Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

SA chenin kan Amerikaners se aandag trek

$
0
0
lauren-buzzeo-01

Lauren Buzzeo, die besturende redakteur van die hoogs gerekende ‘Wine Enthusiast’, ʼn tydskrif en webwerf wat in die VSA gesetel is, maar wêreldwyd gelees word. Foto: Verskaf.

Indien Suid-Afrika sy bemarkingsboodskap aan ʼn enkele variëteit van wyn koppel soos wat Nieu-Seeland met sauvignon blanc en Argentinië met die malbec gedoen het, kan die land daarin slaag om direk met die hart van Amerikaanse wynliefhebbers te praat.

Dit is die mening van Lauren Buzzeo wat onlangs aangestel is as besturende redakteur van die hoogs gerekende Wine Enthusiast, ʼn tydskrif en webwerf wat in die VSA gesetel is, maar wêreldwyd gelees word.

Buzzeo, wat sedert 2010 as die tydskrif se proedirekteur en senior redakteur oor Suid-Afrika verslag doen, het Suid-Afrika vroeg in Julie besoek as een van die beoordelaars in die 2017 Standard Bank/Chenin Blanc Top 10 Challenge. Die ander vyf beoordelaars, twee van hulle wat Masters of Wine-toekennings ontvang het, woon almal in Suid-Afrika.

“In plaas daarvan om daarop aanspraak te maak dat julle alles kan doen, sou dit beter wees om die klem te laat val op dit wat julle die beste doen,” was haar advies aan plaaslike wynmakers. “As julle chenin blanc sou posisioneer as ʼn Suid-Afrikaanse spesialiteit, staan julle ʼn beer kans om by wynliefhebbers ʼn deurbraak te maak. Gee hulle iets waarmee hulle hulself kan assosieer, iets wat hulle ʼn beter begrip van die wyne van die land gee, want, jammer om te sê, Suid-Afrika is nie wyd bekend in die Amerikaanse mark nie.

“Dit sal makliker vir Amerikaners wees om Suid-Afrika te sien as die land van die oorsprong van hierdie verbasend verfrissende, tafelwyn as om hulle te probeer vertel dat die land se sterk punt sy vermoë is om ʼn enorme verskeidenheid van wynstyle te produseer.”

Die VSA is sedert 2013, betreffende waarde, die wêreld se grootste enkele wynmark.

Buzzeo meen dat, soos wat die bewustheid groei en aanvraag toeneem, sal Suid-Afrika se kenmerkende chenins – met geure van sitrus en ryp steenvrugte, dus nie te soet nie en met ʼn onopgesmukte effe suur smaak –gemaklik tussen $10 (sowat R129) en $20 (sowat R260) verkoop.

Sy het gewaarsku dat wynmakers nie hulle chenins te laag vir die Amerikaanse mark moet prys nie. “Deur hoëgehaltewyne teen ʼn té lae prys te bied, loop wynmakers die gevaar dat die verbruikers sal dink hul wyne is nie die moeite werd nie en dat hulle nie verdien om ernstig opgeneem te word nie.”

Sowat 18,5% van Suid-Afrika se nasionale wingerd van 95 775 hektaar is onder chenin blanc. Dit is meer as in enige ander land. Om die waarheid te sê, dit is meer as die totaal van wat elders in die wêreld aangeplant is. Vir die oorgrote deel van die 20ste eeu is die druiwe hoofsaaklik deur brandewynprodusente gebruik.

Wat tóé ploegperd was, is egter nou skouperd, danksy die Chenin Blanc-vereniging onder voorsitterskap van die bekende wynmaker Ken Forrester, wat ʼn belangrike rol gespeel het om die beeld van dié druifsoort weer aansien te gee. Vandag gebruik baie van die land se voorste wynmakers chenin blanc vir hul vlagskipwyne en wen daarmee internasionale erkenning oor die hele spektrum heen.

Chenin blanc, wat vermoedelik sy oorsprong in die Loire-gebied van Frankryk gehad het, is ʼn uiters veelsydige kultivar wat homself leen tot ʼn wye verskeidenheid van droë, vrugtiger en edel-laatoeswyne.

Volgens Buzzeo neig Suid-Afrikaanse chenins om meer vrug-gefokus as hul Franse teenhangers te wees: “Hulle is nie grootdoenerig nie, maar hul wyne is toegankliker as dié van die Loire, wat ʼn meer sober en mineraalagtige karakter het.”

Sy stel egter nie voor dat Suid-Afrika se totale bemarking op chenin gefokus moet wees nie. “Ek is werklik opgewonde oor die gehalte van Suid-Afrikaanse chardonnays en pinotages. ʼn Nuwe dag het aangebreek vir pinotage – laat ons vergeet van die negatiewe assosiasies met geure van asetoon en gebrande rubber. Daar is ʼn nuwegeslag-wynverbruikers wat gretig is om interessante en ongewone wyne te proe. Hulle is nie bewus van die bagasie wat pinotage met hom saamdra nie en is gereed en opgewonde om die hedendaagse verfynde en elegante wyne op die proef te stel.”

Sy het ook lof gehad vir Suid-Afrikaanse cabernets.

Met verwysing na die wyne wat vir vanjaar se Standard Bank/Chenin Blanc Top 10 Challenge ingeskryf is, het sy gesê hulle weerspieël ʼn voortgesette verbetering en innovasie. “Ek het werklik oor baie van hierdie wyne opgewonde geraak. Daar is ʼn wonderlike gees en ʼn vermoë om grense te verskuif. Hierdie chenins gee uitdrukking aan wat Suid-Afrika so ʼn bekoorlike land maak.

“Ek is dol oor die mense, die wyn, die kos, die stories, die argitektuur en die feit dat daar so ʼn sterk fokus op volhoubaarheid is. Danksy sosiale media het julle nou die kans om nie net met woorde te kommunikeer nie, maar ook met die allerpragtigste foto’s waarvan die Amerikaanse verbruiker meer benodig om ʼn beter begrip van die oorweldigende skoonheid van die land te kan vorm.”

  • Die wenners van die 2017 Standard Bank/Chenin Blanc Top 10 Challenge word op 23 Augustus aangekondig.

