
Grondboontjiebotterkaaskoek (Foto: 50 Beste gebak uit Vrouekeur)
Jy hoef nie ʼn bobaaskok te wees om dié heerlike kaaskoek te bemeester nie en dit sal jou vriende en familie boonop baie beïndruk!
Lewer 16 porsies
Bestanddele
Kors
- 200 g (1 pak) Romany Creams
- 2,5 ml (½ t) fyn kaneel
- 60 ml (4 e) botter, gesmelt
Vulsel
- 750 g (3 x 250 g-bakkies) laevetroomkaas
- 250 ml (1 k) strooisuiker
- 75 ml (5 e) gladde grondboontjiebotter
- 60 ml (4 e) koekmeel
- 4 ekstragroot eiers
- 125 ml (½ k) melk
Bolaag
- 385 g (1 blik) karamelkondensmelk
- 200 g (1 groot plak) donkersjokolade, gesmelt
- 1 groot grondboontjiebroslekker, grofgekap
Wenk: Moenie die broslekker te lank voor die tyd op kaaskoek sprinkel nie, want dit raak taai wanneer dit met vog in aanraking kom.
Metode
Stel oond op 180 ˚C.
Kors
- Kap koekies en kaneel in voedselverwerker fyn. Voeg botter by en meng goed.
- Druk koekiemengsel op bodem van losboomkoekpan met 24 cm-deursnee vas.
Vulsel
- Meng roomkaas, strooisuiker en grondboontjiebotter goed.
- Sif koekmeel bo-oor roomkaasmengsel en meng goed.
- Klits eiers en melk goed en meng by roomkaasmengsel.
- Skep vulsel in tertkors en bak vir 20 minute.
- Draai hitte laer na 150 ˚C en bak vir nog 45 minute.
- Sit oond af, maak oonddeur effens oop en laat kaaskoek vir nog 1 uur in oond staan.
Bolaag
- Meng kondensmelk en sjokolade.
- Skep sjokolademengsel bo-op kaaskoek en sprinkel broslekkerstukkies bo-oor.
- Maak kaaskoek los uit losboomkoekpan en sit in skywe voor.
- Hou in die yskas.
Bron: 50 Beste gebak uit Vrouekeur
Uitgewer: Lapa Uitgewers