gelatien mag nie kook nie.
  3. Klits die room styf en vou dit by die roomkaas Roer die kondensmelk by. Meng die koffiepoeier en kookwater. Roer die likeur by en roer dit by die roomkaasmengsel.
  4. Roer die gesmelte gelatienmengsel geleidelik by die roomkaasmengsel
  5. Smelt die sjokolade oor kookwater. Laat dit effens afkoel en roer dit dan vinnig by die roomkaasmengsel tot gemeng.
  6. Skep die vulsel op die kors en laat dit oornag in die yskas staan om te
  7. Strooi die Flake-sjokolade oor die tert voor opdiening.

[Resep] Skaapboud

$
0
0

Skaapboud (Sterkos, Lapa-uitgewers)

Rina Hugo gee haar resep vir heerlike skaapboud

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 2,5 tot 3 kg skaapboud
  • genoeg sout en peper
  • 1 ml droë roosmaryn
  • 1 ml droë basiliekruid
  • 5 ml vars knoffel, gekap
  • halwe suurlemoen se sap
  • genoeg Mrs Balls-perskeblatjang

Metode:

  1. Stel oond op 180 °C.
  2. Sit skaapboud op dubbelgevoude stuk foelie.
  3. Smeer skaapboud met genoeg sout, peper, roosmaryn, basiliekruid en knoffel.
  4. Drup van suurlemoensap bo-oor skaapboud. Smeer boud goed met perskeblatjang.
  5. Draai skaapboud om en doen dieselfde aan die onderkant.
  6. Maak boud met foelie toe en plaas in oondpan.
  7. Bak skaapboud vir 2 ½ tot 3 ure, afhangend van grootte daarvan.
  8. Haal skaapboud uit foelie en rooster onder oond se element.

Wenk: Droë roosmaryn en basiliekruid kon ook met ander vars kruie soos tiemie vervang word.

[Resep] Sonskyn-ontbyttertjies

$
0
0

Sonskyn-ontbyttertjies Foto: Deeg

Beïndruk jou familie en vriende met hierdie stylvolle variasie op die gewone spek en eiers saam met roosterbrood. Dit is nie net mooi nie, maar smullekker ook!

Lewer 10 tertjies

Bestanddele:
Vulsel

  • 2 rooi uie, fyngekap
  • 50 ml olie
  • 2 rooi en 2 geel soetrissies, ontpit en in repies gesny
  • 250 g knopiesampioene, skoongevee en in skyfies gesny
  • 300 g kaasworsies, in skuins skyfies gesny
  • 10 groot eiers
  • growwe sout en peper

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer of spuit ’n bakplaat.
  2. Deeg: Rol skilferkorsdeeg uit tot 5 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak. Sny deeg in 10 vierkante van 10 cm.
  3. Rol orige deeg uit. Sny ’n raam van 1,5 cm breed vir elke deegvierkant. Smeer deegrande met water en plak rame op die deegvierkante. Prik deegvierkante aan binnekant van die raam met ’n vurk. Pak op die bakplaat.
  4. Bak vir 20 minute tot bruin en opgepof. Haal uit oond. Gebruik ’n lepeltjie en druk gaar deeg liggies in die middel plat as dit opgepof het.
  5. Vulsel: Braai die uie in 25 ml olie tot sag. Skep uit en hou eenkant.
  6. Braai die soetrissies en sampioene in die orige (25 ml) olie tot sag.
  7. Voeg die worsies by en braai tot gaar. Pak ’n laag worsies in elke deegdoppie.
  8. Versprei die uiemengsel oor die worsies.
  9. Skep ’n holte in die mengsel en breek ’n eier bo-op oop. Geur die eier met sout en peper.
  10. Bak tertjies vir 10-15 minute of tot die eiers gaar is.

Hierdie resep is oorspronklik gepubliseer in die boek Deeg, uitgegee deur Human & Rousseau.
Prys: R285-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke


[Resep] Sjokolade-truffeltert

$
0
0

Sjokolade-truffeltert (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie is ʼn móét vir die sjokoladeliefhebbers!