Vanjaar se topdrie-Boerewors-makers is…

$
0
0

James Lebepe, Moses Mathebule en Queen Mathebule. Foto: Verskaf

Vanjaar se topdrie-finaliste in die Championship Boerewors-kompetisie is die naweek aangewys.

Angelique Wagner, woordvoerder van dié inisiatief deur Shoprite Checkers, het Sondag gesê die drie finaliste is Saterdag by top-18-ronde in Kaapstad gekies.

“Die kompetisie was taai, maar die boereworsresepte van Queen Mathebule, van Malamulele in Limpopo, James Lebepe, van Pretoria in Gauteng, en Moses Mathebule, van Lenyenye in Limpopo, het koning gekraai,” het Wagner gesê.

Die topdrie-finaliste se boerewors gaan vanaf 18 Augustus tot 8 September in Shoprite- en Checkers-winkels beskikbaar wees.

“Daarna is dit in die publiek se hande om dit te koop, te proe en vir hul gunsteling in die 25ste Championship Boerewors-titel te stem.”

Die wenner sal op 13 September gekroon word en wegry met ʼn splinternuwe Toyota Hilux 2.8 GD-6-dubbelkajuitbakkie.

[Resep] Sappige hoenderfilette

$
0
0

Sappige hoenderfilette en mielie-en-lensiekoekies (Foto: Verskaf)

Nou ja, die skoolvakansie het tot ʼn einde gekom en vir baie van ons is dit nou weer tyd om gereeld kosblikke te pak. Hierdie mielie-en-lensiekoekies is een van my kinders se groot gunstelinge en so maklik om te maak dat ek sommer ʼn dubbele mengsel bak vir aandete en die week se kosblikke.

Die ander resep bly vir my die beste manier om hoenderborsfilette gaar te maak sodat dit sappig bly. So dikwels maak mense die opmerking dat hulle nie van hoenderborsfilette hou nie, omdat dit te droog is. As dit teen die regte temperatuur gaargemaak word en nie vir te lank nie, sal dit nie sommer oorgaar en droog word nie.

Beproef gerus hierdie twee maklike maar baie lekker resepte dié week en maak dit sommer gou deel van jou gunstelingresepte-leêr.

Resep uit Maak vyf/Make five

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) Westfalia-avokado-olie van jou keuse
  • 4-6 hoenderborsfilette
  • sout en peper
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap of witwyn

Metode:

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan is ideaal). Braai die filette vir ’n paar minute aan die een kant tot goudbruin – begin verkieslik met die kant wat na bo op die bord gaan wys. Geur na smaak.
  2. Draai die filette om en braai ook aan die ander kant tot goudbruin, maar nog nie gaar nie.
  3. Moenie in die versoeking kom om die filet te braai tot dit heeltemal gaar is nie, want dis juis wanneer die vleis maklik uitdroog. Geur die kant ook na smaak.
  4. Draai die filette weer om, sodat die kant wat na bo gaan wys na die bodem van die pan wys.
  5. Stel die hitte laag, giet die suurlemoensap of wyn in die pan en sit dadelik die deksel op. Die vloeistof sal redelik stoom, maar hou die deksel op. Lig dit slegs vir ’n oomblik, indien nodig.
  6. Laat die filette vir 5-7 minute prut, tensy dit baie dik filette is. Toets dit ná 5 minute deur op die dikste deel te druk. Die vleis moenie heeltemal styf wees nie, dan is dit reeds te gaar. Dit moet nog effens sag wees in die middel en lekker sappig as jy dit sny, maar nie pienk nie.
  7. Sit warm voor met bykosse van jou keuse of gebruik die hoender in kosblikke. Laat die filette heeltemal afkoel, sny in kleiner stukkies of skyfies en pak met vars bestanddele, soos groente en avokado.

Mielie-en-lensiekoekies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1

Lewer 30 klein koekies

Bestanddele

  • ½ x 410 g-blik bruin lensies, deeglik gedreineer
  • 1 x 410 g-blik geroomde suikermielies
  • 250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 2,5 ml (½ t) bakpoeier
  • 1 ekstragroot Nulaid-eier, geklits
  • 125 ml (½ k) melk
  • 5 ml (1 t) gemaalde gemengde speserye
  • 30 ml (2 e) Westfalia-avokado-olie

Metode

  1. Meng al die bestanddele, behalwe die olie, saam in ’n groot mengbak.
  2. Verhit ’n dun lagie van die olie in ’n groot braaipan (’n AMC 24 of 28 cm Chef’s Pan werk goed). Skep lepelsvol van die beslag in die braaipan en braai aan weerskante tot goudbruin en gaar. Herhaal met die orige beslag en olie.
  3. Dreineer op kombuispapier en sit voor as ’n bygereg met hoender, vis of vleis. Die mielie-en-lensiekoekies is ook baie lekker in ’n kosblik.

Onthou om elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt te kyk vir nog sulke idees. Volg my op Facebook: www.facebook.com/HeleenMeyerFood vir elke week se wenke en resepte. Onthou dat my resepteboek, Maak vyf, ook nog tot einde vandeesweek teen ʼn spesiale prys op Maroela Media se e-winkel beskikbaar is.

Resensie: 50 Sop- en broodgeregte

$
0
0

Deur Louise Viljoen

Hier in die Viljoen-huishouding is sop en brood ons gunsteling hartskos. Ek kook minstens een maal per week ’n voedsame pot sop en druk ’n broodjie in die oond. Sop en brood maak nie net ons mae vol nie, maar dit bring ook ’n warmte in ons siele. Dis immers geselskos.

Wie kuier nou nie lekker om ’n bakkie sop en skaapwagtersnye varsgebakte brood nie? En die dag as ’n liederlike griepgogga jou beetkry, is daar min dinge wat so vertroostend is soos tuisgemaakte sop en brood.

Die 50 resepte in hierdie boek is almal wenners. Nie net is dit tydbesparend nie, dis boonop ekonomies ook. Hoe klink immergewilde boontjiesop, beesstertsop, lensiesop en pampoensop vir jou? Dan is daar ook kerrievissop, snoeksop, Hollandse vissop en romerige salm-en-mosselsop.

