Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

[WEN] Buitebioskoop: Wen R1 000 met jou piekniekmandjie

Dis amper weer tyd vir Maroela Media se jaarlikse buitebioskoop. Ons is so opgewonde, ons het reeds aan idees vir piekniekmandjies begin dink. Almal hier by Maroela Media se piekniekmandjies lyk anders, en ons kan net nie saamstem oor wat in die perfekte piekniekmandjie moet kom nie. Ons klop dus by bekendes aan om te hoor hoe hulle perfekte piekniekmandjie sou lyk.

Dit klink of Jakkie Louw gereeld piekniek hou, want hy het sommer dadelik geweet wat in sy piekniekmandjie sal kom: “Ek sal beslis koeksisters, hertzoggies, koue hoenderboudjies, toebroodjies, koeldrank vir die kinders en wyn vir my en my vrou inpak.”

ʼn Man wat van kosmaak weet, Lochner de Kock, se mandjie stel ook nie teleur nie: “Vars brood, regte botter, parmaham, baie wyn, kaas, truffels en ʼn gestopte kalkoen. En ʼn skaapkop en ʼn knipmes!”

Anna Davel moet definitief saam kom piekniek hou, want sy sal boonop goeie musiek kan verskaf! Sy pak die volgende in haar mandjie: “Agurkies, salm en roomkaasbroodjies. Olywe, tzatziki, roosmaryn-ciabatta met plaasbotter, salami, Ferrero Rocher-sjokolade en ys. ʼn Kussing en ʼn kombers. Wyn, insekweerder, sonskerm en ‘wet wipes’.”

Lizz Meiring is baie prakties wanneer sy oor haar perfekte piekniek gesels en dit klink amper of sy gaan kampeer! “My piekniekmandjie lyk effe alternatief – om sonder my noodsaaklikhede te wees kan my erg grief. Daai mandjie is groot en swaar gelaai, helaas, volgestop met goedjies wat ander sal verbaas: sonbrandroom en koelbly-sproei en ‘lipstiek’ en allerhande kosmetiek-items wat aan die obsessief kompulsiewe kant grens. Lekker vonkelwyn, so droog dat jou kiewe trek. Mooi vonkelwynglase van regte, egte glas wat by die mees opgetofte geleentheid sal werk. ʼn Goeie boek, mooi piekniekkombers, bottels water vir die nadraai – die nadors van later. Die piekniekspyskaart: al die eetgoed en kos sal ek liewer vir my kulinêre vriende los. Hulle moet maar besluit wat stal ons op daai kombers uit.

“Ek bring die drinkgoed, die mooigoed en die medisyne, want iewers het iemand altyd ʼn uitslag, kopseer of skete en pyne. Die buitelug en ek is in ʼn ewige stryd van te warm of te koud, so daar verskyn ook ʼn sonhoed en warmgoed uit daai mandjie. Dis nie ʼn piekniekmandjie nie – dis ʼn reuse-oorlewingskis wat ek met my sal moet saamsleep as ek ooit weer by ʼn piekniek is!”

WEN: As jy dink jóú piekniekmandjie skop stof in die oë van ander, wil ons graag van jou hoor. Koop ʼn kaartjie vir Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop hier en laai tydens die Buitebioskoop foto’s van jou piekniekmandjie via Instagram met #Buitebioskoop2016. Jy staan die kans om R1 000 kontant en ʼn heerlike Maroela-geskenkpak te wen.

LET WEL: Die wenner word voor die tweede fliek (dus net ná die vertoning van Heidi en voor die vertoning van Sy klink soos lente) aangewys. Jy moet teenwoordig wees om die prys te ontvang.

Lekker, Maroela!

Lees meer oor die Buitebioskoop hier.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085