Lewer 10-12 porsies

Bestanddele:

Kors

  • ½ k (60 g) Clover Butro-bottersmeer
  • 50 g donker sjokolade
  • 1 k (120 g) semelbeskuitjies, fyn gedruk

Vulsel

  • ½ k (60 g) Clover Mooi River-botter
  • 200 g donker sjokolade
  • 1 e (15 ml) kakaopoeier
  • ½ t (2 ml) fyn gemmer
  • 2 e (30 ml) Amaretto-likeur of espresso-koffie
  • 200 g mascarpone
  • 3 e (45 ml) Clover-room, styf geklits
  • 2 eiers
  • 1/3 k (55 g) sagte bruinsuiker
  • 100 g wit sjokolade

Metode:

Kors

    1. Smelt die botter en sjokolade saam oor lae hitte,
    2. Voeg die beskuitjiekrummels by en roer deur.
    3. Druk die kors op die bodem en kante van ʼn 20 cm-losboomkoekpan vas.
    4. Verkoel tot benodig.

Vulsel

    1. Plaas die botter, sjokolade, kakao, gemmer en Amaretto-likeur of koffie in ʼn hittebestande bak oor ʼn kastrol met pruttende water.
    2. Maak seker dat die onderkant van die bak nie aan die water raak nie.
    3. Roer liggies tot die mengsel glad en gesmelt is.
    4. Laat vir 5 minute afkoel.
    5. Klits die mascarpone in ʼn bak tot sag en vou die room daarby in.
    6. Vou die roommengsel by die sjokolademengsel in.
    7. Plaas die eiers en suiker in ʼn bak oor ʼn kastrol met liggies pruttende water.
    8. Meng vir 4 tot 5 minute met ʼn elektriese menger of tot die mengsel verdik het en romerig
    9. Vou die eiermengsel by die sjokolademengsel in en giet oor die beskuitjiekors. Verkoel vir ten minste 4 tot 5 uur maar verkieslik oornag.
    10. Rasper die wit sjokolade oor die tert en sit voor met vars bessies.
  • Bron: Gunsteling Poedings
  • UitgewerLapa

[Resep] Eenpot-hoendergereg

$
0
0

Foto: Verskaf

Dié eenpotgereg is altyd ʼn wenner in die winter en binne ʼn uur is kos op die tafel. Jy kan maklik iets uit elke voedselgroep insluit. Dit is wel skoolvakansie en die kinders het dalk nie kosblikke nodig nie, maar ʼn ma of pa moet dalk iets inpak vir middagete op kantoor. Maak dus sommer van die begin af genoeg.

ʼn Souserige eenskottelgereg met groente en hoender is boonop ʼn lekker manier om bone deel te maak van etes. Bone sowel as hoender pas uitstekend by tamatie, wat hierdie gereg ekstra geurig maak. Met die regte kombinasie van bestanddele en ʼn gaarmaakmetode wat soveel as moontlik geur aan die gereg verleen, is ʼn smaaklike ete met min moeite gou gereed.

In die winter en veral in die vakansie is ʼn mens soms lus vir nagereg, maar het nie altyd tyd om eers ʼn lang resep te maak nie. Hierdie peerpoeding is een van daardie resepte wat jy met verskillende vrugte kan maak. Wees kreatief met die speserye en selfs ander bestanddele soos dalk ʼn bietjie donker sjokolade wat saam met die neute gebruik kan word. Die beslag wat oor die vrugte gegiet word, is basies eiers, melk, meel en olie met die speserye. Dit word alles net saam geklits en die vrugte hoef ook nie vooraf gaargemaak te word nie – regtig ʼn vinnige nagereg.

Resep uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele: 

  • 2 t (10 ml) Westfaliagewone of knoffelgegeurde avokado-olie
  • 1 groot ui, gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyn gekap (opsioneel indien knoffelgegeurde avokado-olie gebruik word)
  • 3-4 hoenderborsies aan die been, gehalveer, vel en oortollige vet verwyder
  • 2 groot wortels, in dik skywe gesny
  • 3 murgpampoentjies, in dik skywe gesny
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • 1 e (15 ml) tamatiepasta
  • ½ t (2,5 ml) paprika of rooipeper, of na smaak
  • 1 t (5 ml) gedroogde origanum of 1 e (15 ml) gekapte vars origanum
  • ½ k (125 ml) water of rooibostee
  • 1 x 410 g-blik gebakte boontjies in tamatiesous
  • 1 x 410 g-blik botter- of rooi nierbone, gedreineer
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 2 e (30 ml) gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Soteer ui en knoffel (indien gebruik) vir ’n paar minute. Voeg die hoender by en braai tot goudbruin.
  2. Roer wortels, murgpampoentjies, tamaties, tamatiepasta, paprika en origanum by.
  3. Voeg die water of tee by, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 30 minute of tot die hoender net gaar is.
  4. Voeg die bone en sout by en geur met suurlemoensap en peper na smaak. Prut tot deurwarm en roer pietersielie by. Sit voor met blokkies avokado.

