Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all 2085 articles
Browse latest View live

[Resep] Bak-sommer-baie-koekies

$
0
0

(Foto: Lapa-uitgewers)

Almal sal van dié koekies hou.

Maak ongeveer 60 koekies

Bestanddele:

  • 625 ml (2½ k) koekmeel
  • knypie sout
  • 100 g (1 pakkie) pekanneute, grofgekap
  • 125 g (½ pakkie) dadels, fyngekap
  • 500 ml (2 k) graanvlokkies, effens fyner gedruk
  • 125 ml (½ k) fyn klapper
  • 125 ml (½ k) sultanas
  • 375 ml (1½ k) Rice Krispies
  • 200 9 sagte botter
  • 375 ml (1½ k) strooisuiker
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 3 ekstragroot eiers, geklits
  • 7,5 ml (1½ t) koeksoda
  • 60 ml (4 e) water

Metode:

  1. Stel oond op 180 °C.
  2. Sif koekmeel en sout. Meng neute, dadels, graanvlakkies, klapper, sultanas en Rice Krispies
  3. Room botter, suiker en vanieljegeursel tot
  4. Klits eiers by bottermengsel.
  5. Meng koeksoda en water en klits by bottermengsel.
  6. Meng bottermengsel by meelmengsel tot deeg vorm.
  7. Skep teelepelsvol deeg en rol in balletjies.
  8. Plaas op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
  9. Druk effens platter en bak vir 10 minute of tot goudbruin.

Bron: Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3

UitgewerLapa


Wat jy moet weet oor olyfolie

$
0
0

Die groen plakker dui aan dat die olyfolie aan standaarde voldoen (Foto: SA Olive)

Olyfolie is ʼn produk wat in byna enige gereg gebruik kan word. Dit maak ʼn lekker slaaisous, jy kan ʼn marinade daarvan maak én dit is maklik om daarmee te bak. Behalwe vir die gesondheidsvoordele van olyfolie bo ander soorte olie, is olyfolie ook ʼn gunsteling oor die unieke smaak.

Maroela Media het met Karien Bezuidenhout, bestuurder van SA Olive, gepraat oor alles wat verbruikers moet weet oor olyfolie.

Wanneer jy olyfolie koop

“Dit is belangrik om te weet dat daar verskillende soorte olyfolie is,” het Bezuidenhout gesê. “Daar is gewone olyfolie en ook olyfolie wat met ander saadolies gemeng is.”

Dan is daar ook die ekstra suiwer (extra virgin) olyfolie, wat die meeste gesondheidsvoordele inhou. “Die ekstra suiwer olyfolie kom teen ʼn hoër prys, maar jy kry die waarde daarvoor in gesondheidsvoordele.”

Wat beteken “ekstra suiwer” nou eintlik?

“Ekstra suiwer olyfolie is die olie wat direk uit die olyf gepers is. Ekstra suiwer olie moet die regte chemiese en smaakwaarde hê. Dit gaan deur ʼn proepaneel wat seker maak daar is geen defekte in die olie nie. SA Olive sit dan ʼn groen plakker op die bottel om te wys dat die olie voldoen aan die standaarde van ʼn ekstra suiwer olyfolie, en dat dit vars is vir die verbruiker om te gebruik.”

Wanneer jy olyfolie proe

Die gewenste smaak van olyfolie hang af van persoonlike voorkeure, meen Bezuidenhout. “ʼn Mens moet definitief die olyfgeure en aromas kry, maar daar is verkillende kategorieë en jy sal hou van die een wat jou persoonlike smaak pas. Delikate olyfolie is die aanvaarbaarste vir meeste mense, terwyl medium olyfolie ʼn sterk aroma en intense olyfolie ʼn bitter smaak vir gewone verbruikers het.”

Om te bepaal of olyfolie wel afgegaan het, is jou neus en mond jou beste maats.

“Wanneer olyfolie afgegaan het, is die eerste rooivlaggie dat dit sleg proe. Dit het dieselfde smaak as neute wat afgegaan het, dit is so ʼn bitter, frank smaak. Die tweede rooivlaggie is die reuk. Olyfolie wat sleg is, sal dieselfde reuk as ou of gemufte vrugte hê.”

Hoe om olyfolie te berg

Die behoorlike berging van olyfolie is baie belangrik, anders gaan jou olie vinnig sleg raak, sê Bezuidenhout. “Olyfolie is sensitief vir lig en vir lug. Stoor dit in ʼn donker glasbottel en hou die bottel styf toegedraai. Wanneer jy ʼn groot bottel olie koop, giet dit eerder oor in ʼn klein botteltjie om só die lug uit te hou,” sê sy.

“Moet ook nie jou olyfolie naby hitte berg nie. Mense gebruik dit gereeld naby die stoof, maar moet dit nie daar berg nie omdat die hitte nie goed is vir die olie nie. Sit dit weg in ʼn donker kas, weg van lig af.”

Olyfolie het ʼn raklewe van 18 tot 24 maande, maar wanneer jy die bottel oopgemaak het, moet jy dit verkieslik binne twee tot drie maande gebruik. Maak ook seker dat die olyfolie die groen plakker op het, om te verseker dit is top-kwaliteit.

[Resep] Ouma Ida se gemmerkoekies

$
0
0

Foto: Verskaf

“Dis my pa se ma, ouma Ida van Wyk, se resep wat sy altyd gemaak het vir high days and holidays. Sy is ongelukkig al oorlede. My ma het die resep by ouma Ida gekry, en ons drie dogters het dan vakansietye help bak daaraan om die koekieblikke vol te kry.” So skryf Maroela Media-leser Frieda Wassenaar oor haar gunsteling-familieresep.

Lewer baie koekies

Bestanddele:

  • 425 g margarien
  • 850 g gouestroop
  • 1 klein eier
  • 2 e (30ml) koeksoda, opgelos in ʼn bietjie melk
  • 4 k (1 000 ml) bruinsuiker
  • 6 k meel
  • 2 e (30 ml) kaneel
  • 3 e (45ml) fyn gemmer

Metode:

  1. Klop margarien en stroop baie goed saam.
  2. Klits eier en meng in margarienmengsel in.
  3. Voeg koeksoda-melkmengsel, suiker, meel, kaneel en gemmer by.
  4. Laat deeg oornag in die yskas.
  5. Haal net ’n bietjie deeg op ’n slag uit die yskas.
  6. Maak okkerneutgrootte balletjies (moenie plat druk nie). Sit koekies ver genoeg uitmekaar op bakplaat, want dit sprei nogal uit.
  7. Bak by 180 ⁰C vir 10 minute tot goed bruin.
  8. Maak koekies los terwyl dit warm is.

Wenk:

Hoe slapper die deeg, hoe brosser en lekkerder die koekies.

 

Stuur vir ons jóú familieresep hier.

