
Foto: Facebook
Die wegneemete-reus KFC het onlangs ontken dat ʼn resep vir dié gewilde gebraaide hoender, wat deur ʼn joernalis van die Chicago Tribune ontdek is in ʼn ou familieboek, die ware Jakob is. Internetgebruikers bespiegel egter steeds oor die outentisiteit van dié resep met 11 bestanddele.
Jay Jones, die joernalis van die Chicago Tribune, het op 19 Augustus berig hy het tydens navorsing vir ʼn reisartikel in Corbin in die VSA ʼn man met die naam Joe Ledington ontmoet. Kol. Sanders, oftewel Harland Sanders, die “meesterbrein” agter die KFC-resep, was ʼn familielid van Ledington.
Ledington het aan Jones vertel hy het meer as 75 jaar gelede as kind by Sanders se wegneemete-kafee gewerk wat hy destyds geopen het as ʼn klein onderneming.
Ledington het ook aan Jones vertel hy het ʼn familiefotoalbum by sy oorlede tannie Claudia, sy pa se suster wat in die 1940’s met Sanders getroud is, geërf.
Buiten die foto’s waarin Ledington saam met Sanders en ander familielede pryk, was daar ook ʼn handgeskrewe resep met 11 bestanddele vir die “oorspronklike” KFC-hoender.
Hy het aan Jones bevestig dat dié resep die ware Jakob is.
Nadat die artikel op 19 Augustus in die Chicago Tribune verskyn het, het Ledington egter in ʼn telefoononderhoud gesê hy kan nie met sekerheid sê dat die resep werklik outentiek is nie.
Hy het ook uitgewys dat die handskrif nie dié van Sanders is nie.
Intussen het KFC ook ontken dat die resep outentiek is.
“Sanders het die oorspronklike resep in 1940 ontwikkel vir sy kafee by die stasie. In daardie stadium was die resep bo die deur geskryf sodat almal dit kon sien. Intussen doen KFC baie moeite die mengsel te beskerm. Trouens, die resep is een van die waardevolste geheime van Amerika,” het KFC in ʼn verklaring gesê.
“Baie mense het deur die jare beweer dat hulle die geheim van die resep ontrafel het, maar niemand was nog ooit reg gewees nie.”
Die resep word tans in ʼn kluis in Louisville, waar KFC se hoofkantoor is, onder streng sekuriteitsmaatreëls bewaak.
ʼn Egpaar van Shellbyville is meer as 15 jaar gelede deur KFC gedagvaar toe hulle beweer het dat hulle die oorspronklike resep gevind het in Sanders se huis wat hulle gekoop het. Die saak is laat vaar toe KFC ná ʼn volledige ondersoek gesê het dat dié resep ook nie die oorspronklike is nie.
Hier is die resep wat op sosiale media versprei word:
- ⅔ t sout
- ½ t tiemie
- ½ t basiliekruid
- ⅓ t oreganum
- 1 t selerysout
- 1 t swartpeper
- 1 t droë mosterd
- 4 t paprika
- 2 t knoffelsout
- 1 t fyn gemmer
- 3 t witpeper
Metode: Meng al die bestanddele met twee koppies witmeelblom.
Bron: Chicago Tribune