Peerpoeding

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 3-4 ryp pere, ontpit en met die skil in dun wiggies gesny
  • 60 ml (¼ k) sterk rooibostee
  • 30-45 ml (2-3 e) heuning
  • 60-80 ml (¼-⅓ k) haselneute of amandels, grof gekap
  • 2 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 125 ml (½ k) melk
  • 60 ml (¼ k) Westfalia- avokado-olie
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel
  • 180 ml (¾ k) koekmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • ’n knippie gemaalde wonderpeper
  • 5 ml (1 t) gemaalde gemengde speserye
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • 60 ml (¼ k) gemaalde amandels

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak liggies met olie.
  2. Plaas pere in ’n enkellaag in die oondbak en giet tee en heuning bo-oor. Strooi neute oor.
  3. Klits eiers, melk, olie en vanielje saam. Sif meel, bakpoeier en speserye bo-oor, voeg neute by en klits tot ’n gladde beslag vorm.
  4. Skink beslag bo-oor die pere en bak 35-45 minute of tot goudbruin en gaar.
  5. Sit warm voor met ongegeurde jogurt of tuisgemaakte vla.

 

Wenk: Maak dieselfde resep met appels in plaas van die pere.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

[Resep] Pampoenkoekies met karamelsous

$
0
0

(Foto: Lapa uitgewers)

Pampoenkoekies met karamelsous – soos jou ouma dit gemaak het.

Bestanddele:

Pampoenkoekies

  • 250 ml koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • ’n knippie sout
  • 30 ml suiker
  • 2 eiers
  • 30 ml Clover-volroommelk
  • 250 ml koue gaar pampoen, fyngemaak
  • 750 ml olie vir diepvetbraai

Karamelsous

  • 250 ml suiker
  • 60 ml Clover Mooiriver-botter
  • 250 ml water
  • 250 Clover-volroommelk
  • 25 ml vlapoeier

Metode:

Pampoenkoekies

  1. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer die suiker by.
  2. Klits die eiers en melk saam tot gemeng. Roer dit by die pampoenmoes totgoed gemeng
  3. Roer die pampoenmengsel by die meelmengsel.
  4. Verhit die olie en braai lepelsvol beslag daarin tot goudbruin.
  5. Plaas die pampoenkoekies op kombuispapier om oortollige olie te absorbeer.

Karamelsous

  1. Braai die suiker en botter in ’n dikboomkastrol tot goudbruin.
  2. Roer die water stadig by en roer tot die karamel gesmelt is. Roer die melk stadig by.
  3. Maak die vlapoeier met ’n bietjie water aan tot ’n pasta en roer dit by die sous.
  4. Verhit dit tot die sous verdik – ongeveer 3 minute. Verwyder dit van die hitte sodra borrels vorm.
  5. Sit die sous saam met die pampoenkoekies voor.

[Video] Hap saam met Lochner: Blaauwkraantz-en-peer-sop

$
0
0

Lochner de Kock (Skermgreep uit die video)

Dié kombinasie van geure sal jou smaakknoppies behoorlik prikkel.

Bestanddele:                                 

  • uie, fyngekap en gebraai
  • hoenderaftreksel
  • 1 knoffelhuisie
  • gemmer
  • ingelegte pere
  • Blaauwkrantz-kaas
  • koljanderkruit

Metode:

  1. Gooi al die bestanddele in ʼn mengbak en druk dit met ʼn aartappeldrukker fyn.
  2. Meng dit verder met ʼn voedselverwerker tot glad en loperig.
  3. Voeg room by volgens eie voorkeur.
  4. Dis op en gooi swartpeper oor.
  5. Bedien en geniet!

Sien gerus in die video hoeveel van elke bestanddeel Lochner byvoeg, en pas dit gerus aan volgens jou persoonlike behoeftes.

Hierdie video is deel van ʼn reeks kosvideo’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, vervaardig. Die video’s word weekliks op Maroela Media gepubliseer. Sien al die Hap saam met Lochner-video’s op Maroela Media. -Red

[This post contains video, click to play]

[Resep] Klapperys sonder sukkel

$
0
0

Klapperys sonder sukkel (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Lekker bederf vir die naweek!