ʼn Piekniekmandjie se moet-hê-item: Springmielies

$
0
0

ʼn Piekniek is altyd ʼn goeie idee, of dit ʼn romantiese ete op die sitkamervloer, ʼn Sondagmiddag in die parkie saam met die kinders, óf ʼn aand van flieks by Maroela Media se buitebioskoop is, dit is iets wat almal geniet – oud en jonk!

Dit is wel noodsaaklik om ʼn lekker piekniekmandjie te pak wat ietsie vir almal inhou. Een item waarsonder ʼn piekniekmandjie nie kan klaarkom nie, is springmielies. Springmielies is maklik, moeiteloos, én jy kan dit op baie verskillende maniere voorberei.

Volg hierdie resep om jou springmielies elke keer perfek te maak, en vertel ons wat jou gunstelingmanier is om springmielies te eet. Een gelukkige piekniek-liefhebber kan twee kaartjies na Maroela Media se buitebioskoop op 16 September wen.

Vir meer inligting oor Maroela Media se buitebioskoop kliek hier.

[Resep] Perfekte springmielies elke keer

Bestanddele:

  • ¼ k olie
  • ⅔ k springmielies
  • sout/versiersuiker

Metode:

  1. Gooi olie in ʼn kastrol en plaas op ʼn stoofplaat by medium tot hoë hitte.
  2. Gooi dadelik drie mieliepitte in die kastrol.
  3. Hou die kastrol toe tot jy hoor al drie mieliepitte het gespring.
  4. Haal nou die drie springmielies uit en gooi die res van die pitte in (dit moet die bodem van die kastrol bedek).
  5. Maak die kastrol se deksel toe en verwyder vir 30 sekondes van die hitte.
  6. Sit die kastrol terug op die hitte en laat al die mielies spring.
  7. Luister vir wanneer die springgeluide minder raak. Wanneer jy tot 10 kan tel tussen springgeluide, weet jy jy kan die kastrol afhaal.
  8. Haal die deksel af en gooi sout of versiersuiker oor, gooi dit dan in ’n roomysbak en bedien almal op jou piekniekkombers!

[Resep] Aartappelslaai

$
0
0

Aartappelslaai (Foto: Lapa-uitgewers)

Heerlike aartappelslaai om saam met die naweek se braaivleis te geniet!

Maak 6 porsies

Bestanddele:

  • 6 groot aartappels
  • 1 ui, baie fyn gekap
  • 4 agurkies, baie fyn gekap
  • 500 ml (2 k) mayonnaise
  • 187 ml (¾ k) kondensmelk
  • 5 ml (1 t) witasyn
  • knypie sout
  • 6 grasuie, gekap

Metode:

  1. Kook aartappels in water met genoeg sout tot mes se punt gemaklik daardeur kan steek.
  2. Dreineer en laat aartappels afkoel.
  3. Trek skille af en sny in blokkies.
  4. Meng ui, agurkies, mayonnaise, kondensmelk, asyn en sout, en roer by aartappels.
  5. Sit koud saam met gekapte grasuie voor.

Wenk:

Kondensmelk kan ook met 125 ml (½ k) strooisuiker vervang word. Roer strooisuiker by mayonnaise, laat ’n bietjie staan tot suiker opgelos is en meng goed.

BronVinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3
UitgewerLapa

[Resep] Koeskoesslaai met kaas en vrugte

$
0
0

(Foto: Lapa-uitgewers)

Perfek vir die warm weer!

Lewer 4 tot 6 porsies

Bestanddele

  • 375 ml (1½ k) appelsap
  • knippie fyn kaneel
  • 250 ml (1 k) koeskoes
  • 60 ml (4 e) avokado-olie
  • 100 g (1 pakkie) pekanneute, grofgekap
  • 8 gedroogde pere, fyngekap
  • 125 ml (½ k) granaatpitte (opsioneel)
  • 125 ml (½ k) vars bloubessies
  • 250 g (1 pakkie) aarbeie, gehalveer
  • 2 skywe fetakaas, in blokkies gesny
  • 15 ml (1 e) gekapte vars pietersielie
  • 2 grasuie, gekap

Metode

  1. Verhit appelsap en kaneel in kastrol tot kookpunt.
  2. Verwyder kastrol van hitte. Voeg koeskoes by en laat staan vir 10 minute.
  3. Roer koeskoes met vurk deur tot los van mekaar. Roer olie by en laat verder afkoel.
  4. Voeg oorblywende bestanddele by en roer liggies deur.

Bron: Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3

UitgewerLapa

[Resep] Koringslaai met mielies en lensies

$
0
0

Foto: Verskaf

Hierdie koringslaai-resep het ek al verskeie kere vir mense aangestuur. Elke keer wanneer iemand dit proe, wil hulle graag die resep hê. Dis heerlik as interessante styselgereg vir ’n braaivleis-ete of geroosterde hoender, en ook ’n alternatief vir die tipiese aartappelslaai. Maak dit sommer die dag vantevore, want die volgende dag is dit selfs nog lekkerder as al die geure ontwikkel het. Die Marokkaanse geure met suurlemoen, kaneel, komyn, kruisement- en koljanderblare is regtig lekker.

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml (200 g) rou stampkoring
  • 1 heel kaneelstokkie
  • 750 ml (3 k) water
  • ’n knippie sout
  • 250 ml (1 k) bevrore of geblikte heelpitmielies, deeglik gedreineer
  • 1 x 410 g-blik lensies, gedreineer en afgespoel
  • 10 sagte (Turkse) gedroogde appelkose, in klein blokkies gesny
  • 75 ml (5 e) sultanas
  • 75 ml (5 e) sonneblomsaad, gerooster
  • 30-45 ml (2-3 e) elk grofgekapte vars koljander- en kruisementblare

Slaaisous

  • 125 ml (½ k) avokado- of olyfolie
  • 25 ml (5 t) appel- of witdruiweasyn
  • 40 ml (8 t) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 7,5 ml (½ e) gemaalde komyn
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
  • 40 ml (8 t) gekapte vars koljanderblare
  • 20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare
  • sout en peper na smaak

Metode:

  1. Plaas stampkoring met kaneelstokkie, water en sout in ’n kastrol (’n AMC 20 cm Low is groot genoeg) en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut 30-40 minute met die deksel of tot net sag.
  2. Dreineer in ’n sif of vergiettes, spoel af met koue water en laat vir ’n paar minute afdrup. Skep in ’n groot mengbak en laat afkoel.
  3. Slaaisous: Klits intussen al die bestanddele saam en geur na smaak.
  4. Meng die orige slaaibestanddele, behalwe die vars kruie, versigtig met die koring en skink ⅔ van die slaaisous oor. Geur na smaak.
  5. Indien verkies, verkoel eers die slaai vir 1 uur in die yskas. Roer dan die orige slaaisous deur en garneer met vars kruie voor dit voorgesit word. Die slaai is ook die volgende dag heerlik in ’n kosblik.

