
The Test Kitchen (Foto: Jan Ras)
Suid-Afrika se tien beste restaurante vir 2016 is die afgelope naweek tydens die Eat Out Mercedes-Benz Restaurant-toekennings aangewys.
Moet egter nie verwag dat jy gewone franchise-restaurante op hierdie lysie gaan raakloop nie! Die meeste van dié restaurante is in die Wes-Kaap geleë en sal beslis ʼn ander soort ervaring vir jou smaakpalet bied.
- The Test Kitchen (Woodstock, Kaapstad)
Dié restaurant is vir die vyfde agtereenvolgende jaar in die topposisie en word besit deur Luke Dale-Roberts. Die restaurant het onlangs ʼn 21-gang-maaltyd op die spyskaart bekendgestel.
- La Colombe (Constantia, Kaapstad)
Die restaurant word besit deur Scot Kirton. La Colombe is ook die wenner van die 2016 Eat Out Nespresso Service Excellence-toekenning.
- The Restaurant at Waterkloof (Somerset-Wes)

The Tasting Room at Le Quartier Français (Foto: Jan Ras)
Die restaurant word besit deur Gregory Czarnecki. Hy het ook die 2016 S. Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die jaar-toekenning gewen.
- The Tasting Room at Le Quartier Français (Franschhoek)
Die eienaar, Margot Janse, is veral bekend daarvoor dat sy plaaslike bestanddele op unieke wyses gebruik. Die agt-gang-Afrika-spyskaart lok duisende toeriste en plaaslike inwoners per jaar.
- Restaurant Mosaic at The Orient (Elandsfontein, Pretoria)
Sjef Chantel Dartnall, ook die eienaar, is bekend vir disse wat nie maklik nageboots kan word nie. Haar botaniese kookkuns inspireer elke keer.
- Overture (Stellenbosch)
Die eienaar, Bertus Basson, is vanjaar weer terug onder die top-10 nadat hy nie in 2015 op die lys verskyn het nie. Die spyskaart is eenvoudig, maar met eksentrieke disse wat nie sommer op ander plekke beskikbaar is nie.
- Greenhouse (Constantia, Kaapstad)

The Restaurant at Waterkloof (Foto: Jan Ras)
Peter Tempelhoff, die eienaar, is veral bekend vir hoe die disse op die bord ten toon gestel word. Tempelhoff maak ook van bekende disse iets eksoties waarna honderde kritici jaarliks stroom.
- The Kitchen at Maison (Franschhoek)
Die eienaar, Arno Janse van Rensburg, is vanjaar vir die eerste keer op dié gesogte lys. Sy disse bevat baie inspirasie van Asië en Suid-Amerika. Daar is ook talle plaaslike disse wat treffers is.
- Foliage (Franschhoek)
Chris Erasmus is veral bekend vir sy kreatiewe en innoverende disse. Die kos is baie aards en die meeste disse het as basis wildekruie, sampioene en gesonde groen bestanddele.
- Camphors at Vergelegen (Somerset-Wes)
Michael Cooke kombineer sy disse perfek met die groot verskeidenheid wyne van die plaaslike wynplase. Cooke is bekend vir sy manier om met vars bestanddele te tower.
Vir meer inligting, besoek Eat Out se webwerf.