Lewer 25 blokkies

Bestanddele:

  • 385g (1 blikkie) kondensmelk
  • 500g versiersuiker
  • 5ml suurlemoensap
  • 5ml vanieljegeursel
  • 400g fyn klapper

Metode:

  1. Meng die kondensmelk, versiersuiker, sap, geursel en klapper.
  2. Skep dit in ʼn gesmeerde pan van 20 x 20 cm.
  3. Versprei die mengsel egalig in die pan en druk vas.
  4. Sny dit in blokkies van ongeveer 4 x 4 cm.

Variasie:

Die mengsel kan in die helfte verdeel word. Druk een deel in die pan vas. Voeg ʼn druppel rooi of groen kleursel by die ander deel en druk dit bo-op die wit laag vas. Die hele mengsel kan ook gekleur word.

Wenk:

In warm weer is dit wenslik om die klapperys eerder in die koelkas te bêre, maar dit hou goed in die werk- en skoolkosblik.

  • Bron: Uitpakkos
  • UitgewerLapa

Bak koek vir die bekendes

$
0
0

Anél Potgieter, aanbieder van Bak of Brou (Foto: Verskaf)

VIA se jongste kosprogram Bak of Brou gee deelnemers die geleentheid om vir glansgas ’n koek te bak vir sy of haar partytjie. Maar daar is ’n kinkel in die kabel: Die deelnemers weet nie vir wie hulle hierdie koek bak nie.

Twee bobaasbakkers kry ’n identiese opdrag van ’n klant (die glansgas) vir ’n partytjie. Die bakkers weet nie wie die klant is nie, het net drie ure om ’n wenkoek te bak en af te koel, te versier en dan die lae opmekaar te sit.

Die bakkers moet ook die koeke in een stuk na die partytjie vervoer, en dit is dáár waar hulle die glansgas vir die eerste keer ontmoet. Die glanspersoon besluit dan wie gebak en wie gebrou het.

Die program word aangebied deur die bekende kos-persoonlikheid Anél Potgieter, wat al twee keer aangewys is as die beste kosblogger in die land.

Potgieter bieg sy voel gemakliker voor die kospotte as die mengbak. “Ek moet eerlik wees – ek is liewer vir kook as vir bak. Maar ek is wel gek oor koekversier,” sê sy.

Anél het haar kostalente vir die eerste keer getoon toe sy op agtjarige ouderdom “dadelbrood” vir gaste ná kerk moes maak. Sedertdien het sy by verskeie tydskrifte as kosskrywer, asook op die bekende TV-program Expresso gewerk.

Kurt Darren, Martelize Brink, Elana Afrika-Bredenkamp, Crystal-Donna Roberts en Margit Meyer-Rödenbeck is van die glansgaste vir wie die deelnemers ’n koek sal moet bak. Al die aksie word op kamera vasgevang en daar is klomp drama en komieklike oomblikke wat heelwat vermaak gaan verskaf in elke episode.

Bak of Brou word van vandag (17 Julie) op Maandae om 18:30 op Via (DSTV-kanaal 147) uitgesaai.

[Resep] Brokkoli, ham en fetakaaspasta

$
0
0

Brokkoli, ham en fetakaaspasta (Foto: Lapa-uitgewers)

Lekker vir warm óf koue weer!

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:                             

Pasta

  • 1 pak (500 g) spiraalpasta

Ham en brokkoli

  • ʼn klont Clover Mooi River-botter
  • 1 ui, gekap
  • 5 ml droë gemengde kruie
  • 750 g ham (“picnic ham”), in blokkies gesny
  • 1 klein kop brokkoli, in blommetjies gebreek
  • 2 sirkels Clover-feta, in blokkies gesny

Witsous

  • 80 ml Clover Mooi River-botter
  • 80 ml koekmeel
  • 750 ml warm Clover-volroommelk
  • 2,5 ml sout
  • knypie rooipeper