Wenk

  1. Kekerertjies sal ook baie lekker wees in die slaai.

Pynappel met klapper en jogurt

Hierdie pynappelresep het net vyf bestanddele en is ideaal om as nagereg voor te sit. Dik skywe vars pynappel word in ’n pan gebraai en met gewone jogurt voorgesit. Die jogurt word met geroosterde klapper gegeur en ’n bietjie vars kruisement is perfek daarby. Dié nagereg is vinnig en maklik om te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 1 pynappel, geskil
  • 45 ml (3 e) fyn klapper
  • 10 ml (2 t) avokado- of olyfolie
  • 175 ml ongegeurde jogurt
  • ’n handvol vars kruisementblare

Metode:

  1. Sny pynappel in 6 dik skywe.
  2. Voorverhit ’n braaipan oor matige hitte (’n AMC 24 cm Chef’s Pan is groot genoeg) en rooster die klapper sonder enige olie tot liggies goudbruin. Wees versigtig, want die klapper kan maklik brand. Skep uit.
  3. Verhit die olie in dieselfde pan en braai pynappel aan beide kante tot goudbruin en effens gaarder.
  4. Meng 30 ml van die klapper met die jogurt. Sit pynappel voor met die jogurt en strooi die res van die klapper oor. Garneer met vars kruisementblare.

Wenke

  1. Die resep werk uitstekend met ander vrugte soos pruime, perskes of appelkose wat ontpit en gehalveer is.
  2. Pak die pynappel en jogurt in aparte bakkies as jy dit vir ’n kosblik wil pak.

Kyk Maandae-oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet (kanaal 144) vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar splinternuwe webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir nog smullekker idees. Haar resepteboek Maak vyf is ook op Maroela se e-winkel, https://maroelawinkel.co.za/, beskikbaar.

 

[Resep] Broekie

$
0
0

Broekie (Foto: Janie du Plessis)

Hoe kan mens dan verkeerd gaan met bruintjies, Oreo’s én koekies? Probeer hierdie Broekie-resep om jou gaste behoorlik te laat smul!

Koekies

Bestanddele

  • 170 g botter/margarien, gesmelt
  • 200 g klam bruinsuiker (treacle sugar)
  • 100 g witsuiker
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 1 eier
  • 1 eiergeel
  • 250 g meel
  • 2 g bakpoeier

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180 °C.
  2. Meng gesmelte botter, bruinsuiker en witsuiker tot goed gemeng.
  3. Klits die vanieljegeursel, eier en eiergeel in tot romerig.
  4. Sif die droë bestanddele by die bottermengsel in tot gemeng.
  5. Skep eetlepels vol in muffinpan wat met botter gesmeer is.
  6. Bak vir ongeveer 20 minute.
  7. Druk nou die Oreo-koekies in die halfgebakte koekies in.

Bruintjies

Bestanddele

  • ½ k olie
  • 1 k suiker
  • 2 t vanieljegeursel
  • 2 eiers
  • ¼ t bakpoeier
  • ⅓ k kakao
  • knippie sout
  • ½ k meel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Meng olie en suiker goed.
  3. Voeg vanieljegeursel en eiers en by en meng weer.
  4. Meng droë bestanddele in oliemengsel in.
  5. Gooi die beslag bo oor die koekies.
  6. Bak vir ongeveer 30 minute teen 180°C of tot mes skoon uitkom.

[This post contains video, click to play]


[Resep] Dadelbrood

$
0
0

Dadelbrood (Foto: Marilyn kuier en kook, Lapa-uitgewers)

Eet hierdie broodjie warm uit die oond saam met kaas of konfyt. Selfs die kleinspan sal daaraan smul!

Bestanddele:

  • 5 ml koeksoda
  • 200g ontpitte dadels, in stukkies gesny
  • 250 ml kookwater
  • 200 ml botter of margarien
  • 200 ml suiker
  • 3 groot eiers, geklits
  • 5 ml amandelgeursel
  • 10 ml bakpoeier
  • 750 ml koekmeel
  • 2 ml sout

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn groot broodpan of twee klein broodpannetjies.
  2. Strooi die koeksoda oor die dadels en giet die kookwater oor. Hou eenkant en laat afkoel.
  3. Room die botter en suiker tot lig en donsig. Klits die eiers en geursel by.
  4. Voeg die afgekoelde dadels by en meng dit deur.
  5. Sif die droë bestanddele en voeg dit by die dadelmengsel. Meng goed.
  6. Skep in voorbereide broodpan en bak vir ongeveer 45-60 min.

 

Bron: Marilyn kuier en kook

Uitgewer: Lapa

Vrou van Limpopo is SA se boerewors-kampioen

$
0
0

Championship Boerewors-wenner, Queen Mathebula (Foto: Verskaf)

ʼn 32-jarige vrou van Malamulele in Limpopo is Woensdag ná vele probeerslae as die land se boerewors-kampioen aangewys.

Queen Matebula het al drie keer vantevore vir die Shoprite/Checkers Championship Boerewors-kompetisie ingeskryf, en het hierdie jaar uiteindelik met die prys weggestap.

“Ek voel baie bevoorreg om deel te kon wees van hierdie gewaardeerde kompetisie, én dat ek dit tot die einde kon maak,” het Matebula in ʼn verklaring gesê.

Sy het nie net met die titel as SA se boerewors-kampioen weggestap nie, maar het ook ʼn splinternuwe Toyota Hilux gewen.

Die ander finaliste, James Lebepe en Moses Mathebula, het geskenkpakke van verskeie borge af ontvang.

Mathebula is aangewys as 2017 se Shoprite/Checkers Championship Boerewors-wenner, ná ʼn rugbywedstryd vir liefdadigheid tussen voormalige SA-spelers en huidige SA-rugbykampioene. In hierdie wedstryd het die ‘Braai Legends’, onder leiding van Bakkies Botha, die ‘Braai Champs’, wat deur Stephan Dippenaar gelei is, aangevat.

Bakkies Botha draf uit vir die ‘Braai Legends’ (Foto: Verskaf)

Championship Boerewors-resepte moet voldoen aan tradisionele boerewors-vereistes. Dit moet ten minste 90% vleis bevat, ’n goeie kombinasie tradisionele boereworsspeserye hê, en dit mag nie spek, blatjang, peri-peri, kerrie, tamatiesous, soetrissies, parmesaankaas of brandrissies bevat nie.

Mathebula se Championship Boerewors sal vanaf Vrydag, 15 September in enige Shoprite of Checkers beskikbaar wees om te koop.

[Resep] Skaappotjie

$
0
0

Skaappotjie (Foto: Lapa-uitgewers_

ʼn Skaappotjie is die perfekte gereg vir ʼn luilekker Sondagmiddag!