Ek gaan beslis die Skotse kragsop en die wildsvleissop probeer. Saam met die sop van jou keuse kan jy ’n karringmelk kruiebroodjie voorsit. Of wat van ’n maklike kaiingpotbrood, knoffel-en-tamatie focaccia en selfs ’n vars-uit-die-oond melkbrood?

Koop hierdie resepteboek. Jy gaan die resepte wil uittoets die oomblik as jy daardeur begin blaai. Ek het hoeka ’n pot ertjiesop op die stoof en ’n bruismeelbroodjie in die oond. Koebaai, wêreld!

Die boek word uitgegee deur LAPA Uitgewers
Prys: R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by 
Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

[Resep] Saterdagaand-ná-die-fliek-pasta

$
0
0

Saterdagaand-na-die-fliek-pasta (Foto: Verskaf)

“Mamma, ek is honger!” Woorde soos dié kom gewoonlik op ’n tyd soos Saterdagaand ná ’n laatmiddagfliek waartydens Gertruida haar springmielies binne die eerste vyf minute op die vloer laat beland en Cornelius te veel sout en asyn op syne gestrooi het. Jy weet daar is niks wat gaar is by die huis nie, want hulle sou mos versadig gewees het van die grote bak springmielies.

Die bestanddele in hierdie resep is óf items wat alles reeds in jou huis is, óf items wat jy vinnig op pad huis toe ná die fliek by jou plaaslike supermark kan koop voor dit om 20:00 toemaak. Jy slaan dit binne 20 minute aan mekaar terwyl die kinders bad en pajamas aantrek. Dis boonop goedkoop bestanddele, wat jy selfs ná ’n fliek sal kan bekostig, skryf ‘n  Maroela-leser.

Bestanddele 

  • ½ tot ¾ pak pasta van eie keuse
  • 1 groot ui, opgesny
  • ¾ pak gesnyde sampioene
  • ½ soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 pak (12) kaasworsies (of gerookte worsies van keuse)
  • 1 bottel sampioen-pastasous
  • 3 e fyn parmesaankaas (opsioneel)

Metode

  1. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak.
  2. Braai die ui in ’n groot pan in ’n bietjie olyfolie. Voeg die sampioene en soetrissie by en braai dit saam.
  3. Voeg die worsies by en braai tot ligbruin.
  4. Voeg die pastasous by en kook die mengsel vir ’n paar minute oor ’n lae hitte.
  5. Dreineer die pasta, en meng dit met die worsiemengsel in ’n groot bak. Strooi die parmesaankaas oor.

Resensie: Clover Gunsteling Suid-Afrikaanse Kos

$
0
0

Deur Louise Viljoen

Hierdie resepteboek bevat ʼn wonderlike verskeidenheid tradisionele kosgunstelinge wat die inheemse kulture van ons land se diverse kostradisies vier.

Dit is propvol ou bekende resepte wat jou mond laat water. Jy raak skoon nostalgies as jy deur die boek blaai en jou verlustig aan Elmarie Knapton se pragfoto’s van disse en gebak wat jy kén, want jou ma en ouma het dit voorgesit. Dis onthoukos. Hartskos. Staatmakerkos.

Bobotie, herderspastei, outydse hoenderpastei, bunny chow, viskoekies, romerige marog, toffiepatats, koekstruif… raak jy al lus?

Trek jou asem diep in en verbeel jou jy ruik die heerlike geure van goudbruin gebakte botterhoender, lamsboud in Amasi, gestoofde groenboontjies en paptert. Hoe klink Peppermint Crisp-tert, Indiese ryspoeding en boeber vir nagereg? Ek gaan beslis die liplekker roosterkoek maak wanneer manlief weer ‘n vleisie op die kole gooi. Loer gerus na die voorblad en jy sal sien hoekom.

Clover, ‘n gesogte handelsmerk in Suid-Afrika, se produkte is sinoniem met kwaliteit en smaak. Hulle gee jaarliks ‘n resepteboek uit wat watertandresepte bevat wat van Clover-produkte gemaak is. Marlo Kitshoff-Carstens het al 85 resepte in hierdie publikasie noukeurig getoets sodat jy met gerustheid na hartelus kan bak en brou.

‘n Persentasie van die resepteboek se verkope gaan aan die Clover Mama Afrika-projek. Lees hier meer oor die projek. https://www.clovermamaafrika.com/

Die boek word uitgegee deur LAPA Uitgewers
Prys: R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ʼn vryskutresensent van Jeffreysbaai.

[Video] Hap saam met Lochner: Marius se melktert

$
0
0

Lochner de Kock (Skermgreep uit die video)

Romerig, vinnig en maklik. Wat meer wil mens uit ʼn melktert hê?

Bestanddele:

Beslag

  • 1 k melk
  • 3 e mielieblom (Maizena)
  • botter
  • 1 eier
  • 1 liter melk
  • ¾ blikkie kondensmelk
  • 1 t vanieljegeursel
  • kaneel

Kors

  • gemmerkoekies
  • botter

Metode:

Beslag

  1. Meng melk, mielieblom, botter en eier saam in ʼn kastrol.
  2. Verhit 1 liter melk in aparte kastrol.
  3. Gooi kondensmelk daarin en bring tot kookpunt.
  4. Gooi vanielje by.
  5. Meng die bottermengsel stadig by die melkmengsel.
  6. Roer die mengsel op die stoof tot dik.

Kors

  1. Druk gemmerkoekies fyn en meng dit met botter om kors te vorm.

Plaas nou die kors in ʼn yskasbak en gooi melkmengsel daaroor. Gooi kaneel oor en plaas dit in die yskas tot gestol.

 

Kyk in die video hoeveel van elke bestanddeel Lochner byvoeg, en pas dit gerus aan volgens jou persoonlike behoeftes.

Hierdie video is deel van ʼn reeks kosvideo’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, vervaardig. Die video’s word weekliks op Maroela Media geplaas. Sien al die Hap saam met Lochner-video’s op Maroela Media. – Red.

[This post contains video, click to play]

[Resep] Lemoenkoek

$
0
0

Lemoenkoek (Foto: Lapa-uitgewers)

Dié koek gaan nié die einde van die naweek sien nie!

