Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

[Resep] Soetpatats

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Soetpatats. Foto: Pixabay.com

Hierdie bykos sal soos poeding proe – net soos jou ouma dit gemaak het.

4-6 porsies

Bestanddele:

  • 4-5 middelslagpatats, geskil, in skywe gesny en met suurlemoenwater bedek (plaas ʼn piering daarop as hulle nie onder die water wil bly nie)
  • gedroogde nartjieskil of vars, dun geskilde lemoenskil
  • sout na smaak
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 125 g (125 ml) goue stroop
  • 50 g (50 ml) botter
  • 1 stuk pypkaneel, middeldeur gebreek of 2-3 stukkies kassia
  • 5 ml (1 t) fyn gemmer
  • vanieljegeursel of selfs ʼn lepeltjie of twee brandewyn, soetwyn of wit port (opsioneel)

Metode:

  1. Skep die patatskywe in ʼn groot, diep kastrol. Voeg die skil by en geur met sout.
  2. Bedek met vars water en kook totdat die skywe sag is, maar nie pap sag nie.
  3. Skep intussen die suiker in ʼn plat, groot kastrol en voeg 75 ml (5 e) water by. Roer oor lae hitte totdat die suiker oplos. Verhoog die hitte en kook vir 1 min. Voeg die goue stroop, botter, kaneel en gemmer by en roer totdat die botter gesmelt is en die mengsel begin borrel.
  4. Dreineer die patatskywe. Moenie droogdruk nie.
  5. Voeg die patats by die stroop en gebruik ʼn houtspaan om die skywe om te keer sodat al die skywe behoorlik met stroop bedek is. Bedek, verlaag die hitte en prut vir ongeveer 20 min. Daar sal ʼn redelike hoeveelheid vloeistof in die kastrol wees. Haal die deksel af en prut totdat die sous begin taai raak. Moenie nou meer in die kastrol karring nie, anders breek die skywe.
  6. Prut totdat die skywe toffiekleurig en taai is. Nou kan die soetpatats met ʼn klein bietjie vanieljegeursel of soetwyn gegeur word. Skep in ʼn opdienskottel en hou warm.

Bron: Rooi Rose 1999.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085