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

  • Clover Mooi River-botter
  • 3 uie, in blokkies gesny
  • 10 ml (2 t) gekapte vars knoffel
  • (2 x 200 g-pakkies) spek, in blokkies gesny
  • 2 kg skaapvleis, in stukke gesny
  • handvol vars pietersielie, fyngekap
  • sout en peper na smaak
  • 250 ml (1 k) water
  • 4 wortels, geskil en in skywe gesny
  • 6 aartappels, geskil en in blokke gesny
  • 500 g groenboontjies, in stukkies gesny
  • 375 ml (1½ k) laatoeswitwyn
  • 250 ml (1 k) Clover- vars room
  • 60 g (1 pakkie) sampioensoppoeier

Metode

  1. Smelt genoeg botter in ʼn kastrol en braai die uie en knoffel. Gooi die spek by en braai tot gaar. Skep alles uit en hou dit eenkant.
  2. Smelt nog botter indien nodig en braai die skaapvleis in sarsies tot bruin.
  3. Gooi al die vleis terug in die kastrol. Voeg die pietersielie, sout, peper en water by. Laat prut dit ʼn uur lank oor lae hitte.
  4. Plaas die wortels, aartappels en groenboontjies bo-op die vleis. Giet die wyn bo-oor.
  5. Plaas die deksel op en laat prut dit nog ʼn uur lank tot die groente sag raak. Voeg die uie en spek by.
  6. Meng die room en soppoeier tot glad en giet dit oor die groente. Plaas die deksel op en laat prut nog 20 minute sodat die sous kan verdik.
  7. Sit dit warm saam met rys voor.

Bron: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos

Uitgewer: Lapa

[Resep] Susan se wildspastei

$
0
0

Die wildspastei (Foto: Susan Lombaard)

Maroela Media se uitvoerende hoof, Susan Lombaard, het Vrydag in haar redakteursbrief oor dié wildspastei geskryf. Sy het dit op Ina Paarman se webwerf gekry om vir háár familie te maak. Bak dit vir jou familie om daardie goedvoel-gevoel te kry waaroor Susan skryf.

Bestanddele

  • 1,5-2 kg wildsvleis
  • 1 k karringmelk
  • 1-2 lamskenkels
  • 2 e kanola-olie
  • Ina Paarman Garlic & Herb-speserye
  • 4 k water
  • 2½ e Ina Paarman-groenteaftrekselpoeier
  • 1 ui, gekap
  • 10 heel naeltjies
  • 2 lourierblare
  • 1 t gemaalde koljander
  • 1 e Ina Paarman-seesout

Sous

  • 2 uie, gekap
  • ½ t Ina Paarman Green Onion-speserye
  • 2 e kanola-olie
  • 1 k rooiwyn
  • ½ k wynasyn
  • 1 x 200 ml Ina Paarman Ready to Serve-pepersous
  • 1 ui met 4 heel naeltjies in gedruk
  • 400 g skilferdeeg
  • ½ eier, geklits

Metode

  1. Verwyder die taai membrane van die vleis.
  2. Gooi karringmelk oor die wildsvleis en marineer vir 1-2 dae in die yskas.
  3. Maak die vleis droog op kombuispapier en gooi die karringmelk uit.
  4. Braai die lamskenkels in olie. Verwyder en geur met Garlic & Herb-speserye. Laat eenkant staan.
  5. Braai die wildsvleis in dieselfde kastrol, haal dan af en geur.
  6. Voeg die res van die bestanddele in die kastrol en bring tot kookpunt.
  7. Voeg die gebraaide vleis by en sit die deksel op. Laat dit liggies prut tot die vleis sag is en van die been begin afval (3-4 uur). Laat dit nou afkoel, haal vleis van been af en verwyder die bene – hou dit vir sous.

Sous

  1. Soteer die uie voor jy dit met Green Onion-speserye en olie geur.
  2. Voeg wyn en asyn by en kook by hoë hitte totdat net sowat ½ k vloeistof oorbly.
  3. Voeg die sous van die vleisbene en pepersous by. Indien daar minder as 2½-3 k sous is, gooi meer water by. Proe en pas die geur aan volgens smaak.
  4. Voeg die vleis by.
  5. Skep die vulsel in ʼn groot pasteibak. Druk die ui met naeltjies in die middel van die dis in om die deeg te ondersteun.
  6. Bedek met ʼn laag deeg, verf met eier, versier met deegpatrone en verf weer met eier.
  7. Bak vir 45 minute teen 200 °C.

Wenk

  1. Die pastei kan bevries word nadat dit met eier geverf is. ʼn Bevrore pastei moet ontdooi word met kleefpapier om die pastei sodat die vog nie ontsnap nie. Bak dit vir 10 minute langer as die pastei nog koud is wanneer dit in die oond geplaas word.

[Resep] Pangebraaide groente met witbone

$
0
0

(Foto: Verskaf)

Groente is veelsydig en kan op soveel maniere ’n opwindende deel van ’n ete word om kleur, tekstuur en genoeg vitamiene en minerale in maaltyd in te sluit. Geroosterde of pangebraaide groente kan op vele maniere gebruik word. Sit dit net so as bygereg voor, meng dit met pasta of couscous of maak dit deel van ʼn slaai-pakkie soos in hierdie resep.

Die slaaipakkies is ’n lekker “vars” idee vir mense wat graag minder stysel wil eet. Vou die geroosterde groente met bone, feta, ’n bietjie pesto en pampoenpitte of sonneblomsade in die slaaiblare toe vir ’n smullekker ete. Die balsamiese asyn en olyfolie in die groente pas perfek by bone en gee die hele gereg ’n Italiaanse gevoel.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) avokado- of olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 250 g sampioene, in kwarte gesny (opsioneel)
  • 2 eiervrugte, met die skil in blokkies gesny
  • 4-5 murgpampoentjies, gehalveer en in skyfies gesny
  • 250 g kersietamaties, gehalveer
  • 45 ml (3 e) balsamiese asyn
  • 10 ml (2 t) gedroogde origanum of roosmaryn
  • 1 x 410 g-blik botter- of ander witboontjies, byvoorbeeld “haricot”, gedreineer
  • suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak
  • 30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of origanum
  • basiliekruidpesto, feta en pampoensade om mee voor te sit
  • botterslaaiblare om mee voor te sit

Metode:

  1. Voorverhit die helfte van die olie in ’n groot braaipan (gebruik ’n AMC 28 cm Chef’s Pan of Electric Frying Pan om genoeg plek vir alles te hê). Braai ui en sampioene tot gaar en skep uit.
  2. Braai eiervrug in dieselfde pan tot goudbruin en amper gaar. Voeg ’n bietjie meer olie by, indien nodig.
  3. Voeg die res van die olie in die pan en braai murgpampoentjies tot net gaar. Roer die tamaties deur en soteer vir ʼn paar minute.
  4. Skep die ui en sampioene terug in die pan met die balsamiese asyn en gedroogde kruie. Verlaag hitte en prut vir ’n paar minute tot die groente alles gaar is, maar nie pap nie. Sit selfs ’n deksel vir ’n paar minute op as dit nodig is.
  5. Roer bone by en geur na smaak met suurlemoensap, sout en swartpeper. Roer die vars kruie by en sit voor as ’n bygereg of vegetariese ete.
  6. Pak dit so in ’n kosblik: Skep lepelsvol groente op groot botterslaaiblare met basiliekruidpesto, bietjie feta en pampoensade. Vou die slaaiblare soos ’n pakkie om die vulsel.