Lewer 12 porsies

Bestanddele:

  • 500 ml (2 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • knippie sout
  • 75 ml (5 e) Clover Farmstyle-botter
  • 125 ml (½ k) Clover-volroommelk
  • 4 eiers, geskei
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 125 ml (½ k) Clover Krush-lemoensap

Versiersel

  • 75 ml (5 e) Clover Farmstyle-botter
  • 250 ml (1 k) versiersuiker
  • 30 ml (2 e) Clover Krush-lemoensap

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ʼn ringkoekpan met ʼn deursnee van 26 cm goed met botter. Strooi ʼn bietjie koekmeel in die pan en skud die oortollige meel uit.
  2. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
  3. Verhit die botter en melk saam oor lae hitte tot warm maar nie kokend nie.
  4. Klits die eierwitte styf en klits die strooisuiker geleidelik by.
  5. Gooi die eiergele by en klits tot die mengsel lig en donserig is.
  6. Roer die meelmengsel en melkmengsel beurtelings by die eiermengsel.
  7. Voeg die lemoensap by en roer tot glad.
  8. Skep die beslag in die voorbereide pan en bak dit 30 minute lank of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
  9. Laat die koek vir 15 minute in die pan afkoel en keer dit dan op ʼn afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel. Plaas dit op ʼn geskikte koekstaander.
  10. Klits die botter tot liggeel. Klits die versiersuiker geleidelik by. Voeg die lemoensap by wanneer die versiersuiker styf word. Hou aan klits tot die versiersuiker sag en romerig is.
  11. Versier die koek na smaak.
  • Bron: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos
  • UitgewerLapa

[Resep] Tunatert

$
0
0

Foto: g01.s.alicdn.com

Maroela Media-leser Johan se tunatert is maklik en vinnig, en jy kan dit sommer in een bak meng. Boonop is die bestanddele nie volksvreemd nie, en die meeste mense het dit reeds in hul koskaste. Van begin tot einde behoort hierdie tert nie meer as ʼn halfuur te neem nie.

Bestanddele

  • 2 pakke kaas-en-uie Simba-skyfies
  • 2 eiers
  • 2 e mayonnaise
  • 2 e blatjang
  • 2 blikkies tuna
  • 1 middelslag-ui
  • 1 e kookolie
  • gerasperde kaas

Metode

  1. Druk die skyfies fyn in die pak en gooi in oondpan.
  2. Breek eiers in.
  3. Meng mayonnaise en blatjang by.
  4. Ontwater tuna en meng by.
  5. Soteer ui liggies in olie tot glaserig en voeg by mengsel.
  6. Maak mengsel gelyk in die pan (+/- 1 cm dik).
  7. Strooi gerasperde kaas oor.
  8. Bak in matige oond vir ongeveer 10-20 minute (tot die kaas gesmelt is).
  9. Haal uit en laat afkoel. Sny in blokkies.

Heerlik saam met beetslaai of enige ander slaai.

[Resep] Pannekoeke met volkoringmeel

$
0
0

Pannekoeke met koringmeel (Foto: Verskaf)

Pannekoeke is so deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur soos ʼn basaar, kermis of fondsinsameling – en tog eet elkeen ʼn pannekoek op ʼn ander manier. Meeste mense ken dit net met kaneelsuiker en hou nie eens van ʼn skeut suurlemoensap daarmee saam nie, of het dit nog nooit so geëet nie. Ander geniet ʼn pannekoek met feitlik enige vulsel, van maalvleis, tot piesang en kaas of roomys en sjokoladesous.

Vir hierdie pannekoekresep gebruik ek steengemaalde volgraanmeel. Dit gee die pannekoek ʼn heerlike neuterige smaak en interessante tekstuur. Die resep het ook heelwat eiers in, wat herinner aan ʼn Franse crêpe-styl pannekoek met ʼn ryker smaak. Die beslag bak baie maklik as gevolg van die ekstra eiers. Jy kan papierdun pannekoekies bak en daar is nie bakpoeier nodig nie want dit kan soms nogal ʼn nasmaak in jou mond (of agter jou tande) laat. Daar is twee heerlike idees vir pannekoekvulsels as deel van die resep.

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 12 – 15 pannekoeke

Pannekoeke met volkoringmeel

Bestanddele:

  • 250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 2 ml sout
  • 3 ekstragroot Nulaid-eiers, geklits
  • 50 ml olie
  • 325 ml melk
  • 75 ml (5 e) koue water
  • olie om pan te smeer

Metode:

  1. Meng meel en sout in ’n glasbak saam. Klits eiers en olie saam en meng met die droë bestanddele tot ’n gladde pasta vorm.
  2. Klits melk en water saam en roer geleidelik by die meelmengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Klits deeglik na elke byvoeging. Moenie al die vloeistof op een slag byvoeg nie – dit sal te maklik klonte vorm.
  3. Verhit ’n pan van 20 cm (’n AMC 20 cm Skillet of 24 cm Chef’s Pan werk goed) oor matige hitte en smeer die bodem met ’n klein bietjie olie. Giet sowat 60 ml beslag in die pan en versprei dit eweredig oor die bodem.
  4. Bak die pannekoek tot dit bo-op stol, van die rand begin wegtrek en die onderkant goudbruin is. Draai om en bak vir nog ’n minuut aan die ander kant. ’n Pannekoek wat te lank gebak het, word rubberig en taai. Herhaal met die res van die beslag en ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.
  5. Sit pannekoeke voor met ʼn soutvulsel, byvoorbeeld tuna en maaskaas (sien wenk*), of met ’n soetvulsel van jou keuse (sien die resep met appels, dadels en neute). Pannekoeke is ook natuurlik heerlik met kaneelsuiker en suurlemoenwiggies.

Wenke:

  1. *Tuna-en-maaskaasvulsel: Meng 125 ml (½ k) ongegeurde gladde maaskaas, 10 ml (2 t) aangemaakte mosterd of peperwortelsous, 15 ml (1 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of grasuie en 1 x 170 g-blik tuna in water, gedreineer. Geur met suurlemoensap, sout en peper. Plaas vars bestanddele, soos roket-, of bronkorsblare, grofgerasperde wortel en komkommerlinte (met ’n aartappelskiller gesny) op elke pannekoek. Skep tunamengsel bo-op en rol die pannekoek op of vou dit toe. Pak in ’n kosblik of sit teen kamertemperatuur voor.
  2. Om pannekoeke warm te hou: Plaas pannekoeke op ’n groot bord en bedek met ’n deksel of stuk foelie. Hou dit warm oor ’n kastrol met liggies pruttende water terwyl die res gebak word.

