Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

[Resep] Groentesop

$
0
0

Groentesop (Foto: Verskaf)

Hierdie tyd van die jaar is ons almal lus vir warm winterkos en sop is ʼn gewilde item op baie mense se spyskaart. Die maklike en vinnige sop kan met min moeite vir aandete gemaak word en ʼn paar basiese bestanddele is genoeg om ʼn vullende ete aan mekaar te slaan. Dis ook ʼn slim manier om groente, waarvoor party jonger gesinslede dalk andersins nie lus is nie, bietjie weg te steek, aangesien die sop verpulp word.

Patats en appel gee die sop ʼn interessante tekstuur en effense soet smaak, en dis lekker geurmaats met die verskillende groen groentes. Die bone daarin maak dit nog meer vullend en dien as bron van proteïen. Sit die sop met vars avokado voor as ʼn lekker alternatief vir brood, dan is daar sommer nog iets vullends en gesonds in die ete.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 6 porsies (1,5 liter)

Bestanddele

  • 1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 selderystingels, gekap
  • 2 murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 1 patat met die skil, grofgerasper
  • 2 Pink Lady®-appels met die skil, grofgerasper
  • 4 k (1 liter) water
  • 1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1 t (5 ml) gedroogde tiemie
  • 100 g broccoli, in blommetjies gesny
  • 2 spinasieblare, in repe gesny of geskeur
  • 1 t (5 ml) aangemaakte mosterd
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 2 e (30 ml) gekapte vars pietersielie

Metode

  1. Verhit olie oor matige hitte in ʼn groot kastrol (gebruik ’n AMC 24 cm High). Braai ui tot sag en voeg seldery en murgpampoentjies by. Soteer vir nog ʼn paar minute en roer die patat, appel, water, bone, sout en tiemie by.
  2. Prut met ʼn deksel vir 15-20 minute of tot die patat en appel gaar is.
  3. Voeg broccoli, spinasie en mosterd by en geur met suurlemoensap en peper. Prut nog 10 minute of tot die broccoli net gaar is. Verpulp met ʼn stokmenger so fyn soos jou gesin dit verkies of druk effens fyner met ʼn aartappeldrukker.
  4. Geur na smaak met nog suurlemoensap en peper, indien nodig. Roer pietersielie by en sit warm voor.

Wenke

  1. Sit sop met ongegeurde jogurt, meer vars kruie of ʼn paar druppels olyfolie voor.
  2. Geur sop volgens jou keuse. Speserye soos paprika, komyn en garam masala of kerriepoeier sal ook lekker wees.
  3. Roer oorskiethoender of -vis by die sop vir ’n meer vullende ete. Enige ander gaar bone kan ook bygevoeg word.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085