Wenke

  1. Tuna, oorskiet-hoender of avokado sal ook lekker wees saam met die groente.
  2. As die pan te klein is, werk dit goed om die groente in sarsies te soteer tot dit gaar is en alles dan saam te meng en te geur. Maak veral seker dat die eiervrug gaar is voor die ander sagter groente bygevoeg word.

 

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy hou van lekker kook en eet.

Geniale gemmer

$
0
0

Argieffoto (Foto: silviarita, Pixabay)

Gemmer is een van daardie rare natuurlike produkte wat nie net propvol gesondheidsvoordele is nie – dis boonop heerlik in verskeie vorme. Knibbel aan ʼn gemmerkoekie, brou ʼn pot gemmertee, kerf vars gemmer in jou slaai of gooi ʼn lepel fyn gemmer in jou aandete-dis – maar maak seker dat jy dit inneem! Die magiese middel in gemmer is “gingerol”, wat kragtige anti-inflammatoriese en anti-oksidant-eienskappe het.

  • Gebruik gemmer om verskeie tipes naarheid, soos bewegingsiekte, naarheid as gevolg van chemoterapie-behandeling en oggendnaarheid tydens swangerskap te bekamp. As jy swanger is en nie vroegoggend ʼn gemmerkoekie in jou lyf kan kry nie, probeer gerus gemmer- en heuningtee.
  • Gemmer kan ingespan word om spierpyne as gevolg van oormatige oefening te verbeter. Hoewel dit nie onmiddellike pynverligting tot gevolg het nie, sal die gebruik daarvan gedurende ʼn tydperk van intense oefening verseker dat jou spiere nie so seer is nie.
  • Heelwat studies dui daarop dat gemmer die simptome van osteoartritis kan verlig.
  • Vir persone met tipe 2-diabetes is die goeie nuus dat gemmer jou bloedsuikervlakke kan verlaag en die risikofaktore van hartsiektes geassosieer met tipe 2-diabetes kan verminder.
  • Gemmer word dikwels gebruik in die behandeling van chroniese slegte spysvertering, aangesien dit die spysverteringsproses versnel.
  • Indien gemmer aan die begin van die menstruasiesiklus geneem word, kan dit beduidende verligting van menstruasiepyn
  • Daar is aanduidings dat gemmer tot ʼn drastiese daling in LDL-cholesterol- en bloed-trigliseriedvlakke kan lei.
  • Sommige studies bewys dat gemmer breinfunksionering kan verbeter, en die brein kan beskerm teen ʼn ouderdomverwante afname in breinfunksies.
  • Gemmer kan gebruik word om infeksies te beveg en word dikwels as ʼn kuur vir verkoues en griep gebruik.

Gemmer- en suurlemoentee: Rasper ʼn stuk gemmerwortel (sowat 3 cm) in ʼn teepotjie en gooi 1 koppie kookwater oor. Laat trek vir 3 minute. Gooi deur ʼn sif in ʼn beker, en voeg 1 eetlepel heuning en 1 eetlepel suurlemoensap by. Roer dit met ʼn kaneelstokkie vir ekstra geur.

Bron (behalwe resep): authoritynutrion.com

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

[Resep] Taai Meraai

$
0
0

Taai Meraai (Foro: Janie du Plessis)

ʼn Malvalekker-, sjokolade-en-koekiemengsel. Hierdie nagereg eet jy sommer uit die bak uit!

Koekiedeeg

Bestanddele

  • 170 g botter/margarien, gesmelt
  • 200 g klam bruinsuiker (treacle sugar)
  • 100 g witsuiker
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 1 eier
  • 1 eiergeel
  • 250 g meel
  • 2 g bakpoeier

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180 °C.
  2. Meng gesmelte botter, bruinsuiker en witsuiker tot goed gemeng.
  3. Klits die vanieljegeursel, eier en eiergeel in tot romerig.
  4. Sif die droë bestanddele by die bottermengsel in tot gemeng.
  5. Skep eetlepels vol in muffinpan wat met botter gesmeer is.
  6. Bak vir ongeveer 20 minute, haal uit en druk effens plat.
  7. Stooi nou sjokoladekrummels oor en pak malvalekkers bo-op.
  8. Bak weer tot malvalekkers begin pof en goudbruin raak.

[This post contains video, click to play]


[Resep] Bobotie

$
0
0

Bobotie (Foto: Lapa- Uitgewers)

Bobotie het die manier om jou terug te vat huis toe. Blatjang, appelkooskonfyt en rosyntjies; kan jy dit al proe?

6-8 porsies

Bestanddele:

  • 1 sny witbrood
  • 45 ml (3e) blatjang
  • 250 ml (1 k) Clover-volroommelk
  • 60 ml (4 e) Clover Krush-mango-en-perskesap
  • Clover Mooi River-botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 10 ml (2t) matige kerriepoeier
  • 1 kg beesmaalvleis
  • 10 ml (2t) borrie
  • 125 ml (½ k) pitlose rosyntjies
  • 5 ml (1 t) sout
  • 15 ml (1 e) appelkooskonfyt
  • 3 eiers
  • 2 lourierblare

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn oondbak van 30 x 20 cm met botter.
  2. Week die brood in 125 ml (½ k) van die melk. Hou die oorblywende 125 ml (½ k) melk eenkant.
  3. Smelt botter in ʼn kastrol en braai die ui tot sag.
  4. Voeg die maalvleis by. Roerbraai die maalvleis tot dit verkleur het en daar nie meer klonte is nie.
  5. Roer die res van die bestanddele, behalwe die oorblywende melk, eiers en lourierblare, by die maalvleismengsel. Verwyder die kastrol van die hitte.
  6. Druk die melk uit die geweekte brood. Roer die brood by die maalvleismengsel tot goed gemeng. Skep die maalvleismengsel in die voorbereide oondbak.
  7. Klits die oorblywende melk en eiers met ʼn vurk tot gemeng en giet dit bo-oor die maalvleismengsel.
  8. Druk die lourierblare in die vleismengsel en bak dit 50 minute of tot gestol in die middel.
  9. Sit dit warm voor saam met geelrys.

Bron: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos

Uitgewer: Lapa

Die weelde van ʼn onverwagse lekkerte

$
0
0
kook-kosmaak-pot

Foto: Tookapic/Pexels.com

Deur Johan Oosthuizen

Nes ek begin dink ek sal nou maar moet vergeet van die weelde van ʼn onverwagse lekkerte, kom daar uit die bloute die moontlikheid van ʼn nuwe lekkerte. Ek het mos nou die streep in my om so ʼn bietjie te eksperimenteer met goed wat jy kan gaarmaak met die oog op ʼn smullekker eetervaring.