Appels met dadels en neute

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer ongeveer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) fyn klapper
  • 30 ml (2 e) rou hawermout
  • 60 ml (¼ k) gekapte rou amandels
  • 30 ml (2 e) gekapte dadels
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • knippie gemaalde kruienaeltjies
  • 4-6 (400-600 g) Pink Lady®-appels met die skil, in dun wiggies gesny
  • 15 ml (1 e) sagte botter
  • 125 ml (½ k) sterk rooibostee
  • 175 ml ongegeurde of Griekse jogurt

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Meng die klapper, hawermout, neute, dadels en speserye saam tot goed gemeng.
  2. Plaas appels in ’n oondbak, strooi klappermengsel bo-oor. Plaas klontjies botter bo-op en giet die tee oor.
  3. Bak vir 15-20 minute of tot die appels net gaar is – meng een keer deur, indien nodig.
  4. Skep die appelmengsel met die jogurt op pannekoeke, rol op en geniet as ’n soet bederf.

Lees gerus die wenke wat ek in my blog op www.heleenmeyer.co.za gee om pannekoeke so suksesvol as moontlik te bak. En kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 vir nog heerlike resepte. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood vir nog wenke en resepte om gesond en lekker te eet.

[Resep] Outydse hoenderpastei

$
0
0

Outydse hoenderpastei (Foto: Lapa-uitgewers)

Daar is mos niks so lekker soos ʼn geurige hoenderpastei nie!

Lewer 8 porsies

Bestanddele:

  • 2 hoenders (ongeveer 3 kg in totaaI)
  • 5 ml sout
  • 2 takkies vars pietersielie
  • 8 koljanderkorrels
  • 4 swartpeperkorrels
  • 6 kruienaeltjies
  • 3 lourierblare
  • 45 ml (3 e) witasyn
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 klein wortels, geskil en in skyfies gesny
  • 750 (3 k) water

Sous

  • 45 ml (3 e) Clover Mooi River-botter
  • 45 ml (3 e) koekmeel
  • 500 ml (2 k) hoenderaftreksel
  • sout en peper na smaak
  • 125 ml ( ½ k) Clover- vars room
  • 400 g (1 rol) gekoopte skilferkorsdeeg

Metode:

  1. Plaas die hoender, sout, pietersielie, koljander, peperkorrels, naeltjies, lourierblare, witasyn, uie, wortels en water saam in ʼn groot genoeg kastrol.
  2. Laat prut die hoender tot gaar – ongeveer 2 uur lank. Laat dit effens afkoel en haal die hoender uit die aftreksel. Giet die aftreksel deur ʼn sif en hou dit eenkant. Hou die uie en wortels eenkant.
  3. Vlok die hoender. Knip een hoenderboudjie se vel fyn en voeg die hoendervel by die gevlokte hoender. Voeg ook die uie en wortels daarby.
  4. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ʼn groot genoeg oondvaste bak met botter. Skep die hoendermengsel in die voorbereide bak.
  5. Smelt die botter in ʼn kastrol en roer die koekmeel by. Roer die hoenderaftreksel geleidelik by en laat prut tot die sous verdik het. Geur dit na smaak met sout en peper.
  6. Verwyder dit van die hitte en roer die room by. Giet die sous oor die hoendermengsel.
  7. Rol die skilferkorsdeeg bo-oor die hoendermengsel oop. Verf ʼn bietjie water op die oondbak se rand en druk die skilferkorsdeeg op die rand vas. Sny die rand netjies. Sny ʼn paar gaatjies in die deeg vir stoom om te ontsnap.
  8. Bak die pastei 15 minute lank teen 200 °C. Stel die oondtemperatuur af na 180 °C en bak dit nog 15 minute of tot liggoudbruin bo-op.
  • Bron: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos
  • UitgewerLapa

Boek-resensie: Smeul

$
0
0

Deur Louise Viljoen

Drie vroue, een kombuis. Hierdie is nie ‘n geval van “too many cooks spoil the broth” nie. Inteendeel, dié drie vriendinne, ‘n skrywer, bemarker en radioloog, kook saam dat die stoom trek.

Riana Scheepers, Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz het hulle kookvernuf en ander talente saamgesnoer en Smeul, ‘n kookboek met 110 trefferresepte, is die spogproduk wat monde laat water.

Die versameling resepte bevat opgekikkerde gunstelinge plus heelwat heerlike nuutskeppinge wat die smaakkliere laat bokspring. Die formidabele driemanskap het self gesorg vir die resep-ontwikkeling, stilering, fotografie en teks wat van Smeul so ‘n besondere resepteboek maak.

Die resepte is in vier afdelings opgedeel, naamlik Weergalose Weskus; Karooland, hartland; Diep, diep in die donker woud; en Sprokie vir ‘n stadskind. Die resepte verskyn aan die regterkant met die volbladfoto’s aan die linkerkant.

Ek het Smeul van die rak afgehaal want ek was op soek na ‘n resep vir biltongpatee. Toe ek my weer kon kry, was dit twee ure later. Die pragfoto’s is verleidelik en maak jou honger én lus. Die groot verskeidenheid resepte van oor die aardbol smeek om beproef te word. Dis egter die teks wat in sprankelende harts-Afrikaans geskryf is deur vroue wat kán, wat soos ‘n sagte karos oor my skouer kom lê het en ek het my skaamteloos verlustig aan hulle geselsies en vertellinge oor kos.

Smeul sorg vir weergalose gastronomiese ervarings vir dié wie se harte deur hulle mae loop. Jy trek jou voorskoot aan en loer oor die baasbaksters- en kokke se skouers terwyl jy leer botter karring en wors stop.

Hoe klink bolmakiesiepastei, nastergalkaaskoek, krapkerrie, Alpesoufflé en raita vir jou? Dalk voel jy na karamelkwepers met kaneel en tiemie, botterskorsie-en-soetpatatsop met grondboontjiebotter, murgpampoentjielinte met gerookte mossels en fillowiele met patat, kaviaar en suurroom. Indien al hierdie te eksoties na jou smaak is, kan jy steeds die lekkerste viskoekies, gestopte springbokboud, vrugtekoek en varktjops met heuning en bier probeer. My persoonlike gunstelinge is natuurlik pampoenkoekies, kruisementsjokoladepoeding en dik ertjiesop met gerookte varkskenkel.

