Die televisie-aanbieder en bekende Amerikaanse sjef Guy Fieri gaan binnekort die deure van sy eerste restaurant in Suid-Afrika oopswaai.
Fieri, veral bekend vir programme op die Food Network-kanaal soos Diners, Drive-Ins and Dives en Guy’s Big Bite, se restaurant maak op 1 April oop in die splinternuwe Menlyn Maine-sentrum in die ooste van Pretoria.
Guy Fieri Kitchen & Bar gaan van die sjef se bekendste en gewildste geregte, soos sy Spek Mac-N-Cheese-burgers asook rafelvark, verkoop.
“Ons is trots op ons grootste treffers soos burgers en unieke skemerkelkies en gaan dit beslis op die spyskaart hê, maar ons hou ook ons oë oop vir heerlike plaaslike geregte. Aan dié geregte eie aan Suid-Afrika sal ons ʼn unieke stempel gee,” het hy aan Times Live gesê.
Menlyn Maine gaan glo die eerste eko-vriendelike sentrum van sy soort wees wat uiteindelik as middelpunt vir ʼn eko-vriendelike stad gaan dien.
Die sentrum maak op 1 April oop en het benewens winkels en restaurante ook ʼn hotel en heelwat kantoorruimte.
Besoek Fieri se Facebook-blad vir foto’s van sy heerlikste disse.
Bron: Times Live