So kom ʼn goeie jong vriend by my aan met die versoek of ek dan nou nie so ʼn bietjie aan sy leergordel kan werk nie. Hy hou nie van die fiefierige gespe nie. Toe wys hy my sy oupa, of dalk oupagrootjie, se jaggordel waarvan die voorste punt afgeskeur het en vra of ek nie dalk die erfstuk weer bruikbaar kan maak nie. Die gordel sal dit dan net soveel makliker maak om die wilde makoue, wat die graan so verniel, se getalle laer te kan hou. Ek sê toe ja, dis reg, en dat ek sy gordel vir hom na sy smaak mooi reg sal kan maak.

Omdat sy pa en ma hom so mooi grootgemaak het, sê hy toe hy sal betaal en vra toe wat dit sal kos. “Man,” sê ek vir hom, “jy weet mos ek laat ouens soos jy nie betaal nie! Bring net vir my ʼn lekker groot, vet wilde makou, laat ek die ding kan probeer.” Hy’s toe nogal bly, want alle bietjies help vir ʼn jong boer met ʼn kopperasierekening, al is dit ʼn druppel in die oseaan.

Vroegoggend kom hy toe weer hier aan met ʼn bielie van ʼn wilde makou. Ek sê toe verbaas, bly oor die reuseslagding, dat hy nou ook vir my ʼn dag se werk gebring het. Dis toe nou oor die herinnering aan destyds se kolgans en al die ure se gesukkel om al die vere en dons uitgepluk te kry. “Nee man, oom, die ding slag jy soos ʼn skaap. Jy slag die hele vel af en pluk g’n veer nie!” het hy beslis aangeraai. Ek het hom so staan en kyk en vir myself gesê dat die heerlike heilsaamheid van brosgebraaide vel die arbeider se loon is.

Ek het die makou so gekyk en besef ek het nie ʼn groot genoeg emmer nie, en een ketel se kookwater sou nie genoeg gewees het om die vere los te kry nie. Met die grote makou op die slagtafel, het ek en my getroue Helpertjie eers na die makou en toe na mekaar gekyk. My wyse Raadgewertjie het my stip in die oë gekyk en haar weloorwoë mening woordeloos uitgespreek. Ek het my knipmes uitgehaal en geslyp.

Terwyl my raadgewende Assistentjie ietwat onwillig vasgehou het waar sy moes vashou, het ek die makou begin afslag en hoe langer ek afgeslag het, hoe meer het die makou soos ʼn jong boerbokkie begin lyk – baie en mooi rooi vleis! Die afslaggery het heel goed verloop. Eintlik so asof ek dit nie vir die eerste keer gedoen het nie, en my Helpertjie het trots na my gekyk en haar goedkeurende blik het my laat kans sien vir die res.

ʼn Spogfoto van die slagding is per WhatsApp na familie SA gestuur en uit Nederland het kleinseun Richard laat weet hy dink die wilde makou is dalk ʼn bedreigde spesie, waarop sy neef Mattias laat weet het dat ons in SA alles behalwe renosters kan jag en eet. Nou toe nou, daar het jy dit.

Ek het eers die krop en gorrelpyp mooi losgesny. Die krop was tot barstens toe vol uintjiebolletjies en ek dag toe ek moet darem vir die jagter daarop wys dat die makoue eintlik boerebondgenote is, maar toe onthou ek hoe oom Johnny vertel het hoe ʼn trop wilde makoue binne twee dae sy lap groen koring tot in die grond in afgevreet het. Toe’t ek die buikholte oopgesny om die binnegoed uit te kry. Dit was nou maklik! Die grote wilde makou het mos nie ʼn buikholtetjie nie, maar sommer so ʼn buiktonnel sodat ek al die goed wat moes uit, kon raakvat en uittrek. Sommer net so en toe ek die spulletjie so staan en bekyk, merk ek op dat daar nie ʼn magie is nie, maar ʼn MAAG, en nie ʼn lewertjie nie, maar ʼn LEWER! En nie ʼn hartjie nie, maar ʼn HART! Verder was daar nie ʼn nekkie nie, maar ʼn NEK – ʼn goeie 25 cm lank! Nie vlerkies nie, maar 40 cm lange VLERKE. O ja, en daar was nie ʼn stuitjie nie, maar ʼn STUIT!

Toe vir die gaarmaakslag. Dit was nou vir jou ʼn ding! Nee, nie vir jou nie, vir my! My ysterpot was hopeloos te klein, maar die wilde makou sou gelukkig net-net in ʼn oondpan inpas, ongelukkig dan sonder ʼn deksel om te voorkom dat die vellose vleis uitdroog. My ou Slimmetjie het my verseker dat sy met foelie die probleem sou kon oplos.

Nee, dag ek toe, daar moes ʼn beter plan wees en ek dink toe weer aan my ysterpot wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. Dis net daar waar ek toe besluit om die karkas te ontbeen sodat al die vleis in die pot sou kon inpas. So met die ontbenery het ʼn nuwe gaarmaakplan in my kop begin maal … Ek het mos nog ʼn skaapnetvet wat wag om benut te word!

Ek het die makou netjies ontbeen en die snitte in ʼn plat skottel uitgepak, met so ʼn tjirtsie olie gesmeer, en toe nog met so ʼn bietjie blatjang bestryk. So ʼn paar blertse Worcestersous kan ook help om vleis lekkerder te maak, dag ek. Deesdae bly ek weg van allerhande speserye en hou maar liewer by growwe swartpeper en sout as ek vleis gaarmaak.

Nog steeds huilerig oor die vel wat ek ter wille van tyd moes afstaan, besluit ek toe om die ysterpot met die netvet uit te voer en dan die vleis sorgvuldig in te pak. Net so vir die wis en die onwis gaan ek dan ʼn suurlemoen oor die spulletjie uitdruk. En dan vir die uie en ʼn knoffeltjie: Die uie en knoffel word in dun skywe gesny en bo-op die vleis gepak. Met ui moet jy nie suinig wees nie, maar die knoffeltjie moet sy kant pertinent dog ietwat beskeie bring.

As die hele ou spulletjie in die pot reg lê, moet die res van die netvet oor die vleis gevou word. Vir oulaas gaan ek swartpeper en sout strooi en dan die deksel opsit. Dan is dit oond toe en ʼn vroeë geurtjie sal waarskynlik aandui of my gaarmaakplan werk. Hoe dit ook al sy, ʼn vleisie in ʼn pot bly die ding wat lekker eet nog lekkerder maak. Ag, en as die ondenkbare gebeur, kan ʼn mens die floppie op die een of ander manier met die een of ander megheftertjie regtoor. Dis nou as die wyn vir die pyn om jou hart in tye van verdrietigheid te verbly, nie sy kant kon bring nie.

As dit ʼn sukses was, sal ek my eie stert prys en as dit nie so was nie, sal ek maar so ʼn bietjie aandik (bylieg) om te spog dat dit darem nie te sleg was nie. Hulle sê probeer is die beste geweer en as jy die kol mis, probeer jy maar weer.

Eet en wees vrolik, want môre sterf, nee! Eet ons weer! En mag die heilsaamheid van lekker eet aan lekker kos nooit onderskat en geringgeag word nie!