Smeul is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word.

Uitgewers: LAPA Uitgewers
Prys: R300-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

[Resep] Gebakte ryspoeding

$
0
0

Gebakte ryspoeding (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie ryspoeding se vanielje-, kaneel- en suurlemoengeure is soos iets uit ʼn droom.

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • ½ k (95 g) rosyntjies
  • ¼ k (60 ml) Clover Krush-lemoensap, verhit
  • 2 k (500 ml) Clover Mmmilk-volroommelk, vanieljegeur
  • 1 k (250 ml) Clover-room
  • 1 kaneelstokkie
  • 1 vanieljepeul, gehalveer en pitjies uitgekrap
  • ½ t (2 ml) neutmuskaat
  • 1 e (15 ml) suurlemoenskil
  • ½ k (90 g) mediumkorrel-poedingrys, afgespoel en gedreineer
  • ½ k (105 g) strooisuiker
  • 2 eiergele, geklits

Metode:

  1. Week die rosyntjies vir 30 minute in die lemoensap, dreineer en hou eenkant.
  2. Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer ʼn 1 liter-oondbak of ses
  3. Meng die melk, room, kaneelstokkie, vanieljepeul en -pitjies, neutmuskaat en suurlemoenskil in ‘n kastrol.
  4. Verhit stadig tot kookpunt en verwyder van die hitte. Laat vir 15 minute staan sodat die geure kan vermeng.
  5. Verwyder die kaneelstokkie, vanieljepeul en suurlemoenskil. Roer die rys deur en kook oor matige hitte vir 15 minute. Verwyder van die hitte en roer die suiker, rosyntjies en eiergele deur.
  6. Skep die rysmengsel in die voorbereide oondbak of ramekins en strooi ‘n bietjie neutmuskaat oor.
  7. Plaas die poeding in ‘n bakskottel en vul die skottel met water tot twee-derdes vol. Bak vir 45 tot 55 minute (oondbak) of 20 tot 25 minute (ramekins), of tot die rys sag en die poeding gestol is.
  8. Verwyder uit die oond, strooi ʼn bietjie strooisuiker en kaneel oor.
  9. Laat vir 10 minute rus en sit voor.
  • BronGunsteling Poedings
  • UitgewerLapa

[Resep] Soetkoekies

$
0
0

Soetkoekies (Foto: Lapa-uitgewers)

Jou kombuis sal ruik soos gemmer, kaneel en naeltjies – soos in die ou dae!

Bestanddele:

  • 500 g koekmeel
  • 2 ml sout
  • 5 ml fyn kaneel
  • 5 ml fyn kruienaeltjies
  • 5 ml fyn gemmer
  • 375 ml bruinsuiker
  • 125 g margarien
  • 30 ml skaapvet
  • 5 ml koeksoda
  • 25 ml louwarm water
  • 1 eier, geklits

Metode:

  1. Sif die meel sout en speserye saam voordat jy die suiker byvoeg.
  2. Vryf die margarien en skaapvet by die meel in tot dit soos fyn broodkrummels Iyk.
  3. Los die koeksoda in Iouwarm water op en voeg die eier by.
  4. Vorm ʼn deeg deur die eiermengsel met die meelmengsel te meng en knie deeglik. Laat die deeg oornag rus.
  5. Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ʼn bakplaat.
  6. Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak tot 5 mm dik.
  7. Druk sirkels met ʼn glas uit, rangskik op die voorbereide bakplaat en bak vir 10 minute.
  8. Laat vir 2 minute afkoel voordat jy dit op draadrakkies oorplaas om heeltemal af te koel.

 

  • Bronʼn Lewe met kos
  • UitgewerLapa

[Resep] Koeskoes en botterskorsie

$
0
0

Koeskoes en botterskorsie (Foto: Lapa-uitgewers)

Die resep is perfek vir ʼn ligte ete óf as bykos saam met braaivleis.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 1 kg botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 30 ml (2 e) olie
  • 2,5 ml (½ t) fyn kaneel
  • knypie sout
  • 60 ml (4 e) strooisuiker
  • bietjie olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 15 ml (1 e) gekapte vars pietersielie
  • 4 grasuie, fyngekap
  • 125 ml (½ k) sultanas
  • 100 g (1 pakkie) gevlokte amandels
  • 100 g (1 pakkie) pekanneute, grofgekap

Koeskoes

  • 500 g (1 pakkie) koeskoes
  • 2,5 ml (½ t) fyn kaneel
  • knypie borrie
  • 500 ml (2 k) kokende hoenderaftreksel
  • 20 ml (4 t) botter

Metode:

Stel oond op 180 °C.

  1. Plaas botterskorsie in oondpan en sprinkel olie bo-oor. Meng goed. Bak vir 20 minute of tot botterskorsie net sag is.
  2. Sprinkel kaneel, sout en strooisuiker bo-oor sodra botterskorsie uit oond kom. Roer liggies deur.
  3. Verhit olie en soteer ui daarin tot net sag. Voeg soetrissie by en soteer nog bietjie.
  4. Voeg pietersielie, grasuie, sultanas, amandels en neute by. Soteer nog bietjie.
  5. Verwyder van hitte en roer by botterskorsie.

Koeskoes

  1. Roer koeskoes, kaneel en borrie by kokende aftreksel en laat vir ongeveer 10 minute staan tot koeskoes uitgeswel is.
  2. Voeg botter by en roer met vurk tot korreltjies los van mekaar is.
  3. Skep koeskoes in geskikte opdienbak en skep botterskorsiemengsel bo-op. Sit louwarm voor.

 

  • BronVinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3
  • UitgewerLapa

[Resep] Hoender-en-gortsop

$
0
0

Hoender-en-gortsop en volkoringdrupskons met Pink Lady®-appels (Foto: Verskaf)

Hier is twee resepte waarvan jou gesin beslis baie gaan hou. Hoendersop is mos kos vir liggaam en siel en as dit boonop lekker dik, vullend en voedsaam is, soveel te beter. Die kombinasie van groente, gort en hoender is baie lekker en dis sommer klaar ’n ete-in-een – perfek vir ’n koue aand.

