
Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)
Koeksisters, biltong, braaivleis… en natuurlik ook een van Suid-Afrika se gewildste kettingrestaurante, Spur, is van die goed waarna Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon die héél meeste verlang.
Só het ʼn groep oud-Suid-Afrikaners wat in Nieu-Seeland woon aan die North Harbour News vertel nadat ʼn Spur in Albany, noord van Auckland, in laat-Oktober sy deure oopgemaak het.
Mede-eienaar van dié restaurant, Jaco Jordaan, het aan dié gemeenskapskoerant vertel die restaurant is sedert sy opening elke dag vol bespreek.

Spur in Nieu-Seeland (Foto: Amy Baker)
“ʼn Jong meisie was só oorweldig toe sy die restaurant besoek het, sy het in trane uitgebars. Nadat mense die openingsaand bygewoon het, het nuus oor Spur in Nieu-Seeland soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei,” het Jordaan gesê.
“Die Dinsdag ná die opening was daar lang toue mense wat by die restaurant wou kom eet. Ons het nog nie ʼn enkele keer geadverteer nie.”
Jordaan en sy sakevennoot, Mark Farrelly, is albei afkomstig van Kaapstad.
Spur het reeds in 1967 sy deure in Suid-Afrika oopgemaak en het intussen ʼn gewilde huishoudelike naam geword.
Don en Jane Govender en hul kinders Sai en McKenzie, een van talle gesinne wat na Nieu-Seeland verhuis het, het gesê dié Spur “laat ʼn Suid-Afrikaanse voetspoor hier in Nieu-Seeland en neem ons weer terug huis toe. Ons wil keer op keer net teruggaan en meer hê.”
Bron: North Harbour News