Skielik dans ʼn duiweltjie hier om my ore rond en dit laat my wonder. Met dié dat dagga nou gewettig gaan word, wonder ek verder: Moet ek nie liewer dagga-olie gebruik nie? Moet ek nie dalk so ʼn paar daggablare op die netvet pak vir ekstra kleur en geur nie? Die wonderblaartjie het dalk nie net medisinale waarde nie, maar kan dalk ook van hoë kulinêre waarde wees?! Toe ek weer tot my normale sinne kom, was my uitroep hard en duidelik: “Wyk, Satang, wyk! Gaan ver weg!” En toe wyk hy. Ver weg.

[Video] Hap saam met Lochner: Vrugtepannekoek

$
0
0

Lochner de Kock (Skermgreep uit die video)

Bestanddele:

Pannekoek

2 k meel

2 eiers

1 k melk

1 k sodawater

sout

1 appel

olie

Vulsel

1 nartjie

1 piesang

demerara-suiker (sagte, donkerbruin suiker)

room

kaneel

Metode:

Pannekoek

  1. Meng meel, eiers, melk, sodawater en sout in ʼn mengbak saam en roer goed.
  2. Rasper ¾ appel in die mengsel in en roer weer.
  3. Doop ʼn die ander kwart van die appel in bietjie olie en smeer die warm pan daarmee vir geur.
  4. Gooi genoeg beslag in pan om die bodem te bedek.
  5. Bak in die pan tot klein lugborrels vorm en kante begin wegtrek van die pan af.

Vulsel

  1. Sny nartjie, en piesang in growwe stukke.
  2. Strooi suiker oor die vrugtemengsel.
  3. Gooi room by en meng.

 

  1. Skep vrugtevulsel op pannekoek en vou die pannekoek in twee.
  2. Gooi room en kaneel oor die pannekoek.
  3. Bedien dadelik.

Sien gerus in die video hoeveel van elke bestanddeel Lochner byvoeg, en pas dit gerus aan volgens jou persoonlike behoeftes.

Hierdie video is deel van ʼn reeks kosvideo’s wat Maroela Media saam met Lochner de Kock, bekende Suid-Afrikaanse koskenner, vervaardig. Die video’s word weekliks op Maroela Media gepubliseer. Sien al die Hap saam met Lochner-video’s op Maroela Media. -Red

Kyk hier hoe Lochner hierdie resep voorberei:

[This post contains video, click to play]

[Resep] ‘Bullet Proof’-koffie

$
0
0

‘Bullet Proof’-koffie (Foto: Cafe 2 go)

Wanneer jy jou “Bullet Proof”- koffie ten minste 30 minute of selfs ’n uur voor ontbyt drink, bied dit jou liggaam gesonde vette wat glo jou verstandelike funksie verbeter. Dit vertraag die spoed waarmee die kafeïen in jou bloedstroom ingaan (verbeter dus jou bloedsuikervlak), en gee jou spysverteringstelsel ʼn hupstoot voor enige kos ingeneem word.

Indien dié koffie saam met kos gedrink word, sal die vette waarskynlik jou maag omkrap en jy sal nie dieselfde breinbevorderingsvoordele kry nie.

Bestanddele:

  • 2 skeppies organiese koffie
  • 1 teelepel organiese (rou) botter of organiese klapperolie. (Begin met minder hoeveelhede as jy nuut is met die gebruik van dié tipe olies, aangesien dit ’n kragtige uitwerking het “om dinge te laat gebeur” vir vertering.)
  • 2 teelepels suiwelvrye melk – gebruik amandelmelk

Aanwysings:

  1. Maak eers jou koffie.
  2. Voeg die warm koffie en die ander bestanddele in ’n vermenger.
  3. Meng vir 30 sekondes. Hierdie proses sal skuim maak en die bestanddele saam meng tot perfeksie. Moenie alles net in ʼn koppie roer nie – dit sal nie werk nie.
  4. Gooi in ’n 250 ml-koppie en geniet voor ontbyt.

Skink ʼn koppie vol gesondheid

$
0
0

Argieffoto (Foto: sayuriiii, Pixabay)

Deur Sonja Carstens

In die diep, sanderige grond teen die hange van die Cederberge in die Wes-Kaap groei rooibos al vir eeue lank wild. Lank voor plantkundiges in 1772 dié bossie “ontdek” het, het die antieke San die kalmerende, strelende effek van die bossie benut.

Suid-Afrika is die enigste produsent van rooibostee soos ons dit ken, maar ironies genoeg is dit te danke aan ʼn Russiese immigrant dat die rooibosbedryf vandag 15 000 ton tee per jaar produseer, en dat daar wêreldwyd daagliks sowat 16 miljoen koppies rooibostee gedrink word.

Die wêreld ontdek rooibos

Benjamin Ginsberg, ʼn jong Jood, het kort na die Anglo-Boereoorlog in Clanwilliam aangekom om hom aan te sluit by sy pa, wat ʼn winkel in dié dorpie aan die voet van die Cederberge gehad het. Ginsberg, wat eens by ʼn beroemde Russiese teehandelaarsfamilie loseer het, het dadelik die potensiaal van rooibostee raakgesien.

Ginsberg het hom voorgeneem om die Cederberge die nuwe Ceylon te maak. Hy het rooibostee onder stedelinge begin bemark deur pamflette en gratis koevertjies met tee in Adderleystraat in Kaapstad uit te deel. Kort voor lank het hy ook Indiese en Chinese droogtegnieke begin inspan om die smaak van die tee te verbeter en dit meer na Oosterse tee te laat lyk. Die oudste bestaande rooiboshandelsmerk, Eleven O’ Clock, is Ginsberg se oorspronklike rooibostee-handelsmerk.

Tot in die 1930’s is rooibostee geoes waar dit wild teen die hange van die Cederberg gegroei het. Maar met die hulp van ʼn goeie vriend, dr. Pieter le Fras Nortier, het hy begin om rooibostee kommersieel te verbou. Kort voor lank het die twee die kuns hiervan vervolmaak.

Maar in plaas daarvan om self voordeel te trek uit die kultiveringsmetode vir rooibos wat hy ontwikkel het, het Nortier dit met die hele distrik se boere gedeel. Toe Ceylontee in die Tweede Wêreldoorlog begin skaars word, het die rooibosteebedryf vlamgevat. Tot in 1968 was dit egter bloot ’n plaasvervanger vir Ceylontee.

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Suid-Afrikaanse dokters het vir dekades lank kafeïenvrye rooibostee as ʼn kuur vir spysverteringsprobleme en senuweekwale voorgeskryf. Selfs in Amerika het die dieetkundige en vader van graanvlokkies, dr. JH Kellogg, rooibos reeds in 1910 as ’n gesonde alternatief vir gewone tee aanbeveel.