Die skonsresep is eintlik ’n drupskons waarvan die deeg sommer met ’n lepel op die bakplaat geskep word. Jy hoef nie te sukkel met ’n meer delikate deeg wat uitgerol en uitgedruk moet word nie. Die karringmelk in die resep gee dit ’n baie lekker smaak en tekstuur en om dit so ʼn bietjie anders te maak, is daar blokkies vars appel in die deeg wat dit ’n heerlike soet smaak gee. Sit die skons warm uit die oond met ’n smeerseltjie botter en gerasperde wit cheddarkaas voor en bederf almal met die lekker gebakkies.

Resep uit Cooking from the Heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 20 ml (4 t) olyf- of avokado-olie
  • 3 hoenderborsies aan die been, vel en oortollige vet verwyder
  • 2 uie, gekap
  • 4 wortels, geskil en in blokkies gesny
  • 4 selderystingels met die blare, gekap
  • 4 murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 2 liter (8 k) sterk rooibostee
  • 250 ml (1 k) water
  • 5 takkies vars roosmaryn
  • 2 lourierblare
  • 250 ml (1 k) rou gort
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 45 ml (3 e) gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (’n AMC 24 cm High is ʼn lekker grootte). Braai hoender tot goudbruin, maar nie gaar nie. Skep uit.
  2. Soteer die uie, wortels, seldery en murgpampoentjies in dieselfde kastrol tot verbruin.
  3. Voeg hoender, tee, water, roosmaryn, lourierblare, gort en sout by. Verlaag die hitte. Prut met ’n deksel vir 20 minute of tot die hoender gaar is.
  4. Skep hoender uit. Prut die sop vir nog 40-45 minute of tot die gort sag is.
  5. Ontbeen die hoender en sny die vleis in kleiner stukkies. Roer die hoender weer by die sop sodra die gort gaar is. Geur na smaak met suurlemoensap en peper.
  6. Roer pietersielie by en sit warm voor.

Wenk

Avokado sal lekker saam met die sop wees, veral as jy brood as bykomstigheid by die sop probeer vermy

Volkoringdrupskons met Pink Lady®-appels

Lewer 12 groot of 15-20 kleiner skons

Bestanddele:

  • 560 ml (2¼ k) steengemaalde volkoringmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 60 ml (60 g) koue botter, in blokkies gesny
  • 1 Pink Lady®-appel met die skil, in klein blokkies gesny
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 250 ml (1 k) karringmelk
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 200 °C. Voer twee bakplate met bakpapier uit. Strooi ’n bietjie ekstra meel oor die bakpapier.
  2. Plaas die droë bestanddele in ’n groot mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte of met ’n deegsnyer in tot dit soos broodkrummels lyk. Roer die appel by die meelmengsel.
  3. Klits die eiers, karringmelk en vanieljegeursel saam in ’n aparte mengbak.
  4. Giet die vloeistof by die meelmengsel en sny met ’n mes in tot daar nie meer droë bestanddele sigbaar is nie, maar moenie te veel meng nie.
  5. Skep lepelsvol van die beslag op die bakplate. Bak vir 20-25 minute tot goudbruin en gaar.
  6. Sit warm of teen kamertemperatuur met gerasperde wit cheddarkaas voor.

Daar is elke Maandagoggend nog maklike en gesonde resepte vir die hele gesin op #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144. Of volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die skakel na elke week se resepte te kry. Of gaan loer op haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir daardie en vele ander smullekker idees.

Haar resepteboek, Maak vyf is ook op Maroela Media se e-winkel by https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

[Resep] Lemoen-soentjies

$
0
0

Lemoen-soentjies (Foto: Lapa-uitgewers)

Bederf die vrou in jou lewe met dié lekker soentjies. Genoeg vir ongeveer 30

Bestanddele:

  • 250 g sagte Clover Mooi River-botter
  • ½ k (55 g) versiersuiker, gesif
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel
  • 1 ¾ k (245 g) koekmeel
  • ¼ k (30 g) vlapoeier
  • 2 e (30 ml) mielieblom

Vulsel

  • ¼ k (60 g) Clover Mooi River-botter, by kamertemperatuur
  • skil van 1 lemoen, fyn gerasper
  • ¾ k (100 g) versiersuiker, gesif
  • 2 e (30 ml) vlapoeier

 

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer ’n bakplaat.
  2. Room die botter, versiersuiker en vanieljegeursel tot lig en romerig.
  3. Sif die meel, vlapoeier en mielieblom saam en roer by die bottermengsel tot net gemeng.
  4. Vorm die deeg met meelbestrooide hande in klein balletjies en rangskik 4 cm uitmekaar op die bakplaat
  5. Doop ’n vurk in meel en druk die balletjies daarmee platter tot ongeveer 1 cm dik.
  6. Bak 10 tot 12 minute of tot deurgaar.
  7. Laat op ’n afkoelrakkie afkoel.

Maak die vulsel

  1. Klits die botter en lemoenskil saam tot lig en romerig.
  2. Voeg die versiersuiker en vlapoeier by en meng deur.
  3. Verkoel tot benodig.
  4. Plak die koekies twee-twee op mekaar met die vulsel.

 

BronLekker en vinnig 7: Trooskos

UitgewerLapa

[Video] Hap saam met Lochner: Dakpastei

$
0
0

Lochner de Kock (Foto: Skermgreep uit die video)

In hierdie week se episode van Hap berei Lochner ʼn lekker tradisionele dis voor waaroor ons Suid-Afrikaners mal is!