Bolaag

  • 500 ml vars witbroodkrummels

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn diep oondvaste bak van ongeveer 20 cm x 30 cm.
  2. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie tot al dente en dreineer.
  3. Roer ʼn klein bietjie olie deur sodat die pastastukkies nie aan mekaar kleef nie.
  4. Ham en brokkoli: Verhit genoeg botter in ʼn swaarboomkastrol en soteer die ui en kruie tot die ui sag is. Voeg die ham by en roerbraai vir nog 5 minute. Verwyder van die hitte.
  5. Plaas die brokkoli in ʼn glasbak, voeg 10 ml water by en bedek met kleefplastiek. Mikrogolf vir 5 minute en laat ʼn bietjie afkoel. Verwyder die kleefplastiek en giet die oortollige water af.
  6. Roer die gestoomde brokkoli, pasta en feta-blokkies deeglik deur die hammengsel en skep in die voorbereide bak.
  7. Witsous: Smelt die botter in ʼn swaarboomkastrol en roer die koekmeel by. Voeg die warm melk geleidelik by en roer aanhoudend sodat dit nie klonte vorm nie. Laat die witsous liggies prut tot verdik. Geur met sout en rooipeper.
  8. Giet die witsous oor die pastagereg en strooi die broodkrummels oor.
  9. Bak vir 35-40 minute of tot goudbruin.

 

  • Bron: Ekonomiese Gesinskos
  • UitgewerLapa

[Resep] Macaroni-en-kaas met lensies

$
0
0

Macaroni-en-kaas met lensies (Foto: Verskaf)

Dis die laaste week van die skoolvakansie en hopelik is daar nog lekker baie kans vir kuier om ʼn tafel vir aandetes met heerlike gesinskos. Vir Kosblik is die resep uit Cooking from the Heart so ʼn bietjie aangepas om dit sommer nog vinniger gemaak, deur net ʼn melk en eiermengsel te gebruik en nie eers ʼn witsous te maak soos in die oorspronklike resep nie. Die twee opsies se tekstuur en smaak sal verskil, maar daar is menige macaroni-resepte met een van hierdie twee as basis.

Onthou jy dalk ʼn lekker macaroni-en-kaas uit jou kinderdae? Of het jy dalk ʼn slegte ervaring daarmee gehad en wil dit liefs nie onthou nie? Ek onthou in die koshuis was die gereg sulke stewige “blokke” pasta met iets bygevoeg, wat regtig nie aptytlik was nie. Daarteenoor is daar soveel lekker bestanddele wat ʼn mens by die basis van pasta en ʼn melkmengsel kan gebruik.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 300 g macaroni
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 e (15 ml) Westfalia-avokado-olie
  • 1 k (250 ml) gaar lensies, gedreineer
  • 1 k (250 ml) gemengde bevrore groente, afgespoel
  • 1 sny bruinbrood
  • 4 t (20 ml) vars tiemieblare
  • 100 ml gerasperde cheddarkaas

Sous

  • 600 ml melk
  • 3 ekstra-groot of 4 groot Nulaid-eiers
  • 1 t (5 ml) Worcestersous
  • 1 t (5 ml) aangemaakte mosterd
  • ½ tsp (2,5 ml) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Plaas water in ʼn groot kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt. Voeg macaroni en sout by en kook tot gaar. Dreineer en meng die olie by.
  2. Sous: Klits al die bestanddele saam.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C. Roer die lensies en groente by die pasta en skep in ʼn oondbak.
  4. Giet die eiermengsel oor die pasta. Krummel die brood met jou vingerpunte en meng met die tiemie en kaas.
  5. Sprinkel die broodkrummels oor die pasta en bak vir 25 minute of tot goudbruin en deurwarm.
  6. Sit met vars avokado voor – dit is baie lekker om die avo fyn te druk en dit met Westfalia se suurlemoen-gegeurde avokado-olie te geur. As die macaroni vir aandete gemaak word, kan ʼn slaai daarby bedien word.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die groot ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak vyf in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Die boek bevat eenvoudige en maklike resepte met bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

[Resep] Melkkos

$
0
0

Melkkos (Foto: Lapa-uitgewers)

Wat is dan beter as dít op ʼn koue wintersdag?

