Quantcast
Channel: Kos | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085

Wat jy moet weet oor olyfolie

$
0
0

Die groen plakker dui aan dat die olyfolie aan standaarde voldoen (Foto: SA Olive)

Olyfolie is ʼn produk wat in byna enige gereg gebruik kan word. Dit maak ʼn lekker slaaisous, jy kan ʼn marinade daarvan maak én dit is maklik om daarmee te bak. Behalwe vir die gesondheidsvoordele van olyfolie bo ander soorte olie, is olyfolie ook ʼn gunsteling oor die unieke smaak.

Maroela Media het met Karien Bezuidenhout, bestuurder van SA Olive, gepraat oor alles wat verbruikers moet weet oor olyfolie.

Wanneer jy olyfolie koop

“Dit is belangrik om te weet dat daar verskillende soorte olyfolie is,” het Bezuidenhout gesê. “Daar is gewone olyfolie en ook olyfolie wat met ander saadolies gemeng is.”

Dan is daar ook die ekstra suiwer (extra virgin) olyfolie, wat die meeste gesondheidsvoordele inhou. “Die ekstra suiwer olyfolie kom teen ʼn hoër prys, maar jy kry die waarde daarvoor in gesondheidsvoordele.”

Wat beteken “ekstra suiwer” nou eintlik?

“Ekstra suiwer olyfolie is die olie wat direk uit die olyf gepers is. Ekstra suiwer olie moet die regte chemiese en smaakwaarde hê. Dit gaan deur ʼn proepaneel wat seker maak daar is geen defekte in die olie nie. SA Olive sit dan ʼn groen plakker op die bottel om te wys dat die olie voldoen aan die standaarde van ʼn ekstra suiwer olyfolie, en dat dit vars is vir die verbruiker om te gebruik.”

Wanneer jy olyfolie proe

Die gewenste smaak van olyfolie hang af van persoonlike voorkeure, meen Bezuidenhout. “ʼn Mens moet definitief die olyfgeure en aromas kry, maar daar is verkillende kategorieë en jy sal hou van die een wat jou persoonlike smaak pas. Delikate olyfolie is die aanvaarbaarste vir meeste mense, terwyl medium olyfolie ʼn sterk aroma en intense olyfolie ʼn bitter smaak vir gewone verbruikers het.”

Om te bepaal of olyfolie wel afgegaan het, is jou neus en mond jou beste maats.

“Wanneer olyfolie afgegaan het, is die eerste rooivlaggie dat dit sleg proe. Dit het dieselfde smaak as neute wat afgegaan het, dit is so ʼn bitter, frank smaak. Die tweede rooivlaggie is die reuk. Olyfolie wat sleg is, sal dieselfde reuk as ou of gemufte vrugte hê.”

Hoe om olyfolie te berg

Die behoorlike berging van olyfolie is baie belangrik, anders gaan jou olie vinnig sleg raak, sê Bezuidenhout. “Olyfolie is sensitief vir lig en vir lug. Stoor dit in ʼn donker glasbottel en hou die bottel styf toegedraai. Wanneer jy ʼn groot bottel olie koop, giet dit eerder oor in ʼn klein botteltjie om só die lug uit te hou,” sê sy.

“Moet ook nie jou olyfolie naby hitte berg nie. Mense gebruik dit gereeld naby die stoof, maar moet dit nie daar berg nie omdat die hitte nie goed is vir die olie nie. Sit dit weg in ʼn donker kas, weg van lig af.”

Olyfolie het ʼn raklewe van 18 tot 24 maande, maar wanneer jy die bottel oopgemaak het, moet jy dit verkieslik binne twee tot drie maande gebruik. Maak ook seker dat die olyfolie die groen plakker op het, om te verseker dit is top-kwaliteit.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2085