Bestanddele:

  • Olyfolie
  • Wortels, gerasper
  • Sojasous
  • Uie
  • Mielies
  • Ertjies
  • Speserye
  • Maalvleis
  • Lourierblare
  • Aartappels, saggekook en gesny
  • Knoffel
  • Botter
  • Neutmuskaat
  • Kaas, gerasper

Metode:

  1. Verhit ʼn pan op die stoof en gooi bietjie olyfolie in.
  2. Braai mielies, ertjies en uie saam in die pan.
  3. Meng sojasous met wortels, en gooi dit ook in die pan. Braai die mengsel ʼn paar minute saam.
  4. Gooi nou die maalvleis en lourierblare in die pan en braai vir ongeveer 10 minute tot bruin.
  5. Haal lourierblare uit en skep die maalvleismengsel in ʼn pan met olie in.
  6. Sit ʼn paar stukkies vars knoffel op die maalvleismengsel.
  7. Pak nou die aartappels bo-op die maalvleismengsel om die pastei se “dak” te vorm.
  8. Sit klontjies botter bo-op die aartappel, rasper neutmuskaat oor en sprinkel met kaas.
  9. Bak die pastei tot die kaas gesmelt is.
  10. Sit dadelik voor en geniet!

Sien gerus in die video hoeveel van elke bestanddeel Lochner byvoeg, en pas dit gerus aan volgens jou persoonlike behoeftes.

Hierdie video is deel van ʼn reeks kosvideo’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, vervaardig. Die video’s word weekliks op Maroela Media gepubliseer. Sien al die Hap saam met Lochner-video’s op Maroela Media. -Red

Kyk hier hoe Lochner hierdie resep voorberei:

[This post contains video, click to play]

[Resep] Krummelpap en sous uit die mikrogolf

$
0
0

Foto: http://www.rainbowcooking.co.nz/

Maroela Media-leser Herman skryf: “Dit is geen gewone resep soos uit ’n resepteboek dié nie, en dit maak ruim voorsiening vir, soos ouma Joey dit gereeld gestel het, ‘van soveel gijt wil’.

“Min dinge is so lekker soos om vroegoggend in die winter by die kombuis van ’n Vrystaatse plaashuis in te stap en daai heerlike geur van die krummelpap te kry wat op die aga gaar word. Maar nie almal het ’n aga nie, en ook nie die tyd nie.

“Net so kan nie almal die sous op die braaivleisvuur in ’n driepootpot maak soos kommandeur Dirk Visser destyds by ons werkgeleenthede nie.

“Maar ’n mens kan baie naby daaraan kom met ’n mikrogolfoond.”

Bestanddele:

Pap

  • water
  • sout
  • mieliemeel

Sous

  • 1 ui
  • olie
  • 2 tamaties
  • sojasous of worcestersous
  • tamatiesous
  • blatjang
  • water
  • tamatiepoeier

Metode:

  1. Kook solank ’n bietjie water. Gooi ’n klompie sout – soveel gijt wil, in ’n glasbak. Gooi dan ’n klompie kookwater oor die sout. Die hoeveelheid kookwater sal afhang van hoeveel pap jy wil maak.
  2. Gooi dan die mieliemeel op die water, en roer dit. As jy dan reeds krummels kan bewerkstellig, weet jy dat jy die mengsel presies reg het. Maar as dit nog te slap is, moenie jou bekommer nie. As dit te styf is, gooi nog bietjies van die kookwater by.

Wenk: ’n Houtlepel se steel maak ’n gawe roerstok uit.

  1. Plaas in die mikrogolfoond en stel dit vir drie minute op hoog.
  2. Haal uit en roer weer. Die krummels behoort nou min of meer reg te vorm.
  3. Plaas terug in die mikrogolf vir so twee en ’n half minute, roer weer, en sluit weer af met so twee en ’n half minute in die mikrogolf. Roer nou tot die korrels die regte grootte het wat jy verkies.
  4. Eet met melk en suiker vir ontbyt.

Sous

  1. Kerf ’n ui in die bak waarin die sous gemaak word. Gooi ’n bietjie kookolie by en laat dit vir minstens ’n minuut in die mikrogolf “braai”.
  2. Kerf intussen ’n tamatie of twee en voeg sout by. Gooi ook ʼn bietjie sojasous of worcestersous, ʼn bietjie tamatiesous en ’n bietjie blatjang by.
  3. Voeg dit by die ui, en meng. Laat dit vir ’n minuut of twee kook.
  4. Voeg water by, soveel gijt wil, en tamatiepoeier, ook soveel gijt wil. Die hoeveelheid hang maar af van hoe dik jy die sous wil maak.

Wenk: ’n Mens kan allerlei dinge byvoeg, soos sampioene, of ’n groenmielie se pitte afstroop en saam met die sous gaarmaak, maar dis opsioneel. Die sampioene werk beter as ’n mens dit eers apart in botter gaarmaak, en dan die sampioene met die sousie wat gevorm het, in die mengsel gooi.

  1. Kook tot ’n mens seker is die sous is gaar, en dat dit min of meer die regte dikte het.
  2. Skep van die pap in die bord of bak, en gooi soveel gijt wil van die sous oor die pap.
  3. Eet en geniet. Dis nie die plaas en die aga se gelyke nie, maar jollie naby, en so kan ’n mens in die middel van ’n stad met ’n mikrogolf darem ook soos ’n koning eet.

[Boek] Boerekos met ‘n twist

$
0
0

In Boerekos met ’n twist gee Annelien Pienaar ’n kwyllekker kinkel aan die eenvoudige, voedsame huiskos wat jou ma, ouma en oumagrootjie gemaak het.

Elkeen van dié 140 familieresepte vir soppe, souse, groente-, vleis- en nageregte én gebak en spenstreffers is deeglik getoets, bevat g’n vreemde bestanddele nie en sit die “resep-met-’n-les”-konsep voort wat haar gelyknamige blog en Facebook-blad so ’n ongekende sosialemediasukses maak. Tussendeur help sy lesers om basiese kombuisvaardighede onder die knie te kry én sy deel nuttige raad, kortpaaie en plaasvervangers waarmee selfs groentjies vinniger, goedkoper en met meer selfvertroue vooruit sal boer in die kombuis.

As voedselwetenskaplike, kookskooleienaar, boervrou, werkende ma en blogger met haar vinger stewig op die pols van die volk weet Annelien presies wat kosmakers én -eters nou nodig het: ’n kompakte 21ste eeuse Kook en geniet vir besige mense.

Oor die outeur:
Annelien Pienaar, ’n voedselwetenskaplike, en haar man, Hanru, is pekanneutboere en eienaars van die gasteplaas Bos-en-Berg by Skeerpoort (naby Hartbeespoort) van waar sy haar kookskool en haar trefferblog, BoereKosTwist, bedryf.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R330-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live