Vanjaar 48 jaar gelede het wyle dr. Annique Theron, stigter van die Annique-velsorgreeks, agtergekom rooibostee het ʼn kalmerende effek op haar allergiese koliekbaba. Dié effek van rooibos is maar een van talle wat later deur internasionale navorsing bevestig is.

Wat’s in jou koppie?

Rooibos behoort tot die Aspalathus-plantgroep wat bestaan uit meer as 200 spesies wat in die Cederberge van Suid-Afrika groei. Die naam “rooibos” het geografiese aanwyserstatus, wat beteken dat slegs rooibostee wat in die Wes-Kaap verbou word, “rooibos” genoem mag word.

Die blare van die bos, ook bekend as “rooi tee”, word geoes, gekneus en in die son gelaat om te oksideer – dis wat die tee ʼn kenmerkende rooi kleur gee. Dit word dan gekook of in water laat lê om ’n tee te maak wat warm of koud geniet kan word.

Rooibostee bevat aspalatien, ’n geurstof wat voorkom in medisinale kruie wat gebruik word om vel- en sirkulasieprobleme mee te behandel. Rooibos het ’n besonder hoë vitamien C-inhoud van 15,7 mg per 100 g. Boonop bevat dit min tannien: sowat 4,4% teenoor die 12% in gewone tee. (Tannien belemmer die absorpsie van minerale.) Rooibostee bevat ook klein hoeveelhede fluoried, kalsium en mangaan.

Japanse navorsing oor die effekte van oligosakkariede, wat ook in rooibos gevind word, dui aan dat hierdie stof die immuunstelsel help om virusinfeksies af te weer. Boonop is rooibos ryk aan flavonoïede (antioksidante wat die optrede van superoksied dismutase of SOD naboots deurdat dit vry radikale verwyder).

Argieffoto (Foto: Stocksnap, Pixabay)

Regmerkies vir rooibostee

  • Rooibos is heeltemal suiwer en natuurlik sonder enige bymiddels, preserveer- of kleurmiddels.
  • Dit is die ideale drankie vir diegene met ’n bedrywige lewenswyse, want dit kan in onbeperkte hoeveelhede ingeneem word sonder enige nadelige uitwerking.
  • Rooibos is ’n verfrissende dorslesser vir sportlui as dit in die vorm van ystee of gemeng met vrugtesap gedrink word. Dit is ’n strelende drankie sonder enige kilojoules – ideaal vir figuurbewustes.
  • Rooibostee is uitstekende waarde vir geld in vergelyking met ander teesoorte. Dit bevat klein hoeveelhede yster, kalium, magnesium, mangaan, koper, kalsium en sink. Die sakkies kan meer as een keer gebruik word sonder om smaak te verloor.
  • Studies wat vroeër deur die mediese navorsingsraad gedoen is, dui daarop dat rooibos ’n kragtige anti-oksidant bevat wat beskerming bied teen selfbeskadiging en mutasies, wat lei tot siektes soos kanker.
  • Dit het anti-inflammatoriese en anti-allergiese eienskappe. Rooisbostee kan verligting bring vir toestande soos hooikoors, asma, allergieë, slapeloosheid, spanning, hardlywigheid, maagkrampe, koliek, aknee, ekseem, doekuitslag en selfs ligte depressie.

Rooibos en kanker

Kanker ontstaan in die liggaam wanneer die DNS van ’n gesonde sel só beskadig word dat dit in ʼn kankersel ontvorm. Dit gebeur deur onder meer rook, alkohol, die son, virusse, die omgewing of jou dieet. Rooibos beskerm die DNS-selle van die liggaam waar kanker vorm. Rooibos werk ook die vorming teen van vergroeisels op die vel wat velkanker veroorsaak. Waar daar reeds kankerselle is, kan dit help voorkom dat kankerselle vermenigvuldig en ’n kankergewas vorm.

Rooibos en diabetes

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal diabetes 493 miljoen mense wêreldwyd raak teen 2030. Tans worstel meer as 7 miljoen Suid-Afrikaners reeds met die siekte. In ’n Japanse studie is bewys die aspalatien in rooibostee kan help om die glukose-opname van spierselle by tipe 2-diabetes te verbeter, wat help om ʼn normale bloedsuikervlak te handhaaf. Rooibos dien ook as ’n eetlusdemper wat weer help met gewigsverlies – ook ʼn risikofaktor vir diabetes.

Rooibos en hartsiektes

Benewens MIV- en Vigsverwante siektes, is kardiovaskulêre siektes die hoofoorsaak van sterftes in Suid-Afrika. Navorsing het bevind die biomerkers wat met kardiovaskulêre siekte verband hou, verminder aansienlik met die drink van rooibostee. Kliniese navorsing op mense het bewys ses koppies rooibostee per dag vir ses weke is veilig vir die lewer en niere, terwyl dit bloeddruk en cholesterol binne normale perke kan help hou.

Rooibos en lewersiektes

In ’n tien weke lange studie is slegs rooibostee (geen water nie) aan rotte met lewerskade gegee. Die studie het bevind dat die rooibostee die lewer teen strukturele, ensiem- en biochemiese skade beskerm en selfs van die skade wat reeds aan die lewer gedoen is, kon herstel.

Vinnige feite oor rooibostee

  • Rooibostee help om hoofpyn te verlig
  • Rooibos gee jou immuunstelsel ’n hupstoot
  • Kies eerder rooibos as ander drankies as jy met nierstene sukkel. Dit bevat amper geen oksaalsuur (’n toksiese suur wat in sommige plante aangetref word en die vorming van nierstene aanhelp) nie.
  • As gevolg van die lae tannieninhoud in rooibos is dit die perfekte drankie vir swanger of borsvoedende vroue en mense wat las het van bloedarmoede, want dit belemmer nie die opname van yster en proteïen nie.
  • Drink ses koppies rooibostee per dag vir ses weke om jou lewer en niere te ontgif.

Angelina Jolie (Foto: Facebook)

Bekendes wat in rooibos glo

Wat het Charlize Theron, Anthony Hopkins, Angelina Jolie, Hugh Jackman en Gwyneth Paltrow in gemeen? Hulle gebruik almal rooibos as ʼn skoonheidsmiddel in die een of ander vorm. Die sink in rooibos is noodsaaklik vir velvernuwing, terwyl die natuurlike alfahidroksiesuur help om fyn lyntjies en plooie te versag.

  • Angelina Jolie hou haar vol lippe vogtig met ʼn lipbalsem wat onder meer rooibos bevat
  • Gwyneth Paltrow en die supermodel Miranda Kerr drink rooibostee om te ontgif en om hul gewig in beheer te hou
  • Charlize Theron, Jessica Alba, Hugh Jackman en supermodel Candice Swanepoel gebruik skoonheidsprodukte wat rooibostee bevat
  • Die aktrise Salma Hayek en Victoria Secret-model Adriana Lima drink ’n rooisbosdrankie om hul velle te reinig
  • Die aktrise Helen Mirren vat haar sakkies rooibostee oral saam met haar.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

Viewing all 2085 articles
Browse latest View live