Oorweeg dié slaai met botterskorsie, boerewors en fetakaas, ʼn kombinasie waarmee jy net kan wen.
4 porsies
Bestanddele
- 45 ml olyfolie
- 1 botterskorsie, in blokke gesny
- 500 g boerewors
- 1 rooi ui, in dun wiggies gesny
- 45 ml balsamiese asyn
- 10 ml ligte bruinsuiker
- 250 g sampioene, gehalveer
- ʼn handvol roketblare
- 1 fetakaasskyf, gekrummel
- 250 ml mozzarellakaas, in blokkies gesny
Metode
- Plaas die botterskorsie in ʼn glasbak en voeg ʼn klein bietjie water by. Bedek met kleefplastiek en mikrogolf vir vyf minute tot sag. Trek die kleefplastiek effens af en giet die oortollige water af. Hou eenkant.
- Verhit die ʼn bietjie van die olie en braai die wors tot gaar. Sny in stukkies en hou eenkant.
- Verhit nog ʼn bietjie olie en soteer die ui tot sag. Voeg die asyn en suiker by. Soteer vir nog 5 minute totdat die suiker opgelos is.
- Verhit solank ʼn bietjie olie in ʼn ander braaipan en soteer die sampioene tot gaar. Skep die sampioene by die uimengsel.
- Verhit die olie indien nodig en braai die botterskorsie liggies.
- Skep die botterskorsie en worsstukkies by die uimengsel. Kook tot deurwarm.
- Skep op ʼn opdienbord. Strooi die roketblare, feta en mozarella bo-oor.
- Sit dadelik voor.
Uit: Beste uit Vrouekeur no. 3, Lapa-uitgewers