Genoeg vir 4

Bestanddele:

  • 170 g koekmeel
  • 1 ml sout
  • 40 g koue Clover Mooirivier-botter, in blokkies gesny
  • 1 liter Clover Mmmilk
  • 1 kaneelstokkie
  • 1 lourierblaar
  • kaneelsuiker

Metode:

  1. Meng die meel en sout saam en vryf die botterblokkies met die vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk.
  2. Verhit die melk, kaneelstokkie en lourierblaar saam tot kookpunt.
  3. Verlaag die hitte en verwyder die kaneelstokkie en lourierblaar.
  4. Roer die meelmengsel geleidelik by die warm melk met ʼn draadklitser.
  5. Prut 8-10 minute en roer aanhoudend.
  6. Sit warm voor met kaneelsuiker.
  • Bron: Trooskos
  • UitgewerLapa

[Resep] Snoektert

$
0
0

Snoektert (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie tert is só maklik, jy kan sommer jou oorskietsnoek van gisteraand gebruik!

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Kors

  • 1k (250 mℓ) koekmeel
  • 1k (250 mℓ) gerasperde goed beleë kaas
  • 1k (250 mℓ) gerasperde gevriesde botter
  • ʼn knippie paprika

Vulsel

  • 2 E (30mℓ) botter
  • 1 middelslag ui, gekap
  • 250 g gerookte snoek (grate verwyder en gepluis)
  • 2k (500 mℓ) gerasperde goed beleë kaas
  • 2 groot eiers
  • 1k (250 mℓ) room
  • 1 E (15 mℓ) Worcestersous
  • ½ t (2,5 mℓ) mosterdpoeier

Metode:

  1. Kors: Meng al die korsbestanddele goed saam en voer ʼn oondvaste tertbak daarmee uit.
  2. Voorverhit die oond tot 180°C.
  3. Vulsel: smelt botter in ʼn swaarboompan en braai die ui tot deurskynend. Laat dit afkoel.
  4. Meng die vis, kaas en uie goed saam en skep in die tertkors. Klits die eiers, room, Worcestersous en mosterd saam en giet dit oor die vis.
  5. Bak die tert vir 45 minute tot gaar en gestol.

 

  • Bron: Koljander, koljander so deur die Bosch
  • UitgewerLapa

[Resep] Romerige karamel-sago

$
0
0

Romerige karamel-sago (Foto: Lapa-uitgewers)

Sago soos in die ou dae. Net betyds vir die naweek!

Genoeg vir 6

Bestanddele:

  • 4 k (1 liter) Clover-volroommelk
  • 1 k (185 g) sago
  • ½ t (2 mℓ) sout
  • ½ t (2 mℓ) gemaalde neutmuskaat
  • ½ t (2 mℓ) gemaalde kaneel
  • ¼ k (50 g) bruinsuiker
  • 1/3 k (80 g) Clover Springbok-botter
  • 2 t (10 mℓ) karamelgeursel
  • 4 eiers, geskei

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 170°C en smeer ’n groot oondvaste bak.
  2. Verhit melk tot net onder kookpunt in ʼn kastrol en verlaag die hitte.
  3. Voeg die sago, sout, neutmuskaat en kaneel by en prut 10 tot 15 minute tot die sago deurskynend is.
  4. Roer die suiker, botter en karamelgeursel by. Verwyder van hitte.
  5. Klits die eiergele saam en meng dit by die sagomengsel in.
  6. Klits die eierwitte in ʼn skoon mengbak met ʼn elektriese klitser tot stywe punte vorm en vou by die sagomengsel.
  7. Skep in die bak en bak 40 tot 45 minute tot gestol.

[Video] Tips & Trix: Die behoefte om te eet… en gesond te bly

$
0
0

Simoné en Francois (Skermgreep uit die video)

Francois se idee van gesond eet is volroom-sjokolade en gegeurde melkies. Gelukkig is Simoné daar om hom in die regte rigting te stuur.

In hierdie episode van Tips & Trix gee Simoné wenke oor gesonde kos en happies terwyl Francois kykers touwys maak oor die gewildste snitte beesvleis.

Klik hier om te sien watter bestanddele Simoné in die hawermout-happies te gebruik.

Tips & Trix is ʼn minireeks deur ATKV-Sake en akteurs Francois Jacobs en Simoné Nortmann gee aan kykers wenke oor hoe om hul kamp-ervaring te vergemaklik. Die reeks word vervaardig deur The Film Factory.

Haak jou karavaan en verken saam met Francois en Simoné die ATKV se spogoorde! Vir meer inligting oor die ATKV besoek gerus hulle webwerf en ATKV-oorde of kontak hulle gerus op 011 919 9000.

Sien Tips & Trix met Simoné en Francois se vorige video’s hier.

 

[This post contains video, click to play]

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live